Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        April 2024

Apartheid is dood – lank lewe nuwe diskriminasie en rassisme

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

In 2024 is ons reeds in die 30ste jaar van veronderstelde demokrasie in Suid-Afrika. Gereeld word verwys na die eerste verkiesing van 27 April 1994 as die begin van die demokratiese Suid-Afrika. Ons demokrasie behoort teen hierdie tyd reeds stewig gevestig te wees, as daar na die spesifieke voorwaardes gekyk word, waaraan voldoen moet word voordat enige demokrasie as gekonsolideerd of gevestig beskou kan word, naamlik:

  • ʼn Vrye en sterk burgerlike samelewing.
  • ʼn Outonome “politieke samelewing” met genoegsame “samelewings beheer” oor die strukture van die staat.
  • Alle politieke akteurs is onderworpe aan die oppergesag van die reg wat burgerlike vryhede beskerm.
  • ʼn Deursigtige, verantwoordelike en funksionerende staatsadministrasie.
  • ʼn Gevestigde en geïnstitusionaliseerde ekonomie waarin ʼn mark-ekonomie en die privaatbesit van produksie-faktore prominent figureer.

 

As daar na die vereistes gekyk word, is daar gevaartekens aan die een kant maar ook nuwe hoop en optimisme aan die ander kant. Dit is egter nie die eerste keer wat ons die gevare van demokrasie beleef nie.

 

1990 met sy gebreke begin die grondslag lê vir demokrasie

Vir wit Suid-Afrikaners begin die verhaal van die nuwe Suid-Afrika reeds enkele jare voor die eerste demokratiese verkiesing. Ons moet die verhaal gaan haal by die geskiedenis rondom FW De Klerk se 2 Februarie 1990 toespraak en die staatkundige hervorminge wat plaasgevind het, en waarin apartheid stelselmatig afgetakel is deur die wit regering en aanvaar is deur die wit bevolking.

 

Ons moet dit wat ons vandag sien en ervaar evalueer teen die verlede en veral die omgewing in die 1980’s. Apartheid en die toepassing daarvan is toe reeds bevraagteken en moet ons kortliks die agtergrond skets.

  • ʼn Toenemende besef dat die apartheidstelsel met onreg en onmenslikheid gepaard gegaan het.
  • Daar was internasionale druk wat deur sanksies en isolasie teweeggebring is.
  • Apartheid sowel as die koste aan die omseiling van sanksies was ekonomies onvolhoubaar vir die NP regering. 
  • Die toepassing van die tuislandbeleid het die teenoorgestelde effek tot gevolg, met ʼn groter swart demografie in die wit gebiede en verstedeliking wat toegeneem het.
  • Die ANC se toenemend internasionale invloed en ondersteuning en die morele hoë grond wat hulle daardeur beklee het.
  • Binnelandse opstande en terreur en toenemende onstabiliteit om die land onregeerbaar te maak.
  • ʼn Duur grensoorlog wat in Suidwes-Afrika gevoer is, met gepaardgaande lewensverlies.
  • Al meer druk vanuit wit en Afrikanergeledere, waaronder uit kerk en Afrikaner instansies om politieke oplossings vir swartmense te vind.

 

Die onstabiele staatkundige omgewing en die internasionale vensters van geleentheid naamlik, die val van kommunisme, en die Berlynse muur het die NP Regering en FW De Klerk genoop om die staatkundige hervormings aan te kondig op 2 Februarie 1990. Dit het die weg gebaan vir onderhandelinge wat moes volg.

 

Alhoewel daar aanvanklik groot steun was vir De Klerk se hervormings, het dit in die tydperk daarna geblyk dat kiesers se onsekerheid en gepaardgaande politieke weerstand by die stembus bevestig word. Op 22 Mei 1991 het die Konserwatiewe Party die Ladybrand-setel in die Vrystaat teenoor die Nasionale Party gewen met 6 276 stemme teenoor 5 018. ʼn Paar maande later op 28 November 1991 is die Nasionale Party verder geskok met die uitslag van ʼn tussenverkiesing in Virginia. Weer het die Konserwatiewe Party ʼn setel van die Nasionale Party verower met ʼn meerderheid van 3166 stemme. Met die afsterwe van Louis le Grange en die vakature wat gelaat is, was die Potchefstroomse tussenverkiesing op 19 Februarie 1992 die volgende groot toets vir die Nasionale Party. Die Nasionale Party was platgeslaan toe die Konserwatiewe Party hierdie setel by hom afneem met ʼn meerderheid van 2 140 stemme. Die pil was nog bitterder deurdat die Nasionale Party dié setel in 1948 gewen het, en net ʼn paar jaar tevore met die algemene verkiesing van 1989, nog ʼn gesonde meerderheid van 1 580 stemme gehad het. Net ʼn paar uur na die groot nederlaag op 20 Februarie 1992, kondig F.W. De Klerk die referendum vir die wit bevolking aan. ʼn Ongekende mobiliseringsveldtog het gevolg. Dit was ʼn besliste strategiese skuif om stukrag te gee aan die hervormingsproses, sonder om by die stembus getoets te word.

 

Die referendum van 17 Maart 1992 en die 1994 verkiesing

Die vraag in die referendum op 17 Maart 1992 was: “Steun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ’n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?”

 

85,08 persent van die sowat 3 296 800 geregistreerde kiesers het op die dag gestem. Die uitslag het vriend en vyand verras.  Altesame 68,6 persent van die 2 804 947 wit kiesers wat gaan stem het, het ja gestem. Prof Hermann Giliomee skryf in sy boek Die laaste Afrikaner leiers: “Die gevolg was ʼn reuse oorwinning vir die ja-stem, met 69% van die stemme uit ʼn stempersentasie van 85%. Na raming het 62% van die Afrikaners en 70% van die Engelssprekende kiesers Ja gestem.”

 

Die uitslag het nuwe momentum aan onderhandelinge gegee en is die 1993 oorgangsgrondwet geskryf en het dit gelei tot Wet 108 van 1996, die Finale Grondwet van Suid-Afrika. 

 

Op 27 April 1994, presies 1545 dae na FW De Klerk se toespraak, vind Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing plaas. ʼn Verdere 14 dae na 27 April 1994 en Suid-Afrika se eerste demokratiese verkiesing, het die wêreld asem opgehou toe President Nelson Mandela ingehuldig is. By die Uniegebou in Pretoria sê Mandela onder andere in ʼn toespraak wat spreek van versoening tot die hele bevolking:

“Ons het oorwin in die poging om hoop in die harte van miljoene van ons mense te plant. Ons onderneem deur 'n verbond dat ons ʼn samelewing sal bou waarin alle Suid-Afrikaners, swart en wit, hulle koppe omhoog kan hou, sonder enige vrees in hul harte, verseker van hul onvervreembare reg op menswaardigheid - 'n reënboognasie wat vrede het met homself en die wêreld. Ons moet dus as 'n verenigde volk optree, vir nasionale versoening, vir nasiebou, vir die geboorte van 'n nuwe wêreld.” Ten einde sê hy dan. “Daar sal nooit, nooit, nooit weer in hierdie pragtige land onderdrukking van een deur ‘n ander wees en wat die vernedering moet ervaar van ‘n land wat die muishond in die oë van die wêreld is nie”.

 

Die 1996 Grondwet en Aanhef

Het die woorde van Mandela ʼn valse gerusstelling by die wit bevolking geskep? Nee – want in die aanhef tot die grondwet van 1996 lees ons ook die volgende

Ons, die mense van Suid-Afrika,

Erken die ongeregtighede van ons verlede;

Huldig diegene wat vir geregtigheid en vryheid in ons land gely het

Respekteer diegene wat hul beywer het om ons land op te bou en te ontwikkel; en

Glo dat Suid-Afrika behoort aan almal wat daarin woon, verenig in ons verskeidenheid.

Daarom neem ons, deur ons vryverkose verteenwoordigers, hierdie Grondwet aan as die hoogste reg van die Republiek ten einde-

Die verdeeldheid van die verlede te heel en 'n samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep;

Die grondslag te lê vir 'n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word;

Die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit; en 'n Verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as 'n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem.

Mag God ons mense beskerm.

 

Hierop volg die grondwetlike bepalings in Hoofstuk 1 Art 1: “Die Republiek van Suid-Afrika is een, soewereine, demokratiese staat gegrond op die volgende waardes:

(a) Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.

(b) Nie-rassigheid en nie-seksisme.

(c) Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.

(d) Algemene stemreg vir volwassenes, 'n nasionale gemeenskaplike kieserslys, gereelde verkiesings en 'n veelparty-stelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, 'n responsiewe ingesteldheid, en openheid te verseker.”

 

Dit blyk egter dat Afrikaners reeds in die finale fase van onderhandelinge, die ontnugtering begin ervaar het van ʼn nuwe bedeling waarin hulle gemarginaliseer gaan word. Sommige Afrikaner organisasies het reeds vroeg ʼn konstruktiewe benadering begin volg met die verhouding van die nuwe regering, maar ook dit het in later jare geblyk nie suksesvol te wees nie. Reeds in 1996 skryf die Afrikanerbond in die dokument “Draer van ʼn ideaal” - 

“Die konstruktiewe houding wat die AB, onder die voorsitterskap van Tom de Beer, teenoor die ontwikkeling van ’n nuwe denkraamwerk en ’n nuwe staatkundige bedeling ingeneem het was in werklikheid, soos meermale in sy geskiedenis oor ander sake gebeur het, die gemiddelde man op straat ver vooruit. Dit het veral vir Afrikaners gegeld. Daarom het die UR in Maart 1996 kennis geneem daarvan dat die meeste Afrikaners die nuwe bedeling sedert 1994, en veral in die jongste aantal maande, met veel groter skok ervaar het as wat geantisipeer is. Die verwagting dat die beginsels waarop die nuwe grondwet gebaseer is vir Afrikaners veral ten opsigte van taal- en kultuurregte sekuriteit sou bied, is nie bewaarheid nie. Daarom oordeel die AB dat hy in die nuwe bedeling ’n nog veel groter rol as voorheen sal moet speel om die Afrikaner tot selfhelp en selfversorging te motiveer. Dit is veral onderwys, ekonomiese bemagtiging, leierskap, maatskaplike versorging en die behoud van waardes wat tans sy besondere aandag geniet.”

 

Die versugting is toe reeds uitgespreek in die standpunt by ʼn 1994 Bondsraad oor wie in die nuwe bedeling namens Afrikaners moes praat. Dit was net na die oorgang na ʼn nuwe bedeling en was daar al vir meer as ʼn dekade groot politieke verdeeldheid in die geledere van Afrikaners. Die voorsitter van die AB die sakeman Tom de Beer sê by die Bondsraad in Oktober1994: -

“Maar die vraag is werklik, wie praat namens die Afrikaanssprekende gemeenskap? Polities het ons die luuksheid van verdeeldheid soos nog nooit tevore in ons geskiedenis nie. Ons was nog nooit in die geskiedenis, behalwe miskien vir die twaalf tot twintig goue jare tussen 1948 en 1968, polities bymekaar nie. Laat ons net in ons hantering van verskille as volwasse mense mekaar respekteer en in gesprek gaan om by die beste antwoorde uit te kom. In die kultuurwêreld is daar 29 organisasies by die Afrikanerkultuurforum betrokke. Is dit moontlik dat 29 sinvol in Suid-Afrika kan bestaan in hierdie tyd waar ons almal finansieel wurg om organisasies aan die gang te hou? Wat gaan ons daaromtrent doen? Dit is nodig dat ons dringend sal besin oor die kernwaardes wat beide vertrekpunte en bestemming is in die soektog om gestalte te gee aan die volgende bakstene in 'n nuwe maar werklike Suid-Afrika: Demokrasie, Groepsidentiteit, Partypolitiek. Kultuur. Ekonomiese bemagtiging. Regstellende optrede.”

 

Afrikaners in die nuwe Suid-Afrika

In die tydperk moes bestaande organisasies hulle werkswyses aanpas en het nuwe organisasies tot stand gekom. Die nuwe organisasies het met groot sukses die georganiseerde kultuur en erfenisbelewenis van die Afrikanerlandskap verander. Daarmee saam moes Afrikaners ook die aanpassing maak, Van nature was Afrikaners nie gemaklik met aktivisme nie. Afrikaners demonstreer en agiteer nie en word ook nie maklik gemobiliseer in ʼn  massa nie.

 

Wat wel begin gebeur het, is dat die omgewing se veronderstelde negatiewe effek as gevolg van transformasie, uiteindelik ʼn positiewe nalatenskap gehad het. Afrikaners het transformasie begin beleef in die ekonomie, die gemeenskap, die onderwys, en vele terreine. Binne die geografiese verspreiding van Afrikaners regoor die lengte en die breedte van Suid-Afrika, het die verdeling ʼn ander tipe eenheid tot gevolg gehad.

 

 Afrikaners het regte en geleenthede vanuit die grondwet aangewend tot ontwikkeling en bevordering van ’n eie identiteit, waardes en die bewaring en versorging van eie kultuurgoedere en -skeppinge. Dit het Afrikaners bemagtig om nie geleidelik in ’n smeltkroes ingetrek of geassimileer te word nie. Hierdie vorm van selfbeskikking of outonomie,  kon net binne ’n demokratiese bestel en met demokratiese tegnieke vir effektiewe deelname aan die interne stelsels  verseker word.

 

Die suksesvolle oorlewing en ontwikkeling van ʼn identiteit het ook teen ʼn prys gekom. Afrikaners is beskuldig daarvan dat bevoorregting geperpetueer word, ons weerhou onsself van ons medeburgers en hulle probleme en ons ontrek ons samewerking aan die bou van ’n nuwe Suid-Afrika.

 

Ons bly vas oortuig dat die regte van Afrikaners ten beste gedien kan word:

  • deur te weier om swak bestuur, magsmisbruik en afwykings van die basiese grondwetlike beginsels waaroor ooreengekom is, te aanvaar;
  • deur strategies en kreatief te dink en te doen, sodat die Afrikaner se bydrae as konstruktief en positief beleef word.

 

Oorlewing in ʼn nuwe rasbedeling

Die politiek-staatkundige omgewing het egter nie makliker geword vir Afrikaners nie. Sedert Uniewording in 1910 en met die toepassing van apartheid het Suid-Afrika 313 wette, regulasies, beleide en uitsprake van hoër howe gehad wat beleid moes rig. In die nie-rassige, demokratiese samelewing is daar volgens die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseverhoudinge se ras indeks (SAIRR, 2023:1) tot op 24 Oktober 2023, 116 wette met betrekking tot ras aangeneem deur die Parlement en is 141 stukke wetgewing nog in gebruik. Ons mag dus in teorie ʼn demokrasie hê, maar is een stelsel van wit minderheidsmagsdominasie vervang met ʼn stelsel van swart meerderheidsmagdominasie en wat deur raswetgewing in stand gehou word. Nuwe apartheid en nuwe diskriminerende rassisme is in die naam van trasformasie gevestig.

 

Tans word ‘Chasing the Sun2’ uitgesaai op DSTV en wat handel oor die Springbokke se veldtog vir die Rugby Wêreldbeker in 2023.  As mens kyk na Rassie Erasmus en Siya Kolisi is daar ʼn verskil in benadering. Rassie en die Springbokke het duidelike teikens en doelwitte en word gefokus daarop en word dit behaal deur effektiewe aanwending van meriete in diversiteit. In die res van die ANC-land is die fokus op transformasie van wit na swart (nie diversiteit nie) en word die uiteindelike doelwitte verloor en uiteindelik verloor ons almal. Dit is hoekom ons 'n wenspan soos die Springbokke ondersteun, want ons het almal ʼn belang daarby. Dit is iets wat die ANC-regering nog moet leer.

 

Lesse te leer uit die verlede

Watter lesse is daar vir Afrikaners te leer uit die verlede en sien ons vandag 30 jaar na veronderstelde demokrasie enigsins hoop?

 

Ons moet leer uit die lesse van die verlede want dit gaan ons toekoms bepaal. Ons moet erken foute is gemaak:

  1. Ons 1961 republiek het teen ‘n prys gekom. Ons wou Afrikaner-nasionalisme bevorder binne ‘n Afrikaner republiek en daaruit is apartheid gebore. Ons het ander se regte begin wegneem om onsself te beskerm, ons het onmenslik opgetree in ‘n poging om Afrikaner eenheid te bevorder, maar die prys was te groot.
  2. Afrikaners het die gerief gehad om ons eie belange aan die staat uit te kontrakteer en die staat en die Nasionale Party het as die versorger, die bewaker en die bevorderaar van Afrikanerbelange begin optree. Ons het as’t ware ons eie belange aan die staat oorhandig.

 

Afrikaners – ʼn Tienpunt bevestiging van wie en wat ons is.

Die gebeure van  1990 en 1994 het Afrikaners onverhoeds en onvoorbereid betrap. Ons moes skielik anders begin dink en het die 30 jaar sedert 1994 ons op ʼn ander wyse gelouter en getemper.  Daarom vereis 2024 van ons om anders te dink en op te tree.   

  • Afrikaners se taal en kultuur is inheems aan Afrika.  Ons het onsself, ons taal en baie van ons instellings na Afrika vernoem. Afrikaners is onlosmaaklik deel van die kontinent en ons reg tot bestaan is op die wyse bevestig. Dit is nie in die hande van of afhanklik van die nukke of grille van populiste en politici wat veg vir eie oorlewing nie.
  • Afrikaners het vir jare gewroeg oor ons skuld aan die verlede. Ons verval te maklik in ʼn staat van angs as ons ons steur aan diegene wat ons wil wegjaag, die blaam van Van Riebeeck en 1652 gebruik om hulle eie tekortkominge weg te steek. Na 30 jaar kan ons ons koppe optel. Ons hoef niks van niemand te smeek nie en nog minder hoef ons weer verskoning te maak.
  • Die blaam van apartheid is verby. Dit gaan nie meer af nie. Niemand het vandag meer die reg om Afrikaners te blameer nie. Ons moet dit verwerk en dit laat wegvloei, soos water van ʼn eend se rug af.
  • Afrikaners het ‘n bron van stabiliteit vir die samelewing geword in ʼn onstabiele omgewing – In die agtergrond van meeste politieke gesprekke is dit die onderliggende tema.
  • Afrikaners is hier om te bly. Ons het nie ʼn tweede paspoort nie. Van die Kaap tot Messina lê die spoor van Afrikaners se pionierswerk waarin ons opgebou en nuut geskep het.
  • Afrikaners se kundigheid is vandag nog steeds beskikbaar tot voordeel van die land – ons het dit nie weggeneem nie, die hand van saamwerk en hulp is afgewys. 
  • Afrikanereenheid is ʼn vals droom. Dit sal nooit bereik word nie. Afrikaners het wel die kuns aangeleer van aansluitende samewerking en die ervaring tussen verskillende organisasies die laaste paar jaar, is ʼn praktiese demonstrasie hiervan. 
  • Afrikaners het ʼn nuwe selfstandigheid aangeleer en aanpassing in omstandighede en daardeur is ʼn nuwe entrepreneuriese ingesteldheid ontwikkel.
  • Afrikaners dien nie slegs eie belang nie. Die vaardighede in ons geledere word aangewend tot almal se voordeel (Slaggate word vir almal herstel en sekuriteit is tot voordeel van almal). 
  • Afrikaners het geloofwaardige bemagtigers geword van mense om hulle, nie net Afrikaners nie. 

 

Vandag bevind Afrikaners hulself steeds, soos in die verlede, in verskillende politieke partye met wyd uiteenlopende ideologiese oortuigings. Dit sluit nietemin nie uit dat Afrikaners vanuit verskillende agtergronde openhartig met mekaar kan en moet praat oor ʼn kollektiewe staatkundige toekoms indien dit vir hulle belangrik is nie. Afrikaners moet leer uit die lesse van die verlede. Dit verg ʼn balans in optrede oor sake wat Afrikaner-spesifiek is en sake wat elke Suid-Afrikaner, ook Afrikaners, raak.

 

Die demokratiese bedeling wat onderhandel is, het hoop gegee aan miljoene Suid-Afrikaners dertig jaar gelede en moes ʼn bedeling skep gevestig op vaste waardes. Vir sommige het dit ʼn dolle en frenetiese bevordering van eiebelang en selfverryking geword. Vir Afrikaners het dit ʼn onbetwisbare geleentheid geword van selfgelding, identiteitbevestiging, selfontwikkeling en het dit ʼn bestel geword waarin Afrikaners hulle self uitleef ten spyte van omstandighede en waarin ons gemeenskappe versterk en ontwikkel word.

 __________________________________________________________

Van die gedagtes in die artikel spruit voort uit die reeks van 2 onderhoude op RSG op 20 en 27 Maart 2024. 

 

Die Afrikaner-Broederbond en 30 jaar van demokrasie – Onderhoud op RSG op 20 Maart 2024.

Op en Wakker onderhoud – RSG Potgooi

In die eerste in program van 2 - RSG Inleiding Die Afrikaner Broederbond, deesdae bekend as Die Afrikanerbond, is al langer as ‘n eeu voortdurend in die nuus. Onlangs weer is die organisasie se rol met kaderontplooiing vergelyk. Ons vier vanjaar 30 jaar van demokrasie in Suid-Afrika. Het die Broederbond ‘n rol gespeel in die oorgang na demokrasie? Jan Bosman is die hoofsekretaris van die Afrikanerbond en het onlangs sy meestersgraad oor die onderwerp voltooi.

https://omny.fm/shows/op-en-wakker/die-broederbond-se-rol-in-demokrasie-deel-1

 

Die Afrikaner-Broederbond en 30 jaar van demokrasie - Onderhoud op RSG op 27 Maart 2024.

Op en Wakker onderhoud – RSG Potgooi

Hierdie is die tweede gesprek in Op en Wakker in die program van 2 -

In die onderhoud word gesels oor die AB se reaksie op FW De Klerk se 2 Februarie 1990 toespraak, die onderhandelinge, die referendum van 17 Maart 1992 en die AB se evaluering van die onderhandelde skikking. Jan Bosman, hoofsekretaris van die Afrikanerbond verwys ook na lesse geleer uit die verlede en hoe Afrikaners die toekoms sien. 

https://omny.fm/shows/op-en-wakker/die-broederbond-se-rol-in-demokrasie-deel-2

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: