Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Maart 2022

Mymeringe van 'n Broederbonder


Deur Jan-Piet Bosman (85)

 Die begeerte het my in hierdie troebel tye sommer skielik beetgepak om 'n boodskap van toegeneentheid en bemoediging, met die grasie van die AB-Nuusbrief se redaksie, aan lede van die Afrikanerbond en sy toevallige lesers oor te dra.

 

Ek het in Johannesburg grootgeword in die huis van 'n OB-offisier, lid van die NP, Broederbonder en lid van die Handhawersbond en die Reddingsdaadbond. Van huis uit was ons lewensbeskouing op 'n gereformeerde grondslag en ons was saam met ons ouers lede van die Voortrekkerbeweging. My moeder se een broer was prof. Wicus du Plessis, eertydse voorsitter van die Afrikaner-Broederbond (193-1932) .

 

Ek was ná skool hoofsaaklik in die owerheidsdienste werksaam en het buitemuurs antropologie bestudeer, veral die etnologie van die Zoeloemense. In die gemeenskap waar ons later as nuwe gesin gebly het, het ek na-uurs meegedoen aan kerklike en Afrikaans-kulturele aktiwiteite. Die hoogtepunt was my instelling as lid van die AB in 'n huis met die naam "Rotsvas", geleë in die Primroseheuwels. My vader was tot my blydskap teenwoordig en my nommer was 11149.

 

Later het ek hoofsaaklik gewerk in die skakel- en bemarkingsdienste maar vir my eie bevrediging verder studeer in die Zoeloe-etnologie. Ek het die Soweto-opstande intens as werknemer van die administrasieraad beleef en as persskakelbeampte harde bene gekou. Deur my ontmoeting met die stedelike verteenwoordigers van die Zoeloekoning het ek later ook vir prins Mangosuthu Buthelezi, stigter van die Inkatha-beweging, leer ken en vir hom soms spreektye gereël met Afrikaanse handels- en kulturele organisasies.

 

Net een uitstaande verwikkeling (vir my) was in 1994 toe ek Skakel- en Bemarkingsbestuurder van die Kempton Parkse en Tembisaowerheid was. Ek was baie bedrywig in die AB en later voorsitter van die Noord-Oostelike streek. 

 

In dié tyd was Buthelezi minister van binnelandse sake van die Regering van Nasionale Eenheid onder president Mandela. Hy was ook daarmee belas om voorstelle vir die nuwe Suid-Afrikaanse openbare vakansiedae te doen. 

 

In my dubbele hoedanigheid het ek 'n goed geformuleerde voorstel vir die behoud van 16 Desember as vakansiedag onder die naam van Versoeningsdag aan hom voorgehou. Ek het ook gewys op die simboliese jukstaposisie van 16 Junie met 16 Desember, met die benoeming Jeugdag, wat hy na die betrokke werkskomitee verwys het. Intussen het hy my ingelig dat koning Goodwill Zwelithini besonder in sy skik was met die voorstelle en dit op die Maandag, wanneer hy die SA Parlement sou toespreek, te berde sou bring.

 

Weens ernstige mediese redes het ek kort daarna my werk moes bedank asook my betrokkenheid by die AB en ander kulturele en kerklike aktiwiteite. Ek het nog die Bondsraad bygewoon waar besluit is om die organisasie meer openhartig en toeganklik te maak vir die publiek en die pers en dan die nuwe organisasie, die Afrikanerbond, te vorm. Nie lank daarna is prof Johan Heyns, as nuwe Ondervoorsitter van. die Bond verkies en 'n maand later is hy vermoor. My morele ondersteuning van die nuwe Afrikanerbond het egter voortgeduur.

 

Tydens die ampstermyne van die verskillende Bondsrade van die Broederbond is daar nuwe riglyne, veral op staatkundige gebied, aan die lede, of soms deur die lede aan die Bondsrade was, voorgelê, bespreek en dan aan die NP se provinsiale en nasionale owerhede voorgehou. Dit is meestal dan as beleid toegepas.

 

Dit is so goed om te weet dat die Afrikanerbond kwellende sake ook intern bespreek en dan soms op hoë vlak met kapteins in die industrieë of die landbou en die opvoedkundige sektor opneem. Die politieke leiers en kommentators vanuit ANC, of die tradisionele leiers en selfs andersdenkendes se menings word ook aangehoor en getoets.

 

Doen so voort, die Afrikanerbond, en respekteer jul leiers en lede onderling en luister na verskillende stemme. Respekteer andere se menings, en laat ons nou die benamings Ja-stemmers en Nee-stemmers ter ruste lê. 

 

Ek is nie goed oor Orania as blyplek ingelig nie, maar die mense daar kry groot dinge gedoen en ek sou dalk graag gaan gesels en kennis maak. Ek sit juis nog met 'n brief van wyle prof. Carel Boshoff waarin hy my uitnooi om Orania te besoek op grond van iets waardevol van wyle dr. Verwoerd wat ek destyds aan hom gestuur het. Die uitdrukkings "verkramp" en "verlig" is uitgedien en nou gaan dit net oor die behoud van die Afrikaner, ons taal, godsdiens en kultuur, en die opvoeding van ons kinders in Afrikaans.

 

Waardeer mekaar, broers, luister na jou medelede, werf nuwe lede, respekteer mekaar en dink meermale aan die gedig van wyle dr. I. D. du Plessis wat ek uit skooltyd se herinneringe gedeeltelik hier aanhaal:-

 

"Nee, soet is die stryd van die stryder, 

Al moet ek uiteindelik verloor;

Maar die man wat sy deelname weier,

Is die man wat sy nasie vermoor!"

 

Jan-Piet Bosman. (85)

Randburg

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: