Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        Maart 2024

Nog steeds die kaders wat afbreek

- Die Afrikaner-Broederbond het Afrikaners en daardeur die land opgehef – dit is ons nalatenskap

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond


 Hierdie is ʼn aangepaste weergawe van ʼn artikel wat in 2021 in verskeie platforms verskyn het, waaronder Rapport en Politicsweb.

 

Gedurende die bekendmaking van die ANC se notules oor kaderontplooiing soos wat die Demokratiese Alliansie deur ʼn hofbevel vermag het is die neiging opnuut weer om die ANC se Kaderontplooiingskomitee net soos die Afrikaner-Broederbond in die verlede gewerk het, te vergelyk. Sommige kommentators maak die verband in veralgemeende terme. Tydens die president se vorige verskyning by die Zondo kommissie het ʼn kommentator gesê: “Die president verduidelik in breë teoretiese terme wat die ANC -ontplooiingskomitee doen. Die probleem met die aanstellingsproses van die "Broederbond -styl" van die ANC is dat dit gedryf word deur politiek en faksionalisme. Op dieselfde wyse word die Afrikaner-Broederbond gereeld daarvan beskuldig dat hy baantjies vir boeties geskep het en poste in die staatsdiens en semi-staatsorganisasies vir lede, vriende of familie gereserveer het.

 

Tim du Plessis skryf in Rapport van 25 Februarie 2024 hieroor: “Die probleem is hoé die ANC kaderontplooiing toepas. En wat die ware motiewe is daaragter. Hoofregter Raymond Zondo het in sy omvattende ondersoek na staatskaping bevind dat die wyse waarop die ANC dit doen vyf verskillende artikels van die Grondwet skend. Kaderontplooiing is ook onwettig omdat dit die Staatsdienswet oortree.” Dan skryf du Plessis: “Zondo het die ANC as party en as regering uitgewys as hoofrolspeler in die euwel van staatskaping en die gepaardgaande korrupsie en diefstal. Kaderontplooiing was die gevegsplan én hoofwapen in sy arsenaal.”

 

ʼn Kader word deur die aanlyn Oxford languages omskryf met twee begrippe: “'n klein groepie mense wat spesiaal opgelei is vir 'n bepaalde doel of beroep” en die tweede word omskryf as “'n groep aktiviste in 'n kommunistiese of ander revolusionêre organisasie.” Dit verklaar die begrip dalk meer in die Suid-Afrikaanse konteks. By die ANC se 1997 konferensie in Mafikeng is die resolusie oor kaderontplooiing aanvaar wat lui “We should guide against favouritism, opportunism, regionalism and ethnic or gender discrimination.”

Dit het uiteindelik partylojaliste geword wat slegs onderdanig is aan en gehoorsaamheid en lojaliteit betoon aan partyreëls  want die ANC-resolusie van 1997 het kaders wat ontplooi word beskryf as diegene met uitstekende eienskappe soos “lojaliteit, dissipline, toewyding en vasberadenheid”. Ons moet dus aanvaar dat die ANC die kwessie met mag en mening gaan verdedig in die verkiesingsjaar. Veral kaders wat intens afhanklik geraak het van die voordele van die ANC se ontplooiing, gaan dit aktief verdedig.

 

Om summier net die ANC se kaderontplooiing met die Afrikaner-Broederbond te vergelyk verg ʼn bietjie meer kennis oor die werkswyse van die Afrikaner-Broederbond. Enige navorser kan met vooraf toestemming toegang verkry tot die dokumente en oorspronklike notules van die Afrikaner-Broederbond. Hierdie inligting is in ons argiewe, wat sedert 1995 oop en toeganklik is. Ons kon nog nie enige dokument opspoor of ʼn notule van enige vergadering waarin spesifieke persone of poste bespreek is nie. Nog minder kon ons enige beleidsdokument opspoor wat aandui dat Broers bevoordeel moes word in aanstellings of bevorderings. Voorts het ons met groot moeite en koste die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond tydens ons eeufees in 2018 gepubliseer. Dit is in 2021 opgevolg deur 'n baie omvattende werk gebaseer op nougesette navorsing deur prof. Ernst Stals – alles in 'n poging om deursigtig te wees en ons verlede met opregtheid en eerlikheid te hanteer. (Sien die verwysing na die boek hieronder).

 

Ter aanvang wil ons graag verwys na twee artikels van outeurs wat vir alle praktiese doeleindes gewis nie in die Afrikaner-Broederbond se dampkringe sou beweeg het nie. Hierdie twee outeurs trek ook die parallel tussen die verlede en die werk van die Afrikaner-Broederbond en kaderontplooiing.

 

Op 27 September 2021, skryf John Kane Berman van die Institituut vir Rasseverhoudinge in ‘n artikel The other elephant in the room”, en sê hy: 

 “Sommige kommentators vergelyk die ANC se kaderontplooiingsbeleid met wat die (Afrikaner-)Broederbond tydens die bewind van die Nasionale Party (NP) gedoen het. Die vergelyking is nouliks vleiend, maar dan het die Broederbond nie die staat opgemors nie. Ongeag of diegene wat staatsondernemings insluitend dié dienste waarop arm mense sterk aangewese was, soos treine en posdienste bestuur het Broeders was of nie, dit het gewerk. Wat hulle ook al kon gedoen het, het die Broeders nie die staat geplunder nie. In 1994 het die ANC 'n funksionerende staat geërf. Die comrade-kaders het egter toe voortgegaan om te plunder en te vernietig. Hiervoor toon hulle min berou en nog minder het hulle enige voorneme of vermoë om dit reg te maak wat hulle gebreek het.”

 

‘n Maand later op 24 Oktober 2021 skryf RW Johnson in Rapport Weekliks onder die opskrif “Die Afrikaner se erfenis is te sien om ons - Die ANC het bitter min om te wys.” Die artikel is ook op 25 Oktober 2021, in Politicsweb Afrikaner and ANC achievement compared gepubliseer. Johnson skryf oor die rol van Afrikaners in die tydperk tussen Uniewording en 1994, waartydens Suid-Afrika deur Afrikaners gelei is. Alhoewel die Afrikaner-Broederbond nie by die naam genoem word nie, is die uitstekende indirekte werk van die Afrikaner-Broederbond daar vir almal om te sien.

“Daardie periode is gekenmerk deur enorme ekonomiese groei, die industrialisering en verstedeliking van die land, die bou van indrukwekkende infrastruktuur sonder enige gelyke in Afrika - nie net paaie en brûe en damme nie, maar hawens, lughawens en gesofistikeerde waterstelsels. Bowenal is duisende skole, hospitale en klinieke gebou en beman, sowel as meer as ‘n dosyn universiteite. By verre die grootste en beste geïntegreerde spoorstelsel in Afrika is gebou en onderhou, sowel as Afrika se leidende lugredery. Die land se behuisingsaanbod is geweldig uitgebrei - insluitend die bou van swart townships op ‘n hoër standaard as wat in die HOP-era gesien is. Die hoogste vlakke van ekonomiese groei in Suid-Afrika is in die 1950s en 1960s gesien.”

 

Johnson sê dan verder dat “sulke ontwikkeling leun op fyn beplanning, visie, belegging, bestuur en ‘n vasberadenheid om dit deur te voer: Dit, eerder as die bestaan van ‘n oorvloedige arbeidsmark, is die bepalende faktore.” Dit is duidelik uit ons bewese en opgetekende geskiedenis dat die Afrikaner-Broederbond in baie, indien nie die meeste, gevalle die skepper van idees was en in sommige gevalle die dryfkrag was om die regte mense met die nodige vaardighede te identifiseer om hierdie ontwikkelings te inisieer. Baie van hulle was soms nie eens lede van die Afrikaner-Broederbond nie.

 

Die kommentators wat so mildelik vergelykings of 'n misplaaste verband en ooreenkoms soek tussen die Afrikaner-Broederbond en die ANC se ontplooiingskomitee is nie die eerste nie en sal ook nie die laaste wees nie. Dit is maklik om vinnig 'n paar gedagtes oor die saak bymekaar te maak en om aan te sluit by die string kommentators wat bewerings maak dat die ANC se kaderontplooiingskomitee funksioneer net soos die Afrikaner-Broederbond in die verlede. Net so word die Afrikaner-Broederbond dikwels van baantjies vir boeties beskuldig en dat poste in die staatsdiens en semi-staatsorganisasies vir lede, vriende of familie gereserveer is.

 

Dit kan onomwonde gestel word dat daar géén meganismes of prosedures in die Afrikaner-Broederbond was om lede te identifiseer en aan te beveel vir aanstelling in die staatsdiens nie. Nooit het die Afrikaner-Broederbond dit as beleid gestel om AB lede in senior of invloedryke posisies aan te stel nie, en nooit is daar vanuit die Afrikaner-Broederbond se hoogste strukture of hoofkantoor besluit oor aanstellings in die staatsdiens nie. Nooit is regters of hulle aanstelling bespreek of na verwys nie. Die Staatsdienskommissie was verantwoordelik vir die aanstelling van amptenare. Hierdie kommissie sou dit doodeenvoudig nie duld om voorgeskryf te word oor wie hy mag aanstel en wie nie.

 

Dat die Afrikaner-Broederbond nie so magtig was om mense in top poste aangestel te kry nie, getuig die aantal direkteurs-generaal wat nie lede van die AB was nie. Daar was van hulle wat die AB selfs antagonisties gesind was, en tog is van hulle in sleutelposte aangestel. Net so was verskeie redakteurs van Afrikaanse koerante, ook nie lid van die Afrikaner-Broederbond nie. Dit was dikwels ook hulle wat daartoe bygedra het om gelekte dokumente van die Afrikaner-Broederbond “te ontbloot”.

 

Dit het deurgaans een van die groot punte van kritiek teen die Afrikaner-Broederbond se vertroulike werkswyse geword dat aanstellings van skoolhoofde tot stadsklerke en amptenare gemanipuleer is en dat baantjies vir boeties in die proses geskep is.  Dit is egter so dat ‘n beduidende aantal lede van die Afrikaner-Broederbond in die topstrukture van die staatsdiens en as leiers elders in die samelewing aangetref kon word. Dit kan egter nie aan “kaderontplooing” toegeskryf word nie. Daar was in die verlede beslis ’n baie noue ineenstrengeling van die Afrikaner-Broederbond in die totale lewensruimte van Afrikaners. Die lewensruimte was in die politiek, die kerk en die ekonomie en daar was oorvleueling van betrokkenheid en ook lidmaatskap. Dit was in dié lewensruimtes dat die Afrikaner-Broederbond se uitgangspunt was dat ons van leiers in hierdie lewensruimtes, lede gemaak het en nie andersom nie. Deur hulle aktiewe betrokkenheid in die gemeenskap en leierskap is hulle wel genooi vir lidmaatskap.

 

Die Afrikaner-Broederbond se benadering met ledewerwing was juis om jonger mense te identifiseer wat bereid was om onbaatsugtige diens aan die gemeenskap te lewer. Vir dié ledewerwing was leierspotensiaal hoog op die lys van eienskappe waarna gekyk is. Dit is dus net natuurlik dat lede met leierspotensiaal sou kon vorder tot die hoogste vlakke. In die Afrikaner-Broederbond is altyd gesê: “Ons maak van leiers lede en nie van lede leiers nie.” 

 

Natuurlik is dit moontlik dat lidmaatskap gebruik kon word om die eiebelang te bevorder, maar dit sou wesenlik in stryd wees met die instellingsformulier wat elke lid afgelê het en gereeld as erekode by elke vergadering voorgehou is: “Om individueel en gesamentlik, in geesverwantskap ons Godgegewe talente diensbaar te maak aan die saak waarin ons glo. Om te dien - nie om gedien te word nie. Om te gee - nie om te ontvang nie.” Hierdeur die die Afrikanerbelang gedien en nie eiebelang nie. Hierdeur kon die beste kundigheid gevind word om die grootste industrieë te bou en te vestig.

 

Om die Afrikaner-Broederbond en baantjies vir boeties los en vas te gebruik en selfs te koppel ter verdediging of ter versagting van kaderontplooiing en gevolglike staatskaping van die ANC kan nie goedsmoeds aanvaar word nie. Onbevoegde kaders is op groot skaal aangestel wat tot die verval van staatsentiteite en staatsfunksies gelei het. Dit is hartseer en ironies dat dit dieselfde entiteite is wat in ʼn vorige bedeling tot stand gekom en opgerig is met knap kundigheid en ervaring en aangewend is tot voordeel van almal.  Die werk in die vorige bedeling het van Suid-Afrika die industriële reus in die vasteland gemaak en oor die feit was die Afrikaner-Broederbond nooit skaam nie. 

 

Vanuit die publikasie  “Draer van ʼn Ideaal 1918-1997: Die Afrikanerbond” wat in Desember 1997 saamgestel is vir informele indiening by die Waarheid en Versoeningskommissie die volgende:  “Vertroulikheid het die nadeel gehad dat dit die AB (Afrikaner-Broederbond) maklik kon brandmerk as 'n geknoeiery - as ʼn sameswering of as duistere aktiwiteite wat nie geopenbaar kan word nie. Dit het veral vir kerke, predikante, politieke partye en politici probleme geskep. Beskuldigings wat die mees algemeen ingebring is, is dat lede mekaar bevoordeel in die verkiesing tot ampte en in aanstellings in openbare poste, dat daar teen nie-lede gediskrimineer word, en dat daar manipulering van besluite en mag plaasvind. Juis daarom het sommige joernaliste daarvan 'n gewilde bedryf gemaak om die AB te "ontmasker". In die proses is baie sensasionele berigte met onvolledige of verdraaide waarhede die wêreld ingestuur. Dit het meegehelp om 'n negatiewe persepsie van die AB by mense te laat ontstaan. Die AB het selde probeer om hierdie verdraaiings en wanpersepsies teen te werk- enersyds omdat dit moeilik vir 'n vertroulike organisasie sou wees, en andersyds het hy so sterk geglo in die ideale en beginsels waarvoor hy gestaan het, sowel as in die integriteit van sy lede, dat hy enige openbare regstellings of teenreaksie vermy het.”   

 

Die Eerste Ministers sedert 1948, en meeste lede van die kabinet was lede van die Afrikaner-Broederbond. ‘n Belangrike aspek wat wel in gedagte gehou moet word, is dat die Afrikaner-Broederbond as vrywillige ledeorganisasie op geen manier opdragte kon gee aan sy lede nie. Die Uitvoerende Raad van die Afrikaner-Broederbond het nie oor daardie soort magte beskik nie.

 

Dit verskil heeltemal van hoe die ANC aan sy lede opdragte gee en ontplooi. Die werkswyse van die Afrikaner-Broederbond en die Afrikanerbond van vandag word prakties gedemonstreer in die 1997 Draer van ʼn Ideaal dokument. “Die AB (Afrikaner-Broederbond) is primêr ʼn meningsvormende denke inisiërende instelling wat die geleentheid aan sy lede bied om aktueel en dinamies standpunte te stel en te verneem, tot nuwe insigte te kom, en om dan die insigte en perspektiewe in sy besondere invloedsfeer, volgens eie oordeel en inisiatiewe te stel en verder uit te dra. Lede oefen dus vanuit die omgewing en kultuur van die AB individueel invloed uit op politieke kerklike en ekonomiese terreine. Waarvan die AB egter nie beskuldig kan word nie is sinisme, kwaadwilligheid en konkelary.”

 

Waar foute gemaak is, het die Afrikaner-Broederbond dit erken, maar daar was ook tye toe die Afrikaner-Broederbond en ook die Afrikanerbond onverskrokke standpunt ingeneem het teen sowel die Nasionale Party-regering net soos wat die Afrikanerbond tans teen die ANC-regering standpunt inneem. Sentralisasie van politieke mag, en beheer en aanstellings uit die binnekamers van ʼn politieke hoofkantoor is verkeerd en daarom moet kaderontplooiing veroordeel word want dit vererger ʼn ongelyke samelewing met ongelyke geleenthede en bevestig party lojaliteit bo die waarde van meriete en individuele prestasie. Dit is ongrondwetlik en ondemokraties in beleid en in die praktiese toepassing. Dit gee aan individue ʼn motief om die staat te kaap, dit skep ongekende en obsene vlakke van korrupsie en selfverryking, met geen aanspreeklikheid nie. Daar is eenvoudig geen vergelyking tussen die werkswyse van die Afrikaner-Broederbond en kaderontplooiing te tref nie, aangesien die Afrikaner-Broederbond gebore is uit die ideaal om Afrikaners op te hef uit die uiterste armoede wat na die Tweede Anglo-Boereoorlog gevolg het. Dit het die Afrikaner-Broederbond bereik met die harde werk van 'n kollektief van individue en met die karige spaargeld van verarmde Afrikaners. Hieruit is onderwysgeleenthede geskep, ontwikkelingsinstellings is tot stand gebring waardeur ekonomiese bemagtiging en later ook politieke bemagtiging sou volg.

 

Die Demokratiese Alliansie is absoluut korrek om met die feite soos weergegee in die Zondo kommissie na staatskaping en die notules van die ANC se ontplooiingskomitee te werk en waardevolle afleidings te maak rakende die onheilige Nasionale Demokratiese Rewolusie-ideologie wat Suid-Afrika geruïneer het. Transformasie, ontplooiing en vernietiging is die enigste gevolgtrekking wat ʼn mens kan maak van die beleid. Pieter du Toit, adjunk redakteur van News24 skryf op 29 Februarie 2024: “Dit is kaderontplooiing wat verantwoordelik is vir die falende staat, ineenstorting en korrupsie. Want dit is die ontplooiingskomitee wat ministers, uitvoerende beamptes, raadslede en voorsitters geïdentifiseer het om beheer oor strategiese sentrums van mag te neem, soos wat die ANC se beleidsdokumente van 1997 ons herinner.” (Vertaal uit Engels)

 

Ons moedig belangstellendes in die geskiedenis van die Afrikaner-Broederbond aan om ʼn eksemplaar aan te skaf van “Die Broederbond – Die geskiedenis van Die Afrikaner-Broederbond 1918-1994" deur prof. Ernst Stals en met voorwoord deur prof. Hermann Giliomee. Die historiese en feitelike boek van 720 bladsye boek is in Mei 2021 bekendgestel. Meer besonderhede kan gevind word op ons webwerf: https://www.afrikanerbond.co.za/ab-boek-elp-stals

  ____________________________________


In die tyd word die onderstaande brief in Beeld gepubliseer. Onder die naam “Oud-Broederbond-lid van Pretoria” en word die bostaande inhoud en weergawe bevestig deur sy eie werkservaring.  Die volgende brief in Beeld ( (Beeld Briewe op 29 Februarie 2024)

 

Broeders nie met loopbane gehelp 

Elke kort-kort is daar ‘n kommentator wat die ANC se kaderontplooiing wil gelykstel met die van die Broederbond. Dit strook net nie met die “geleefde ervaring” van oud-lede nie.

 

Voor 1994 was ek vir 28 jaar lid van die organisasie, en in al die jare het ek nooit daarvan gehoor dat die organisasie my kan help om êrens geholpe te raak met ‘n werk, veral in die staatsdiens, nie. Nooit het ek gehoor van ‘n ontplooiingskomitee waarby ek kon gaan aanklop nie.

 

Soos ek verstaan, het die Bond wel pogings aangewend om sekere  mense vir sleutelposte aan te beveel by instansies wat daaroor kon besluit. In die staatsdiens was die Staatsdienskommissie verantwoordelik vir aanstellings op top vlak. Maar die Bond het geen locus standi daar gehad nie. Die Bond kon slegs op individuele vlak probeer beïnvloed. Toegegee, die Bond het hier ‘n voordeel gehad dat hy die “regte” mense geken het, maar die punt is, daar was geen formele ooreenkomste nie.

 

Ons gewone lede was nooit bewus van ‘n meganisme in die organisasie wat gekyk het na die poel van lede van die Bond wat dan besluit het dat X hier ontplooi moet word en Y daar. Trouens, die hoofbestuur van die Bond het net mooi niks uit te waai gehad met die individuele loopbane van al sy lede nie.

 

As iemand na al die jare vir ons oud-lede sê julle het so ‘n komitee gehad wat vir julle loopbane kon sorg, sal ons darem erg gegrief wees dat niemand ons ooit daarvan vertel het nie.

Lees die brief aanlyn

 https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/gesels-saam/broeders-nie-met-loopbane-gehelp-20240228


Vertel gerus vir ons van u indrukke en ervaring as lid. Stuur na kommentaar@abond.co.za

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: