Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        Maart 2024

Die 'Woke'-kultuur sypel SA skole binne

 

Deur dr. Jeanette De Klerk-Luttig


Die Artikel is op 11 Januarie 2024 by Netwerk24 gepubliseer. Met die vergunning van dr Jeanette de Klerk-Luttig en met erkenning aan Netwerk24 plaas ons graag die belangrike artikel wat die Woke idelogie duidelik omskryf. 

 

Met die oog op die verkiesing is die ANC-regering besig om al hoe sterker rassepolitiek te bedryf. Hul polariserende retoriek staan in direkte kontras teenoor die groter samehorigheid wat op grondvlak in ons land tussen gewone mense van alle rasse heers. Die verdelende denke en retoriek is egter nie beperk tot politici wat stemme wil werf nie, maar kom ook voor in ons skole, waar die kritiese-rasseteorie as deel van die woke-ideologie geleidelik deel geword het van die taal, kurrikulum en kultuur in klaskamers.

 

Ongelukkig gaan die debatte oor die woke-epidemie by talle ouers, grootouers en onderwysers verby en omdat hulle nie weet wat die ideologie werklik behels en hoe die propagering daarvan in die praktyk plaasvind nie, verstaan hulle dikwels nie die ingrypende implikasies daarvan vir ons land nie.

 

Die woke-ideologie is ’n sambreelterm wat die bewus-wees van en sensitief wees vir verskillende tipes maatskaplike onreg, vooroordeel en diskriminasie in die samelewing omsluit. Woke kan kortliks beskryf word as ’n ideologie waar alles deur die bril van ras, gender en seksuele oriëntasie gesien word. Mense word almal geplaas op ’n spektrum van bevoordeelde onderdrukkers tot onderdrukte slagoffers en diegene wat deel van die bevoorregte onderdrukkers is, se idees en karakter is onder verdenking, want moraliteit is altyd aan die kant van die onderdrukte slagoffers. Jou status as slagoffer gee altyd aan jou die morele hoë grond.

 

Die woke-bewussyn van maatskaplike ongeregtigheid en die strewe na die regstelling van die samelewing, maak dit vir talle mense wat graag ’n positiewe verskil wil maak en wat sensitief is vir verskillende vorme van onderdrukking, baie aantreklik.

 

Veral in ons land met ons hartseer apartheidsverlede is die ideologie byna ’n natuurlike keuse vir idealistiese jong mense wat graag betrokke wil raak by ’n goeie saak en wat ’n bydrae wil maak om die foute van die verlede reg te stel.

 

Ongelukkig het die edel doel van woke­ness verskuif en tans word die ideologie gekenmerk deur aggressie teen enige iemand wat nie met hierdie mense se idees saamstem en in hul koor saamsing nie. Hulle het geen respek vir enige persoon wat ’n ander mening huldig nie en hulle kanselleer of “ontplatform” die andersdenkendes vinnig. Die ironie is dat juis diegene wat met baie goeie bedoelings teen boelies wil opstaan, self die ergste boelies op die speelgrond geword het.

 

Identiteit vervang idees

Volgens dr. James Lindsay, ’n Amerikaanse skrywer en kulturele kritikus, is kritiese pedagogie – wat ’n belangrike deel van die woke-ideologie uitmaak – niks anders nie as ’n kultus waarmee leerlinge geïndoktrineer word teen kapitalisme en demokrasie. Wanneer leerlinge jaar ná jaar geïndoktrineer word om woke-idees onkrities te aanvaar, kom dit neer op sosiale ingenieurswese van die samelewing.

 

Bari Weiss, ’n Amerikaanse skrywer en joernalis, identifiseer die volgende kenmerke van die woke-ideologie:

  • Feite word vervang met gevoelens;
  • Idees word vervang met identiteit;
  • Debat word vervang met die kansellering van idees wat nie in lyn met die woke-narratief is nie;
  • Diversiteit van idees word vervang met homogene denke;
  • Uitnemendheid word vervang met gelykheid;
  • Gelyke geleenthede word vervang met gelyke uitkomste; en
  • Verskille in denke word as trauma beleef.

Dit is dus in so ’n omgewing belangriker om veilig te voel as om die waarheid te praat. Inligting wat die woke-narratief as onwaar bewys, word as waninligting gebrandmerk.

Onderwysers is met ander woorde nie daar om leerlinge te leer om selfstandig en krities te dink nie, maar moet leerlinge heropvoed in woke-denke.

 

Slagofferskap

Enkele van die gevare van die woke-ideologie in ons skole:

·       Die gevaarlikste gevolg is dat dié ideologie baie verdelend is omdat dit vooroordele en stereotipering versterk. Die kritiese-rasseteorie verdeel mense in twee groepe op grond van hul velkleur, naamlik die wit onderdrukkers en die swart onderdruktes en omdat daar geen neutraliteit is nie, word die idee van kleurblindheid as rassisties gesien.

 

Wanneer een groep leerlinge leer dat hulle die onderdrukkers is en nooit sal kan ontkom aan die sondes van hul voorouers en daarom van skuld en skaamte nie, en ’n ander groep leer dat hulle die onderdruktes is en dit altyd sal wees, word wedersydse respek en spontane vriendskappe oor die kleurgrens ondermyn. Dit is presies wat gebeur het ná die katastrofale opleiding van die diversiteit- en transformasie-konsultant Asanda Ngoasheng by die Fish Hoek High School, waardeur sy leerlinge van verskillende rasse getraumatiseerd gelaat het.

 

Richard Wilkinson, ’n Suid-Afrikaanse skrywer, wys op die ironie dat die fokus op diversity, equity and inclusion (DEI) in skole dikwels juis aanleiding gee tot division, exclusion and indoctrination. Omdat die ideologie groepe teenoor mekaar opstel, is dit teenproduktief vir die samehorigheid en eenheid waarna ons in Suid-Afrika streef en speel dit in die hande van die rassepolitiek van politici soos Julius Malema, leier van die EFF.

 

Dit bevorder ook oordrewe sensitiwiteit en ’n slagoffermentaliteit wat karakterontwikkeling pootjie. Wanneer jy oortuig word dat jy permanent ’n slag­offer is en gaan wees, dra ander altyd die blaam en hoef jy nie self verantwoordelikheid te aanvaar vir jou studie, jou gedrag en jou lewe nie.

·       Omdat alternatiewe sienings nie verdra word nie, is daar geen gesonde debatvoering waar verskillende perspektiewe teen mekaar gestel word nie, maar wel ’n aggressiewe onverdraagsaamheid teenoor enige denke wat nie in lyn met die woke-ideologie is nie. Die tragiese gevolg hiervan is dat daar nie sprake is van gesonde debattering en die ontwikkeling van selfstandige en kritiese denke in ons skole is nie omdat leerlinge en onderwysers bang is vir woke boelies.

 

Opponerende stemme word deur woke­ness gestraf en stilgemaak en ’n sterk waarskuwing gaan uit na enige iemand wat durf verskil. Shane Kidwell, hoof van St. Alban’s College in Pretoria, stel die gevolge hiervan treffend wanneer hy sê: “Wokeness, in its current form, silences voices, it silences truth and human dignity and is the enemy of belonging. Woke­ness creates and fosters fear. Fear of voicing your opinion, fear of speaking truth, fear of debate and fear of being cancelled . . . I have been perturbed for a while now regarding the fact that I believe that schools (and all educational institutions) are being used as pawns in the game of wokeness.”

·       Slegs deur gehalteonderwys aan alle leerlinge sal ons daarin kan slaag om die groot probleme van ongelykheid, armoede, misdaad en werkloosheid in ons land op te los. Ongelukkig is die gehalte van die onderwys in die meerderheid van ons openbare skole so swak dat dit ’n hindernis in die pad van die maatskaplike en ekonomiese ontwikkeling van ons jeug is.

 

Ons kan dit nie bekostig om tyd, geld en energie te bestee aan woke-idees in plaas daarvan om tyd, geld en energie te bestee aan die werklike probleme in ons onderwys nie. En hoe meer bronne aan woke­ness bestee word, hoe swakker word die gehalte van onderwys.

 

Ons kan nie pynlik korrek wil wees oor die gebruik van die regte voornaamwoorde, terwyl meer as 80% van die leerlinge in gr. 4 nog nie met begrip kan lees nie. Ons kan nie geld bestee om by elke skool uniseks-kleedkamers te bou, terwyl daar 2 703 skole met puttoilette is, 86% van openbare skole nie laboratoriums het nie en die infrastruktuur van soveel skole uitmekaar val nie. Ons kan nie soveel tyd en energie bestee om mikro-aggressie met ’n vergrootglas uit te snuffel, dat daar nie genoeg tyd en energie is vir leerlinge om basiese wiskunde onder die knie te kry nie.

·       Gelyke uitkomste is vir die woke-ideologie belangriker as meriete, prestasie en harde werk. In Amerika het KIPP-skole – ’n netwerk van skole wat gratis onderrig in 21 deelstate bied – selfs die frase “harde werk” uit hul motto verwyder, want volgens hulle ondersteun die idee van harde werk die “illusie van meritokrasie”. Om hard te werk en te presteer, betyds te wees en rasioneel te redeneer is nie kenmerke van rassisme en oorheersing nie, maar wel gesonde gewoontes van suksesvolle leerlinge van alle rasse.

 

Ons moet uitnemendheid en harde werk deel van die kultuur van ons skole maak en moenie gelyke uitkomste probeer kry deur die slaagsyfer verder af te skaal nie. Deur die woke-bril word selfs gestandaardiseerde toetse en wiskunde as manifestasies van wit oorheersing, Euro­sentrisme en post-kolonialisme gesien. Ons het in ons skole nie woke-wiskunde nodig nie, maar wel meer leerlinge wat met die ondersteuning van goeie wiskundeonder­wysers dié vak op hoërgraad sal neem, sodat hulle verder kan studeer in wetenskap, tegnologie, ingenieurswese en wiskunde en die tekort in dié beroepsrigtings kan aanvul.

 

Sergiu Klainerman, ’n professor in wiskunde by die Princeton-Universiteit en iemand wat in Roemenië grootgeword het, waarsku: “When it comes to education, I believe the woke ideology is even more harmful than old-fashioned communism.”

 

Bela-wetgewing

In sy brief “Wokeness alleen gaan ons nie red nie”, wat op 11 Desember verlede jaar in Die Burger verskyn het, skryf Fanie Bekker: “Dit het tyd geneem om te besef dat Suid-Afrika tot ’n woke-staat getransformeer het . . . Hopelik sal 2024 ’n nuwe dagbreek inlei waar die oorspronklike edele konteks van wokeness, in harmonie met ’n regime van uitnemendheid, met baie Genade, die huidige vryval na donkerte kan stuit. Ons is dit aan ons kleinkinders verskuldig.”

 

In die lig van die Bela-wetgewing wat besluitnemingsmagte van ouers en skoolbeheerliggame wil wegneem en in die hande van onderwysdepartemente en politici wil plaas, sal ouers en onderwysers baie wakker moet wees vir die skadelike gevolge van die woke-epidemie in ons skole. Hulle sal saam moet besluit hoe hulle dit gaan hanteer en ook hoe hulle hul kinders daarteen gaan bemagtig. Die gevolge van ’n geslag leerlinge wie se denke daardeur besmet word, kan rampspoedig wees vir ons land.

 

*  Dr. De Klerk-Luttig is ’n opvoedkundige van Stellenbosch.

 

Lees die artikel aanlyn by Netwerk24

 

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/jeanette-de-klerk-luttig-so-sypel-wokeness-skole-binne-20240111

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: