Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Oktober 2022

Koalisies in SA (Bondsraad gesprek) 


Beeld het op Saterdag 17 September 2022 soos volg berig oor die Koalisiegesprek tydens die AB se Bondsraad.  Met erkenning aan Netwerk24 plaas ons graag die artikel met die opskrif ‘Koalisies ʼn daaglikse worsteling’’

 

Koalisies in Suid-Afrika kan nie met dié van Europa vergelyk word nie. Ons moet ook nie te groot verwagtinge van koalisie-regerings hê nie, meen Helen Zille, voorsitter van die DA se federale raad.

 

 Zille en dr. Corné Mulder, die VF Plus se hoofsweep in die parlement, was Vrydag die gassprekers op ‘n gesprek wat die Afrikanerbond by die Voortrekkermonument in Pretoria oor koalisieregerings aangebied het.

 

Die DA en die VF Plus is saam met ander partye, soos ActionSA, in talle munisipaliteite landwyd in koalisie nadat nie een party in die munisipale verkiesing daar ‘n volstrekte meerderheid behaal het nie.

 

Zille sê die uitdaging met koalisieregerings is dat daar soveel klein partye is wat nie sal skroom om die regering tot ‘n val te bring as hulle nie hul s’n kry nie.

 

“Sommige vennote probeer om die amptelike opposisie te wees binne die koalisie. Hulle soek elke geleentheid om hul vennote af te kraak, terwyl hulle die voordele van die koalisie-regering geniet.”

 

Zille het nie name genoem nie, maar die DA en ActionSA het die afgelope tyd mekaar in die openbaar gepak oor uitdagings binne die koalisieregerings

 

Volgens Zille moet dit nie nodig wees om heeltyd oor jou skouer te moet kyk of jou koalisievennoot jou in die rug gaan steek nie

 

“Dit is ‘n groot probleem in talle van ons koalisies.”

 

Vroeër vandeesmaand het van die vennote in die veelpartykoalisieregering in die Johannesburgse-metro ‘n mosie van wantroue in Vasco da Gama, die DA-speaker, gesteun om hom uit sy amp te onthef.

 

 Koalisies is volgens haar “ ‘n daaglikse worsteling en gestoei.”

 

“Daar moet ‘n drempel vir verteenwoordiging wees sodat nie elke Jan Rap en sy maat die koalisie as gyselaar kan hou nie. Meer stabiliteit moet in die stelsel ingebou word. Ons oorleef tans van raadsvergadering tot raadsvergadering.”


Zille sê hulle was onlangs in Denemarke. Die grootste verskil is dat Denemarke ‘n homogene, klein bevolking van ‘n demokratiese en vreedsame samelewing is. Almal ervaar die grondliggende beginsel van die regstaat. Hulle verstaan dat vrede, vooruitgang en voorspoed daarvan afhang dat almal die reëls aanvaar en daarvolgens moet speel. In Suid-Afrika is dit nie die geval nie.

 

“Leierskap is belangrik. In die algemeen het hulle nie die verskynsel van grootman-/grootvroupartye wat om ‘n narsistiese persoonlikheid gebou is nie. In Suid-Afrika het ons oorgenoeg voorbeelde hiervan.”

 

Sy dink ook nie onafhanklike kandidate is die antwoord nie. Mense het die idee dat die kandidate die onbaatsugtige, ongelooflike standvastige beginselvaste persoon sal wees. Party sal dalk, maar in die algemeen sal hulle die gewone Suid-Afrikaanse politikus wees wat hul eie belang sal nastreef en magsbelang wil bekom. Onafhanklike kandidate kan net tot groter onstabiliteit lei.

 

Volgens Zille moet die DA die ankerparty in die koalisies wees. Die beste sal wees om met ‘n volstrekte meerderheid te regeer, maar dit sal nie op nasionale vlak gebeur nie en ons moet ons nie laat bluf nie.

 

Volgens Mulder maak wetgewing nie vir koalisies voorsiening nie. Volgens wet moet ‘n plaaslike regering binne twee weke na die verkiesing saamgestel word.

“Na die 2021-uitslae kon ons nie sinvolle onderhandeling binne 14 dae afhandel nie. Die uitslae het ons gedwing om voortydig koalisies te vorm.”

 

Hy stem saam met Zille dat koalisies moeilik is. Daar is weekliks pogings om die koalisies tot ‘n val te bring. Ouens mag nie wegbly nie. Dis ‘n krisis om dit in stand te hou.

 

Hy meen koalisies moet op breë gemeenskaplike beginsels gebou word. Hy benadruk die ANC moet in 2024 by die stembus verslaan word. Hulle het oor 30 jaar bewys hulle het nie die vermoë om die land te verander nie. Dit kan nie so aangaan nie. As hulle in 2024 wen, weet ek nie wat van Suid-Afrika gaan oorbly nie. Dit kan nie so aangaan nie.

 

Zille sê na die 2024-verkiesing gaan daar twee soorte koalisies wees: die een waar die ANC die ankerparty is en die ander waar die DA die ankerparty is.

 

Kyk die opname van die volledige koalisiegesprek tydens die AB Bondsraad op 16 September 2022

https://youtu.be/7nMtSlYyR1Y

 

Lees die volle berig op Netwerk24

 https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/politiek/koalisies-n-daaglikse-worsteling-20220916

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: