Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Februarie 2024

Die verhaal van Afrikaners

 

Deur Flip Buys

Voorsitter van die Solidariteit Beweging

 

 Die onderstaande artikel het op 12 Januarie 2024 by Maroelamedia verskyn. Met die vriendelike instemming van Flip Buys en met erkenning aan Maroelamedia plaas ons graag die artikel.

 

Inleiding

Wie die verlede beheer, beheer die toekoms”, het George Orwell in sy beroemde 1984  geskryf. Die historikus Dan Brown skryf ook: “ History is always written by the winners. When two cultures clash, the loser is obliterated, and the winner writes the history books −books which glorify their own cause and disparage the conquered foe. As Napoleon once said: ‘What is history, but a fable agreed upon’.”

 

Die ANC se projek om hulle politieke siening van die verlede dié meesterverhaal oor die verlede te maak, is bewys van die waarheid van Orwell se stelling. Indien die ANC daarin slaag om Afrikaners van hulle meesterverhaal te oortuig, beheer hulle ons toekoms.

 

Die oomblik wat Afrikaners die ANC se kriminalisering van hulle verlede as die enigste waarheid aanvaar, sal hulle ook die ewige “straf” vir hul voorouers se sondes op hulle en hul kinders as regmatig aanvaar en verduur. Apartheid word vandag voorgehou as die enigste rede vir swart mense se krisisse, terwyl die ontwikkelingsprobleme van Afrika, die impak van die ANC se swak regering, en mense se eie optrede nie in ag geneem word nie.

 

Die ANC se meesterverhaal weerklink daagliks in skole, die media, in wette en in politieke toesprake. Dit behels dat Afrikaners swart mense vir eeue uit rassisme met ʼn kriminele beleid verdruk het. Die ANC het egter na ʼn lang en dapper stryd uiteindelik oorwin, en ewe vergewensgesind ʼn demokratiese bedeling met vryheid en gelykheid vir almal gevestig. Dit word eensydig voorgehou as ʼn stryd tussen goed en kwaad, waar die helde na groot opofferings gelukkig die skurke oorwin het, sodat almal lank en gelukkig saam kan lewe.

 

Die “grootmoedige oorwinnaars” sit nou met die groot taak om die gevolge van die verlede ongedaan te maak. Boonop sukkel hulle nou met hardnekkige “rassiste” wat nie hul misdade wil erken nie, en steeds wil vasklou aan die voorregte van die verlede.

 

Hierdie skeeftrekking en oorvereenvoudiging van die verlede kan moeilik betwis word sonder om beskuldig te word van ʼn poging om apartheid as moreel tereggestelde beleid te verdedig. Tog het dit al baie gebeur dat die misbruik van die geskiedenis tot ʼn veel groter verontregting gelei het, soos om bloedige en verdrukkende kommunistiese stelsels af te dwing.

 

Prof. Hermann Giliomee het gesê dat Afrikaners ʼn normale geskiedenis wil hê, omdat geen volk vir altyd op sy knieë kan leef nie. ʼn Normale geskiedenis is nie een wat witgewas word nie, maar ook nie net swartgesmeer is nie. Die ANC gebruik die kriminalisering van Afrikaners se verlede om hulle rassebeleid vir die toekoms te regverdig. Anders gestel, hulle wil die verlede gebruik om ons toekoms op te hef.

 

Daarom is dit belangrik dat ons wel oor die verlede praat, met die doel om te verduidelik, nie om te verdedig nie. Indien ons daaroor swyg, laat ons die vertolking van die geskiedenis oor aan die twee uiterste kante van die spektrum. Dis waar die een kant met ʼn blinde ontkenning en die ander met blinde beskuldigings die verlede benader.

 

Ons kan nie dat ons kinders blameer word vir dit wat gebeur het voordat hulle gebore is, terwyl die ANC nie verantwoordelikheid neem vir wat hulle vandag aanvang nie. Ons kan ook nie toelaat dat ons kinders die ANC se helde moet vier, en terselfdertyd helde uit ons eie verlede as kriminele moet uitkryt nie. Dit sal lei tot ons as kultuurgemeenskap se ontbinding, omdat niemand deel van ʼn kriminele groep wil wees nie.

 

Daar is vir my drie uitgangspunte as ons oor die verlede praat. Die eerste is om te verduidelik, en nie om te verdedig nie. Die tweede gaan oor Samuel Huntington se stelling, dat elke gemeenskap homself as die middelpunt van die wêreld sien, en sy geskiedenis as die sentrale verhaal van die mensdom skryf. Daar is gevolglik nie net een “geskiedenis” nie, en ons kant van die verhaal moet ook gehoor word. Die derde uitgangspunt is dat ons die geskiedenis net kan verstaan as ons onsself in die skoene van die mense van daardie tyd plaas.

 

Afrikaners leef in ʼn tyd waar die skadu van die verlede steeds oor ons hang, omdat ons ouers, grootouers en skoonouers apartheid ondersteun het, en ons vir die gevolge van daardie beleid verantwoordelik gehou word.

 

Daarom wil ek kortliks my eie familiegeskiedenis geslagmatig vanaf die Anglo-Boereoorlog gebruik om met ʼn meer persoonlike inslag na ons ouers, grootouers en skoonouers se besluite te kyk, omdat dit terselfdertyd die geskiedenis van die meeste van ons se families is.

 

In die proses wil ek moeilike onderwerpe bespreek, soos dat my oupa se geslag nie gedink het swart mense kan ʼn moderne land regeer nie, hoekom my ouers geglo het dat elke volk homself moet regeer, en hoe my eie geslag nie langer deur ʼn onbevoegde en korrupte ANC regeer wil word nie.

 

My oupa se geslag: die Vryheidsoorlog-geslag

Hierdie geslag het deur die bril van die verwoestende Vryheidsoorlog na die wêreld gekyk. Hulle het die oorlog verloor, maar nie die stryd teen Britse Imperialisme opgegee nie. Hulle wou die vrede wen deur hul vryheid te herwin indien die omstandighede hier en in Europa dit sou toelaat, soos as ʼn oorlog sou uitbreek – wat wel in 1914 gebeur het.

 

Die Unie van Suid-Afrika was ʼn Britse koloniale skepping. Dit het alle volke en hul gebiede wat deur die jare deur die Britte onderwerp is in ʼn kunsmatige eenheidstaat sentraliseer ter wille van makliker koloniale administrasie. Hierdie geslag het egter nie Suid-Afrika as ʼn natuurlike land gesien nie, maar as ʼn landstreek.

 

Waar die Engelse die vrede as die einde van die oorlog gesien het, het talle Afrikaners dit as die voortsetting van die vryheidstryd gesien, wat eers in 1961 met Republiekwording sou eindig.

 

Oupa was soos talle Afrikaner-voorsate ʼn oorlewende van ʼn konsentrasiekamp.

 

Die UCT-staatkundige prof. David Welsch beskryf in sy boek oor apartheid daardie geslag se toestand.  “After 1902 the Afrikaners of the defeated Trekker republics displayed many of the symptoms of a conquered people: impoverished, defeated, despairing, low in morale, and with a powerfully internalised inferiority complex. They were facing the possible obliteration of their identity by the overwhelming power of their conqueror’s institutions and culture.”

 

Die historikus Dan O’Meara kon van Oupa gepraat het toe hy gesê het:

“ The structure of South African capitalism offered few opportunities to those whose home language was Afrikaans. The economy was dominated by ‘imperialist’ interests. Its language was English, and Afrikaans-speakers were powerfully discriminated against. Promotion and advancement required both proficiency in a foreign language – that of a conqueror – and virtual total acceptance of the structure of values dominant in the economy.”

 

Oupa het soos vele van sy tydgenote in die myne gaan werk, en is tydens die 1922-staking deur die Smuts-regering by Wanderers toegesluit. Hy het later by die spoorweë as rangeerder gaan werk voordat hy voltyds gaan “Boer” het.

 

Daardie geslag het moeilik uit die as van die verbrande aarde opgestaan, onder meer omdat hulle kapitalisme as die keersy van Britse Imperialisme gesien het. Desondanks het hulle nie stil gesit nie, maar in die eerste twee dekades na die oorlog Afrikaner-instellings opgebou waarmee hul kon moderniseer – soos universiteite, skole, besighede, koerante, welsynsorganisasies, vakbonde en partye.

 

Die modernisering van Afrikaans om Afrikaners daardeur te moderniseer, was in Van Wyk Louw se woorde ʼn “broodsaak”. Afrikaans was een van net vier tale wat in die vorige eeu suksesvol moderniseer het, saam met tale soos Hindi en Hebreeus. Die suksesvolle modernisering van Afrikaans en van Afrikaners was een van die min sulke suksesverhale in Afrika.

 

Die prioriteite van hierdie geslag was opstaan na die oorlog, heropbou van die land, oorkoming van armoede, modernisering van Afrikaners, en die voortsetting van die stryd om vryheid teen Britse Imperialisme.

 

My ouers se geslag: Republikeinse geslag

Die verwesenliking van die Republiek was vir Afrikaners ʼn nasionale hoogtepunt, en die voltrekking van die lang stryd teen Britse Imperialisme.

 

Die skraal oorwinning van die Republikeine het tot Verwoerd se versoeningsbeleid tussen Afrikaners en Engelse bygedra. Dit was een van die redes waarom ras beklemtoon is, deur meer van “witmense” as “Afrikaners” te praat. Ras het sodoende kultuur in die openbare diskoers van daardie tyd vervang. Die versoening tussen hierdie twee gemeenskappe deur hul rasse identiteit te beklemtoon, het uiteraard kritiek van rassisme uitgelok.

 

Die nasionale aandag het nou geskuif na die oplossing van die “swart-vraagstuk”. Dit in ʼn era waar die VN vanaf ʼn vredesorganisasie post-Tweedewêreldoorlog na ʼn dekoloniseringsinstelling beweeg het. Die Britse premier Harold Macmillan het in 1960 in die Suid-Afrikaanse parlement in werklikheid die Britse Ryk kom ontbind met sy “Winds of Change”-toespraak, waarin die kolonies vryheid gegee is.

 

Die Verwoerd-regering se antwoord daarop was dat hulle die onafhanklikheidswording van kolonies steun. Hulle wou Suid-Afrika as koloniale skepping deur ontbondeling dekoloniseer deur onafhanklikheid vir elke groep in sy eie tradisionele gebied te herstel. Hulle het egter gemeen dat dit nie oornag kan plaasvind nie, omdat die swart volke nie daarvoor gereed was nie. Hulle wou deur ʼn beleid van “voogdyskap” die swart volke tot onafhanklikheid lei deur ʼn proses van afsonderlike ontwikkeling.

 

Dis belangrik om te besef dat hierdie beleid as ʼn ontwikkelingsproses, eerder as ʼn vaste stelsel, gesien is. Apartheid het deur ʼn proses van vier fases beweeg, naamlik (1) “blanke baasskap”, (2) Verwoerd se afsonderlike ontwikkeling, (3) Vorster se bevegting van kommunisme en (4) die hervormings wat deur PW Botha begin is.

 

Daar is aanvanklik gepraat van “groot” en “klein” apartheid. Groot apartheid het na die ontwikkeling van eie state verwys, en klein apartheid na die “steierwerk” van skeidingsmaatreëls totdat die ontbondeling voltooi is. Dit is ook so dat hierdie geslag kinders van hulle tyd was, en meestal die nóú onaanvaarbare breë Westerse sienings oor ras (wat destyds in die VSA en Britse kolonies geheers het) gedeel het.

 

Twee sake het egter veral die proses bemoeilik. Eerstens het die mislukking van die meeste Afrikastate ná onafhanklikwording by baie Afrikaners van die tyd weerstand geskep. Die bekende liberale redakteur van die  Sunday Times, Ken Owen, het gesê dat Afrikaners nie noodwendig deur rassisme gedryf was nie, maar deur dit wat noord van ons grense gebeur het. Die hoofstroom-sienings onder Afrikaners was dat daar nie biologiese verskille tussen rasse was nie, maar dat hulle wel op verskillende ontwikkelingsvlakke was.

 

Tweedens het die Koue Oorlog in daardie era ook vuurwarm in Afrika begin woed, en die gebeure in kommunistiese state het tot ʼn gevoel van bedreiging deur die “rooi gevaar” gelei. Dit was veral omdat die ANC deur die Sowjetunie ondersteun is en ʼn alliansie met die SAKP gesluit het.

 

Dis belangrik om te beklemtoon dat die ANC van daardie tyd nie ʼn menseregtebeweging was wat vir ʼn liberale demokrasie geveg het nie. Hulle was ʼn rewolusionêre bevrydingsbeweging wat ʼn rewolusie met Sowjetsteun wou kom uitvoer met alles wat daarmee gepaard gaan. Die Verwoerd-regering het geen sin in onderhandelinge met hulle gesien nie, en eerder met die tradisionele- en gematigde swart groepe gepraat wat destyds die meerderheid verteenwoordig het.

 

Die invloed van hierdie gebeure is ook in ons familie gevoel.

 

My twee ooms was onderskeidelik in Kenia en Zambië predikante. Nadat onafhanklikheid van hierdie lande die Westerlinge laat wegtrek het, het hulle ook in die vroeë 1960’s na Suid-Afrika teruggekeer – met baie om te vertel.

 

Ons buurstate soos Angola en Mosambiek is deur die Sowjetunie gesteun, en Mugabe se Zanu PF veral deur Mao Tsedong.

 

My skoonpa het as jong man by die weermag aangesluit, en het uiteindelik tot hoof van operasies by die Suid-Afrikaanse Weermag (SAW) gevorder. Ek kan nie onthou dat hy ooit apartheid probeer verdedig het nie, maar eerder dat hy die “kommunistiese gevaar” van ons grense wou weghou. Die gevolge van lande waar hierdie groepe oorgevat het, was vir hom in talle Afrikalande sigbaar.

 

Na die oorname van Mosambiek en Angola deur Sowjetgesteunde bevrydingsbewegings het die Portugese vlugtelingkrisis ʼn groot rol gespeel in die regering se besluit om te probeer keer dat ʼn Marxistiese MPLA die Angolese bewind oorneem. Amerikaanse steun is (vir ʼn tydperk) gegee om eerder die opposisie FNLA en Unita te help. Twee van my broers het in Angola geveg, waar bykans tweederdes uit swart troepe van bewegings soos Unita bestaan het.

 

Die belangrikste interne gebeurtenis wat die beleid van afsonderlike ontwikkeling gekelder het, was reusagtige demografiese ontwikkelings en bewegings.

 

Die eerste was die “instroming” van swart mense in ʼn omvattende verstedelikingsproses, gepaard met die veel stadiger ontwikkeling van die swart “tuislande”.

 

Dit was die regstreekse gevolg van apartheid se arbeidsbeleid. Die ekonomiese kragte van “gesamentlikheid” was uiteindelik sterker as die politieke beleid van afsonderlikheid. Die snelgroeiende ekonomie wou werkers hê, en die stede het mense gekry, met die volle spektrum van eise en behoeftes. Dit het tot die opkoms van swart vakbonde gelei, wat in werklikheid die bevrydingsmag van swart mense was.

 

Die tweede was die onverwagse vinnige swart bevolkingsgroei, en die veel stadiger groei onder witmense.

 

Dit het mettertyd vir Afrikaners duidelik geword dat demografiese werklikhede die beleid van afsonderlike ontwikkeling onmoontlik gemaak het, en dat die morele verskuiwing dit terselfdertyd onhoudbaar gemaak het. Die morele verskuiwing was ʼn dekade of wat agter die res van die Weste – hoofsaaklik vanweë ons ligging, die kleiner invloed van die Wêreldoorloë, die dekolonisasie van Afrika, die Koue Oorlog en die duurder prys wat ons daarvoor sou moes betaal.

 

Die NP-regering het onder PW Botha in 1981 met ʼn vierbeenhervormingsproses begin:

  1. Stelselmatige afskaffing van apartheidswette (“steierwerk”)
  2. Ekonomiese herverdeling en opheffing van swart mense;
  3. Prosesse om bruin mense, Indiërs en “gematigde” swart mense in die regering te betrek; en
  4. Onderdrukking van die ANC se poging om die bewind met rewolusie omver te werp.

 

Suid-Afrika is as eenheidstaat aanvaar, met die uitgangspunt dat daar vir ʼn demokrasie onderhandel moes word. Die projek om ʼn verskriklike einde af te weer, het verander in ʼn strewe om ʼn eindelose verskrikking te voorkom!

 

Ons voorouers was egter steeds skepties oor die ANC en Afrika. Martin Meredith, een van die mees gesaghebbendste skrywers oor Afrika, sê in sy boek  The Fortunes of Africa, dat die reeks staatsgrepe in Afrika mekaar so vinnig opgevolg het dat die post-onafhanklikheidsgeskiedenis in ʼn waas verbygeflits het.

 

In die eerste twee dekades van Afrika-onafhanklikheid was daar sowat 40 suksesvolle staatsgrepe en talle ander onsuksesvolle pogings. Daar was nie een geval in Afrika waar ʼn regering vreedsaam uitgestem is nie. Teen die 1980’s was Afrika berug vir sy grootmanne, militêre diktators en eenpartypresidente wie se belangrikste prioriteit was om die mag te behou. Die politieke rekord van Afrika sedert onafhanklikheid was star.

 

In drie dekades het nie ʼn enkele staatshoof homself in ʼn verkiesing laat uitstem nie. Vanuit sowat 150 staatshoofde het net ses vrywillig die mag afgestaan, waarvan sommige eers vir dekades daaraan vas bly klou het. Uit ʼn lys van 50 Afrikastate was feitlik almal eenpartystate of militêre diktatorskappe, terwyl in 32 state opposisiepartye onwettig was. Wanneer verkiesings gehou is, was dit bloot om die bewindhebber en sy party se mag te bevestig. In 150 verkiesings wat tussen 1960 en 1989 in 29 lande gehou is, is opposisiepartye nie toegelaat om ʼn enkele setel te wen nie. Net drie lande – Senekal, Botswana en die kleine Gambië – het veelpartystelsels behou en gereelde vry en regverdige verkiesings gehou.

 

Daarby het my ouers en skoonouers se geslag ook sterk getwyfel of demokrasie in Suid-Afrika as eenheidstaat sou kon werk, en of die ANC ʼn moderne land sou kon regeer. Hulle was nie alleen in hul skeptisisme nie.

 

Soos Henry Kissinger dit gestel het: “In die Weste het demokrasie ontwikkel uit homogene samelewings. Daar was nie institusionele versperrings vir ʼn minderheid om ʼn meerderheid te word nie. In die Weste is verkiesingsneerlae gesien as ʼn tydelike terugslag wat weer omgekeer kan word. Maar in multi-etniese lande beteken minderheidstatus gereeld permanente diskriminasie en die risiko van politieke uitsterwe.”

 

Daardie geslag sou ook met die Stanford-verbonde liberale demokraat Francis Fukuyama saamstem dat federalisme (of selfs eie state) ʼn voorvereiste vir demokrasie hier te lande was:

“ But for societies that are highly polarized along lines of social class, nationality, or religion, democracy can be a formula for stalemate and stagnation</em>. […]  Democracy, then, does not necessarily become more functional as societies become more complex and diverse. In fact, it fails precisely when the diversity of a society passes a certain limit.”

 

Fukuyama was nie net skepties oor die kanse vir ʼn suksesvolle demokrasie in Suid-Afrika as ʼn multinasionale eenheidstaat nie, maar ook oor die ANC.

 

Die ANC was egter sterk teen enige vorm van federalisme gekant. Soos Benjamin Neuberger dit gestel het: “ The African opponents of federalism are not so much concerned with the division of power as with the creation of power.”

 

Die ANC se totalitêre streep het daartoe gelei dat hulle eerder sentralisasie as desentralisasie verkies. Dis insiggewend dat die liberale denker en skrywer Olive Schreiner reeds in 1909 net voor die unie van 1910, federalisme as teenvoeter vir ʼn verdrukkende eenheidstaat voorgestel het.

 

Die rede hoekom sosialiste mag eerder wil konsentreer as demokraties versprei, is treffend deur regter Jan Steyn, bekend as ʼn liberale denker, saamgevat:

“ It is naive to believe that one can adopt the basic economic tenets of socialism, without also inheriting its authoritarian political structures and limitations of personal freedom. There is ample evidence to substantiate the argument that there is a real and unbreakable connection between economic and political freedom, both of which may be lost if the state unduly expands its role in society.”

 

Samevatting:

  • Apartheid se totstandkoming en ontwikkeling is grootliks histories bepaal as gevolg van bepaalde historiese dryfkragte.
  • Apartheid het ook teen die na-oorlogse tydsgees ingedruis.
  • Daar was baie min werkbare alternatiewe tydens die Koue Oorlog, waartydens politieke beweging gevries was.
  • Apartheid het in dié tydperk verander vanaf “afsonderlike vryhede” na anti-kommunisme.
  • Demografiese omwentelings het tot verandering gelei, wat tot verderde demografiese verandering gelei het.
  • Die globale tydsgees van dekolonisering (in die 1960’s) en demokratisering (in die 1990’s) het die politiek onkeerbaar in ʼn rigting gedruk.
  • Daar is nooit goed uitgewerkte planne vir federalisme in die proses ontwikkel nie.
  • Ons voorouers het in die lig van die werklikhede van hulle tyd opgetree.
  • Afrikaners in die huidige era verlang nie na die verlede onder apartheid nie, maar sien nie uit na die toekoms onder die ANC nie. Daarom werk ons vir groeiende outonomie deur sterk instellings.
  • Die verlede was meer ʼn kwessie van ʼn “reg teen reg”, as net “reg teen verkeerd”.
  • Dit het nie sin om in sinnelose debatte oor apartheid betrokke te raak nie.

 

My Oupa se geslag wou die Afrikaners na die oorlog ophef, het die land nie as ʼn eenheidstaat gesien nie, en het nie gedink swart mense kan ʼn moderne land regeer nie.

 

My ouers se geslag het gemeen elke volk moet homself regeer.

 

Ons geslag wil nie deur ʼn onbevoegde en korrupte ANC regeer word nie.

 

Ons kinders se geslag sal moet besluit of hulle kans sien vir ʼn donker toekoms onder die ANC, of hul eerder deur Australiërs regeer wil word, en of hulle geslag die taak van die opbou van groter selfregering wil of moet aanpak.

 

Lees die artikel by Maroela Media

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/die-verhaal-van-afrikaners-se-verlede/

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: