Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        April 2024

Stanpunte oor onteiening - Die Afrikanerbond

Eiendomsreg word opnuut bedreig

Afrikanerbond standpunt

 

Die Afrikanerbond is op rekord en ons wil dit weer onomwonde stel dat enige proses wat ʼn eensydige verandering in eiendomsreg voorstaan, nie aanvaar kan word nie. Daarom is die Nasionale Vergadering se aanvaarding van die Konsepwetsontwerp op Onteiening so teleurstellend, maar nie onverwags nie.

 

Die grondwetlikheid van die wetsontwerp moet opnuut bevraagteken word en dit is op die stadium onvermydelik dat die ondeurdagte kwessie deur litigasie verder geneem sal word. Alle bestaande metodes en moontlikhede is nie naasteby ontgin nie. Die ontneming en onteiening van eiendom word nou slegs ʼn simbool vir politieke doeleindes.

 

Daar moet geen twyfel by enige belanghebbende wees dat die ANC die kwessie van grond en eiendomsreg as ʼn verkiesingspeelbal gebruik en aangewend gaan word nie. Die ANC regering kan nie meer vertrou word met grond, eiendomsreg of selfs prosesse tot grondhervorming nie. Daarvoor is die bal te veel keer laat val en verbrou deur ʼn onbevoegde en onbekwame regering en onbeholpe beleidsimplementering met grootskaalse korrupsie.

 

Deur enigsins met ʼn onteieningsproses te begin veral as die ‘openbare belang’ ideologies geïnterpreteer gaan word, is nie net kommerwekkend nie en hoe ook al verdoesel en deur watter drogredenasies geregverdig is ʼn eensydige verbreking van die 1994 nasionale akkoord en ʼn ondermyning van die 1996 grondwet.

 

Die Afrikanerbond het wel formele kommentaar ingedien in die proses, maar ook is reeds betrokke saam met ander instellings in die burgerlike samelewing om die kwessie deeglik te oorweeg. Eiendomsreg soos gewaarborg in die Universele Verklaring van Menseregte  is nie ʼn kwessie wat in die ANC se faksiegevegte tuishoort nie en nog minder as partpolitieke kwessie as ʼn verkiesingspeelbal gebruik kan word. Die konsepwetgewing gee aan die ANC-regering die ruimte om arbitrêr grond te onteien en dit kan verdere enorme implikasies inhou vir sake en beleggersvertroue.

 

 ________________________________

 AD Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg

 

Skrywe aan vriende en lede van die AD Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsreg

 

(Sien ook onderstaande verklaring)

 

 Sedert 2008 het die Ad Hoc groep vir die beskerming van Eiendomsreg (Die Afrikanerbond behartig die sekretariaat) deurlopend in belang van stabiliteit in Suid-Afrika gepoog om die beginsel van privaat besitreg te beskerm waar dit binne 'n markgerigte ekonomiese omgewing die basis vorm van welvaartskepping. Die hartseer is dat ten spyte van vele rasionele insette deur 'n verskeidenheid organisasies, het die ANC steeds voortgestu met hul beginsel van onteiening sonder vergoeding. Hierdie standpunt het beslag gekry in die Desember 2017 konferensie van die ANC as 'n besluit. Dit is nou reeds 'n bekende feit dat die ANC se werkswyse is van so aard dat konferensie besluite ten alle koste deurgevoer moet word. Hierdie besluit het gerealiseer as deel van die konflik tussen die Ramaphosa-faksie en die RET faksie. Radikale denke ingevoer deur irrasionele rolspelers hou Suid-Afrika vandag gyselaar en ontneem ons van 'n stabiele toekoms.

 

Daar is groot waardering vir al die rolspelers wat, hetsy as deel van die Ad Hoc Groep of in eie reg deurlopend insette gegee het om hierdie kortsigtige benadering te neutraliseer. Hieruit kan ons almal opnuut leer dat die ANC ideologies gedrewe is en vassteek by uitgediende beskouings wat nog nêrens enige positiewe resultate kon oplewer nie. Wêreldwyd het dit nog net baie hartseer en armoede veroorsaak.

 

Die Onteieningswetsontwerp waarbinne die beginsel van onteiening sonder vergoeding verpak is, is sopas deur die Parlement gestoomroller. Die vraag is waar laat dit ons?

 

Buiten die aanmekaar uitspreek teen hierdie wet deur die openbare mening te probeer beïnvloed wat nou nog weinig kan doen, maar wat steeds gedoen moet word, het litigasie oorgebly om dit uit die weg te ruim. Verskeie instansies, organisasies en politieke partye het gemeld dat hulle wel sal litigeer.

 

Die Ad Hoc groep vir die Beskerming van Eiendomsreg sal uiteraard sodanige litigasie pogings sterk ondersteun. Die versoek is dat dit wel sin sal maak dat almal wat wel litigeer seker sal maak dat hul aanslag belyn en nie onbewustelik teen mekaar sal werk nie. Ons versoek is dat diegene wat wel wil litigeer dit ernstig sal oorweeg om met die ander rolspelers wat dit ook oorweeg 'n gesamentlike koördineringspoging sal loods om te belyn. Daar kan uiteraard verskeie regspanne betrokke wees, maar om vooraf in gesprek te tree kan help dat beskikbare bronne optimaal aangewend sal word. Dit sou kon beteken dat een span op die grondwetlikheid fokus, ander kan op die historiese aspekte fokus, ander op die ekonomiese impak en die gevolge van beleggersvertroue wat afgebreek word en so meer. Gesamentlike kapasiteit soos ooreengekom kan meehelp om 'n baie sterker aanslag te loods. Die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte versoek almal om ernstige oorweging hieraan te skenk deur net ten minste oorleg te pleeg, in belang van 'n groter saak.

 

Indien die Ad Hoc Groep ʼn rol kan speel om so ʼn onderlinge gesprek te fasiliteer, of voorstelle in die verband het, is u welkom ons te kontak.

 

Jaco Schoeman (Sameroeper)                       Bennie van Zyl

 

Uitgereik deur Jan Bosman (Sekretariaa)

 

 _________

 

Mediaverklaring deur die Ad Hoc Groep vir die Beskerming van Eiendomsregte *

 

Onteieningswetsontwerp –'n direkte gevolg van ANC-faksiepolitiek

 

Eiendomsreg is een van die pilare van stabiliteit in menige land wat suksesvol is en suksesvol bly ontwikkel. Onteiening van eiendom – hoe ook al verdoesel - bring onsekerheid en wanneer dit ideologies toegepas word bring dit rampspoed en ellende. Die Zimbabwe-opsie het die laaste paar jaar momentum in Suid-Afrika verkry met die ANC se nasionale konferensie in Desember 2017 rondom die aanvaarde voorstel van onteiening sonder vergoeding.

 

Sedert 2008 is die Ad Hoc groep vir die beskerming van Eiendomsreg reeds gemoeid met weerstand teen die ANC se volharding van onteiening op een of ander wyse. Daarom betreur ons die kortsigtige volharding en beheptheid van die ANC-regering om wetgewing te stoomroller waarbinne bates by implikasie onteien kan word sonder vergoeding. Die implikasies hiervan gaan die meganismes wat onder andere noodsaaklik is om welvaart te skep, die ekonomie te groei en ’n beter toekoms vir Suid-Afrika se inwoners te kan skep, al meer vernietig.

 

Die beheptheid met ’n uitgediende ideologiese beskouing wat wêreldwyd nog net armoede en baie hartseer veroorsaak het is welbekend. Jaco Schoeman, sameroeper van die Ad Hoc Groep het beklemtoon dat Suid-Afrika vandag en met aanvaarding van die wetsontwerp die vrugte pluk van die ANC se faksiegevegte wat net groter beleidsonsekerheid tot gevolg het.

 

Schoeman het bygevoeg dat die netwerk van organisasies in die Ad Hoc Groep ʼn direkte belang het daarby dat die land suksesvol funksioneer vir al sy mense. Dit kan egter nie in ʼn omgewing gedoen word wat ʼn rampspoedige uitkoms as gevolg het nie. Omdat ons ʼn baie hoë premie plaas op voedselsekuriteit, moet ons ons kommer registreer en ons stem laat hoor.

 

Hierdie drakoniese wetgewing sal nou buite die Parlement met alle mag beveg moet word. Die ANC se mislukkings kan nie meer met ondeurdagte wetgewing herstel of regbestuur word nie. Alle rolspelers wat die kommer deel word versoek om van hulle te laat hoor. Hierdie is gewis nie iets wat maar goedsmoeds aanvaar kan word nie. Die implikasies is te groot en te verreikend. Ons is bewus van verskeie organisasies en moontlik ook politieke partye wat reeds litigasie oorweeg. Waar nodig sal ons litigasie ondersteun of sal rolspelers koördineer ten einde litigasie kapasiteit te kombineer. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: