Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Augustus 2022

Beter is nie goed genoeg nie

Deur Jannie Rossouw

Besoekende Professor: Wits Besigheidskool

Universiteit van die Witwatersrand

 

Toe mnr. Cyril Ramaphosa in Desember 2017 as leier van die ANC verkies is, was die algemene kommentaar dat hy beter as al die ander is. Dit was ook die algemene kommentaar toe hy in Februarie 2018 as president van Suid-Afrika verkies is. Na die chaos van die Zuma-administrasie, het Suid-Afrikaners met blymoedige verwagting na “beter” uitgesien.

 

Na meer as vier jaar met mnr. Ramaphosa aan bewind, is dit duidelik dat beter nie goed genoeg is nie. Beter is gemeet en bepaal teenoor korrup, swak en onbevoeg. Maar beter is nie goed genoeg nie.

 

Suid-Afrika verdien ʼn uitstaande leier wat die land uit die huidige moeras kan lei. Trouens, Suid-Afrika verdien ʼn leier wat kan en wil lei. Suid-Afrika is reg vir die beste, nie vir beter nie.

 

Ek het voorheen geskryf dat Suid-Afrika ʼn Regering van Nasionale Genesing (RNG) nodig het. ʼn RNG het verskeie elemente van ʼn Regering van Nasionale Eenheid, maar moet fokus op die herstel van vertroue. Ongelukkig sal die ANC deel moet vorm van só ʼn regering. Ongelukkig, want die ANC is tot in sy kern verrot.

 

Die ANC toon tans verskeie elemente van ʼn rowerbende, maar hierdie rowers opereer onder die vaandel van ʼn politieke party. Dit lei tot politieke sluipmoorde en korrupsie wat steeds voortduur. Terselfdertyd ly die land onder ʼn gebrek aan dienslewering.

 

Dikwels is die kommentaar dat daar darem nog “enkele goeie mense in die ANC is”. Ek verskil hiervan, want “goeie mense” sou hulself lankal van die ANC distansieer het. Almal wat in die ANC oor is, is daar vir eie gewin, hoewel nie noodwendig by wyse van diefstal nie. ʼn Salaris as kabinetsminister het tog immers ook ʼn element van eie gewin.

 

In die ANC is onbaatsugtige diens lankal vergete. Daar is slegs baatsugtige diens en optrede vir eie gewin, selfs al is dit net vir ʼn salaris.

 

Die geskiedenis gaan hard oordeel oor die ANC, sy leierskorps en korrupsie. Tog lyk dit asof daar elemente van idealisme in die ANC na bewindsaanvaarding in 1994 was.

 

Dit is nodig om te spekuleer waar dinge na 1994 verkeerd gegaan het. Een gevolgtrekking is dat die ANC tydens en ná die wapenskandaal ontspoor het. Met kort geheues en baie skokke, ook korrupsie, is die wapenskandaal byna vergete. Die ANC regering het na bewindsaanvaarding in 1994 besluit om nuwe wapentuig vir Suid-Afrika aan te koop. Sekere mense in die party het deur korrupsie en omkopery baie ryk geword.

 

Die res, wat nie deur die wapenskandaal bevoordeel is nie, het besef dat korrupsie die pad tot groot rykdom is. Korrupsie ter wille van kitsrykdom was na die wapenskandaal dikwels die oogmerk, eerder as onbaatsugtige diens of idealisme soos ʼn beter lewe vir almal.

 

Nou het Suid-Afrika ʼn president wat geld op sy plaas in sy meubels versteek, en geen verklaring gee nie. Dít is nie goed genoeg nie, Suid-Afrika wag op antwoorde. Ons wag dringend op ʼn samehangende verduideliking deur mnr. Ramaphosa.

 

Enige sprake van kontant wat nie verklaar word of verklaar kan word nie en met ʼn ANC-politikus verbind word, moet Suid-Afrikaners onrustig stem. Dit is algemeen bekend dat die ANC tans probleme ondervind om werknemers te betaal. Die ANC was onlangs ook in ʼn hofsaak oor die betaling van ʼn verskaffer gewikkel. Die party het duidelik finansiële probleme. Kan ʼn politieke organisasie wat nie sy eie interne finansies kan bestuur nie, met die administrasie van ʼn land vertrou word?

 

Suid-Afrika se volgende verkiesing is in 2024. Verkiesings in Suid-Afrika is baie duur en plaas die finansies van enige politieke party onder druk. Groot versigtigheid sal nodig wees om verdere staatskaping en korrupsie te bekamp, want die ANC soek fondse voor 2024.

 

In die paragraaf hierbo gebruik ek doelbewus die word “bekamp” as ʼn verbetering, eerder as “verhoed”. Met ʼn korrupte ANC aan bewind, kan ons net droom van verhoed.

 

Wanneer ek mnr. Ramaphosa kritiseer, is die kommentaar dikwels dat die president verduur moet word, want daar is niemand in die ANC wat beter is of die leierskap kan oorneem nie. Die antwoord is dus duidelik: Mnr. Ramaphosa EN die ANC moet vervang word.

 

Die regering is onbevoeg en waarskynlik nie geskik om ʼn gholfbaan te bestuur nie. Die grassnyerpetrol sal gesteel word.

 

Tans fokus die ANC net op die leierskapverkiesing van Desember 2022. Die huidige leierskap se termyn van vyf jaar verstryk en daar is ʼn geveg ten bloede vir die beheer van die party. Mnr. Ramaphosa se kanse vir herverkiesing is verswak deur die kontantdiefstal op sy plaas. Tot Desember 2022 gaan die ANC net besluite neem met die oog op die leierskapstryd en Suid-Afrika gaan die slagoffer wees.

 

Dienslewering deur ANC-strukture in gesagsposisies gaan ʼn blote droom bly. Gemeenskappe sal toenemend moet saamstaan om dienslewering te verseker.

 

Na Desember 2022, sal dienslewering steeds ʼn droom bly. Die ANC gaan uitsluitlik fokus op die algemene verkiesing van 2024 en Suid-Afrika gaan weer die slagoffer wees.

 

Die leierskap van die ANC verstaan dat die party uitsluitlik deur patronaatskap wat met regeringsgesag gepaard gaan, bymekaar gehou word. As die ANC die verkiesing en dus patronaatskap verloor, sal dit die einde van die party wees. Die uitsluitlike oogmerk van die ANC is om aan bewind te bly, ter wille van die voortbestaan van die party.

 

Die verkiesing is dus van groot belang vir alle Suid-Afrikaners. Die land kan eenvoudig nie langer die ANC-regering bekostig nie.

 

ʼn Vrye en regverdige verkiesing in 2024 sal Suid-Afrika se toekoms bepaal. Verkiesingsbedrog sal ʼn maklike opsie vir die ANC wees, op dieselfde wyse as wat die party gemaklik staatskaping en korrupsie toelaat en laat voortgaan.

 

Suid-Afrikaners sal moet saamstaan om in 2024 ʼn vrye en regverdige verkiesing te verseker. Daar was tydens vorige verkiesings sprake van sporadiese verkiesingsbedrog, maar ons moet waak teen grootskaalse bedrog. Die ANC steel en sal nie huiwer om ʼn algemene verkiesing te steel nie. Dit sal die toppunt van staatskaping wees.

 

Een stap wat kan bydra tot ʼn vrye en regverdige verkiesing in 2024, is deursigtige (perspeks) stembusse. Suid-Afrika verdien die heel beste vir die 2024-verkiesing. Beter is nie goed genoeg nie.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: