Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com
e-Afrikaner - 6 Oktober 2020
Terug na e-Afrikaner

Die Oos-Kaap se skuif na IsiXhosa vraestelle is 'n stap in die regte rigting 


Deur Jan Bosman
Hoofsekretaris van die Afrikanerbond 

Dit is ‘n groot stap in die regte rigting dat matrikulante in die Oos-Kaap ook nou hulle matriekvraestelle in IsiXhosa, hulle moedertaal, kan skryf. Deel van die motivering is om die slaagsyfer te verhoog. Ons moet die vraag egter vra waarom dit so lank geneem het om tot die besef te kom? Reeds in 2010 het mev Angie Motshekga, Minister van Basiese Onderwys erken dat: - 
• “Swak vaardighede in Engels die grootste oorsaak is vir die swak 2009 matriek uitslae” 
• “Dat die meerderheid van leerlinge insluitende matrikulante in Engels moet studeer – alhoewel dit nie hulle huistaal is nie.”
• “Leerlinge wie se eerste taal nie Engels is nie, sukkel om hulself in die taal uit te druk.”

Is die ingrypende verandering dan ‘n erkenning dat regeringsbeleid om Engels af te forseer tragies misluk het? Die gedobbel met die onderrig van Suid-Afrikaanse leerlinge gaan egter voort met die aandrang op Engels as onderrigtaal vir nie-Engelssprekers. In ‘n land met 11 amptelike tale is hierdie beleid onlogies en wys matriek uitslae dat die meerderheid van leerlinge nie die mas opkom met onderrig in Engels nie. 

Navorsing het oor en oor bewys dat gedwonge vreemdetaal-onderrig grootskaalse ongeletterdheid veroorsaak. Dr. Kathleen Heugh, `n kenner op die gebied van moedertaalonderrig, is van mening dat die vroegtydige onderbreking van moedertaalonderrig kognitiewe- en akademiese ontwikkeling onderbreek. In lande waar daar goed opgeleide onderwysers, voldoende klaskamers en genoeg boeke is, het kinders gewoonlik tussen ses en agt jaar nodig om `n tweede taal te leer voordat hulle dit as `n medium kan gebruik. In swakker toegeruste skole kan leerders moontlik eers in Graad 9 in staat wees om die skuif te maak. Swak prestasies in geletterdheid, wiskunde en wetenskap hou ook verband met vroegtydige onderbreking van die moedertaal as onderrigmedium.  

Aangesien moedertaalonderwys een van die belangrikste fondamente vir die bevordering en beskerming van die regte van kultuur-, godsdiens- en taalgemeenskappe is, en - 
• aangesien dit internasionaal op grond van grondige navorsing bewys is en aanvaar word dat moedertaalonderrig onontbeerlik is vir die vorming en ontwikkeling van leerders, en
• aangesien ouers die reg het om die taal en medium van onderrig vir hulle kinders te kies,
- is dit dringend noodsaaklik dat die regering moet herbesin oor moedertaalonderrig vir alle Suid-Afrikaners. Oor en oor is bewys dat taal lei tot prestasie. Ongelukkig is hierdie beginsel versaak en is die taalprestasie van Suid-Afrika se skoolbevolking baie swak. Van die redes wat aangevoer word was juis swak onderrig en die noodsaak vir moedertaalonderrig.

Die Afrikanerbond is op rekord dat ons aandring op moedertaalonderrig vanaf Graad 1 tot Graad 12. Verengelsing is nie die antwoord nie. Dit word bewys deur die swak matriek resultate. Om matriek vraestelle in ʼn moedertaal te skryf is ʼn begin maar dit kan nie die enigste antwoord wees nie. 

Dit is eenvoudig so dat indien die Regering nie onmiddellike stappe doen om die omstandighede te skep vir die ontwikkeling en gebruik van al ons amptelike tale, soos vereis word deur art 6(5)(a) van die Grondwet nie, die vooruitsigte vir ons inheemse tale - en vir die toekomstige opvoeding van kinders uit die betrokke taalgroepe - uiters negatief sal wees. En dit beteken bo alles dat veel groter erkenning verleen moet word aan die rol van moedertaalonderrig in ons onderwysstelsel.  

Deel met ander belangstellendes

Share by: