Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Augustus 2022

Die vierde scenario "Lei van voor"

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Ek kom onlangs weer af op die 2009 Dinokeng scenario’s wat drie duidelik gedefinieerde toekomsmoontlikhede vir Suid-Afrika uitgespel het. Die Dinokeng Scenario ontwikkeling is gelei deur verskeie prominente Suid-Afrikaners waaronder, Dr Mamphela Ramphele, Dr Vincent Maphai, en Aartsbiskop Njongonkulu Ndungane en het hulle leiding gegee aan ‘n groep van ongeveer 33 mense uit die burgerlike samelewing wat die scenario’s ontwikkel het.

 

Breedweg was die drie scenario’s soos volg en is die verwysing telkens na die burgerlike samelewing se betrokkenheid:

Loop Afsonderlik, gaan ons voort op dieselfde weg wat ons tans (2009) volg. Dit is ’n geval van “stoeledans” of “herskommelde elite”. Ons dringende probleme – werkloosheid, armoede, veiligheid en sekuriteit, en swak lewering van openbare gesondheid en onderwys – vererger.

 

In die tweede scenario, Loop Agterna, besluit die staat om die ontwikkelingsproses aktief te lei. Dit meng direk in by die ekonomie deur toenemend geldelike steun aan groot staatsbeheerde ondernemings en belangrike infrastruktuurprojekte te verleen. Die regering brei ook programme van Openbare Werke uit.

 

In die derde scenario, Loop Saam, word ons uitdagings aangespreek deur aktiewe burgerbetrokkenheid, ’n bevoegde staat en sterk leierskap in al die sektore. Goeie regering, bevoegde dienslewering en aktiewe burgerbetrokkenheid word die sleutel tot die regstelling van die ernstigste maatskaplike probleme wat ’n groot bedreiging vir die land sou inhou indien hulle nie aangespreek word nie. (Hierdie opsomming oor die drie scenario’s is vanuit die Dinokeng toekomsmoontlikhede geneem.) 

 

Die Loop Saam scenario was allerweë aanvaar as die ideale toekoms vir Suid-Afrika en is die toekomsmoontlikheid wyd gepropageer as ʼn vennootskap tussen die burgerlike samelewing en die staat. Dit is ook die een toekomsmoontlikheid waarbinne die Suid-Afrikaanse grondwet en die grondwetlike waardes en menseregte volledige beslag kry en ten volle uitgeleef sou kan word. 

 

Die aanduiding op daardie stadium,  in 2009, was dat die burgerlike gemeenskap gereed gestaan om volledig deel te wees van die soeke vir oplossings vir Suid-Afrika en die magdom probleme wat ons toe reeds ervaar het. 

 

Die ANC regering se antwoord hierop was egter om homself dieper in te grawe in die ideologiese loopgrawe van die Nasionale Demokratiese Revolusie. In hierdie ideologie is daar nie plek en ruimte vir ʼn sterk burgerlike gemeenskap nie omdat die mag al hoe sterker gekonsolideer word in die party (Luthuli Huis) en word die houvas op die staat en staatsinstellings al hoe groter. Ons siening was toe, en bly steeds, dat die Suid-Afrikaanse grondwet nie ondergeskik kan wees aan ʼn ideologie nie. Ons het in 2009 ook reeds gewaarsku dat die ANC se nastrewing van die Nasionale Demokratiese Revolusie (Die Tweede Oorgang) nie sal bydra tot ʼn suksesvolle Suid-Afrika nie, inteendeel dit is ʼn resep vir konflik en rampspoedig vir die heil van Suid-Afrika en al sy mense.

 

In 2022 en met die wetenskap van terugblik sou mens waarskynlik dan ʼn vierde scenario kon byvoeg naamlik Lei van voor en is dit die een waar die burgerlike samelewing nie meer vir die regering wag nie, maar self die leiding neem om dienste te lewer, en instellings te vestig. Dit is wat die Solidariteitbeweging so suksesvol doen, ook met die hulp aan die regering om weer kundigheid beskikbaar te stel om Eskom se probleme die hoof te bied. In hierdie verband moet dit kategories gestel word dat daar 'n duidelike onderskeid tussen regering en staat is. Min kiesers het nog die gewilligheid of die vermoë om die regering te red, maar dit is in die belang van alle Suid-Afrikaners om die staat van inploffing te red. Ons het nie 'n mislukte staat nie, maar 'n regering wat die mense in die steek laat met ‘n al hoe groter vertrouensbreuk op die koop toe.

 

Dit sal ook die burgerlike samelewing wees wat die politieke herskikking moet bring wat so nodig is. Dr Corné Mulder hoofsweep van die VF Plus en voorsitter van die veelpartykoalisievergaderings skryf op Sondag 24 Julie 2022 in Rapport ʼn artikel met die opskrif Só help ons die ANC na sy graf oor wat nodig is en bring hy die realiteite wat politici en kiesers moet verstaan na vore en sê hy oor koalisies:

“Daar moet met ywer weggespring word om ʼn breë gemeenskapsfront (‘n sogenaamde broadchurch) van politieke partye, burgerlike organisasies, vakbonde, media, kerke, sakelui, akademici, meningsvormers en individuele kiesers te vestig. Iets soos ʼn “Reënboogkoalisie vir verandering.”

 

Hierdie gemeenskapsfront, wat nie self ‘n politieke party kan of moet wees nie, moet gevestig word op ooreengekome beginsels met net één doel. Daardie doel is om die ANC in 2024 by die stembus te verslaan en met ʼn veelpartykoalisieregering in belang van Suid-Afrika te vervang. Ons het 22 maande tyd om dit te doen.

 

Dit gaan nog moeiliker word om koalisiesukses in 2024 te behaal, maar daar is geen alternatief nie. Verstandige en wyse leiers is nóú nodig om dit te maak werk. Tye is so ernstig dat dit net móét werk. Geen politieke party of politieke leier mag die oorsaak wees dat ons nie hiermee slaag nie. Die toekoms vereis dit van ons.” https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/corne-mulder-so-help-ons-die-anc-na-sy-graf-20220724

 

Prof Johann Rossouw skryf op 18 April 2021 in Rapport onder die opskrif - Saamspan, burgers, vir almal

“Die historiese gesagskrisis waarin die staat hom bevind, is in een opsig die grootste uitdaging vir maatskaplike stabiliteit wat die land in 110 jaar moes trotseer. Dit is tegelyk ook die beste geleentheid in 110 jaar om ‘n staat en ‘n ekonomie te bou waarvan die stabiliteit nie op sentralistiese mag en koloniale truuks berus nie, maar op inklusiewe burgerlike samewerking geskoei op ekonomiese selfstandigheid, vryheid en wedersydse erkenning. Maar die “nuwe lente” gaan staan of val by diepgaande veranderingsidees, grondige samewerking tussen spelers met die nodige uitvoerende vermoë en optrede wat die 60% staatsafhanklike burgers selfstandig maak. Uit hierdie koalisie van die private sektor, die Afrikaanse burgerlike samelewing en die grootliks swart onderklas kan die samewerkingsparty gebore word wat ons nodig het om ‘n waarlik postkoloniale staat en ekonomie te kan skep. Sonder sodanige samewerking sal die vakuum in die sentrum nie gevul word nie. Die staat sal eenvoudig verder verbrokkel en die beter georganiseerde spelers sal wel nuwe vorms van ekonomiese selfstandigheid en politieke soewereiniteit ontwikkel - wat gehandhaaf sal moet word op ‘n see van onstabiliteit. En daarom is dit steeds die beste opsie om te werk met wat ons het, en om saam te werk soos nog nooit."

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/johann-rossouw-saamspan-burgers-vir-almal-20210418

 

Die laaste paar jaar het getoon dat dit nou noodsaaklik is dat burgerlike organisasies en gemeenskappe regoor Suid-Afrika moet saamwerk om alternatiewe oplossings vir die land se vele uitdagings waaronder misdaad, lae ekonomiese groei, staatsverval en gebrekkige dienslewering te vind. Dikwels kom ʼn ander prentjie na vore. Dit is dat die burgerlike samelewing al meer die pas begin aangee en dat dit soms die politieke partye en leiers is wat nie tred hou met gebeure en aksies in die burgerlike samelewing nie. Dit is juis in die burgerlike samelewing waar gewone mense van alle rasse, agtergronde en kulture daagliks saamwerk en saamleef ten einde gemeenskaplike doelwitte te kan bereik.

 

George Ingram skryf in die VSA se Brookings Instituut se “Up front” blog  dat die “burgerlike samelewing 'n noodsaaklike bousteen is van ontwikkeling en nasionale samehorigheid. In 'n land geseënd met vrede en stabiliteit, vul die burgerlike samelewing die ruimtes wat nie deur die regering en die private sektor beset is nie. In 'n brose en konflikgeteisterde land speel die burgerlike samelewing 'n selfs groter en belangriker rol om die dienste te lewer wat gewoonlik die verantwoordelikheid van die staat en sakesektor is en dít kan die grondslag lê vir versoening.”


Dit is binne die burgerlike gemeenskap waar die grootste mate van versoening plaasgevind het maar wat nog nie erkenning op die politieke terrein geniet nie. Daagliks sien en beleef ons hoe mense met mekaar omgaan, of dit by die werk, in ʼn winkel, die hospitaal of by die vulstasie is. Dit is hier waar die burgerlike gemeenskap die Suid-Afrikaanse verskeidenheid demonstreer en uitleef. Ons ervaring is dat dit in die meerderheid van gevalle met die grootste hartlikheid is en sonder enige vooroordele of konflik. Dit gebeur egter nie op ʼn verskonende of apologetiese wyse nie.

 

Dit is in die burgerlike gemeenskap waar mense toegelaat kan word om keuses uit te oefen sonder om geforseerd te wees, waar aanklank met mekaar gevind kan word binne bepaalde gemeenskaplikhede en waar mense kan saamwerk om bepaalde doelwitte te bereik, wat vir almal voordeel inhou.

 

Die krag van die burgerlike samelewing is al baie doeltreffend en besonder prakties in Suid-Afrika se geskiedenis gedemonstreer. Op Saterdag 20 Augustus 1983 is die United Democratic Front in Mitchell’s Plein geloods. Die byeenkoms is bygewoon deur verteenwoordigers van 575 organisasies en was in reaksie op die destydse driekamer parlement en in die afwesigheid van die verbanne politieke partye. Die mobilisering vanuit die burgerlike samelewing het die stryd teen apartheid suksesvol verder gevoer.

 

Moontlik het die tyd ryp geword vir ʼn breë burgerlike beweging van gematigde Suid-Afrikaners wat oplossingsgerig werk aan die uitdagings van Suid-Afrika en wat Suid-Afrika en sy mense eerste stel en lojaal is aan Suid-Afrika en nie die land ondergeskik stel aan ʼn politieke party nie. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: