Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Junie 2022

Die Afrikaanse Taalmonument- menings


Die Afrikaanse taalmonument tree reeds volgens sy mandaat op

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Minister van Kuns, Kultuur en Sport Nathi Mthethwa is ʼn hoogs verdelende figuur op die Suid-Afrikaanse politieke landskap. As hy nie besig is met dorpe se naamsveranderinge nie droom hy van temaparke vir apartheid en koloniale standbeelde en vlae wat toeriste attraksies moet word van 120 meter teen ʼn koste van R22 miljoen. Dit alles in die naam van sosiale kohesie. 

 

Sy afwesigheid met enige sukses in sy portefeulje en vrae oor sy prestasies die laaste jare veral vanuit kunstenaars geledere wat finansieel noustrop trek en sportfederasies wat onder sy politieke leiding en inmenging van een verleentheid na die ander struikel laat hom na strooihalms gryp. Die mees onlangse strooihalm is die absurde opdrag dat die Afrikaanse Taalmonument se naam moet verander.   

 

Minister Nathi Nthethwa se swaar gekleurde ideologiese bril het al na vore gekom toe hy Sondag 19 Maart 2017 in gesprek met joernaliste tydens die bekendstelling van die ANC se beleidsdokumente onder meer gesê het “Wit Suid-Afrikaners het nie volledig hul kant gebring vir versoening in die demokratiese bestel ná 1994 nie.” Op 6 April 2019 beskuldig hy ook vir Jan Van Riebeeck in die dood van struggle leiers. Dit is die agtergrond van sy opdragte en sy toepassing van sosiale kohesie. Straf en beskuldig die wittes in die naam van sosiale kohesie. Veral is dit duidelik dat die minister soos ʼn bul in ʼn porseleinwinkel omgaan met taal en kultuur erfenisse wat ‘n emosionele kwessie is waarmee versigtig en omsigtig omgegaan moet word. Alles in die naam van sosiale kohesie.

 

 Die Afrikaanse Taalmonument is gedurende die sestiger en sewentiger jare van die vorige eeu deur hoofsaaklik Afrikaanse kapitaal, denke, tyd en energie opgerig. Dit het ongeveer R 760 000 gekos waarvan ongeveer R 300 000 deur die Staat bygedra is. Die balans is deur Afrikaanse burgerlike organisasies en individue bygedra. Vandag is die monument ʼn inklusiewe Monument en gee op simboliese wyse erkenning vir die bydrae van Europese, Indonesiese  en Afrika tale tot die ontwikkeling van Afrikaans. Daarom word Afrikaans gesien as ʼn brug tussen die tale wat ook simbolies uitgebeeld word. (Lees hier op die ATM webblad) Die “opdrag of dekreet” van die minister bevestig opnuut dat daar geen begrip of respek in regeringsgeledere vir die Suid-Afrikaanse en dan in die verband spesifiek vir die Afrikaanse taalgemeenskap is nie.

 

Suid-Afrika skiet ernstig tekort aan pragmatisme en realiteit in die haas angstige poging om ʼn ideologiese sosiale kohesie op Suid-Afrikaners af te dwing. Dit is duidelik dat ons totaal uiteenlopende sieninge het oor sosiale kohesie. Ons sien dit as respek en begrip vir mekaar, bevordering van die diversiteit van Suid-Afrika en die bou van verhoudinge waaruit ʼn nuwe Suid-Afrikaanse ideaal kan ontwikkel. Minister Nthethwa se siening is een van uitgediende ideologiese dwang tot kunsmatige eenheid ongeag die gevolge.

 

Afrika-dag is op 25 Mei 2022 gevier. Dit is daarom ironies dat die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se Raad ʼn paar dae later (26-27 Mei 2022) in Paarl moes ontmoet en dat Afrikaanse rolspelers op 28 Mei 2022 moes veg om die behoud van die naam van ʼn monument en museum vir ʼn taal wat homself na die einste kontinent genoem het. Kan een minister werklik so uit voeling wees met ʼn taalgemeenskap?  

 

In die 2020/21 Jaarverslag van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument wat opgestel word en ingedien word in ooreenstemming met die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika, 1996 (Wet No. 108 van 1996); die Wet op Bestuur van Openbare Finansies, 1999 (Wet No. 1 van 1999 soos gewysig deur Wet No. 29 van 1999); Tesourieregulasies, 2005; Wet op Kulturele Instellings, 1998 (Wet No. 119 van 1998), asook ander toepaslike wette en regulasies, bepaal die Afrikaanse Taalmuseum en -monument sy mandaat:

Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se mandaat (volgens die verslag) is:

  • die ATM se kultuurhistoriese geboue en erfenisterreine asook die erfenis van Afrikaans sodanig in stand te hou dat nasiebou en maatskaplike samehorigheid bewerkstellig word;
  • die oorsprong, ontwikkeling en voordele van Afrikaans uit te beeld, met spesiale fokus op inklusiwiteit om historiese wanbalanse aan te spreek, deur middel van versameling, bewaring en navorsing én dit deur uitstallings te belig; en
  • Afrikaans op alle vlakke van die samelewing, veral in minderbevoorregte gemeenskappe, te bevorder en te stimuleer deur middel van lesings en publikasies, opvoedkundige programme, begeleide toere en kulturele aktiwiteite.

 

Hiermee kan geen fout gevind word nie en doen die Afrikaanse Taalmonument juis dit wat deur ʼn groot bohaai vereis word. Dit is weer eens duidelik dat dit nie die monument, sy mandaat of sy funksionering is wat in die spervuur is nie maar deur sy naam word Afrikaans as teiken opgestel en onder beleg geplaas deur ʼn minister met ideologiese tonnelvisie.

 

Deur die verklaarde mandaat is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument in werklikheid besig om brûe te bou tussen gemeenskappe, veel meer as wat die minister en sy amptenare doen. Waar die minister aan die absurde idee vandaan kom om die naam te verander is nie duidelik nie, maar dit is duidelik dat nog die minister nog die amptenare die verslae lees, wat aan hulle voorgehou word.

 

Die Wes-Kaap maak stem dik oor ATM se naamsverandering

 

Verskeie lede van die Afrikanerbond in die Wes-Kaap het op Saterdag 28 Mei 2022 die geleentheid in die Paarl se Strooidakkerk bygewoon waar die Raad van die Afrikaanse Taalmonument die geleentheid aan lede van die publiek gegee het om insette te lewer.

 

LitNet rapporteer soos volg daaroor. “As die minister van sport, kuns en kultuur, Nathi Mthethwa, een ding reggekry het met sy voorneme om die woord “Afrikaanse” moontlik uit die Afrikaanse Taalmonument- en museum (ATM) se naam te probeer verwyder, dan was dit om Afrikaanssprekende mense van uiteenlopende oortuigings en agtergronde saam te snoer oor hul taal soos selde tevore.”

 

“Van die partye en organisasies wat in die Strooidakkerk se saal byeengekom het, sluit in: die DA, Vryheidsfront Plus, DAK Netwerk, FAK, Afrikanerbond, AfriForum, die onlangs gestigte Kaapse Forum en talle individue en kleiner organisasies.” Sien volle LitNet berig)  

 

Benewens die onderstaande memorandum wat Andries Domburg en Willem Rossouw. Wes-Kaap lede van die Nasionale Raad ingedien het, het dr Carel Stander namens die Paarl Afrikaanse Skakelforum (PASF), waarvan die Afrikanerbond ook deel is, ʼn inset gelewer. 

 

AB Wes-Kaap – memorandum oor ‘n moontlike naamsverandering van die Afrikaanse Taalmuseum en -Monument (ATM)

Volgens ‘n verklaring deur die Afrikaanse Taalmuseum en -Monument het die Minister versoek dat die ATM se naam verander moet word. Dit is ook vervat in die uitnodiging vir die Museumdag aanbieding wat op 28 Mei 2022 in die Kerksaal van die Strooidakkerk in die Paarl plaasvind.

 

Graag wil ons as Afrikaanse Taalgebruiker en -Belangegroep net een vraag vir die Afrikaanse Taalmonument se Raad/Minister Nathi Mthethwa vra en een vraag alleen....

"WAT IS DIE TYD?"

  1. Dit is TYD dat ons vir eens en vir altyd Afrikaans en die gebruikers hiervan nie uitlos nie, maar tot 'n gelyke vlak/status met alle ander tale en taal gebruikers plaas.
  2. Dit is tyd dat u die Afrikaanse taal assosieer met Gal 5: 22- 26 en nie met die Gal 5: 19-20 - mense wat met die Gees vervul is.
  3. Dit is TYD dat hy sy rol as minister begin vervul - hy moet nie net die eensydige belang van die ANC dra nie. Hy kry sy salaris by die staat en die staat behoort aan almal. Hy is ook die minister vir die Afrikaanssprekende inwoner van hierdie land en daarom vra ons hom om as sodanig ook hierdie belang te koester - nie ten koste van enige ander taal nie.
  4. Dit is TYD om die geskiedenis van hierdie vallei te respekteer. Die aantal en intensiteit van historiese momente wat hulself in hierdie vallei afgespeel het, is uniek, ongekend het nie sy gelyke en kom nêrens anders in die land voor nie. Die Afrikaanse gemeenskap het 'n beduidende finansiële bydrae (meerderheidsaandeel) tot die oprigting van die monument gelewer. Respekteer dit asb.
  5. Die DNA van die mense in hierdie vallei getuig van leierskap, innovasie, entrepreneurskap, deernis, visie, passie en van rebelsheid. Moenie hierdie besondere eienskappe teen u draai nie.
  6. Dit is TYD dat die Regering van die dag hulself met sinmakende nasiebou besig sal hou en na BESTE PRAKTYKE sal soek, eerder as om na vlagpale of strooihalms te gryp.
  7. Dit is TYD dat die minister hom met die nodige kundigheid omring om "taal" as veeldoelige instrument te gebruik om werklike mag/grootsheid te behaal.
  8. Dit is TYD dat die minister sy verantwoordelikheid teenoor die institusionele geheue en geskiedenis van hierdie omgewing en alle inwoners van hierdie land sal respekteer en nakom. (Hierdie is nie 'n ANC verkiesingsveltog nie)
  9. Die antwoord op u versoek om die naam van die Afrikaanse Taal Monument en – Museum te verander of kunsmatig aan te pas kan in drie woorde saamgevat word: "NEE, NEE en nogmaals NEE!!"
  10. Indien die minister nie hierdie NEE-antwoord wil hoor/aanvaar nie, is dit TYD dat hy homself gereed maak om ons in die hof te ontmoet.

 

Ons groet u met twee aanhalings van Nelson Mandela in 1992 en 1996. “Because when you speak a language, English, well many people understand you, including Afrikaners, but when you speak Afrikaans, you know you go straight to their hearts.” – 1992

 

“Dit is ‘n Suid-Afrikaanse taal wat, volgens alle standaarde, merkwaardig presteer het in terme van ontwikkeling as ‘n taal van wetenskaplike, akademiese en algemeen-intellektuele uitdrukking. ‘n Nasie wat sy intellektuele prestasies op prys stel, sal uit sy pad uit gaan om die middele van daardie prestasie te beskerm en te bevorder. Dit glo ek, is die groot en sterk argument vir Afrikaans.” – 15 Mei 1996

 

Mag ons almal by Mandela leer van nasiebou en versoening. Afrikaans het baie aanslae oorleef danksy sy gebruikers. Afrikaans sal ook hierdie een oorleef.

 

Andries Domburg en Willem Rossouw

NR LEDE AFRIKANERBOND - WESKAAP PROVINSIEBESTUUR 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: