Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Augustus 2022

Mag is opgesluit in mobiliteit, in ons mense en in Geloof!

Deur Roland de Vries

 

Suid-Afrika bevind hom by ʼn kruispad – 'n kritieke oomblik vir die heroorweging van ons land se toekoms. Wanneer 'n volk se vryheid bedreig word, eskaleer die sekerheid van verskerpte konflik en selfs oorlog. Daar moet egter diep besin word oor die brutaliteit van oorlog, en dit moet met omsigtigheid benader word. Terselfdertyd moet besef word dat vrede broos is en versigtig bewaar moet word.

 

Die burgery in Suid-Afrika moet hul gesamentlike stem teen tirannie hard en duidelik laat hoor. As verantwoordelike mense is dit ons plig om ons stem te laat hoor en op te tree. Gepaste en verantwoordbare gemeenskapsoptrede is een van die maniere waarop Suid-Afrika uit sy kwynende en betreurenswaardige toestand gered kan word.

 

Elke mens in Suid-Afrika het die reg op lewe. Die reg op lewe is die mees basiese, die mees fundamentele, die mees primordiale en hoogste reg wat ons toekom, en daarsonder is ons waardigheid en die beskerming van alle ander menseregte betekenisloos. Ons moet daadwerklik lewe en wetsgehoorsaamheid kies – boosheid kry die opperhand wanneer goeie mense versuim om op te tree. Ons moet vrees en verdeeldheid in Geloof verander en Geloof aansteeklik maak. Dit is presies wat verskeie gemeenskappe reeds doen. Hulle staan vas in Geloof!

 

Gemeenskapsveiligheid het ten doel om gemeenskappe te bemagtig om selfbeskerming na te streef in hoop, vertroue en geloof in ons Hemelse Vader. Dit impliseer ook die moed en deursettingsvermoë om ons eie potensiaal te ontwikkel ten einde ons mense te help beskerm en misdaad en terreur doeltreffend te bekamp. Dit is inderdaad ook ons wetlike reg en verantwoordelikheid om dit te doen.

 

Laat ons as gewone burgers diep besin oor die huidige werklikheid en toekomstige toestand van ons land. Ek praat met daardie individue en organisasies wat werklik omgee vir Suid-Afrika en sy voortreflike toekomsvooruitsigte. Kom ons doen dit deur voluit saam te werk om ons land te genees – ons het nog 'n kans om dit te vermag, want daar is merkwaardige mense oral in ons land wat werklik omgee.

 

Die Suid-Afrikaanse samelewing se struktuur is tot in sy fondamente in groot gevaar ... Baie mense kan steeds nie aanvaar dat as die ergste gebeur, die burgery kan ontrafel tot 'n mate wat enigiets oortref wat nog ooit beleef is deur ons gemeenskappe nie, die einste lewensaar van ons voortbestaan en vooruitgang.

 

Ons moet besef dat voorbereiding vir die konflik wat ons binnekort in Suid-Afrika in die gesig kan staar, die fisiese, sielkundige en geestelike voorbereiding van ons land se bevolking vereis – om toegerus te wees met die vermoë om standvastig te staan teen enige aggressiewe bedreiging vir vrede.

 

Soos in die verlede is sukses of mislukking in enige konflik, in die hede of toekoms, die direkte verantwoordelikheid van die groter bevolking: diegene wat ons politici verkies het, wat ons ampsdraers 'verkies'. As ons toelaat dat ons verteenwoordigers hul pligte versuim en ons sodoende faal, bly die verantwoordelikheid steeds ons s'n. As ons dan onvoldoende toegerus, verkeerd opgelei, en verstandelik en geestelik onvoorbereid by die toneel van konflik aankom, sal hierdie mislukking beide tragies en krimineel wees, want daar was voldoende waarskuwing gewees.

 

Die eskalerende onderliggende bedreiging vir Suid-Afrika het byna heeltemal verdoesel geraak deur die huidige politieke binnegevegte. Die dreigende moontlikheid van 'n algehele omverwerping van wet en orde deur misdadigers, wat nie net gewone plundering insluit nie maar ook aanhitsing om meer wandade en volstrekte terreurdade te pleeg, is vinnig besig om 'n uitgebreide werklikheid te word. Daar is meer as genoeg hande om hierdie onverkwiklike werk te doen – nie net gewone wetsoortreders wat uitsluitlik deur hebsug gemotiveer word nie, maar ook georganiseerde misdadigers en/of sekere politieke groepe, en individuele destabiliseerders wat ywerig hul eie buite-wetlike agendas nastreef op pad na volskaalse anargie.

 

As gevolg van 'n mislukte staat kan ons nie meer staatmaak op die tradisionele magsbasisse (polities, ekonomies, maatskaplik, veiligheid, tegnologies, geestelik en geregtelik) om gewone mense veilig te hou en om vir hul welsyn en die welvaart van Suid-Afrika te sorg nie … Gewone, vredeliewende mense sal toenemend vir hulself moet sorg ...

 

Die enigste magsbasis wat ons nou het, is te vinde in die toewyding van gewone mense wat saamwerk vir die herstel van ons wonderlike land deur hul liefde, kennis, vaardighede en ywer by te dra. Ons selfbehoud lê in die wete dat ons alles onder die leiding van ons Hemelse Vader doen!

 

Die genesing van ons land kan slegs vermag word in noue samewerking met ons Hemelse Vader, wanneer ons mense veilig is, verhoudings geharmoniseer is en ekonomiese groei bereik is. Hierdie ideaal sluit in die versekering van die bestaan en veiligheid van alle wetsgehoorsame, vredeliewende burgers en die versekering van die lewering van noodsaaklike dienste en kommoditeite, en voldoende voedselbronne.

 

Gemeenskappe moet dus saamstaan vir wat reg is en sterk wees in Geloof! Gebed is 'n kragtige wapen!

 

·       "Genl. Roland de Vries, is ’n internasionaal gerekende militêre kenner en voormalige adjunkhoof van die Suid-Afrikaanse Leër.” 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: