Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Oktober 2022

Oordenking:

Maar jy… man van God... wees ‘n brugbouer na die toekoms!!!


Deur dr Jan Botha

 

Die tema van ons Bondsraad is: Brugbouers na die toekoms”. Tydens die opening van die Bondsraad op 15 September in die Senotaafsaal van die Voortrekkermonument het ek die volgende gedeel.

 

As ons na Walt Disney se films oor die jare kyk, raak ons daarvan bewus dat almal altyd so ‘n mooi en wonderlike slot het. Alles loop mooi, eindig goed en almal is gelukkig. Maar, as ek en jy na ons eie menswees, huwelike, gesinne, verhoudinge, konteks, land en die wêreld kyk, lyk alles egter nie so mooi, heel, goed en gelukkig nie.

 

Ons leef immers in ‘n gebroke werklikheid. Leonard Cohen sing juis daarvan in sy bekende lied Anthem: “There is a crack in everything...” Ja, daar is ‘n kraak in alles, ook in ons eie menswees. Hoekom? Sodat die lig kan inkom, inskyn in die gebrokenheid!

 

As ons tema vandag en more “Brugbouers na die toekoms” is, is verhoudinge en stories van hoop juis belangrike boustene. Ons moet egter ons eie konteks en tydsgewrig in gedagte hou. Ons bevind ons die afgelope tyd beslis in ‘n “perfekte storm”. Die ekonomie, armoede, werkloosheid, staatskaping, die Covid virus, die beurtkrag, geweld teen vroue, kinders en onreg, ‘n moontlike wêreld oorlog, onreg teenoor die kosmos is bewyse daarvan.

 

‘n Teksboek voorbeeld van disfunksionaliteit is die wonderlike brug wat in die Suid-Amerikaanse staat Honduras gebou is. Die merkwaardige brug oor die Choluteca rivier is deur Japannese ingenieurs ontwerp en deur ‘n uiters bekwame konstruksiemaatskappy gebou. Dié brug het die vernietigende orkaan Mitch in 1998 weerstaan. Daar het 3 meter reën in ‘n kort tydperk geval. Alles is oorstroom en verwoes, net die merkwaardige brug het bly staan. Die rivierloop het egter totaal en al verander. Die brug staan nog steeds stewig, sterk maar ... dit lei na nêrens! Alle paaie wat oor die brug gaan en die anderkant verbind, is weggespoel. Net ‘n stuk sement, staal en iets van “‘n monument van oorlewing”, het oorgebly.

 

Ek, ons elkeen, ons konteks, ons land en wêreld lyk ook so! Kan dit verander, is daar nog hoop?

Karel Barth het gesê: “Geloof is om vreemd op te tree”. Ons wat die Bondsraad bywoon, ons elkeen moet geloof toon, moet die stene van hoop inbou, juis as brugbouers na die toekoms.

 

Ek dink met deernis terug, reflekteer...

Dit was die laaste en mees indrukwekkende groet waarmee iemand al mee gegroet is! Ons ou professor, Mias de Klerk, het ons 18 finale jaar teologiese studente aan die einde van ons laaste klas in 1984 aan die Fakulteit van Teologie in Bloemfontein so gegroet. Ons was die eerste groep wat uitgestuur is na jare se studies daar.

 

In 1 Timoteus 6:11-16 gaan dit juis oor bogenoemde saak. Paulus praat in die jaar ongeveer 60 NC met sy “ware kind in die geloof” volgens 1 Tim 1:2. Sy mentor sê dan: “Maar jy, man van God, vlug weg van hierdie dinge! Streef eerder na geregtigheid, godvresenheid, betroubaarheid, liefde, volharding en sagmoedigheid. Stry die goeie stryd van die geloof; gryp die ewige lewe aan waartoe jy geroep is…”.

 

Timoteus se ouma en ma was albei Jode wat hul tot die “Weg”, die Christendom bekeer het. Paulus was bekommerd oor Timoteus wat jonk, onseker en selfs bang, maar ook terughoudend was, en het Paulus daarom baie tyd en aandag aan Timoteus spandeer as sy mentor. Paulus spoor hom gedurig aan om sy kosbare roeping uit te leef as “man van God”! Hy moet as jong man lewe in die teenwoordigheid en in ‘n daaglikse persoonlike verhouding met die Drie-enige, Sturende God. Timoteus was later die jong dominee van die Gemeente in Efese.

 

Dit wat Paulus hom noem, “man van God”, is eintlik ‘n eretitel. Hy plaas hom in dieselfde liga as Moses, Elia en Elisa. Dit, die roeping waarmee hy geroep is, word deur dié Goddelike identiteit deur Paulus aan hom, ‘n brose en kwesbare jongman, toegeken. God het hom dus geroep om hom alleen met sy hele hart en al sy kragte te dien. Dit is hoe hy kan antwoord op wat God alreeds vir hom gedoen het.

 

Hierdie jongman moet wegvlug van alle sake wat sy aandag aftrek van sy roeping af. Hy moet streef na, en reik na dié sake wat hom versterk, opbou en geestelike spierkrag maar ook veerkragtigheid gee. Paulus sê dus: Fokus, fokus jongman!!! Waarop moet hy daagliks fokus? Paulus noem hier ses sake:

·     Geregtigheid – teenoor alle mense wat sy pad kruis

·     Godvresendheid – om elke oomblik in die teenwoordigheid van die Drie-enige God te leef

·     Beroubaarheid – daar moet op hom gereken, pylgetrek kan word

·     Liefde – is om kwesbaar, broos en sag te wees

·     Volharding – om vas te byt, enduit iets deur te voer, ‘n regte staatmaker te wees

·     Sagmoedigheid – om met sagte oë, hande, hart en omgee te lewe teenoor almal

 

Om te fokus is in die geval om stip te kyk, fyn waar te neem, en alles met passie te doen. As dit daagliks ‘n gewoonte, lewenstyl by hom word, sal hy sy roeping, opdrag as “man van God”, suiwer en onberispelik kan uitvoer.

 

Ja, 38 jaar gelede is ek, ons groep ook aangespreek deur ons geliefde prof as “Man van God”! Intussen het ek drie weke gelede afgetree. Wat is my, ons roeping en wat bepaal ons identiteit? Die roeping is steeds dieselfde en dit geld nie net vir dominees en ander mense nie, maar vir elkeen wat glo in die “Man van die Weg”, Jesus Christus.

 

Ons identiteit bly steeds groots, ja miskien selfs vreesaanjaend, ook vir my na al die jare. Om daagliks en doelbewus te leef as “vrou, man, kinders van God”, bly ‘n geweldige uitdaging en ‘n lewenslange roeping.

 

Is dit moontlik? Nee, nie uit my, onsself nie. Beslis nie! Maar ook ja, want ons identiteit staan vas deur die gebeure aan die kruis en die Lewende Here wat die dood oorwin het. Sy genade bly vir my en ons vandag en elke dag van ons lewe genoeg.

 

As brugbouers na die toekoms moet ek, jy, ja ons almal diensbaar en passievol word en wees. Ons moet môre hiervandaan vertrek met die bekende woorde: “op U almal vertrou ons” op ons lippe maar ook in ons harte en ons dade moet vorm aanneem.

 

Kom ons leef as “vrou, man van God”, brugbouers na ‘n beter toekoms!!!

 

·       Dr Jan Botha is betrokke by Alfa Pastorale Opleiding, Berading en Gemeenskap Sentrum (Gestig 1987)’n Vryskutjoernalis en Afgetrede Predikant: NG Gemeente Mootvallei, Pretoria

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: