Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
Media verklaring -  16 November 2023 
Terug na media

“Die 2024-verkiesing is die belangrikste verkiesing sedert die totstandkoming van ʼn nuwe grondwetlike bedeling.” (Besprekingsdokument van die Afrikanerbond) 


“Die 2024-verkiesing is die belangrikste verkiesing sedert die totstandkoming van ʼn nuwe grondwetlike bedeling.” (Besprekingsdokument van die Afrikanerbond) 
- Maak seker dat u geregistreer is – “ʼn Beter toekoms vir ons land is in jou hande” 

 In die aanloop tot die 2024-algemene verkiesing het die Afrikanerbond pas ʼn besprekingsdokument aan sy lede gesirkuleer en word dit ook nou algemeen vrygestel. Die Besprekingsdokument - Die aanloop (en waarskynlike afloop) van die 2024 Nasionale en Provinsiale verkiesing: ʼn rekonstruktiewe verkenning van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing is opgestel deur Prof André Duvenhage van Noordwes Universiteit 

Die besprekingsdokument sluit aan by vorige besprekingsdokumente van vorige verkiesings wat tendense in die politieke arena ontleed en scenario’s daaruit ontwikkel. Prof Duvenhage is ʼn kundige op die terrein.

ʼn Bondige uittreksel uit die besprekingsdokument deur Prof André Duvenhage waarin die kwessies meer volledig hanteer word lees soos volg:  
Die vooraand van die 2024-verkiesing
Die volgende gevolgtrekkings kan gemaak word ten opsigte van die stand van die groter politieke omgewing op die vooraand van die verkiesing:
  1. Op die terrein van die politiek bestaan ʼn gevestigde patroon van toenemende politieke onstabiliteit en verhoogde veiligheidsrisiko’s wat saamhang met die toepassing van ʼn verswakkende staat en die verval van staats- en semi-staatsinstellings. Die verval en wanfunksionaliteit is uitgebreid en beteken dat die staat heel dikwels kernfunksies nie meer suksesvol kan uitvoer nie;
  2. Die ANC is steungewys in sy slegste posisie voor enige verkiesing sedert 1994, met die potensiaal vir toenemende konflik en geweld in die opbou (en ook ten opsigte van die afloop) van die 2024-verkiesing. Teenvoeters vir steunverliese sluit in populistiese wetgewing; rasgedrewe politiek en die uitbouing en konsolidasie van patronaatskap-politiek. 
  3. ʼn Ekonomie wat nie groei nie as gevolg van ʼn gekompliseerde groep redes is kenmerkend op die vooraand van verkiesing. Die oorsprong hiervan is ideologies, regulatief en beleidsmatig van aard. Verswakkende infrastruktuur, redes wat met veiligheid en sekuriteit verband hou, oplopende staatskuld, asook die ineenstorting van plaaslike regering is verder ook grondliggend aan hierdie problematiek en kan moeilik op die korttermyn omgekeer word. (Ongeag omgekeerde verwagtinge het die ekonomiese situasie nie tydens die Ramaphosa-era verbeter nie, maar eerder in meeste opsigte versleg!)
  4. Maatskaplike uitdagings waaronder armoede, werkloosheid en ongelykheid is besig om toe te neem, tesame met dienslewering waaronder die voorsiening van water, elektrisiteit en sanitasie wat in talle omgewings besig om te verval of selfs in duie te stort;
  5. ʼn Veranderende internasionale konteks met groot politieke risiko’s en uitdagings;
  6. Die post-kantelpuntkonteks in die Suid-Afrikaanse politiek beteken die hersamestelling van die politieke spektrum; die werklikheid van koalisiepolitiek en daarmee saam ʼn veranderende stel politieke spelreëls wat in ag geneem moet word.
Om saam te vat, Suid-Afrika staan voor sy grootste veranderinge sedert 1994, met groot onsekerhede op die pad vorentoe. Die status quo is nie volhoubaar nie en die vraag is nie of daar verandering gaan wees nie, maar eerder watter vorm dit gaan aanneem; watter tydsraamwerk ter sprake is, en veral wat die regerende elite se reaksie op ʼn potensieel verswakkende situasie gaan wees. Dit maak die 2024-verkiesing die belangrikste verkiesing sedert die totstandkoming van ʼn nuwe grondwetlike bedeling, met groot risiko’s vir veral die regerende ANC en wat polities gesproke daaruit kan voortspruit.

Ten opsigte van die uitkomste (die 2024-verkiesing en sy afloop) gaan die moontlike uitspeel hiervan ingevolge scenario-perspektiewe verder hanteer word. Die kenmerke en veronderstellings van al drie scenario’s word in die besprekingsdokument volledig hanteer. 

Scenario 1: Die voortsetting van die status quo in ʼn veranderende omgewing
Sentrale uitgangspunt/beskrywing
Hierdie scenario beklemtoon dat (ongeag die gekompliseerde aard van politiese, ekonomiese en maatskaplike verandering as uitkoms van post-kantelpuntpolitiek) die algemene status quo binne die raamwerk van bestaande veranderlikes en die gepaardgaande dinamika) min of meer gehandhaaf gaan word. Die regerende elite (al is dit verswak) bly steeds die dominante politieke faktor binne ʼn verslegtende politieke omgewing. Hierdie scenario is nie ʼn langtermyn scenario nie en sal weer tydens 2026 en 2029 getoets word, met waarskynlik ʼn ander stel uitkomste ooreenkomstig reeds geïdentifiseerde veranderlikes.

Scenario 2: Regeringsverswakking, koalisiepolitiek, nuwe politieke spelreëls
Sentrale uitgangspunt/beskrywing
Ooreenkomstig die bevindinge van talle meningspeilings (van verskillende instellings); verder belyn met die groter tendens van steunvermindering by die regerende ANC – ʼn gevestigde patroon sedert 2004, soos ook bewys tydens die 2021-plaaslike verkiesings; verslegtende sosio-ekonomiese omstandighede soos vroeër aangedui; verswakkende dienslewering (lees veral plaaslike regering, ESKOM ens); en ʼn versterkte opposisie op grond van nuwe groepe en alliansies slaag die ANC nie daarin om ʼn volstrekte meerderheid nasionaal te behaal nie en is hul volstrekte meerderhede in provinsies soos Gauteng, KZN en moontlik selfs die Vrystaat ook in gedrang. 

Die ANC se steun daal tot so laag as 45% (of selfs minder) en eersgenoemde benodig meer steun as net dié steun van enkele kleiner partye om volstrekte meerderhede (nasionaal en in sekere provinsiale omgewings) te bewerkstellig. Koalisiesluiting, politieke kompromieë en ooreenkomste is binne hierdie scenario aan die orde van die dag. Soos met talle plaaslike regeringskoalisies (veral in die metropole) na afloop van die 2021-plaaslike verkiesing, lei dit tot onsekerheid, gebrekkige besluitneming en in uiterste vorm patrone van politieke onstabiliteit en stelseldisfunksionaliteit. 

Scenario 3: ʼn Suid-Afrikaanse Lente
Sentrale uitgangspunt/beskrywing
In die aanloop en/of die afloop van die 2024-verkiesing dra ʼn kombinasie van politieke, ekonomiese en maatskaplike faktore (geaktiveer deur ʼn gebeurtenis/se) by tot ʼn eskalasie van politieke onstabiliteit. Die funksionele vermoëns van die staat word oorspoel in ʼn omgewing wat S.P. Huntington (1965/1968) sou beskryf as hoë vlakke van politieke deelname en lae vlakke van institusionalisering. Hierdie situasie baan die weg vir politieke onstabiliteit en institusionele verval soos tans wyd in Suid-Afrika aangetref word. ’n “Ontploffing van politieke deelname” (dit wil sê ʼn revolusie in Huntington-terme) manifesteer – ten minste in dele van die land. Soortgelyke patrone van politieke geweld soos wat in KZN en dele van Gauteng gedurende 2021 gebeur het vind weer plaas, maar instellings is nie by magte om dit te kan hanteer nie. Die opbou/verloop/afloop van die 2024-verkiesing kan hier die potensiële vonk in die spreekwoordelike kruitvat verskaf. Dit plaas die land voor ʼn politieke en selfs ʼn grondwetlike krisis – voorgehou as ʼn unieke Suid-Afrikaanse Lente.

Die besprekingsdokument Die aanloop (en waarskynlike afloop) van die 2024 Nasionale en Provinsiale verkiesing: ʼn rekonstruktiewe verkenning van die Suid-Afrikaanse politieke omgewing deur Prof Andre Duvenhage kan afgelaai of gelees word by https://online.fliphtml5.com/hwiua/fyfp/  

Mense wat net soos die Afrikanerbond bekommerd is oor die demokrasie en die falende staat word aangemoedig om te registreer vir die 2024 verkiesing (Gebruik die komende Registrasienaweek van 18-19 November of kontroleer u besonderhede by die OVK by www.elections.org.za of kontak u politieke party.

Daar is ʼn groot aantal geldige aspekte wat die kiesers van Suid Afrika ongelukkig maak en in ʼn sekere mate moedeloos laat voel. Die gevoel van magteloosheid kan oorkom word deur te registreer as ‘n kieser en meer belangrik nog om ʼn stem uit te bring. Dit is elkeen se verantwoordelikheid in ons demokrasie. Omskep die kritiek om die braaivleisvuur na ʼn positiewe konstruktiewe stap deur vir ʼn party te stem wat jou waardes en ideale vir Suid-Afrika die beste reflekteer. Elke stem kan ʼn verskil maak, al is dit net jou een stem. ʼn Beter toekoms vir ons land is in jou hande. 

16 November 2023 
Share by: