Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
Media verklaring - 15 Maart 2023 
Terug na media

Universiteit Stellenbosch - MRK en Afrikaans 


Universiteit van Stellenbosch – Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie verslag (GRONDWET HOOFSTUK 9 INSTELLING) – Verbod op Afrikaans in ʼn sosiale konteks is ʼn skending van menseregte 
 
Die Afrikanerbond het kennis geneem van die Mensregtekommissie se verslag wat bevind het dat die Universiteit Stellenbosch wel studente se menseregte geskend het deur die studente te verbied om Afrikaans te praat in sosiale kontekste. 

Waar ons enkele dae weg is van Menseregtedag viering op 21 Maart 2023 is die MRK se verslag ʼn welkome briesie in ʼn andersins bedompige taalomgewing. 

In 'n taalomgewing soos koshuise en kampusse waar daar diverse tale in Suid-Afrika is, kan en mag een taal nooit afgedwing word nie, en beslis nooit in 'n informele omgewing nie. Net so mag een taal ook nie verbied word tot voordeel van ʼn ander taal nie. Indien so 'n opdrag gegee is dat Afrikaans of ander inheemse tale nie op informele basis gebruik mag word nie, is so 'n opdrag ongrondwetlik.

Ongelukkig is die MRK se bevinding aan die een kant wel positief vir die gebruik van Afrikaans maar aan die ander kant moet die verbod op Afrikaans ook saamgelees word met die onlangse verslag van Regter Khampepe want nêrens in haar verslag is daar sprake van die akkommodering van diverse groepe in die ‘getransformeerde universiteit’ nie. Instede daarvan word diversiteit die sondebok wat gebruik word om inklusiwiteit en transformasie na te jaag. Hiervolgens is Afrikaans uitsluitend en word transformasie niks anders as om wit met swart te vervang en Afrikaans met Engels. 

Afrikaans se posisie word dus tydelik deur ʼn Grondwetlike Hoofstuk 9 instelling verlig maar die Universiteit moet nog volledig antwoord op die plek van Afrikaans gegewe die aanbevelings van die Khampepe verslag sowel as die Rektor se mening van enkele jare gelede dat die “Universiteit van Stellenbosch nie die verantwoordelikheid moet dra om Afrikaans se voortbestaan te beskerm nie.” 

Niemand moet dus te gerus wees oor die tydelike verligting deur die MRK uitspraak oor Afrikaans nie. Afrikaans sal in die spervuur bly solank as wat daar diegene is wat die Engelse eentalige omgewing bly bevorder.

15 Maart 2023 
Share by: