Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
Media verklaring -  5 Oktober 2023 
Terug na media

Dr Nzimande se wrewel in Afrikaans is opsigtelik en sy absurde optrede is oneerlik - Duidelik dat daar geen politieke wil is om Afrikaans se status of posisie te bevorder nie. 


Dr Nzimande se wrewel in Afrikaans is opsigtelik en sy absurde optrede is oneerlik 
– Mandela se standpunt was dat die politieke wil ʼn oplossing vir Afrikaans kon bied  
 
Dr. Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, het nou weer op ʼn sluwe manier omgespring oor die inheemse posisie van Afrikaans.  

Dit blyk egter dat dr Blade Nzimande, Minister van Hoër Onderwys, nie tred hou met die realiteite van Suid-Afrika nie. Taal diversiteit is iets wat nie summier deur ʼn ideologiese bril afgemaak en verdag gemaak kan word nie. Sy ommeswaai oor Afrikaans en standpunte vroeër oor Afrikaans en Afrikaanse universiteite dui op ʼn dieperliggende afkeur van enigiets wat Afrikaans is. 

Ons herinner dr Nzimande as Minister van Hoër Onderwys aan die woorde deur mnr Mandela, wat juis nou in die 29e jaar van demokrasie, baie relevant is. Tydens ʼn ontmoeting met Afrikaanse organisasies in Kaapstad op 15 Mei 1996 en net na die aanvaarding van die finale grondwet sê president Nelson Mandela die volgende: (Afrikaanse weergawe van toespraak) 

“Ek het dit ook uitdruklik gestel dat daar, ten spyte van die aanvaarding van 'n nuwe grondwet, steeds punte van kommer bestaan onder verskillende minderheids-belangegroepe. En die feit dat ons die grondwet aanvaar het beteken beslis nie dat ons nou nie meer daardie punte van kommer gaan aanspreek nie. Ons sal voortgaan om te soek vir onderling aanvaarbare oplossings, want ons wil hê dat elkeen moet voel dat hy of sy deel uitmaak van die pogings om die probleme van Suid-Afrika op te los. En elkeen moet onvervreembaar deel voel van die Suid-Afrikaanse nasie wat ons bou.” 

“Een van die brandpunte in die grondwetlike onderhandelinge was die kwessie van taalmedium in die onderwys, en spesifiek die vraag na enkel-medium inrigtings. Kom laat ons hierdie gesprek vanoggend begin met die onderlinge aanvaarding van die feit dat daar van albei kante 'n kompromis aangegaan is oor hierdie saak. Nou lê dit op ons weg om in die implementering van daardie grondwetlike kompromis toe te sien dat aan alle belange gereg geskied. Dit word nou 'n kwessie van die politieke wil om dinge te laat slaag.” 

Oor Afrikaans spesifiek sê mnr Mandela: 
“Die argument wat gevoer kan word vir die behoud, beskerming en vertroeteling van Afrikaans is sekerlik nasionaal eerder as seksioneel. Dit is 'n Suid-Afrikaanse taal wat, volgens alle standaarde, merkwaardig presteer het in terme van ontwikkeling as 'n taal van wetenskaplike, akademiese en algemeen-intellektuele uitdrukking. 'n Nasie wat sy intellektuele prestasies op prys stel, sal uit sy pad gaan om die middele van daardie prestasies te beskerm en te bevorder. Dit, glo ek, is die groot en sterk argument vir Afrikaans. Dit is dieselfde argument wat gemaak kan word vir die bevordering van wetenskaplike uitdrukkingsvermoë in al die inheemse tale; dit is in die nasionale belang om 'n algemene wetenskaplike geletterdheid binne bereik van 'n groter publiek te bring.” 

Dit is duidelik dat die strewe van mnr Mandela nie aanklank vind by dr Blade Nzimande nie. Nee hy doen alles moontlik om ʼn speek te plaas in die vooruitgang en bevordering van Afrikaans. Natuurlik is Nzimande nie alleen te blameer nie. Afrikaans sou beslis nie vandag ʼn oorlewingstryd in onderrig op alle vlakke moes stry teen die regerende party as daar in 1996 geluister is na Mandela se opdrag nie. “Nou lê dit op ons weg om in die implementering van daardie grondwetlike kompromis toe te sien dat aan alle belange gereg geskied. Dit word nou 'n kwessie van die politieke wil om dinge te laat slaag.” Vir die Afrikaanse taalgemeenskap het dit duidelik geraak dat die politieke wil al vir dekades ontbreek en is Afrikaans aan die ontvangkant. 

Deur sy oneerlike en agterbakse optrede blyk dit egter asof die minister alles ongedaan wil maak en dat hy eerder die land se ryke diversiteit sal laat verengels as om iets konstruktief by te dra tot die beskerming en bevordering van inheemse tale, Afrikaans ingesluit. Dit word nou ʼn ideologiese obsessie om Afrikaans se posisie nou al meer in te kort en te verskraal. 

Die minister se aggressie en teenkanting vir Afrikaans ontbloot ʼn verdagte motief en moet sy uitsprake oor Afrikaans in die verlede ʼn mens met geen ander afleiding laat dat die minister geen vriend van Afrikaans is nie. Inteendeel hy het geen begrip oor diversiteit en die rol van alle inheemse tale in hoër onderwys nie. 

5 Oktober 2023 
Share by: