Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
Media verklaring - 16 Junie 2022
Terug na media

Jeugdag - Vryheid is om nee te kan sê!


Die jeug en die reg tot vryheid om NEE te kan sê 

Uittreksels uit ʼn toespraak deur Dries Wiese 
(Voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond) op Jeugdag – 16 Junie 2022 
Randburg tydens ʼn streeksbyeenkoms van die Afrikanerbond. 

Simboliek van 16 Junie 1976 - Dit is vanjaar die 46ste herdenking van die Soweto-opstand. Daar is reeds baie gesê en geskryf oor die opstand wat die Soweto Skoliere en Studente op 16 Junie 1976 met die ondersteuning van die breër Swart Bewussynsbeweging begin het. Die betogings deur skoolleerlinge en studente het 'n groot aantal slagoffers gelaat, insluitend die 13-jarige Hector Pieterson wat die simbool van die studente-opstand geword het.

'n Minder bekende feit oor die Soweto-opstand is die dood van dr Melville Edelstein, wat sy lewe aan die sosiale opheffing van swart mense gewy het. Hy is in die opstand deur die ontstoke studente met klippe doodgegooi en ’n plakkaat is langs sy liggaam gelaat met die ysige waarskuwing “Beware” (Pasop) . Sy werk in opheffing is nie in ag geneem nie, sy politieke oortuigings het nie saak gemaak nie; die kleur van sy vel was die oorsaak van sy dood. Dit is die gevolge van onverantwoordelike en aangehitste geweld.

ʼn Nuwe Suid-Afrika - My generasie en ouer het sedert die middel 1980s begin werk en onsself beywer vir ʼn nuwe bedeling. Diskriminerende apartheidswetgewing is geskrap en daar is proaktief gewerk om aan almal in Suid-Afrika ʼn bestel te bied wat gelyke geleenthede bied. Ons het sedert 2 Februarie 1990 op ʼn pad vertrek waarvan ons nie seker was wat die uitkoms was nie. Ons het net geweet dat ons politieke bedeling moes verander om meer inklusief te wees, menseregte binne ʼn regstaat te verseker. Deur onderhandelinge het ons ʼn ooreenkoms bereik wat versoening en nasionale eenheid moes bevorder. Ons het aanvaar dat die benadering sou leer uit die verlede en moes die nuwe Suid-Afrika gebaseer wees, op:
• 'n behoefte aan begrip - maar nie aan wraak nie;
• 'n behoefte aan herstel - maar nie vir vergelding nie; en
• 'n behoefte aan Ubuntu - maar nie aan viktimisasie nie."

Die nuwe Suid-Afrika verloor sy glans - As ons Suid-Afrika in 2022 moet evalueer dan is dit een van teleurstelling want die wedersydse respek, hoop en vooruitgang het nie vir almal gerealiseer nie. Inteendeel die politici vandag predik wraak, vergelding en viktimisasie. Daar is geen aanspreeklikheid en geen verantwoordelikheid deur enige leierskap nie. Ons het nie ʼn falende staat nie, ons het weliswaar ʼn falende regering.  

Hoe meer Suid-Afrika in die moeilikheid kom hoe groter word die druk op ons as Afrikaners   
- Met ons taal in universiteite en skole;  
- Met naamgewing van dorpe, straatname en nou ook monumente;  
- Ons kultuurerfenisse. 
 Hoe meer Suid-Afrika in die moeilikheid kom hoe groter word die druk op ons as Suid-Afrikaners   
- Ons veiligheid en sekuriteit is in gedrang; 
- Lae na geen ekonomiese groei bring nie nuwe geleenthede nie en die werkloosheid word meer en meer, veral by die swart jeug;  
- Staatskaping, gebrekkige dienslewering en korrupsie het ons tot op die rand van ʼn afgrond gebring.
- Die onderwysstelsel bring mee dat ons meer as 80% disfunksionele skole het, 
- Die toenemende vaardigheidstekort en veral toenemende werkloosheid en in besonder onder die Suid-Afrikaanse jeug wek ernstige kommer. 
 
Die jeug van SA betaal die prys - Ons generasie het gedink en gehoop dat ons geleer het uit die foute van generasies voor ons. Dit was ons generasie wat begin het om die foute te herstel. Ongelukkig is dit die daaropvolgende generasies wat vandag die duur prys vir die verlede betaal. Dit is nou veral die wit, bruin en Indiër jeug wat aan die agterste speen suig omdat onregverdige regstellende aksie en deur die toepassing van swart ekonomiese bemagtiging is dit ook die wit, bruin en Indiër jeug wat slagoffers word van blatante diskriminasie. 

Dit is die generasies van vandag wat die prys betaal van “woke” heksejagte op beweerde rassisme. Dit is vandag se generasie wat verantwoordelik gehou word vir die sondes van die vadere. 

Die jeug kry vryheid buite Suid-Afrika - Vandag is daar nie ʼn ouer generasie oupa of ouma of pa of ma wat nie kinders of kleinkinders in die buiteland het nie. Ons sou dalk ʼn paar jaar gelede gesmeek het dat julle moet bly en het gedink dat ons hoop op ʼn beter toekoms vir julle sou realiseer. Ons hoop het ons beskaam. 

Dit is die nuwe en jonger generasie wat deur beperkinge in Suid-Afrika soekend is na nuwe vryhede. Hierdie vryheid word gevind om deur meriete te kan aansoek doen vir poste in die buiteland. Hierdie vryheid word verkry deur bevorder te kan word by internasionale maatskappye ongeag ras. Hierdie vryheid word verkry om te deel in die ekonomiese voordeel van groei in vooruitstrewende lande wat nie deur valse ideologie vasgehou word nie. Hierdie vryheid word verkry deur hul besighede en plase in die buiteland te vestig en uit te brei sonder die gevaar dat dit sonder vergoeding onteien kan word. Hierdie vryheid word verkry deur entrepreneuriese denke waarin die moontlikhede oneindig is. Hierdie vryheid word verkry deur gemaklik om te gaan met mense, sonder dat jy deur rasstereotipering in vakkies geplaas word.      

Om nee te sê kan vryheid gee - Regstellende Aksie, SEB en ander diskriminerende beleidsraamwerke weerhou talentvolle jong mense, ongeag hul kwalifikasies of ervaring, daarvan om 'n bydrae te lewer tot die opbou van Suid-Afrika. Meriete wat ‘n maatstaf moet wees word nou vervang met ras as die allesoorheersende kriteria vir aanstellings in die openbare sowel as die privaat sektor. Die grootste vryheid wat ons jong en nuwe generasie kan opeis is om NEE te sê hiervoor. As individu is NEE die grootste reg wat uitgeoefen kan word en daardeur nuwe vryheid te verkry. Om nee te sê vir rassisme, nee vir diskriminasie, nee vir ongelyke behandeling, nee vir onbevoegdheid en nee vir ongeregtigheid maak mens vry. 

Net soos wat swart skoliere en studente in 1976 NEE gesê het vir ʼn onreg so moet ons almal vandag NEE begin sê. Die verpligting berus op elkeen van ons.

16 Junie 2022
Share by: