Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2022

Is Suid-Afrika onderweg na ‘n brose staat?

 

Deur Prof Jannie Rossouw

Besoekende professor: Wits Besigheidskool

 

Politieke geskiedenis kan ons baie van die ekonomie leer. Blykbaar is dit genl Jan Smuts wat gesê hett dat die ergste nooit in Suid-Afrika gebeur nie. As die huidige toedrag van sake ons moedeloos maak, gee Smuts se woorde ons hoop.

 

In Suid-Afrika is politiek en ekonomie ten nouste verweef, met ‘n goeie skeut geskiedenis daarby. In Suid-Afrika is daar regtig niks nuuts onder die son nie, dit is net ander politici wat ou planne afstof en dieselfde foute maak. Een voorbeeld: Vandag het ons BBBEE, 50 jaar gelede was dit werksreservering.

 

Daar is baie sake waaroor ons in Suid-Afrika moedeloos kan wees. Ek weerhou my van ‘n kommerbron-lys, want elke leser sal iets kan byvoeg. Tans is dit byna onmoontlik om ‘n volledige lys te maak.

 

Spanning in die Kabinet tussen president Ramaphosa en minister Sisulu sal baie mense se kommerbron-lys haal. Die spanning stem ons onrustig. Wat gaan nog gebeur en wie gaan volgende die president uitdaag? Kan ‘n kabinetminister die president openlik uitdaag en daarmee wegkom?

 

Dit is egter niks nuuts in Suid-Afrika nie. Ons vergeet net baie vinnig die geskiedenis. Koorts (2010) beskryf die toenemende spanning in die laaste jare van dr D F Malan se dienstydperk as Suid-Afrikaanse Eerste Minister. Hierdie kort artikel kan nie reg aan Koorts (2010) se uitstekende navorsing laat geskied nie. Kortliks was die spanning in ‘n groot mate te wyte aan die stryd oor ‘n opvolger vir dr Malan. Die feit dat mev Malan, die Eerste Minister se eggenote, haar bes gedoen het om betrokke te raak, wil ons liefs ook vergeet. Suid-Afrika het oorleef.

 

Die geskiedenis herhaal in hierdie geval na 70 jaar. Vanjaar sal oorheers word deur die ANC se leierskapkonferensie in Desember. Gaan president Ramaphosa herkies word, of gaan hy suksesvol uitgedaag word? Die rolprent van 70 jaar gelede word weer vertoon, maar ons wag nog op die slottoneel. Na die ANC se leierskapverkiesing, gaan die 2024 algemene verkiesing die Suid-Afrikaanse toneel oorheers. Dit is die eerste keer sedert 1994 dat die ANC minder as 50 persent van die stemme op nasionale vlak kan kry. Die ANC kan ook beheer in sekere provinsies afstaan. Die ANC is ook bewus van hierdie grondskuiwende moontlikhede.

 

Die 2024 verkiesing gaan dus ‘n geveg om den dode wees. Dit gaan die politieke toneel oorheers en die ekonomie gaan ‘n slagoffer van die politiek word. Eise gaan gestel word en beloftes wat ekonomies nooit haalbaar sal wees nie, gaan gemaak word.

 

Verwag beloftes oor die SA Lugdiens wat weer gaan vlieg (die regering moes dit lankal weggee), Nasionale Gesondheidsversekering (onbekostigbaar), Prasa (die treine loop nie, ten spyte van beloftes) en so meer. Die ooglopende oplossing is meer privatisering, byvoorbeeld van treinvervoer, hawens en die lugdienste. Dit pas egter nie die huidige ideologie van die regering nie en inwoners van die land gaan aanhou ly.

 

Met die moontlikheid dat die ANC die verkiesing kan verloor of beheer in sekere provinsies kan afstaan, gaan die kiesstelsel in Suid-Afrika tot die uiterste beproef word. Die burgerlike samelewing sal op sy hoede moet wees om verkiesingsbedrog te voorkom. Een voorstel om die integriteit van die verkiesing te beskerm, is die gebruik van deursigtige (perspex) stembusse in alle verkiesingslokale.

 

Suid-Afrika sal voortbeur want ons het geleer om te oorleef, ten spyte van die regering. Gelukkig is ons geheues kort; ons vergeet dinge wat ons onnodig opgewonde gemaak het. Een so ‘n voorbeeld is die verklarings verlede jaar deur mnr Tokyo Sexwale oor miljarde rande wat na bewering verduister is en verdwyn het. Daar het dadels gekom van al mnr Sexwale se aansprake. Trouens, toe ek onlangs vir iemand vra “Where is Tokyo?’, bedoelende om meer te wete te kom oor mnr Sexwale se aansprake van verlede jaar, was die lakoniese antwoord: “In Japan.”

 

Die boodskap is eenvoudig dat ons nie alles moet glo nie, dat ons gou vergeet en dat Suid-Afrika oorleef. Dit is ons voorland tot na die 2024 verkiesing: Ons gaan oorleef ten spyte van die regering, nie as gevolg van die regering nie.

 

Die knaende vraag is egter of Suid-Afrka ‘n brose staat (failing state) gaan word. Voorheen het die literatuur verwys na mislukte state (failed states), maar tans word na lande wat permanent agteruitgaan, as brose state verwys. Brose state word normaalweg gekenmerk deur aspekte soos:

  • Armoede
  • Korrupsie
  • Misdaad
  • Ongeletterdheid
  • Onvermoë om kollektiewe besluite te neem
  • Onvermoë om openbare dienste te lewer
  • Uitsluiting van internasionale skakeling met ander ander lande
  • Verbrokkelende infrastruktuur
  • Voortslepende burgerlike geweld

Ek wil fiskale volhoubaarheid by die lys voeg. Lande moet fiskaal volhoubaar wees om dienste te kan lewer. Eise vir meer en groter besteding, byvoorbeeld vir ‘n omvattende basiese inkomstetoelaag, bring fiskale volhoubaarheid in gedrang. Maatskaplike besteding sonder ekonomiese groei in ‘n omgewing waar die bevolking teen 1,5 persent per jaar groei, is eenvoudig onmoontlik.

 

Die lys van kriteria vir ‘n brose staat gee rede tot kommer, want ons herken sekere aspekte van die Suid-Afrikaanse omgewing. Ons moet dus planne maak om die verval te stuit. Nadat ons planne gemaak het, moet ons nie in dieselfde slaggat val as die regering nie. Die regering het baie planne, maar geen uitvoering nie. Planne het uitvoering nodig.

 

Die salarisrekening van die staatsdiens moet stadiger groei as die inflasiekoers. In die laaste twee jaar het die regering daarin geslaag om groei te beperk.

 

Alle kontrakte op nasionale, provinsiale en munisipale vlak moet vir openbare insae gepubliseer word. Belastinggeld word immers in hierdie kontrakte gebruik. As dit nodig is, moet wetgewing verander word om publikasie verpligtend te maak.

 

Delegeer meer verantwoordelikheid aan die provinsies om sodoende dienslewering nader aan die mense te bring. Suid-Afrika word gekenmerk deur ‘n magsentralisasie, tot die nadeel van die bevolking. Net politici kry genot uit groter magte op die vlak van die sentrale regering.

 

Belastingbetalers behoort baie agterdogtig te wees wanneer kabinetsministers gelukkig lyk oor nuwe projekte. Suid-Afrika het ‘n lang geskiedenis van korrupsie en staatskaping, waarby kabinetsministers betrokke was. Minister Mantashe lyk byvoorbeeld net té ingenome met die Karpowership kontrak vir die opwekking van elektrisiteit.

 

Die regering op alle vlakke (kabinet, nasionaal, provinsiaal en plaaslik) moet slegs voertuie koop wat in Suid-Afrika vervaardig word. Dit sal onmiddellik binnelandse vraag en indiensneming stimuleer. Daar is geen rede hoekom kabinetsministers nie “Trots Suid-Afrikaans” vervoer kan word nie.

 

Die huidige inflasieteiken moet vervang word met 'n 3 persent inflasieteiken, met 'n een persentasiepuntband aan elke kant. Dit sal inflasieverwagtings bekamp en uiteindelik tot laer rentekoersstruktuur in Suid-Afrika lei. Dit is ook makliker vir huishoudings en sake-ondernemings om te beplan in ‘n omgewing van lae inflasie as hoë inflasie.

 

Alle regeringstrukture moet die burgerlike samelewing (georganiseerde landbou, georganiseerde besigheid, inwonersverenigings, ens.) toelaat om te help met dienslewering. Die uitdaging is om enersyds die regeringstrukture te oortuig dat beter dienslewering hul kanse om aan bewind te bly, verbeter. Andersyds sal die burgerlike samelewing moet aanvaar dat dit die lewensduur van sekere ANC-regerings, veral op plaaslike vlak, sal verseker. Die uiteindelike oogmerk, naamlik dienslewering, moet die oogmerk bly, ongeag watter samewerking nodig is of wie aan bewind bly.

 

My laaste voorstel is dat Suid-Afrika 'n veelparty-regering van nasionale eenheid nodig het om omstandighede vir almal in die land te verbeter. Vir my is dit ‘n regering van nasionale genesing. Dit sal staatskaping en korrupsie uitroei, fiskale stabiliteit verseker en Suid-Afrika van ‘n brose staat red.

 

Suid-Afrika is ‘n opwindende land, maar die ekonomiese toekoms hang af van die privaatsektor. Ons gaan suksesvol wees ten spyte van die regering, nie weens die regering nie.

 

Bron

Koorts, L.2010. An ageing anachronism: D.F. Malan as prime minister, 1948-1954. Kronos [online]. Vol.36:1. pp.108-165.

http://www.scielo.org.za/scielo.php?script=sci_abstract&pid=S0259-01902010000100005

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: