Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Maart 2022

'n Strydros lê die tuig neer


Na 25 ononderbroke jare as voorsitter van die Afdeling Meyerspark-Wes, het br. Dries du Toit besluit om die tuig neer te lê. Hy was vanaf sy instelling vir 45 jaar deurlopend lid van die Afdeling en was onder meer ook veertien jaar Gebiedsekretaris van Gauteng-Noord. Hy laat diep spore na. Dries en sy vrou Elise was ware staatmakers in die Afrikaner kultuuromgewing, nie net in Meyerspark nie, maar ook in Pretoria. Hulle werkywer sal baie gemis word.


AG (Dries) du Toit is 45 jaar gelede, op 22/02/1977, deur br. Dr. Cassie Venter (leraar van die Gereformeerde Kerk, Meyerspark) ingestel as lid van die Afdeling Meyerspark-Wes aan huis van br. Daan Cronjé in Odendaalstraat 178, Meyerspark.


Vanaf 1979 tot 1997 het hy wisselend diens gedoen as sekretaris of as ondervoorsitter. In 1997 is hy as voorsitter van die afdeling verkies en het hy die amp ononderbroke beklee tot 19/2/2022 (25 jaar). In die tyd wat hy voorsitter was, is die vergaderings altyd by hom aan huis gehou en het die lede nooit gewonder waar die vergadering sal wees nie.


In die tyd wat hy voorsitter van Meyerspark-Wes was, is 4 afdelings wat getermineer is se oorblywende lede by Meyerspark-Wes ingeskakel (Afdelings Silverton, Meyerspark, Meyerspark-Oos en Salieshoek).


Hy het by die Gebiedsraad betrokke geraak toe prof. Jannie Pieterse die lid van die UR was en was sedertdien ononderbroke lid van die Gebiedsraad tot Maart 2021. In 2004 is hy gekies as lid van die Dagbestuur van Gebied 9 en na die samesmelting tussen Gebied 9 en Gebied 10 is hy weer as lid van die Dagbestuur van die nuwe Gebied 9 gekies en was lid van die Dagbestuur tot Maart 2021.


Nadat br. Bertus Steenkamp na die Kaap verhuis het, is br. Dries as gebiedsekretaris verkies, ‘n amp wat hy vir 14 jaar beklee het tot Maart 2021. In die laaste paar jaar is al die Dagbestuursvergaderings en Gebiedsraadvergaderings altyd by Dries aan huis gehou.

In die tyd wat hy die gebiedsekretaris was het hy verskeie belangrike sake hanteer. Hy noem onder meer die volgende:

  • Br Dries en br. Johan Mostert het die nuwe reglement vir Gebied 9 geskryf wat in 2010 goedgekeur is en met enkele klein verbeterings (weens veranderde omstandighede) nog net so vandag gebruik word.
  • Hy het gevra dat daar elke maand deur elke afdeling verslag gedoen word aan die Dagbestuur. Sodoende het die Dagbestuur deurentyd geweet wat in die gebied gaande was.
  • Deur die verslagdoening is gesien watter afdelings funksioneer en watter nie. Dit het daartoe gelei dat een na die ander afdeling getermineer is en die oorblywende aktiewe lede na funksionerende afdelings oorgeplaas is. Waar daar in 2007 nog 22 afdelings in Gebied 9 was, is daar nou 4 afdelings oor (Eldoraigne, Ou Fort, Gezina-Rotsvas en Meyerspark-Wes).
  • In die tyd wat Dries gebiedsekretaris was het hy hoofkantoor aktief gehelp om uitstaande ledegelde in te vorder. Daar was goeie sukses in die verband. Ongelukkig het dit ook meegebring dat lede wat groot bedrae geld geskuld het se lidmaatskap beëindig is. In al hierdie gevalle was dit lede wat glad nie meer by AB-sake betrokke was nie.
  • Daar was ook gevalle wat hy opgevolg het en lede weer betrokke gekry het.
  • Wanneer lede van elders af na Gebied 9 verhuis het, het Hoofkantoor altyd vir Dries geraadpleeg om die lede by die korrekte afdeling in te skakel.
  • In die laaste paar jaar, toe baie lede rustend geword het en afdelings gesluit is, het hy saam met hoofkantoor die beginsel gevestig dat die rustende lede nie na buite lede oorgeplaas word nie, maar dat die afdeling behou word en die naam aangepas word na Afdeling AAA Rustende lede. Indien lede dan weer ‘n byeenkoms wou reël was dit maklik om dit te doen aangesien die groep nog bymekaar is. Ander opvolgwerk is ook hierdeur vergemaklik.
  • Sedert hy sekretaris geword het, het hy gereeld gesorg dat daar 2 keer per jaar ‘n gebiedsvergadering gehou word waarheen ‘n goeie spreker uitgenooi is.
  • Hy het ook die afgelope 6 jaar gereeld die reëlings hanteer vir die gebiedsfees wat op Saterdag 31 Mei, of die naaste Saterdag, gehou is. Dit was elke keer ‘n groot sukses.

Ook vanaf Die Eike en die Nasionale Raad bedank ons Br Dries du Toit vir toewyding en die volle nakoming van ons Erekode - Om te dien, nie om gedien te word nie.   

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: