Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Maart 2022

Apartheid - 'n Misdaad teen die mensdom, of nie?


Deur Johan Mostert

 Onlangse briewe en artikels in Afrikaanse dagblaaie verkwalik FW de Klerk vir sy onwilligheid om rondborstig te erken dat apartheid ‘n misdaad teen die mensdom was. Ek kan verstaan waarom De Klerk huiwerig was. ‘n Erkenning sou die destydse regering onmiddellik in dieselfde kategorie plaas as lande waar menseslagting doelgerig plaasgevind het. Suid-Afrika sou dan oor dieselfde kam geskeer word as lande soos die Balkan-state, Rwanda, Sierra Leone, en Kambodja waar onmenslike wreedhede gepleeg is. De Klerk het egter terwille van versoeningspolitiek dit nodig gevind om kort voor sy dood ‘n erkenning te maak.

 

Daar is egter by baie ander steeds ‘n onwilligheid. Afkeer in die kategorisering van apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom, hang onder meer saam met die konteks waarin die veldtog teen apartheid destyds gevoer is. Dit is algemene kennis dat dit gedryf is deur geopolitieke faktore van die dag en dat openbare skynheiligheid en deursigtige dubbele standaarde ‘n rol gespeel het. Van dieselfde lande wat die mosie teen Suid-Afrika in die VN gedryf het, was juis hulle wat van die ergste menseregtevergrype gepleeg het (onder meer die USSR en sy satelliete). Verantwoordelike lande het nie die nodigheid ingesien om apartheid in dié mate te veroordeel nie, wat nie beteken dat hulle apartheid verontskuldig het nie, maar het waarskynlik saamgestem met die VSA se ambassadeur, Clarence Ferguson: "[W]e cannot... accept that apartheid can in this manner be made a crime against humanity. Crimes against humanity are so grave in nature that they must be meticulously elaborated and strictly construed under existing international law..."

 

Al die dade wat in die internasionale arena as misdaad teen die mensdom toegereken is, was lande wat doelgerig, met intensie, gruweldade gepleeg het. Apartheid val nie in daardie kategorie nie. Daar was nie ‘n bose intensie nie. Nêrens in enige geskiedenisboek is opgeteken dat dit die doel van die regering was om mense van kleur uit te wis, te onderdruk of enige ander onreg teenoor hulle te pleeg nie. Die mite is geglo dat welvarende wit én swart gebiede sal kan gedy.

 

Dit sou egter naïef wees om apartheid hierdeur te verontskuldig. Wat was apartheid dan? Apartheid was ‘n oefening in sosiale ingenieurswese wat gruwelik misluk het. Met die beste bedoelinge in die wêreld is gepoog om ‘n struktuur vir vreedsame naasbestaan te skep, maar dit het hom vasgeloop teen die rotse van die realiteit. Die sonde van apartheid was dat die onwerkbaarheid van die stelsel nie betyds ingesien is nie en daar nie insig en empatie betoon was met die skreiende onreg wat die implementering van die stelsel meegebring het nie. Onomwonde moet erken word dat apartheid as stelsel die menswaardigheid, die psige, van mense van kleur ernstig aangetas het. Daar kan nie van hierdie realiteit weggeskram word nie.

 

Wat my egter voor die bors stuit, is dat ‘n erkenning van apartheid as misdaad teen die mensdom as wagwoord vereis word om toegang te verkry tot die legitimering van ‘n erkenning dat apartheid verkeerd was. Doen jy dit nie, is daar nog steeds die aanklag van ‘n sublieme terug hunkering na apartheid. Om apartheid as ‘n misdaad teen die mensdom te beskou, is egter ‘n ernstige miskenning van die kompleksiteit van apartheid.

 

Ek sluit af met ‘n subjektiewe opmerking. My voorgeslagte was nie mense wat met bose intensies mense van ‘n ander velkleur wou uitwis of onderdruk nie. Hulle was miskien harteloos of eenogig of wat ook al, maar bose bedoelings wat hulle laat kwalifiseer vir die pleeg van ‘n misdaad teen die mensdom, het hulle nie gehad nie.

 

Johan Mostert,

Faerie Glen.

 ______________________________________________________________________________________

Ter wille van volledigheid plaas ons graag die volgende uittreksel van ʼn toespraak van Mnr FW De Klerk waarin hy verwys na die VN resolusie en die agtergrond van die resolusie. Die toespraak is gelewer by die AB se Bondsdraad op 29 Mei 2015 wat by die Voortrekkermonument gehou is.  

 

 ONS TOEKOMS IS IN ONS EIE HANDE

Sommige Afrikaners volg anti-wit ANC-beleidsrigtings na omdat hulle bang is; ander volg dit na omdat hulle deur hul eie historiese skuldgevoel verlam word.

 

Die eerste ding wat ons moet doen om ons toekoms as Afrikaners te verseker, is om ’n gebalanseerde siening van ons verlede te ontwikkel en om te ontsnap aan die skuldgevoel wat veroorsaak dat so baie van ons skaam is vir wie ons is.

 

Laat ek dit dadelik duidelik stel dat – wanneer ek hierdie dinge sê - dit nie my bedoeling is om apartheid te regverdig nie. Apartheid het politieke regte en vryhede van diegene wat nie wit is nie ernstig beperk en was ’n belediging vir hul menswaardigheid. Dit het hul vermoë om aan ekonomiese aktiwiteite deel te neem, beperk; dit het tot die gedwonge verskuiwing van meer as drie miljoen mense gelei; en meer as 17 miljoen mense is in hegtenis geneem vir pas-oortredings.

 

In Mei 1996 het ek voor die Waarheids- en Versoeningskommissie opreg om verskoning gevra vir al die ongeregtighede wat apartheid veroorsaak het. Selfs meer belangrik is die feit dat die Nasionale Party ses jaar vantevore die proses om apartheid af te skaf ingelui het en die leiding geneem het in die daarstelling van ’n nie-rassige grondwetlike demokrasie.

 

Maar was apartheid ‘n ‘misdaad teen die mensdom’ soos wat die ANC so dikwels aanvoer?

 

Die Instituut vir Geregtigheid en Versoening het vroeër hierdie jaar berig dat 52.8% van wit mense steeds so dink - maar is hulle reg?

 

Eerstens moet ons kyk na die oorsprong van die klagte:

In November 1966 het die VN se Algemene Vergadering verklaar dat apartheid ’n misdaad teen die mensdom is - en in 1973 het dit die Convention on the Suppression and Punishment of the Crime of Apartheid aanvaar.

 

Beide die resolusie en die Verdrag was politieke inisiatiewe van die Sowjet-Unie - wat self wesenlike misdade teen die mensdom gepleeg het - met inbegrip van die uitwissing van miljoene mense. In 1976 toe die Verdrag in werking getree het, was 23 van die 31 ondertekenaars volgens Freedom House “nie vry nie”. Ses was “gedeeltelik vry” en slegs twee was “vry”. Ironies genoeg is Suid-Afrika geklassifiseer as “gedeeltelik vry” - en het oor ‘n beter punt vir menseregte beskik as 27 van die ondertekenaars.

 

Die 109 state wat gevolglik by die Verdrag aangesluit het sluit nie een van die belangrike demokrasieë in nie - selfs nie die groot ondersteuners van die ANC soos Swede of Noorweë nie.

 

Die idee dat apartheid ‘n ‘misdaad teen die mensdom’ was, is steeds en was, ‘n ‘agitprop’-projek wat deur kommuniste ingestel is om wit Suid-Afrikaners te stigmatiseer deur hulle te assosieer met werklike misdade teen die mensdom - wat oor die algemeen totalitêre onderdrukking en die slagting van miljoene mense ingesluit het.

 

In teenstelling hiermee is 23 000 mense dood tydens Suid-Afrika se politieke geweld tussen 1960 en 1994 - waarvan minder as 4 000 se dood deur veiligheidsmagte veroorsaak is. Die meeste van die res van die sterftes het voorgekom tydens die konflik tussen die IVP en die ANC."

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: