Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Mei 2022

Ons moet ons eie hoop bepaal

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond


Alan Paton het Suid-Afrika in 1985 beskryf as ’n land waar jy Maandag hoop het en Dinsdag wanhoop. (Despair)  Is dit nie nog meer so en meer toepaslik in 2022 nie? Ons het die een dag hoop vir die land, die ander dag is ons wanhopig, ontnugter, teleurgesteld en soms ook geïrriteerd. Die woord “despair” vertaal ook as vertwyfeling, moed opgee of selfs desperaat wees.

 

Waar ons aanvanklik kon wissel tussen dae van hoop en wanhoop is dit nou feitelik elke liewe dag in Suid-Afrika ʼn dag van ontnugtering en wanhoop. Ons is tans weer midde in beurtkrag, kundiges wys op dit wat verhoed kon word in die tragiese vloede in Natal, ons voorstede in Gauteng begin soos slagvelde lyk met slaggate en infrastruktuur wat verbrokkel. Ons lig nie meer wenkbroue oor die bedrae ter sprake in korrupsie en wanbestuur nie. Ons raak sinies as ons hoor dat Zuma sy dag in die hoof sal kry en dat staatskapers vervolg sal word. Midde in dit alles is daar tog nog sprankies hoop as mens sien hoe mense self ʼn verskil begin maak. Self slaggate opvul, al is dit tydelik, self ʼn verskil maak in omstandighede van andere en self instellings oprig wat onderwys en opleiding voorsien.

 

Ek was onlangs in gesprek met ʼn persoon wat uit die swartbewussyn groepering sy denke gevorm het en in eie reg sakebelange van formaat het. Ons het gepraat oor Afrikaners wat hulself in die vorige eeu bemagtig het deur onderwys en later ekonomiese en politieke bemagtiging ervaar het. Afrikaners het later die verpligting aan die Nasionale Party staat uitgekontrakteer en het op die wyse afhanklik van die staat geraak. Gevolglik was 1994 ʼn diep ontmagtigende ervaring toe die staat nie meer wou voorsien nie. Dit het egter weer nuwe geleenthede vir Afrikaners geskep en word Afrikaners weer bevoordeel deurdat geleenthede ontgin en aangewend word. ʼn Nuwe generasie Afrikaner entrepreneurs het begin ontstaan. Die Swartbewussyn sakeman het met diep insigte hierop gereageer. Onder Apartheid en die Nasionale Party regering moes swartmense vir hulself sorg en hulself bemagtig. Net soos Afrikaners afhanklik van die staat geraak het, het swartmense weer na 1994 afhanklik begin raak van die staat want die staat moet nou voorsien. So draai die wiel en hou ons aan om dieselfde foute te maak.

 

In ʼn ander gesprek word die insig verwerf dat witmense en veral Afrikaners gedurende die apartheidsbewind die voordeel van verskanste groepregte gehad het en dat ons sedertdien in die 1994 bewind moes plek maak vir nuwe individuele regte. Ons moes egter leer om kollektief met individuele regte om te gaan en sodoende ons eie groepregte te bevorder. Net so is die toepassing van individuele regte wat verskans word ook problematies in die nuwe Suid-Afrika.

 

Al meer kundiges en kommentators begin praat van koalisie politiek. In 2024 gaan ons hopelik die koalisie politiek begin beleef op nasionale vlak. In 2012 het daar in Nederland ʼn koalisie ontstaan wat hulself genoem het die “Bruggen slaan” koalisie en wat vertaal na Afrikaans as ʼn Brugbou Koalisie. In die koalisie akkoord het hulle hulself omskryf “as die soeke na die beste van beide wêrelde” en word die doelwit in die inleiding tot die akkoord soos volg omskryf. “As volkspartye met steun in al die sfere van die bevolking sien ons dit as ons opdrag om brûe te bou. Tussen Den Haag en die samelewing. Tussen stedelike en landelike gebiede. Tussen ryk en arm. Tussen jonk en oud. Tussen hoog- en laag opgeleides. Tussen mense wat in elke verandering 'n uitdaging sien en mense wat veral bekommerd na veranderinge kyk. Hierdie koalisie wil die onderlinge verbondenheid, die optimisme en die krag van Nederland versterk.”

 

In Suid-Afrika kan ons met groot vrug voortborduur op ʼn brugbou koalisie en behoort ons politieke partye te ondersteun in die soeke na koalisies. Dit word elke dag duidelik dat ons ʼn verskeidenheid van brûe sal moet bou. Tussen wit en swart, brûe tussen tale en kulture, tussen minderhede, tussen minderhede en meerderhede en tussen ons verskillende geskiedenisse en erfenisse.

 

Is dit nie waar ons ook weer hoop kan vestig nie? Waar ʼn party bepaalde belange soos taal en kultuur kan bevorder binne ʼn koalisie wat ook nasionale doelwitte nastreef. In ʼn land van minderhede kan dit nie anders nie. Ons moet die taal en kultuurminderhede sien as deel van die verskeidenheid van Suid-Afrika.

 

In Paul Kruger se politieke testament van Junie 1904 sê hy “Want wie vir hom ’n toekoms wil skep, mag nie die verlede uit die oog verloor nie. Daarom: Soek in die verlede al die goeie en skone wat daarin ontdek kan word, vorm daarna u ideaal en probeer om daardie ideaal in die toekoms te verwesenlik.” Ons kan reeds bepaalde lesse vorm wat ons in die laaste dekades onder verskeie regerings gesien het wat werk en wat nie werk nie. Ons moet ons hoop vind in die beste van verskeie wêrelde wat ruimte bied vir die eie en die algemene, individu sowel as groep, Afrikaans en die ander inheemse tale, vir Afrikaner, Zoeloe en Xhosa. Ons toekoms, wit en swart, kan daarom nie in die staat se hande gelaat word nie. Ons beleef daagliks die vernietigende effek van ʼn staat wat verbrokkel en sy basiese verpligtinge self ondermyn.

 

Hierdie artikel is voorberei as kommentaar vir PretoriaFM se Klankkoerant  - Volg skakel na PretoriaFM se nuuskommentaar

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: