Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 6 Oktober 2020
Terug na e-Afrikaner

Plaasmoorde - landelike terreur moet prioriteit kry en 
dit verg politieke wil


Deur Dries Wiese, 
Voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond

Die Afrikanerbond kan nie anders as om aan te sluit by die talle burgerlike organisasies, georganiseerde landbou en individue wat reeds hulle skok en afgryse uitgespreek het oor onlangse plaasmoorde nie. In die besonder is die brutale en onnodige wrede moord of teregstelling van die 21-jarige Brendin Horner van Paul Roux een wat uitstaan en wat gemeenskappe noop om te roep – Tot hiertoe en nie verder nie! 

Die Afrikanerbond spreek daarom graag sy dank en waardering uit teenoor die Suid-Afrikaanse Polisiediens en alle betrokke rolspelers vir die spoedige wyse waarop die verdagtes aangekeer is. Die verloop van die reg moet nou sy gang gaan en sal ons die volle verloop van die regsproses noukeurig monitor. Ons innige simpatie teenoor die familie, geliefdes en vriende van die Horner gesin. Ons bid vir krag en berusting vir die Paul Roux gemeenskap. 

Ons kan egter nie anders as om te vra wat nog moet gebeur en hoe barbaars en koelbloedig moet misdaad nog wees alvorens die Suid-Afrikaanse regering daadwerklik toetree nie? Suid-Afrikaners belewe terreur in die landelike omgewing en dit verg dringende en nuwe prioriteite.  

Die Suid-Afrikaanse regering verkeer vir etlike jare in konflik met die landelike gemeenskap aan die een kant met haatspraak en opruiende standpunte en aan die ander kant die soms onwillige handelinge tot daadwerklike optrede. In die verband staan die minister van polisie, Bheki Cele sentraal tot die onvermoë om vir eens en vir altyd tot die hulp van veiligheid in landelike gemeenskappe te kom. 

 ‘n Ingrypende en drastiese benadering met verreikende uitkomste vir ‘n abnormale situasie met betrekking tot misdaad en veral landelike misdaad is nou absoluut noodsaaklik. Dit verg egter politieke oortuiging en wil en nie voortdurende ontkenning nie. 

Die landelike gemeenskap, boere en werkers en inderdaad elke Suid-Afrikaner verdien beskerming teen die huidige wette- en straffeloosheid. Dit is een van die basiese funksies van enige regering. Plaaslike boerdery-gemeenskappe het daarom die reg om alle redelike maatreëls te tref vir hul eie veiligheid en beskerming. Die Afrikanerbond ondersteun en moedig dan ook sulke maatreëls aan. Genoeg is genoeg!

Deel met ander belangstellendes

Share by: