Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2022

Die Helpmekaar Suksesstorie - 'n Afrikaanse gemeenskap se bydrae

 

Deur Frederik van Dyk


(Met vergunning van die outeur, Frederik van Dyk, en met erkenning aan Netwerk24 plaas ons graag die artikel soos wat dit op 20 Januarie 2022 in Netwerk24 verskyn het.) 

 

Terwyl dit elke jaar in hierdie tydsdeel wonderlik is om die suksesstories van soveel hardwerkende oud-matrieks te lees, kan ons nie die onderbou van hul welslae vergeet nie: Die gemeenskappe wat die onderbou van goeie uitslae vorm. Die tannie wat sportdae swetend pannekoek verkoop. Die onderwyseres wat haar aftrede kortknip om ekstraklasse aan te bied. Die oom wat vroeg by die werk loop om rugby af te rig en boonop naweektyd met sy gesin opoffer. Die plaaslike onderneming wat die skool se infrastruktuur gratis help onderhou, ten spyte van ʼn benarde ekonomie. Die trustees van ʼn universiteitskoshuis se welsynsfonds, wat sekerlik meer tyd elders kon spandeer. Hierdie is die boublokke van elkeen se sukses.

 

In ’n gebroke land is dit maklik om oormatig hard op ons gemeenskaplikheid te wees. Politieke rigtingloosheid, diskriminasie, besoedeling en misdaad word gereeld aan die mens se selfsugtige, selfs inherent bose aard toegeskryf, wat uiteindelik in en deur gemeenskapslewe uiting vind. Dink byvoorbeeld aan die sogenaamde bystanderseffek, ’n sielkundige verskynsel waarvolgens die verantwoordelikheid vir ’n ander se noodsituasie tussen onbelangstellende bystanders versprei word. In die tydsgees van die laaste vyftig jaar en selfs langer, is die algemeenste samelewingsstrategie om hierdie skynbaar ewige boosheidtoestand van menswees te ontsnap deur toenemend te individualiseer en te subjektiviseer. Totdat ons eietyds op die punt gekom het waar elkeen so selfversekerd oor sy behoeftes en begeertes is, dat ons selfs nie meer ooreenstemming kan vind oor basiese feite en waarheid nie. Die na-jare van Trumpisme in die VSA en die iesegrimmige populisme van die RET-staatskapers hier plaaslik wys daarop. Die malle winsbejag, Silikonvallei se welwees-filosofieë en aanlyn-persoonlikheidskultusse het nie juis blywende oplossings gebring nie, maar eerder samelewings sonder ʼn diepe samewerkingsgees.

 

Daar is hoop, en ons leef dit reeds. Ten eerste is daar die Nederlander Rutger Bregmann wat in sy boek Humankind: A hopeful history die radikale idee voorstel dat die menslike geskiedenis eerder bewyse van ʼn welwillendheidsgrondslag toon. Aan die hand van talle geskiedkundige voorbeelde en filosofiese bydraes oor die eeue, stel Bregmann voor dat die menslike potensiaal vir ordentlikheid en welwillendheid sterker staan as neigings tot brutale selfsug, boosheid en oorheersingsdrang. Die verskrikking van die Duitse Blitz-bombardering van Brittanje gedurende die Tweede Wêreldoorlog het nie massale maatskaplike chaos en anargistiese eiegewin meegebring nie, maar ʼn stywe kollektiewe ruggraat wat tot hul oorwinning oor die Nazi-aanslag gelei het. Benewens Bregmann se voorstel het die alombekende bystanderseffek ook grondige kritiek ontlok: Die nuutste navorsing stel voor dat die teorie van ʼn basislyn menslike ongeërgdheid oor ander se nood, eintlik grootliks misplaas is.

 

Die tweede, en plaaslike storie van tasbare hoopskepping is die van die Helpmekaar Kollege in Braamfontein, Johannesburg. Ek is nie self ʼn oud-Helpie nie, maar my eie Hoërskool Nelspruit het ʼn soortgelyke uitnemendheid wat grootliks weens gemeenskapsinsette meegebring is. Boonop is van my dierbaarste vriende van Helpmekaar, en is ek in ʼn verhouding met ʼn oud-Helpie, so ek praat darem nie uit totale onkunde nie. Helpmekaar is sekerlik die grootste en van die enigste private Afrikaanse hoërskole in Suid-Afrika. Ander skole van hierdie aard, na my kennis, is Leeuwenhof Akademie, die BCVO-skole, en die Windhoek Afrikaanse Privaatskool (WAP) in die Namibiese hoofstad. Die skool is ʼn toonbeeld van die afgewentelde sukses wat individuele jongmense kan toekom as die gemeenskap saamstaan om ʼn bate toe te eien, en met groot plaaslike opoffering maak werk. Helpmekaar Kollege was seker die enigste voormalige Model-C Afrikaanse hoërskool wat na die hervorming van die onderwysstelsel in die 1990’s, die aanbod om gemeenskapsaankoop van die hele skool aanvaar het. Vir jare moes die gemeenskap hard werk om die skool volhoubaar te hou, ʼn proses wat moeilik moes wees siende dat Helpmekaar Kollege reeds sedert 1921 bestaan en lank in die boesem van staatsondersteuning gegroei het.

 

Vandag gaan die skool van krag tot krag en het dit pas weer bewys met, onder andere, die Botes-tweeling se uitmuntende matriekprestasies. Helpmekaar se waarde-aanbod bewys dat ʼn Afrikaanse opvoeding wat wêreldwyse, afgeronde en moderne Afrikaanse burgers opvoed, hoog aangeprys behoort te word en opbouend vir ons land as geheel is. Daar word dikwels kritiek uitgespreek dat die Afrikaanse hoërskoolkonsep, met wortels in Afrikaner-heerssug en Christelik-Nasionale onderwys, problematies en selfs uitgedien is. Die argument word ook gemaak dat die model skeiding bring en oninklusief is, en dan word die oplossing voorgehou van ʼn Engelse taalmodel vir alle skole in Suid-Afrika. Die groot, skreiende ironie hiervan is dat die Engelse taalmodel self in die Britse public school model gebaseer is, wat beteken dat die probleme rondom ʼn hegemoniese skoolkultuur nie aangespreek word nie, maar pad-af geskop en in ʼn ander gedaante gesmous word. Helpmekaar Kollege keer hierdie drogargument in elk geval op sy kop, want die skool illustreer die basiese welwillendheidsgrondslag van die mens en van gemeenskapslewe: In ʼn uiteenlopende en vrye land, vertoon Helpmekaar Kollege die Afrikaanse gemeenskap se bydrae en oplossing tot die afgeronde vorming van jongmense, ter wille van beter landsburgers.

 

Hulle wil nie oorheers of meerderwaardigheid teenoor ander taal- en kultuurmodelle en strategieë koester nie, hulle bied bloot die Afrikaners se bydrae tot hoërskoolonderrig aan die hele land aan. Net soos die Engelse gemeenskap se Michaelhouse’e en Bishops’e, wat ook afgeronde Suid-Afrikaanse burgers skep. Net soos ons van ʼn Albert Camus of Jean-Paul Sartre as tekenend van ʼn Franse eksistensialistiese skool kan praat, of van Duitse Idealiste soos Hegel, kan ons praat van ʼn Afrikaanse skolemodel. Helpmekaar Kollege se Afrikanerteenwoordigheid in die kosmopolitiese Johannesburgse middestad is dus nie ʼn teenstrydigheid nie. Dit is eerder uiters gepas en tekenend van ʼn gemeenskap wat gemaklik tussen ander gemeenskappe kan floreer, indien ons kies om welwillend saam te werk. ʼn Diep verweefde uiteenlopendheid, soos die filosoof Njabulo Ndebele skryf.

 

Terwyl agterdog oor georganiseerde Afrikaansheid begryplik is weens ons geskiedenis, is die agterdog nie meer langer redelik in aangesig van die feite soos deur Helpmekaar vergestalt nie. Kulturele identiteit is noodwendig beweeglik, en Helpmekaar Kollege openbaar ʼn nuwe identiteitsonderdeel van die Afrikaners: Een wat nuuskierig, nederig en selfonderhoudend is. ʼn Identiteit wat nie enersyds ons aandeel in die gruwels van die verlede ontken nie, maar ook nie andersyds op selfbejammerende en performatiewe wyse as “ongebreidelde individu” hul komvandaan afskryf nie. ʼn Gemeenskapsidentiteit gebaseer op regstel, verbeter, opbou en selfdoen. ʼn Identiteit wat tradisie én eietydsheid ernstig opneem.

 

Baie geluk aan matrieks oral, en spesiale vermelding aan die Helpmekaar Kollege-gemeenskap met jul jongmense se puik uitslae. Mag daar nog tien, twintig Helpmekaar-modelle in Suid-Afrika ontspruit. Mag die basiese welwillendheidspotensiaal van menslike gemeenskappe ook só voortgebring word.

 

·        Frederik van Dyk is ʼn direksielid van StudentePlein, ʼn Stellenbosch-gebaseerde organisasie sonder winsbejag ter bevordering van Afrikaanstaligheid en opleiding

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/helpmekaar-sukses-afrikaanse-gemeenskap-dra-by-tot-groter-geheel-2022012

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: