Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Mei 2022

Kom ons bou weer aan ons kultuur

Deur Flip Buys

Voorsitter van die Solidariteitsbeweging

 

Die onderstaande artikel het vroeër vanjaar op Maroela Media verskyn. Met die vriendelike vergunning van Flip Buys en met erkenning aan Maroela Media plaas ons graag die artikel.

 

Die Antieke Egiptenare het al 4600 jaar gelede indrukwekkende Piramides gebou wat vandag nog as wonderwerke beskou word. Die mensdom staan steeds verstom oor die hoë vlakke van ingenieurswese, argitektuur, wiskunde, wetenskap en logistiek wat hierdie Piramides moontlik gemaak het. Daarbenewens het bouwerk van daardie omvang gevorderde vorme van staatkundige organisasie, ekonomiese ontwikkeling, bestuur- en organisasie, en gelettererdheid en opleiding geverg.

 

Argeoloë sê vandag dat die antieke Egiptenare die Piramides gebou het. Maar in werklikheid het die Piramides terselfdertyd die Egiptenare as hoogs ontwikkelde beskawing gebou. Daarmee word bedoel dat die eeuelange bouwerk aan Piramides en ander infrastruktuur wat ‘n beskawing nodig het, ook die Egiptenare as kultuur en beskawing gebou het. Bouwerk van daardie omvang vereis immers ‘n gevorderde beskawing wat in staat is om groot gesamentlike projekte aan te pak, die hulpbronne daarvoor te monster, doeltreffend te beplan en organiseer, en wat oor die leierskap en kundigheid beskik om dit suksesvol uit te voer.

 

Bouwerk

 

‘n Volk, Kultuur of Beskawing se vlakke van ontwikkeling word eeue later steeds gemeet aan die bouwerk wat hulle tot stand gebring het. Ons kan onsself nie die Antieke Egiptenare, Romeine en Grieke indink sonder hulle bouwerk nie. Die Romeine se kultuur en vlakke van beskawing is vandag steeds duidelik as gekyk word na hulle bouwerk wat vandag steeds bestaan. Maar hierdie bouwerke het ook betrokke beskawings gebou, omdat dit die uitleef, uitdra en oordrag van hulle kulture moontlik gemaak het. Winston Churhill het immers gesê dat ons eers ons geboue vorm, en daarna vorm ons geboue ons. Die Romeine se paaie, brûe, watervoorbrûe, teaters en stede het ‘n Romeinse lewe moontlik gemaak en die oordrag en verspreiding van hulle kultuur regoor die ryk vergemaklik.

 

Die Afrikanerkultuur kan ook nie weg van sy bouwerk ingedink word nie. President Paul Kruger was nie net ‘n staatsbouer nie, maar ook ‘n stadsbouer. Hy het ‘n groot rol gespeel om Pretoria vanaf ‘n stowwerige dorpie na ‘n hoofstad uit te bou. Dink maar aan die Ou Raadsaal, Paleis van Justisie, en die Forte rondom Pretoria. Geboue is in werklikheid die kulturele infrastruktuur van ‘n volk. Dit “bou” die volk deurdat die Raadsaal die kern van die staatkundige Republiek was, en die Paleis van Justisie die sentrum van die Regsorde was.

 

Afrikaners het later jare ‘n landvol geboue opgerig wat ook ons as ‘n Kultuur gebou het. Dink aan die geboue wat vir opvoedkundige, ekonomiese, kulturele, mediese, militêre en ander doeleindes gebou is.

 

Afrikaanse lewe

 

Afrikaners is vandag met rede oor die toekoms bekommerd. Soveel van wat opgebou is, is tans vervalle, verlore of oorgevat. Dit maak ‘n “Afrikaanse lewe” en die oordrag van kultuur baie moeilik. Dink maar net hoe min openbare ruimtes daar nog bestaan waar ons veilig en vry die heerlike somersaande kan geniet. Mense leef vandag feitlik net in handelsruimtes soos winkelsentrums en privaatwonings. Ons voel ontuis en selfs onveilig in die meeste openbare ruimtes.

 

Die vraag kan gevra word hoeveel, behalwe huise en inkopiesentrums, ons werklik nog vandag bou. Is die probleem nie dat ons moed verloor oor alles wat die ANC afbreek, maar dat ons as gemeenskap nie meer bou nie? Afrikaners voel nie meer tuis in die land nie, want ons het nie meer genoeg plekke waar ons tuis voel nie. Die oplossing vir ‘n kultuur wat wil leef is om weer te begin bou aan die kulturele infrastruktuur wat vir voortbestaan nodig is. Daardie bouwerk sal dan terselfdertyd ook ons Afrikanerkultuur weer bou. Dan het ons niks te vrees vir die toekoms nie. Die ongekende geesdrif wat die bou van die Solidariteit Beweging se Sol-Tech ontlok het, is genoeg bewys van hierdie stelling.

 

Lees die artikel aanlyn by Maroela Media

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/kom-ons-bou-weer-aan-ons-kultuur

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: