Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        Mei 2024

Die Handves ontwaak

- 'n Gesprek by Die Eike

  

Met talle oë gerig op die verkiesing van 29 Mei 2024, stel die Afrikanerbond se Hoofsekretaris, Jan Bosman, by Die Eike 'n paar vrae aan dr Louis du Plessis, Ondervoorsitter.

 

Sedert die nuwe kiesstelsel in 1994 ingestel is, het Suid-Afrikaanse kiesers deurlopend aan die ANC voorkeur gegee. Is dit steeds so?

 

Die ANC het homself sedert 1994 bemark as die bevrydingsparty van 'n swart meerderheid. In die eerste vyf parlementêre verkiesings het meer as 60% kiesers vir die ANC gestem: 1994 63%; 1999 66%; 2004 70%; 2009 66%; en 2014 63%. In 2019 het die party 58% steun gekry. Altesaam 58 partye voer tans 'n veldtog om tot die parlement verkies te word.

 

Indien die groei van nuwe partye in ag geneem word en indien die ANC se aanhang teen dieselfde tempo as die afgelope dekade verminder, kan in Mei 2024 steeds ongeveer die helfte van kiesers landwyd vir die ANC stem, maar dis geen uitgemaakte saak nie. Dis hoekom almal so uitsien na 29 Mei.

 

Die sterkste alternatief vir die ANC, is die partye wat die Veelpartyhandves (VPH) onderteken het.

 

Op watter beginsels is hierdie handves gegrond?

 

Lede van die Veelpartyhandves het 'n sistematiese samewerkingsooreenkoms gesluit. Dit rig hulle om na die verkiesing 'n koalisie te vorm, wat die dertig jaar oue ANC-regime kan vervang. In aansluiting by die Suid-Afrikaanse grondwet, lig die ooreenkoms bepaalde kernbeginsels uit waartoe die partye hulle verbind. Dit bepleit onder meer:

 

Die oppergesag van die reg.

Desentralisering van mag tot op die laagste doeltreffende owerheidsvlak.

'n Vrye mark-ekonomie.

Die bevordering van nierassigheid.

En geen verdraagsaamheid vir korrupsie nie.

 

Lyk dit of die partye van die Veelpartyhandves enige steun het?

 

In 'n peiling deur die Brenhurst-stigting, wat in Maart ontleed is, ontvang die sewe VPH-partye wat aan die verkiesing deelneem die volgende steun: DA 21.8%, IVP 5.7%, VF Plus 2.4%, ActionSA 2.4%, ACDP 0.8%, UIM 0.1% en Isanco 0.1%. Omdat die peilings heelwat wissel, kan hierdie partye dalk heelwat meer stemme kry. Intussen is daar ander partye wat die ANC se volgelinge afrokkel en dalk by die VPH kan aansluit, soos die wilde Patriotic Alliance.

 

Die huidige 33 persent steun, is tans egter meer as vyftien persent minder as vir die ANC. Selfs sonder 'n volstrekte meerderheid op nasionale vlak, sal die ANC in die verkiesing steeds die gewildste party wees.

 

Indien minder as die helfte van die kiesers vir die ANC stem, sal hy, om stabiel te kan regeer, noodwendig 'n koalisie met ander partye móét vorm. Watter partye sal hy nader?

 

In die verkiesing sál óf die ANC óf die Veelpartyhandves die meeste stemme kry.

 

Soos ondervinding van die verlede aandui, sal dit vir die ANC waarskynlik veel geriefliker wees om met enkele veel kleiner partye saam te werk, wat elkeen 'n paar persent stemme ontvang. Dis makliker om hulle te beheer en te manipuleer.

 

Kiesers wat vir die Veelpartyhandves stem, wil veral die tweede moontlikheid onderskep, naamlik dat die ANC met die sosialisties geneigte partye soos die EFF of MK of met albei 'n "oordeelsdagkoalisie" sal vorm. Wie van 1994 tot 2024 – oor drie dekades – die ANC-staat in aksie gesien het, weet wat van gelyke regte vir burgers, en van kragstasies, waterwerke en spoorlyne oorgebly het. Hulle kan voorsien wat sal gebeur as uitgesproke sosialiste hulle kloue op die oorblywende bronne inslaan. Volgens peilings staan die steun vir die twee partye wat weggebreek het van die ANC, tans op EFF 6-9% en MK 11-14%.

 

Sê nou die ANC vaar swakker as wat verwag word, en vind dat die klein partye te swak is om hom 'n meerderheid in die Nasionale Vergadering te gee en dat nie een van die wegbreekpartye kans sien om met hom 'n koalisie te vorm nie. Nou nooi hy een van die partye van die Veelpartyhandves, soos die DA, om 'n parlementêre koalisie te vorm. Dink jy so 'n ANC-DA-koalisie sal in belang wees van doeltreffende regering?

 

'n Mens kan jou voorstel dat 'n party soos die DA sal huiwer om met die ANC saam te werk. Maar kom ons veronderstel hy teken 'n samewerkingsooreenkoms met die ANC. Uiteraard sal die DA sommige van sy eie beleidsrigtings wil invoer, soos om 'n paar van die meer as 110 raswette van die ANC-regime te herroep. Soos om staatsamptenare aan te stel net volgens verdienste sonder rassekwotas. Soos om sommige van honderde oneffektiewe staatsfirmas te privatiseer.

 

Ek dink die kans is skraal dat ANC-kaders vir so 'n meritokratiese beleid te vind sal wees.

 

Maar selfs al sou die DA of ander partye wat tans die Veelpartyhandves volg, 'n koalisieooreenkoms teken, hoe gaan 'n minderheidsparty sy eie beleid laat geld? 'n Minderheidsparty is altyd min of meer 'n gyselaar van die meerderheid.

 

In so 'n koalisie kan nuwe praktyke in staatsdepartemente, op die kort termyn, waarskynlik wel 'n mate van verligting bring in gemeenskappe wat jare lank onder ANC-wanbestuur gelei het. Die dilemma is: Omdat die ANC-kaders steeds hulle hand sal hou op die meeste hefbome van mag, sal die ingewortelde korrupsie kort voor lank weer sigbaar word, waarvoor die kiesers ook die ANC se vennote aanspreeklik sal hou.

 

Die land verval teen so 'n tempo dat 'n mens wil vra: Gegee die moontlike korttermynvoordele in 'n DA-ANC-koalisie – is dit nie dalk die moeite werd om dit te probeer nie?

 

Kiesers sal VPH-partye net vertrou as hulle hulle beginsels handhaaf en uitvoer. Interessantheidshalwe: Verskeie beginsels van die Veelpartyhandves sluit naatloos aan by die onlangs getekende Afrikanerverklaring.

 

Die hoofgevolg van 'n ANC-koalisie met enige ander party, ook en veral 'n party in die huidige Veelpartyhandves, sal wees dat die kiesers stadig maar seker hulle rug op so 'n party sal draai.

 

Elke party wat voorheen met die ANC een of ander nasionale koalisie gevorm het, het kort voor lank steun van sy tradisionele kiesers ingeboet. Nadat die leier van die Vryheidsfront Plus byvoorbeeld 'n pos as adjunkminister in die Zuma-kabinet aanvaar het, het die kiesers in verskeie tussenverkiesings en verkiesings daarna hulle steun aan die party onttrek. Die VF Plus het hierdie proses van agteruitgang eers na jare en met groot moeite omgekeer.

 

Nie lank nadat Mmusi Maimane leier van die DA geword het nie, het hy verskeie ANC-beleidsrigtings geartikuleer, vanaf die instel van 'n verklaring teen "rassisme" wat DA-lede moes teken tot die veroordeling, as "rassisme", van nierassige gebeure, soos by 'n skool in Schweizer-Reineke. In die daaropvolgende verkiesing het honderde duisende kiesers hulle rug op die party gedraai. Na die bedanking van Maimane het dit die party jare geneem om sy vorige uitgangspunt van nierassigheid te herstel en te benadruk.

 

Sowel die Vryheidsfront as die DA het die harde les geleer: "As jy organisatories of prinsipieel heul met die ANC, draai 'n groot aantal kiesers hulle rug op jou."

 

'n Mens kan verbaas wees daaroor dat hierdie twee partye hul koppe so hard moes stamp, aangesien die voorafgaande voorbeeld van die Nasionale Party die boodskap so duidelik oorgedra het. Met elke ANC-gesinde stap wat die NP in die 1990s geneem het, vanaf sy deelname aan die ANC-regime se "regering van nasionale eenheid" tot sy bedanking uit die Demokratiese Alliansie, kon sy eie kiesers nie hulle eie oë glo nie. Steeds vandag nog vra historici: "Hoe kon dit gebeur dat die voorheen beginselvaste NP – gelei deur sy unieke karakters soos dr DF Malan en dr HF Verwoerd – sy kop verloor het?"

 

Weens soortgelyke redes is daar ook van die eens invloedryke Cope, van die UDM en tans van Good net skaduwees oor.

 

Vorige lojaliste van sulke partye krap hulle kop: "Hoe kon ons so kortsigtig wees om, vir kortstondige voordeel, ons steun onder kiesers, en daarmee saam ons politieke invloed, af te breek, nadat ons dit jare lank so tydsaam opgebou het?"

 

Hoe edel dit ook al gemotiveer word: ‘n Koalisie met die ANC op nasionale vlak is, vir enige party, 'n dodelike gif vir geleidelike selfvernietiging.

 

Wat is die alternatief?

 

Dis wenslik dat een party of 'n veelpartybond net 'n koalisie sal aanvaar waarin hy die meerderheid vorm. Al is dit nie moontlik op nasionale vlak nie, kan dit egter steeds moontlik wees op provinsiale vlak.

 

Oor die algemeen is partye wat deel is van die Veelpartyhandves, tans, begin Mei 2024, betreklik gewild in die Wes-Kaap, in Gauteng en in KwaZulu-Natal.

 

Indien die DA na 29 Mei, die Wes-Kaap nie meer alleen kan regeer nie, sal hy dit steeds kan doen saam met ander partye van die Veelpartyhandves, soos die VF Plus. In die Wes-Kaap is die Veelpartyhandves dus veilig aan bewind.

 

Daar is 'n moontlikheid dat kiesers ook in Gauteng meer stemme kan uitbring vir die Veelpartyhandves en sy vennote as vir die ANC. Trouens, dit geld ook KwaZulu-Natal. In die jongste peilings van die Social Research Foundation kry die IVP onder 20% van die stemme en die ANC, die DA en MK elk meer as 20%, met MK die hoogste. Die EFF is deesdae hier heelwat minder gewild as die ander vier. Soos al die provinsies is ook KZN moeilik voorspelbaar weens die onsekerheid oor die uiteindelike kiesersopkoms op 29 Mei.

 

In Gauteng sowel as in KZN het die ANC egter die troefkaart dat hy by óf MK óf die EFF kan vlerksleep.

 

Beskik die Veelpartyhandves oor leiers wat in hierdie provinsies premiers sal kan word?

 

Inderdaad! In die Wes-Kaap soos Alan Winde en Corné Mulder. In Kwa-ZuluNatal soos Thami Ntuli en Chris Pappas. In Gauteng soos Solly Msmanga en Herman Mashaba. Almal met veel meer karakter as enige iets wat die ANC-aasvoëls kan uitbroei.

 

Is jy oortuig dat, indien koalisies van die Veelpartyhandves êrens aan bewind kom, hulle doeltreffend sal regeer?

 

Munisipaliteite wys wat haalbaar is.

 

Aangesien dit op munisipale vlak reeds gebeur, sal die partye dit ook op provinsiale vlak regkry. In die Wes-Kaap bestuur koalisies reeds dertig munisipaliteite, meestal suksesvol. Trouens, in tien van die twintig tans bes bestuurde munisipaliteite in Suid-Afrika het geen politieke party 'n volstrekte meerderheid nie en is stabiele koalisies aan bewind.

 

Hoe werk so 'n partypolitieke strategie?

 

Soos elke langtermynstrategie: tree vir tree. Om in die Nasionale Vergadering die kitaar te slaan, is die eerste prys. Maar as dit nie nou kan gebeur nie, lê politieke invloed eers op laer vlak, naamlik in die provinsies, veral in dié met die hoogste peil van opvoeding en inkomste.

 

Die Veelpartyhandves van partye soos die DA, VF Plus, IVP, ActionSA, ACDP, UIM en Isanco weet dis ‘n geduldige en metodiese proses om meritokratiese koalisies te bou. Dit gebeur baksteen vir baksteen, provinsie vir provinsie. En in die munisipale verkiesings wat in 2026 voorlê, stadsraad vir stadsraad. Vir die geheim, loer na uMngeni en Midvaal.

 

Soos rivierstrome wat afkom en eilande omsingel, so omvleuel die beginsels van die Veelpartyhandves die Suid-Afrikaanse landskap.


- Die algemene boodskap is dus een van - Onthou om te gaan stem op Woensdag 29 Mei 2024

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: