Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Die Bybel in Afrikaans - 
 90-jaar viering


Bybelsondag – 27 Augustus 2023 en die 90-jaar viering van die Bybel in Afrikaans 

 

Op Sondag 27 Augustus om 15:00 word die Afrikaanse Bybel se 90ste verjaarsdag gevier.  Sien die uitnodiging bo.

 

In 1884 het ds. SJ du Toit formeel met die vertaling begin. In 1912 het ds. WJ Conradie se Kinderbybel die lig gesien. ’n Proefuitgawe van die Evangelies en die Psalms het in 1920 verskyn. In 1923 het ’n groep van die eindvertalers die taak grootliks heeltyds aangepak – drr. JD du Toit (Totius), JD Kestell en HCM Fourie. Hulle proefuitgawe is in 1929 met geesdrif ontvang. En toe, in 1933, het die Bybel volledig in Afrikaans verskyn. 

Skrywe van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika

 

Liewe Medewerker

 

90-JAAR VAN DIE BYBEL IN AFRIKAANS

Ons vier vanjaar die 90ste herdenking van die Bybel in Afrikaans.

 

Dit is met groot dankbaarheid en opgewondenheid wat die Bybelgenootskap van Suid-Afrika u uitnooi om hierdie besondere genadegawe saam met ons te vier.

 

Die eerste Afrikaanse Bybel is in 1933 gepubliseer.

“Op 29 Mei 1933 seil die Carnavon Castle die Tafelbaai binne met die eerste besending van 10 000 eksemplare van die Afrikaanse Bybel aan boord. Hierdie eerste volledige Afrikaanse Bybel is op Sondag 27 Augustus 1933 landswyd feestelik in gebruik geneem.” - Bybelgenootskap van Suid-Afrika. Genade in Oorvloed, 1994.

 

Sedertdien het daar nog drie vertalings van die Bybel in Afrikaans – die 1983, die Bybel vir dowes/Bybel vir Almal en die 2020-vertaling – die lig gesien. Hierdie Bybels is ook in verskillende formate soos druk, braille, oudio en digitaal beskikaar.

 

Die verskyning van die Bybel in Afrikaans het grootliks tot die ontwikkeling van Afrikaans as taal bygedra, maar nog meer belangrik, tot die geloofsvorming van baie Afrikaanssprekendes.

 

Ek wil u nooi om, saam met die Bybelgenootskap, hierdie spesiale geleentheid te vier hoe en wanneer ookal dit op u kerkkalender kan inpas.

 

Een wyse waarop ons hierdie geleentheid gaan vier, is om die jongste Afrikaanse Bybel, die 2020-vertaling in die medium swart hardeband weergawe, teen die spesiale prys van R79 (normaalweg R159) aan te bied.

 

Die Bybelgenootskap sal verder ook hulpmiddels soos preeksketse, liturgiese riglyne en inligtingsmateriaal beskikbaar maak vir gebruik tydens dankfeeste en byeenkomste op die dag maar ook in aanloop tot die herdenkingsdatum.

 

Voorts, is daar natuurlik ruimte vir kerke en organisasies om deur die loop van die jaar ’n verskeidenheid fondsinsamelingsprojekte te loods ter viering van die Bybel in Afrikaans. Fondse wat so vir die Bybelgenootskap gegenereer word, sal help verseker dat toekomstige geslagte steeds die Bybel in Afrikaans kan geniet.

 

Namens die Bybelgenootskap van Suid-Afrika wil ek u van harte bedank vir u volgehoue voorbidding, ondersteuning en bydraes oor die jare heen.

 

Ons dank gaan aan elke kerk, kultuurorganisasie, skool, besigheid en individu wat getrou, oor baie jare, dit moontlik gemaak het dat ons naas al die ander tale van ons land steeds die Bybel in Afrikaans beskikbaar kan stel.

 

Ons groet met twee Afrikaanse woorde wat deur die vertalers van die 1933-vertaling van die Bybel in Afrikaans geskep is. Mag u die goedertierenheid van die Here beleef en welgeluksalig wees!

 

Bybelgenootskap-groete

RODNEY P VAN WYK                                     MICHAEL P ROODT

UITVOERENDE HOOF                                    HOOF: MISSIONALE VERHOUDINGS


Spesiale aanbieding van die 2020 vertaling van die Bybel

 

Volg die skakel om die jongste Afrikaanse Bybel, die 2020-vertaling in die medium swart hardeband weergawe, teen die spesiale prys van R79 (normaalweg R159) te bestel.

 

https://www.bybelgenootskap.co.za/index.php/af/

Die Uitvoerende Raad van die AB ontvang die Afrikaanse Bybel

    in Augustus 1933 


Voor in die eerste weergawe van die Afrikaanse Bybel van 1933 wat vir baie jare in die raadsaal van die Afrikaner-Broederbond in die Raadsaal van die Afrikaner-Broederbond gehou is. die volgende geskrewe teks:

 

“Wees Sterk”

 

Op die UR-vergadering van 19 Augustus 1933 oorhandig Br. Ds T.F.J. Dreyer, namens sy mede-U.R. -lede hierdie Bybel aan die Voorsitter, BR prof. JC van Rooy, vir gebruik by die opening van U.R vergaderings. Br. Ds. Dreyer lees Spreuke 3:1-17.

 

Lede van die U.R.

 

Prof J.C. van Rooy (Voorsitter)

Prof.dr. T.J Hugo (Ondervoorsitter)

J.J Bosman (Hoofpenningmeester)

L.J du Plessis                                    L.W. Hiemstra

Ds. T.F.J. Dreyer                               H.J. Klopper

L.J. Erasmus                                      P v.d.M Martins

I.M Lombard, Hoofsekretaris

J.J Scheepers, Hulpsekretaris 

Wees Sterk – Ons grondslag vanuit die Bybel

 

Die Afrikanerbond se leuse ‘Wees Sterk’ word gebaseer op verskeie teksverse in die Bybel en die boodskap in Psalm 27:14 – “Vertrou op die HERE ! Wees sterk en hou goeie moed! Ja, vertrou op die HERE !” is dalk vandag net so van toepassing as wat dit in 1918 met die stigting van die AB was en in al die momente in ons geskiedenis.

 

Wees Sterk - Die Afrikanerbond is gegrondves in die geloof dat die Bybel die Woord van die Drie-enige God is en dat dit van rigtinggewende betekenis vir die hele lewe is.

 

Ook die Afrikanerbond se leuse – “Wees Sterk” kan na die Bybel teruggevoer word. Volgens die omvattende “Geskiedenis van die Afrikaner Broederbond * 1918-1994” deur prof ELP Stals verwys die leuse na verskeie Bybeltekste. Ons verwys graag na die Bybeltekste soos wat dit in die 1933 vertalings geskryf is:

 

1933 vertaling van Deuteronomium 31:6 – “Wees sterk en vol moed; wees nie bevrees en word nie verskrik vir hulle nie; want dit is die HERE jou God wat saam met jou trek; Hy sal jou nie begewe of verlaat nie.”


1933 Vertaling van Josua 1:6 - “Wees sterk en vol moed; want jy sal hierdie volk die land laat erwe wat Ek hulle vaders met ’n eed beloof het om aan hulle te gee.

 

1933 Vertaling van Psalm 27:14 – “Wag op die HERE ! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die HERE !”

 

1933 Vertaling van Jesaja 35:4 - “Sê aan die wat vervaard is van hart: Wees sterk, wees nie bevrees nie! Kyk, julle God kom met wraak, met goddelike vergelding; Hy self sal kom en julle verlos.”

 

1933 vertaling van Daniël 10:19 - Wees nie bevrees nie, geliefde man, wees nie besorg nie, wees sterk, ja sterk! En terwyl hy met my spreek, het ek moed gevat en gesê: My heer kan maar spreek, want u het my versterk.”

Teks vanuit die eerste Afrikaanse Bybel 1933 en van toepassing in 2023


By die oorhandiging van die eerste Afrikaanse Bybel aan die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond in 1933 is Spreuke 3:1-17 voorgehou:

 

Die 1933 vertaling teks lui soos volg:

  1. MY seun, vergeet my onderwysing nie, en laat jou hart my gebooie bewaar;
  2. want dit sal lengte van dae en jare van lewe en vrede vir jou vermeerder.
  3. Laat liefde en trou jou nie verlaat nie; bind dit om jou hals, skryf dit op die tafel van jou hart,
  4. dan sal jy genade vind en 'n goeie insig in die oë van God en die mense.
  5. Vertrou op die HERE met jou hele hart en steun nie op jou eie insig nie.
  6. Ken Hom in al jou weë, dan sal Hý jou paaie gelykmaak.
  7. Wees nie wys in jou eie oë nie; vrees die HERE , en wyk af van die kwaad;
  8. dit sal genesing wees vir jou liggaam en verkwikking vir jou gebeente.
  9. Vereer die HERE uit jou goed en uit die eerstelinge van al jou inkomstes;
  10. dan sal jou skure vol word van oorvloed en jou parskuipe oorloop van mos.
  11. My seun, verag die tug van die HERE nie, en word nie moeg vir sy kastyding nie;
  12. want die HERE tugtig hom wat Hy liefhet, ja, soos 'n vader die seun in wie hy behae het.
  13. Gelukkig die mens wat wysheid vind en die mens wat verstand verkry;
  14. want die verkryging daarvan is beter as dié van silwer, en die verwerwing daarvan beter as van goud;
  15. dit is kosteliker as korale, en al jou kosbaarhede kan daar nie mee vergelyk word nie.
  16. In sy regterhand is lengte van dae, in sy linkerhand rykdom en eer;
  17. sy weë is lieflike weë, en al sy paaie is vrede.

Gesprek oor die 2020 Afrikaanse vertaling

 

Kyk gerus weer na die 15 Maart 2021 AB in Dialoog webinaar wat gehou is na die bekendstelling van die 2020 vertaling. Gesprek met Prof Herrie van Rooy. (Medevertaler) – Sien onderstaande skakel

Die Bybel in Afrikaans - 2020 vertaling

Lees en vergelyk dan ook gerus Psalm 23 in die verskillende vertalings 1933/53, 1983 en 2020 op die blady by die onderstaande skakel.

https://www.afrikanerbond.co.za/die-bybel-in-afrikaans-2020---15-maart-2021

Totius - Een van die vertalers van die 1933 Afrikaanse vertaling (Die skets uit 'n persoonlike versameling)

Share by: