Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 19 Mei 2020
Terug na e-Afrikaner

Die ekonomiese ontwrigting: Neem kwantum sprong in werklikheid


Deur Heinrich Kruger 
Besturende Direkteur van Kruger Internasionaal

Die afgelope paar jaar se toenemende internasionale akademiese gesprek oor die ontwrigting weens eksponensiële versnelling met die wêreldwye ontwikkeling van alle faktore wat die mens se lewe raak, het met Covid-19 nie meer by gesprek gebly nie, maar ‘n kwantum sprong in die werklikheid geneem.

Sommige beskou dit as geleenthede, ander beskou dit as struikelblokke.

Geen burgery in enige land waar daar die afgelope vier maande gedeeltelike tot algehele inperking weens Covid-19 ingestel is, het dit gelate aanvaar nie. In alle lande is burgers tot ‘n mindere of meerdere mate toenemend ontevrede oor die ontwrigting wat die voortslepende inperking van vryheid meebring om te kan werk of speel, geld te verdien of uit te gee en te wees waar jy wil wanneer jy wil.

Selfs die gewildste wêreldleiers en regerende partye se ondersteuning kry ‘n knou vanweë hierdie ontwrigting. Opposisiepartye het die beste tyd van hul lewens om die regeerders te kritiseer, maar is in stilte dankbaar dat dit nie hulle is wat met hierdie grootste tameletjie van die moderne tyd opgesaal is nie. Koerantredakteurs en ekonome wêreldwyd speel die speletjie “as ek die president van die land was dan sou ek dit anders gedoen het...”

Die gesegde dat niks ooit weer dieselfde sal wees nie en Johan Rupert se goed verwoorde ‘This isn’t just a pause — it’s an entire reset of our economic system’, som die werklikheid op dat hier ‘n ontwrigting op die wêreld se bevolking in die nabye toekoms wag wat in mense-heugenis nie ervaar is nie. 

Ontwrigting vanweë ontwikkeling en modernisering; oorloë; pandemies; en natuurrampe is so oud soos die berge.

Trouens, soos ek in die eerste paragraaf geskryf het, dat daar reeds ‘n hele paar jaar lank onder akademici, ontwikkelings tegnoloë en ander, geskryf en by wêreldwye konferensies en seminare gepraat word oor die versnellende aard van wetenskaplike ontwikkeling op alle gebiede wat nou ‘n eksponensiële kurwe van versnelling bereik. Dit beteken eenvoudig dat iets wat ‘n honderd jaar gelede ‘n honderd jaar sou neem om te ontwikkel, neem nou reeds tien, vyf of drie jaar...

Van die bekendste ontwrigtinggesprekke voor Covid-19 was oor:
• Kunsmatige Intelligensie (Artificial Intelligence of AI) wat deur die media en ander voorgehou word as die grootste bedreiging om mense se werk te oorhandig aan robotte en masjiene;
• Motors verander van fossiel-brandstof aangedrewe binnebrandenjins na elektries aangedrewe enjins;
• Son- en windkrag vervang fossielbrandstowwe soos steenkool, olie en kernkrag as energie vir huishoudings, stede en fabrieke;
• Motors soos ons dit ken word vervang deur selfaangedrewe motors en selfs hommeltuie wat mense soos taxi’s op aanvraag van punt A na punt B vervoer;
• Parkeer-garages wat in binnestede oorbodig sou word en dat die ooraanbod van middestad eiendomme sulke pryse sal laat daal;
• Dat mense al verder uit stede wegtrek omdat hulle meer van die huis af sal kan werk en met selfaangedrewe motors na hul werk- of ontmoetingsplekke sou vervoer wat kantoorspasie in stede kleiner of totaal oorbodig sou maak en eiendomspryse sal laat daal;
• Dat stede soos San Francisco, New York en Tokyo nie meer yskaste in wooneenhede benodig nie omdat vars kos of verpakte etes reeds binne minder as sestig minute vars en warm afgelewer kan word. Yskaste raak oorbodig en pryse het reeds begin daal.

Dit is maar enkele van die gesprekke oor tendense wat reeds begin kop uitsteek het, maar mense het dit oor die algemeen beskou dat dit eers oor tien, of twintig jaar algemeen sou word en dalk nie... Party mense beskou dit as ‘n geleentheid en ander beskou dit as ‘n struikelblok.

EN TOE WAS DAAR COVID-19...
Gedurende vroeg Januarie 2020 het hardnekkige gerugte die ronde in die wêreld begin doen dat n uiters gevaarlike virus in ‘n Sjinese stad Wuhan van dier na mens oorgedra is en dat die siekte soos ‘n veldbrand versprei. Die res is reeds geskiedenis. Die siekte het uit die ooste reg rondom die wêreld in kwessie van drie maande versprei en medici stomgeslaan. Geen entstof teen die virus is nog ontwikkel nie en mutasies van die virus neem steeds toe.

Oornag het die samelewings en dus die ekonomieë van die top tien lande in die wêreld gevries, nie om die ander lande in dieselfde situasie soos ook Suid-Afrika uit te sluit nie. Intussen het al tien die grootste ekonomieë al aangedui dat hulle amptelik in ‘n resessie verkeer. Dit is die VSA, Sjina, Japan, Duitsland, Indië, Frankryk, die Verenigde Koninkryk en Italië. Dit sluit ook al die lande in wat deel uitmaak van die top twintig ekonomieë in die wêreld. https://www.investopedia.com/insights/worlds-top-economies/

Voordat die term Covid-19 vasgestel is en daar geen enkele geval in Afrika aangemeld was nie, met die algemene begroting op 26 Februarie vanjaar was dit duidelik dat die Suid-Afrikaanse ekonomie op sy knieë is. http://www.treasury.gov.za/documents/National%20Budget/2020/review/FullBR.pdf

‘n Maand later, op die dag dat Suid-Afrika se Grendeltyd (inperking) afgeskop het, op 27 Maart het Moody’s Investor Services, die laaste van die drie grootste graderingsagentskappe in die wêreld geword om die Suid-Afrikaanse ekonomie af te gradeer na rommelstatus. Dit was nadat Moody’s vir ‘n paar jaar lank tevergeefs die Suid-Afrikaanse regering grasie gegee het om slegs aan te dui dat hy sy ekonomiese huis in orde sal kry. https://www.cnbcafrica.com/sa-downgrade/2020/03/27/moodys-downgrades-sa-to-junk/

Die twee grootste Staatsbeheerde maatskappye en noodsaaklike diensverskaffers om die Suid-Afrikaanse ekonomie internasionaal kompeterend te maak, nl: 
• Die ekonomies beleërde nasionale kragvoorsiener Eskom het sy hoeveelste nuwe uitvoerende hoofamptenaar gekry om vir die hoeveelste keer die maatskappy te probeer herstruktureer en ekonomies vatbaar te maak. 
• Die nasionale passasiers- en vrag-lugdiens SAL is in Desember 2019 0nder Sakeredding geplaas, ‘n finale poging om hom van bankrotskap te red. Op 23 April het die Sakeredders gesê die lugdiens behoort gelikwideer te word indien ooreenkomste nie met die vakbonde bereik kan word nie.

op die vooraand van ‘n krisis-Begroting deur die Minister van Finansies, mnr Tito Mboweni om te poog om die R500 miljard Covid-19 reddingspakket van pres Cyril Ramaphosa bymekaar te probeer skraap.

NA COVID-19 SKIET ONS VIR DIE MAAN...
Op 25 Mei 1961 het pres John F Kennedy se historiese Moon Shot speech voor die Amerikaanse kongres in Washington gelewer ( https://www.space.com/11772-president-kennedy-historic-speech-moon-space.html ) en op 12 September 1962 by Rice University in Houston, Texas het hy sy toespraak ‘We Choose To Go To The Moon’ gehou. ( https://youtu.be/iiC-E8vl7Fw )

As die Amerikaners in 1961 kon besluit om voor ’n dekade verby is, die onmoontlike aan te pak en ’n man op die maan te plaas, dan kan Suid-Afrika die onmoontlike regkry en die land se ekonomie regruk.

Vir geen mens op aarde vandag, is daar ’n groter geleentheid as wat deur Covid-19 se pandemie aan ons geskenk is nie. Die ontwrigting waaroor ons gespekuleer het in die afgelope klompie jare, die ontwrigting wat ons gedink het, sal eendag dalk kom, het vir ons almal gekom. Vir party is dit ’n geleentheid, ‘n uitdaging, vir ander is dit ‘n struikelblok.

Ons kan saam met mekaar oor die regering en ander se foute kerm en kla of ons kan die bul by die horings pak, met mekaar saamwerk en vorentoe beweeg. Elke mens moet hierdie besluit self neem en self sy deel begin doen, Moenie vir iemand anders wag nie. Moenie vir ’n John F Kennedy wag nie. Doen jou deel soos Nehemia gedoen het. (Gaan lees Nehemia)

NASKRIF
Die maatskappy Twitter het aan al sy werknemers kennis gegee dat hulle voortaan van die huis af sal kan werk.
Die koste en belasting wat maatskappye en hul werknemers bespaar deurdat werknemers van die huis af kon werk, moet nog bepaal word. Dit dui egter reeds op miljarde.
Die besparing van reiskoste wat maatskappye en hul werknemers spaar deurdat hulle vergaderings met Zoom, Microsoft Teams, Google Meet en ander soortgelyke programme kon hou, is fenomenaal.
Tyd is geld – Die tyd wat maatskappye en hul personeel kon spaar deur meer produktief van die huis af te kan werk, is enorm.

Duitsland en Brittanje is twee lande in die wêreld wat reeds onafhanklik van fossielbrandstof slegs met son- en windkrag aan hul energie-behoeftes kan voldoen.
Die Verenigde Koninkryk het in April vanjaar die laagste aantal nuwe motor-registrasies gedoen sedert 1946. Twee-derdes van die nuwe motor-registrasies was vir Tesla elektries aangedrewe motors en die volgende meeste was vir die Jaguar i-Pace.
Om meer te leer oor Eksponensiële versnelling van navorsing en ontwikkeling in die wêreld en die geleenthede wat ontwrigting meebring gaan na Singularity University https://su.org/

Ontwrigting is my vertaling van die Engelstalige begrip ‘disruption’.

Heinrich Kruger is die Besturende Direkteur van Kruger Internasionaal, ‘n Internasionale Batebestuurs- Navorsings en Ontledings-maatskappy 

Deel met ander belangstellendes

Share by: