Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Junie 2022

Ik ben een Afrikander

Deur Rochelle Oosthuyse

 

Aan die bo-ent van die kultuurryke Dorpstraat op Stellenbosch, voor die tehuis Utopia, onder 'n groot eikeboom, is daar 'n gedenksteen ter ere van Hendrik Biebouw. Op die plaat bo-op die groot klip staan: "Ik ben een Afrikaner" - So het die 17-jarige Hendrik Biebouw op 6 Maart 1707 in die watermeul wat in hierdie omgewing gestaan het, tydens 'n woordewisseling met landdros Starrenburg, gesê. Sover bekend was dit die eerste keer dat iemand homself 'n Afrikaner genoem het. Hy wou sy eie identiteit in Afrikanerskap opeis. Dit is hoe baie van ons steeds vandag voel. Ons wil ons eie weergawe van Afrikanerskap opeis.

 

Vir 150 jaar was die Hollanders, soos Hendrik Biebouw, die maghebbende buitelandse invloed in Suid-Afrika. In die vroeë 1790’s het Brittanje egter beheer oor Suid-Afrika verkry. Baie Britse staatsamptenare en burgers het hulleself in Suid-Afrika kom vestig.

 

Die Britse inwoners en die Afrikaners het baie konflik gehad as gevolg van die spanning oor die eienaarskap van land. Afrikaners het nog altyd ‘n behoefte aan selfbeskikking en ‘n sterk wil om ‘n beter lewe te skep vir hulle eie mense. Met die idee van onafhanklikheid het baie Afrikaner-Voortrekkers in die 1820's begin om noordwaarts en ooswaarts na die binneland van Suid-Afrika te migreer. Hierdie reis het bekend geword as die Groot Trek. Die Afrikaners het die onafhanklike republieke van Transvaal en die Oranje-Vrystaat gestig. Afrikaner verskyn vir die eerste keer in 1915 in Van Dale woordeboek, waar dit gedefinieer word as: “in Zuid-Afrika geboren blanke van Europeeschen oorsprong”. Ons dra ook die DNA, koppigheid en vasberadenheid van die Voortrekkers binne ons.

 

Die definisie van “Afrikaner” is ongelukkig nie so maklik soos wat die gepeupel dit laat klink nie. Dit sou bloot té eenvoudig wees om te sê dat almal wat in Afrika gebore is, ‘n Afrikaner is, soos die naam dit dalk sou voorgee. Vir sommige mense in die land word alle mense met ‘n Europese agtergrond, al praat jy nie Afrikaans nie, as ‘n Afrikaner beskou. Vir ander, is jy slegs ʼn Afrikaner as jy Afrikaanssprekend is. Dit is ook belangrik om te onthou dat ‘n Afrikaan en Afrikaner nie dieselfde betekenis dra nie. Geografies gesproke is ‘n Afrikaan iemand wat van Afrika – die kontinent af kom. 

 

Die vraag, “Wat is ‘n Afrikaner” of “Wie is ‘n Afrikaner”, kan in ons huidige politiese klimaat as ‘n gelaaide vraag beskou word. Soms is die vraag “Wat is Afrikaneridentiteit?” selfs gevaarliker as die antwoord. Natuurlik, is daar Afrikaanse liberaliste wat wil wegskram van hulle “Afrikaanse identiteit” as gevolg van ons sterk politieke geskiedenis.  Die definisie van die Afrikaner as volk is deur die Nasionale Party omskryf as “wit, Afrikaanssprekendes, wat Sondae na ‘n Calvinistiese kerk toe gaan”.  Die ontwikkeling van ons land was belangrik vir die Nasionale Party. Onderliggende sake, soos die vrees om weer eens hulle onafhanklikheid te verloor, was onder andere een van die dryfkragte agter hulle aksies.

 

Gedurende daardie tydperk was Afrikanerskap amper met die eng en preutse definisies versmoor. Andersdenkende Afrikaners is gemerk as verraaiers van hulle volk en Afrikanerskap. So, het talle bewegings teen die streng politieke regime begin en protes veldtogte is gehou. Dit is teen die preutse toepassing van Afrikanerskap, waarteen soveel Afrikaners in opstand gekom het en sommige as Afrikaners bedank het. Hierdie Afrikaners wou hulle eie identiteit in Afrikaans skep. Afrikaners het Afrikaners tronk toe gestuur omdat streng wette in plek gesit is om “Afrikanerskap” te beveilig en te bewaak.

 

 Alhoewel daar oor die Afrikaner gestereotipeer word en koddige Van der Merwe grappies gemaak word, en selfs sommige tong- in- die- kies waarhede oor ons gesê word kan sommige dinge nie meer net “tong-in-die-kies” gesê word nie. Ons word steeds maklik onder dieselfde ou kam geskeer omdat dit die metaforiese “kam” is waaraan ander wil vasklou. Ons word onverdiend  gestereotipeer as, “die onderdrukker, ‘n Dutchman, ‘n meerderwaardige nasie belaai met wit voorregte, grondgrypers”,  en so kan die lys aangaan.  Ons reputasie loop ons myle vooruit.  Die tipe stereotipering staan kwansuis direk in kontras met doodgewone Afrikaners. Afrikaners, wat ‘n glasie rooiwyn oor die naweek drink, ‘n boek op ‘n Saterdagmiddag lees en Sondagoggend kerk toe gaan.

 

Ten spyte van die feit dat ons, as Afrikaners, nie altyd kan ooreenstem oor ‘n definisie wat ons almal omskryf nie is daar eienskappe van ons identiteit waarmee elkeen van ons kan vereenselwig. 

  1. Afrikaners en hulle waardes: Afrikaners word van jongs af geleer om almal met respek te hanteer.
  2. Kultuur: Afrikaners beskou hulle kultuur as deel van hulle erfenis. Ons het grootgeword net die FAK-bundel liedjies en ontou elke woord van “Wandelliedjie.”
  3. Godsdiens: Godsdiens is baie belangrik in ‘n Afrikaanse- huishouding.
  4. Geselligheid: Afrikaners is dan mos plesierig en bekend vir onthaal, braai, sokkie en rugby kyk.
  5. Afrikaanse taal: Dit is vir Afrikaners belangrik dat Afrikaans as taal sal bly voortbestaan in skole en Universiteite.

 

Afrikanerskap het so baie verander. Dit word gebruik as die stem van die nuwe generasie. ‘n Nuwe wyse van jouself uitbeeld is nou deur Afrikaanse sangers soos Bok van Blerk, Jo Black en selfs die Heuwels Fantasties. Ons lewer sosiale kommentaar op media platforms soos Twitter, Facebook en LitNet. Die tipe platforms is vir ons geskep om dadelik ‘n stem te hê.

 

Ons word meer bewus gemaak van sosio-ekonomiese kwessies omdat die media dit onvermydelik vir ons maak. Ons kyk insiggewende programme op KykNet, VIA, Afrikaans.com, wat ons oor nuwe dinge in ons taal leer. Skielik is daar ‘n nuwe belangstelling in ou erfenisse, herdenkings en geskiedenis, omdat ons juis besef dat daar iets is om voor op te staan. Mense wil meer weet oor Afrikanerskap en hulleself herontdek in hulle eie definisie.

 

Afrikanerskap is meer as ‘n eenvoudige vraag. Dit sal onverstandig van ons wees om aan Afrikanerskap een enkele definisie te gee, juis omdat ons soveel meer werd is as net een definisie. Om deel te wees van Afrikaners, maak mens deel van iets. Dit is jou hele menswees. Die gevoel wat jou herinner aan die Voortrekkers wat kaalvoet oor die berge geloop het, en nooit onderdanig was nie. Die gevoel wat jy gekry het toe jy die eerste keer die Springbokke op Ellispark sien uitdraf het. Die gevoel as jy ‘n gedig van Ingrid Jonker lees. Dis dalk die gevoel wat jy kry as jy onthou toe jy vir die eerste keer gesokkie het. Of as jy jou oë toemaak en sê “dankie Liewe Vader”. Dis die gevoel van Afrikanerskap.

Ik ben ook een Afrikaner

 

·        Rochelle is ʼn jong Afrikaner wat in Koeweit skoolhou. Sy het die gedagtes aan Die Eike gestuur en ons plaas dit graag.


Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: