Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Oktober 2022

Bondsraad afsluiting - Soeke na 'n politieke en staatkundige bedeling wat vir almal werk 


Afsluiting deur Dries Wiese

Voorsitter van die Nasionale Raad van die Afrikanerbond

 

 Ons het in die ure gisteraand en vandag besin oor die Afrikanerbond, ons rol ons plek in die samelewing en het ons binne ons tema Afrikaners brugbouers na die Toekoms bepaalde aspekte uitgelig wat vir ons die begronding is in ons optrede. Ons het die fondamente gebou ons het brûe na mekaar begin bou maar ons moet ook weet wat die toekoms vir ons inhou en oor watter toekoms praat ons.

 

In ons 104 jaar van bestaan kan die Afrikaner-Broederbond se geskiedenis gelees word in die volgende fases:

  • Die suksesvolle onderwysbemagtiging van Afrikaners en die instellings wat ons of deur ons bemiddeling gebou het.
  • Die ekonomiese bemagtiging van die Afrikaner en die industrieë wat ons gebou het.
  • Later ook die politieke deelname in die 1948 verkiesing, die Nasionale party oorname en die 1961 republiekwording.

Die Afrikaner het wasdom bereik en ‘n volwassenheid wat van Suid-Afrika die industriële reus op die vasteland gemaak het.

 

Ons 1961 republiek het egter teen ‘n prys gekom. Ons wou Afrikaner-nasionalisme bevorder binne ‘n Afrikaner republiek waaruit apartheid gebore is. Ons het ander se regte begin wegneem om onsself te beskerm, ons het onmenslik opgetree in ‘n poging om Afrikaner eenheid te bevorder, maar die prys was groot. Ons het ook ons eie belange aan die staat uitgekontrakteer en die staat en die Nasionale Party het as die versorger, die bewaker en die bevorderaar van Afrikanerbelange begin optree. Ons het as’t ware ons eie belange aan die staat oorhandig.

 

Toe die staat na 1994 dit nie meer wou doen nie was ons bekommerd oor die effek daarvan. Toe die staat egter stelselmatig ook ons belange begin benadeel het dit ruimte geskep vir die selfhelp aksies wat so suksesvol by onder andere die Solidariteitsbeweging gesien word.  

 

Ons 1994 bedeling het egter nie sommer net gebeur nie. In die 1980s het die Afrikaner-Broederbond met ‘n proses begin wat ‘n breuk was met die status quo van die tyd. Die Afrikaner-Broederbond - ons voorganger-  het intern en ook ekstern vir mekaar en vir ander begin sê dat apartheid en die ideologie wat dit ondersteun nie kan werk nie, dat dit ‘n onmenslike stelsel is en dat die Afrikaner homself bevorder het en ander Suid-Afrikaners se regte en menswees in die proses ernstige skade aangedoen het. Ons het die stelsel van binne af bevraagteken en ons was instrumenteel in die staatkundige hervorminge wat gevolg het. Dit het begin met die bevraagtekening van die stelsel en het ons konstruktiewe voorstelle gemaak wat intens en deeglik in ons geledere bespreek is.

 

Uit die voorafgaande is dit duidelik dat die Afrikaner-Broederbond se betrokkenheid by die hervormingsproses gespruit het uit diepe besinning oor ʼn onwerkbare stelsel wat oor dekades gestrek en wat beweeg het vanaf die ondersteuning van afsonderlike ontwikkeling tot 'n bevraagtekening daarvan op ekonomiese en morele gronde. Daar is aktief in ons geledere gesoek na 'n alternatief of alternatiewe vir apartheid. Uit ons geledere het die idee van ʼn handves van regte na vore gekom, ons het groepsregte bevorder, ons het ʼn demokratiese stelsel bevorder. Die uitkoms was die aanvaarding in beginsel van 'n breë demokrasie vir alle Suid-Afrikaners in 'n enkele land in 'n grondwet waarin menseregte, ook groepregte, beveilig sou word en wat ʼn regstaat sou skep.  

 

Met die nuwe bedeling in 1994 het ons almal gedink dat ons ‘n staatkundige bedeling betree wat sou werk vir alle Suid-Afrikaners, waarin almal se menswaardigheid en ideale in gelyke mate tot uitlewing sou kom. Ons het ʼn voorspoedige en regverdige Suid-Afrika vir almal voorsien.

 

Vandag in 2022 weet ons dat die bedeling nie werk nie. Nie vir Afrikaners nie, maar ook nie vir miljoene ander Suid-Afrikaners wat gehoop en gedroom het oor die 1994 ideaal binne ‘n liberaal demokratiese grondwet nie.  Een ideologie is deur ‘n ander vervang, Apartheid is slegs vervang met transformasie. Afsonderlike ontwikkeling is vervang met swart ekonomiese bemagtiging, kader ontplooiing en staatskaping. Een onreg is vervang met ʼn ander onreg.

Net soos in die 1980s is daar gebrekkige vertroue in die stelsel en het ons ʼn regering wat nie die morele hoë grond beklee nie.

 

Vandag het ons opnuut weer ‘n onwerkbare en onvolhoubare politieke bestel. Soos in die 1980s moet ons weer vir mekaar sê tot hiertoe en nie verder nie. Anders as in die 1980s kan ons nie van binne af verander nie, en moet ons eksterne vennote vind saam met wie ons weer moet meewerk aan die verandering van die polities- staatkundige bedeling. Ons het reeds met gesprekke begin vir deelname in ‘n burgerlike koalisie. Ons moet hande neem met die opposisie wat reeds in die party-politieke proses begin het met koalisies.

 

Vandag se gesprek moet ons binne die Afrikanerbond sien nie as die einde van ‘n gesprek nie, maar slegs as die afskop van ‘n gesprek.

 

Wat kan en behoort die Afrikanerbond te doen?

  • Ons sal deelneem aan gesprekke oor politieke en staatkundige hervorming
  • Ons moet deel wees van die noodwendige herskikking wat moet volg.
  • Ons moet vir Afrikaners ‘n toekoms beding binne die herskikking en ons kan dit slegs doen as ons deel is daarvan.
  • Die besprekingsdokumente wat ons versprei moet ons aan die dink sit. Ons gaan weer met ‘n reeks webinare begin wat die temas verder ontwikkel en waarin kundiges gedagtes deel.
  • Ons moet ons kundigheid optimaal aanwend.
  • Ons Nasionale Raad moet weer ʼn uitvoerende raad word maar net so moet ons met die gideonsbende ons strukture ontwikkel op elke vlak tot strukture wat dink en wat oplossings genereer. Ons kan nie maar op die kantlyn staan nie

 

Net soos in die 1980s weet ons dat die proses nie suksesvol kan wees sonder die ANC nie, maar vandag moet ons die voorwaardes stel vir die tipe ANC waarmee ons bereid is om saam te werk. Kan ʼn gesuiwerde ANC (Sonder RET, Staatskapers , Korruptes) deel wees van ʼn toekomstige koalisie?

 

Net so wil ons nie net voorstelle maak oor die herskikking wat moet kom nie maar ons moet aktief begaan wees oor die tipe van koalisies wat ons wil sien en watter waardestelsel ons daaraan wil toeskryf. Wat sou die gemiddelde kieser wil sien en wat wil ons as Afrikaners sien.

 

Ons moet die verskillende ruimtes van outonomie bevorder, of dit nou virtueel, geografies of funksioneel is. Ons moet die gesag van die kleinste tot die hoogste mate weer terugneem en sorg dat daar ʼn mate van optimale effektiwiteit daaraan gekoppel is.

 

Ons moet die diversiteit van Suid-Afrika bevorder. Suid-Afrika is immers ʼn veelheid van tale en kulture. Is dit nie waar koalisiepolitiek se krag in die toekoms gaan lê nie. Is die toekoms nie geleë in politieke tuistes vir minderhede en groepe nie?

 

Ons moet balans bring in die goue formule van die Afrikanerbond naamlik die eie en die nasionale belang. Al ons aksies moet deurentyd hieraan gemeet word. Ons is Christen Demokrate in ons begronding en dit vra vir meelewing en solidariteit met ons medemens.

 

Saam met ander moet ons deel word van ʼn burgerlike koalisie waarin gewone Suid-Afrikaners weer die gesag terugneem en kontrakteer aan ʼn politieke party of partye wat ons belange die beste kan dien. Maar ook op die voorwaarde dat ons dit weer  kan terugneem as daar nie ʼn teenprestasie is nie.

 

Ek sou graag ʼn land wou sien waarin ons weer in gebed tot ons God in die hoogste raadsale  kan vra vir insig en wysheid.

 

Net soos in die 1980s weet ons dat ons berekende risiko’s moet en gaan neem. Die toekoms wat ons wil hê vra dit van ons. Maar net so weet ons ook dat die grootste risiko is om geen risiko te neem nie.   

 

Ons het gisteraand die diep simboliek gesien toe ons by die senotaaf gestaan het met die woorde Ons vir jou Suid-Afrika. Daar is by my geen twyfel in 2022 nie. Ons is vir jou Suid-Afrika – Maar dit kan nie meer onvoorwaardelik wees nie!

 

Wees sterk – wees brugbouers na die toekoms, wees Afrikaners. 


Kyk gerus na die opname van die toespraak deur Dries Wiese  by https://youtu.be/gdNqxtRP51o

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: