Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2022

Ons kan nuwe inhoud gee aan ons reënboog ideale

 

Deur Jan Bosman - Hoofsekretaris van die Afrikanerbond


Verskeie gebeurtenisse en momente die laaste maand het my weer tot diepe nadenke gestem. Aan die einde van 2021 is Aartsbiskop Desmond Tutu oorlede en word daar weer heelwat geskryf oor die reënboognasie wat Suid-Afrika is en wat deur hom verwoord is.

 

Die reënboognasie is gevorm en geslyp uit die smeltkroes van ʼn onderhandelde skikking waarin ‘n balans gevind moes word en onderhandel is met:

  • die behoefte aan gelykheid aan die een kant en die behoefte aan die vermyding van onregverdige diskriminasie aan die ander kant;
  • die behoefte aan die beskerming van eiendomsreg aan die een kant en die behoefte aan die bevordering van regverdige en gebalanseerde grondhervorming aan die ander kant;
  • die behoefte aan demokratiese verteenwoordiging in die regering en die behoefte aan doeltreffende dienste en, ten slotte;
  • tussen die behoefte aan die koestering van ons ryk diverse kulturele, taalkundige en godsdienstige erfenis en die behoefte aan die bevordering van oorkoepelende nasionale eenheid.

Ons reënboognasie het tydens die historiese verkiesing van 27-29 April 1994 hul kruisie getrek en die eerste demokratiese regering is aangewys. Die finale grondwet is hierna onderhandel. Die grondwet, Wet 108 van 1996, verklaar onomwonde dat die Republiek van Suid-Afrika een, soewereine, demokratiese staat is gegrond op die volgende waardes: 

(a) Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.

(b) Nie-rassigheid en nie-seksisme.

(c) Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.

(d) Algemene stemreg vir volwassenes, 'n nasionale gemeenskaplike kieserslys, gereelde verkiesings en 'n veelparty-stelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, 'n responsiewe ingesteldheid, en openheid te verseker.

 

Die meerderheid Suid-Afrikaners, wit en swart, het die nuwe Suid-Afrika en die waardes soos vervat in die SA grondwet volledig omarm. Ons het die bruisende gees van entoesiasme van die reënboognasie in 1995 met die wêreldbeker gesien en daarna weer met ʼn paar sport hoogtepunte.

 

Twee weke gelede luister ek in die motor op pad na ʼn vergadering na ʼn onderhoud met die satirikus Pieter - Dirk Uys op ʼn Engelse radiostasie, Hy verwys na die bogenoemde tydperk as dat Suid-Afrikaners ʼn “Generosity of Spirit” gehad het. ʼn Vrygewige of groothartige gees. Die gees is egter gebreek of geblus deur soveel jare van wanbestuur en korrupsie. Die Suid-Afrikaanse reënboognasie, soos verwoord deur aartsbiskop Desmond Tutu, het vervaag en is die mooi ideale wat ons gekoester het en in die SA grondwet opgeneem is ernstig aan die vervaag. Ironies genoeg blameer Pieter-Dirk Uys ook die politici dat hulle kunstenaars se inkomste weggeneem het, deur self en eiehandig vir komiese momente te sorg. 

 

Die pas afgelope naweek was ons deel van ʼn besondere gesprek met ʼn groep besorgde Suid-Afrikaners, wit en swart van regoor die politieke spektrum. In ʼn openhartige gesprek wat met verskeie aanbiedings toegelig is kom een aspek sterk na vore. Ons het vertroue verloor. As burgerlike samelewing wat die sakesektor insluit is daar:   

  • ʼn Gebrek aan vertroue in die regering
  • ʼn Gebrek aan vertroue in politici,
  • ʼn Gebrek aan vertroue in die staatsdiens,
  • ʼn Gebrek aan vertroue in die polisie. 
  • ʼn Gebrek aan vertroue in die strafregstelsel

Een spreker het verwys daarna dat ons samelewing aan anomie ly (anomy) Ek moes die betekenis naslaan en volgens die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal is dit “’ʼn Toestand waarin daar in ʼn groep ʼn gebrek aan die gewone sosiale en etiese norme en gevolglik ʼn gevoel van verwarring en onsekerheid ontstaan.” Die Engelse verduideliking wat nageslaan is neem dit nog sterker en is dit waarskynlik die omskrywing wat die spreker in gedagte gehad het naamlik ”ʼn toestand van onstabiliteit by gemeenskappe of individue as gevolg van die ineenstorting van standaarde en waardes of van die gebrek aan doel of ideale.”

 

In die maand se nuusbrief kan gelees word van die mislukte, brose of falende staat. Hoe mens ook al daarna kyk skep dit ʼn staat waarin ons nie wil wees nie. Dit was ook die konteks van die naweek se gesprekke tussen die besorgde Suid-Afrikaners. Die mislukte, brose of falende staat gaan ons almal laat sink. Dit is nie net iets waaroor net Afrikaners, net wit of net swart, ryk of arm besorgd oor moet wees nie. As besorgde maar ook beduidende Suid-Afrikaners wil ons toetree en ʼn verskil help maak. Soveel individue en organisasies is reeds met parallelle strukture besig. Instandhouding en herstel van infrastruktuur, veiligheid, onderwys en vele ander is reeds aan die gang. Ons sal egter nooit die staat kan vervang nie en dit is ook nie die doel nie. As besorgde Suid-Afrikaners sal ons die verantwoordelikheid moet neem om onsself nuttig en bruikbaar te maak om binne die grondwet te werk aan die herstel van die staat en owerheidstrukture. Net so moet ons weer help om ʼn polisiediens te help skep waarin daar weer vertroue kan wees. Ons het die naweek verneem van ongelooflike strukture wat na die onluste in Julie 2021 in dorpe en gemeenskappe veral in KwaZulu-Natal opgerig is, en waarin gemeenskapsleiers die leiding neem om na eie veiligheid om te sien en weer gemeenskappe te herstel. In die meeste gevalle word die polisie betrek om te help met die beplanning.

 

ʼn Prominente swart akademikus en regsgeleerde  wat die geleenheid bygewoon het, het die volgende gesê: “Die siel van ʼn nasie word gedefinieer en gekenmerk deur sy waardes, sy selfbegrip en die kwaliteit van sy verhoudings. Die psigologie van 'n nasie word gekenmerk deur sy nuuskierigheid en gemoedstoestand, sy gretigheid om te weet en te ontdek, sy vermoë om sy eie toekoms te vorm, en uit te reik na sy buurman.” 

 

Tydens die gesprekke is die behoefte aan ʼn sosiale kompak weer geïdentifiseer en sou die raamwerk van so ʼn kompak tussen die burgerlike samelewing, besigheid en die regering verskeie fasette bevat. Besigheid Suid-Afrika het onlangs weer sterk voorstelle vir ekonomiese groei aan die regering gemaak. Van die sake is die naweek weer toegelig.  Dit verg egter politieke wil en wedersydse vertroue en beide is ernstige tekortkominge. Die grootste werk wat voorlê is om die leiding te neem om  mense weer vertroue te gee en die sake aan te spreek wat die vertroue geskaad of geskend het. Die tyd vir agteroor sit en net te kritiseer is verby. Die onderlinge gesprekke tussen die besorgde Suid-Afrikaners sal in die komende weke en maande maande hopelik groter momentum kry en ook verder toegelig word in die nuusbrief en ander strukture. Mag dit die begin wees van die ontsluiting van die volle potensiaal waartoe Suid-Afrika en sy mense wel in staat is. Dit kan nie net meer in die hande van die ANC of regering gelaat word nie.    

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: