Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Junie 2022

Afrikaners onder die vergrootglas  - die optrede van een raak die ander

 Deur Jan Bosman 

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond


Die optrede van ʼn individu plaas ʼn groep weer onder druk. Dit het ons onlangs gesien met die urine insident by die Universiteit van Stellenbosch. Nou is almal wat wit is rassiste en Afrikaners se opvoeding van hulle kinders word uitgewys as problematies. Elkeen in die Woke-kultuur en politieke opportuniste gryp nou na iets om Afrikaners en wittes weer met breë hale van ʼn verfkwas te etiketteer, as rassiste, seksiste, chauviniste, paternaliste en anders -istes en -ismes wat verdag voorkom.

 

Suid-Afrika is ʼn diverse land van kulturele, godsdienstige en taalkundige gemeenskappe. In ʼn bevolking van meer as 56 miljoen mense is daar verskillende tale, kulture, gelowe, gebruike en tradisies. Tussen die Bapedi’s Shangaan-Tsongas. Zoeloes, Vendas, Ndebeles, BaTswanas, BaSotho’s, Sotho’s, Xhosas, Engelse, Bruin, Indiër, Khoi-San, Namas en Afrikaners kry mens ook diegene wat arm en ryk is, miljoenêrs en armes, bouers en brekers, leiers en volgers, gelowiges en ongelowiges intellektuele en ploeteraars, kunstenaars en kleinburgerlikes, tegnoloë, tegnici, wetenskaplikes, boere, opvoeders, ekonome, juriste, medici en studente. In die mikrokosmos van mense en kulture is almal se gedrag nie die heeltyd onbesproke nie, soms ʼn verleentheid en kry ons ook diegene wie se gedrag nie val binne normale reëls, norme en standaarde nie.

 

Die laaste ruk het ʼn aantal voorvalle uitgelig waarin Afrikaners hulleself, of na bewering of deur bewys, skuldig maak aan onaanvaarbare en onmenslike optrede, in sommige gevalle rassisties en ook soms kru seksisties en soos onlangs ook gewoon platvloers. Dit kan op geen manier goedgepraat, verdedig of regverdig word nie.

 

Ons moet enige kwetsende neerhalende opmerkings en gedrag deur Afrikaners verwerp maar so ook opmerkings en neerhalende gedrag teenoor Afrikaners. Dit is konsekwente optrede. Die manier en integriteit waarop ons verwag mense teenoor ons moet optree, moet ons ook in staat stel om op dieselfde wyse teenoor ander op te tree.

 

Soms is enkele individue se geïsoleerde gedrag die sneller wat ʼn openbare storm ontketen en reflekteer die storm nie net op die individue nie, maar veral op die groep, geslag identiteit of etnisiteit waarmee hulle assosieer en in die geval Afrikaners. Daarom kan en behoort ons nie geassosieer te word met optrede wat menswaardigheid skaad, diskriminerend, soms rassisties of selfs misdadig is nie. Ons weet dat die meerderheid Afrikaners wel hierdie tipe van gedrag as afstootlik beskou en dit verwerp. Omdat Afrikaners se onlangse verlede egter nog tot ʼn groot mate teen ons gehou word, word ons ook anders beoordeel en word ons saam ingetrek in die maalkolk van veroordeling.

 

Dit is dan in tye soos die, wat die afgelope dekades se harde werk aan verhoudinge, die soeke na oplossings in antwoorde in ons onderskeie gemeenskappe, waar skouer aan die wiel gesit word en gehelp word aan die bou van die land, ongedaan gemaak word. Ons lojaliteit aan Suid-Afrika en ons daaglikse respekvolle omgaan met mede-Suid-Afrikaners is dan weer in die spervuur en word ons anders geëvalueer.

 

Ons het almal ons frustrasies met huidige gebeure in die land. Sommige van die frustrasies skakel om in woede. Die kanalisering van woede en frustrasie bring ongelukkig in sommige gevalle die slegste in mense se karakter en gedrag na vore. Dit help egter niks om na die regerende party se rassisme, onbevoegdheid, korrupsie, staatskaping te verwys nie, want hier is gewis ander standaarde wat geld.

 

Ons, Afrikaners is knaend onder druk en in die nabye toekoms sal dit so bly. Ons aksies rondom Afrikaans, die behoud van ons erfenisse en kultuur, skole en universiteite plaas ons heeltyd op de agtervoet om te wonder watter aanslag is volgende.  Waar sommige aksies onskuldig, onnadenkend of soms net blote stommiteit is, is Afrikaners deurgaans onder die vergrootglas en word dit ten regte of ten onregte as rassisme gesien.

 

Ons kan nie die regering en die regerende party daarvan beskuldig dat hulle voortdurend die rassekaart speel as sommige Afrikaners wel skuldig is deur woord of daad nie. Ons moet ook die vrymoedigheid hê om sulke aksies in eie geledere te bevraagteken, aan te vat en soms ook te kritiseer want goeie werk word deur ‘n verskeidenheid van individue en organisasies gedoen. Ons sal moet leer om sensitief en met deernis op alle vlakke van die samelewing met mekaar om te gaan.   

 

Dit verg vandag meer deurdagte en deurdinkte optrede en veral moet ons twee, of selfs drie keer, dink voordat ons iets sê, doen of op sosiale media kwytraak. Die mens is geneig om soms impulsief te wees, maar soms  - net soms - is die kool die sous nie werd, nadat iets gesê of gedoen is nie. Die huidige tydsgewrig beoordeel Afrikaners nog steeds anders, veel strenger en meer subjektief. Daarom moet ons optrede onkreukbaar wees.

 

(Die artikel is in verkorte formaat op 20 Mei 2022 op Netwerk24 gepubliseer

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: