Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        April 2024

Perspektiewe oor onteiening

Deur Hans-Jurie Moolman

 

Net die volgende gedagtes ten opsigte van onteiening sonder vergoeding.

 

1) Die Grondwet (artikel 25) word al vir 30 jaar toegepas en deur ons howe interpreteer. Dit Grondwet het nie sopas in werking getree om die wat die moet toepas of interpreteer ‘n “blanko tjek” te gee om ‘n nuwe interpretasie, wat polities vir die huidige omstandighede van pas is, aan die Grondwet te gee nie. Ongeveer 70 000 uit 75000 Restitusie grondeise is afgehandel binne die bestek van die huidige interpretasie van die Grondwet. 

 

2) Ten opsigte van die vergoeding van eisers (waar vergoeding in plaas van teruggawe van grond ter sprake was) en die aankoop van privaatgrond was markverwante vergoeding die basis van vergoeding. Ironies genoeg en regtens word artikel 25(2) en 25(3 gebruik om beide bg te bereken en kan dieselfde bepaling van die Grondwet nie op verskillende wyses interpreteer word nie.

 

3) Die Grondwet is die oppergesag van die reg en moet alle wetgewing in die toepassing en interpretasie daarvan belyn wees met wat in die Grondwet staan, maar nog meer ook ten opsigte van hoe die Grondwet interpreteer was in bestaande regspraak tot op die vlak van die Grondwetlike hof:

 

4) Met die bogenoemde is die regering al die afgelope 10 -15 jaar met sy rug teen die muur en wil dit graag kwalifiseer:

 

4.1 Die eerste politieke poging om uit die gemors te kom het ons in 2014 gesien toe daar kort voor die verkiesing ‘n Wysigingswet op die Wet op Herstel van Grondregte gepubliseer was. Die doel was om die afsnydatum vir die indiening van eise (31 Des 1998) te verleng na 2019. Dit het misluk, nie as gevolg van die weerstand van boere nie maar as gevolg van ‘n saak oor die Grondwetlikheid van die Wysigingswet wat deur begunstigdes van ou eise (voor 1998) van stapel gestuur was. Die rede daarvoor was die feit dat daar met nuwe eise grond wat reeds herstel is aan eisers weer geëis was deur die nuwe eisers. Die Grondwetlike hof het die Wysigingswet ongrondwetlik verklaar en die staat kans gegee om die gebreke in die wetgewende proses reg te stel binne 12 maande. Saam met die tersydestelling van die Wysigingswet het die Grondwetlike Hof ‘n interdik (hofbevel) toegestaan wat bepaal het dat al word die bogemelde gebrek reggestel, geen nuwe eise hanteer kan word tot al die ou eise (voor 1998) afgehandel is nie. (Om die afhandeling van die ou eise in perspektief te stel kan ‘n 2018 Hoë Vlak verslag van voormalige President Motlanthe geraadpleeg word waarin daar bevind is dat die afhandeling van die ou eise teen die huidige tempo van afhandeling 35-45 jaar sal/sou neem). Dit neem geen verbeelding om te besef dat die poging klaaglik misluk het en na amper 10 jaar was geen daadwerklike poging aangewend om die Wysigingswet te laat herleef nie.

 

4.2 Met verwysing na die bogenoemde regs en politiese probleem was die strategie in 2019 voor die verkiesing verander. Met volle wete dat die Grondwet (soos hierbo genoem) reeds toegepas is en deur die howe geïnterpreteer was, was die volgende en enigste uitweg om die probleem uit die weg te ruim, die wysiging van artikel 25 (2) en 25(3) die Grondwet om soos wat daardie tyd gestel was, dit wat implisiet (onteiening teen 0% vergoeding in sekere omstandighede) was, eksplisiet te maak. Daarvoor moes ‘n tweederde meerderheid in die parlement behaal word. Dit het nie gebeur nie en omdat die tweederde meerderheid nie behaal kom word nie was die status quo van die Grondwet (toepassing en interpretasie) steeds en sedertdien van krag.  

 

4.3 Die laaste poging is om met gewone wetgewing (die Onteieningswetsontwerp) te poog om die Grondwet ‘n ander (anders as die afgelope amper 30 jaar) interpretasie te gee. Die derde in ‘n lyn van drie desperate politieke pogings wat toevallig in verkiesingsjare nagestreef word.

Enige nuwe gewone wetgewing sal steeds onderhewig wees aan die Grondwet die toepassing daarvan in historiese regspraak.

 

5) Enige nuwe wetgewing wat bestaande substantiewe en reeds bestaande regte raak, sal nie terugwerkend toegepas kan word nie. Regte van eienaars onder bestaande grondeiswetgewing sal nie terugwerkend geraak kan word nie. Daar is reeds regspraak in die verband.

 

6) Die verkryging van privaat eiendom deur middel van onteiening sal ten alle tye gemotiveer moet word aan die hand van ‘n openbare doel.

 

In die ander bepalings van artikel 25 word grondhervorming as openbare doel gekwalifiseer en sluit dit onder andere in dat eisers van grond of begunstigdes van grond, steeds sal moet kan bewys waarom hulle aanspraak het op bepaalde grond. Ras en eienaarskap van eiendom deur ʼn bepaalde ras sal nie as basis kan dien om grond te onteien (met of sonder vergoeding) nie.

 

7) Daar sal pogings wees om hierdie wetgewing (indien dit aanvaar word) tot die uiterste te toets, maar dit is waar die hulpbronne van baie, saam ingespan moet word om dit teen te staan. Vir een persoon kos ‘n hofsaak ongeveer R100 000.  Vir ‘n 100 persone kos dit R1000 elk. Die resultaat in ‘n wen is dieselfde. Dis waar saamwerk en beplan rondom gedeelde strategiese belange (nie oor alles saamstem) in die toekoms ‘n verskil gaan maak.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: