Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Junie 2022

Wees 'n "Gees-mens"!

 Deur dr Jan Botha


Dr Jan Botha het die AB se gebiedsbyeenkoms in Gauteng-Noord op Saterdag 28 Mei 2022 op gepaste wyse geopen en die volgende boodskap oorgedra.

 

Ons word almal geraak deur al die onsekerhede, daaglikse uitdagings en eindelose gesukkel op talle terreine. Ons is kwarentyn-voos, lewens-voos, beleef soms ‘n af-gevoel, is vir -niks -lus nie, het ook van tyd tot tyd min energie en vreugde.

 

In ons kerklike jaar is ons nou in die seisoen van die Gees. Paulus bevestig ‘n nuwe lewenstyl in Galasiërs 5:16 - “Julle moet julle lewe deur die Heilige Gees laat beheer. Laat Hý aan die stuur staan van alles wat julle dink en doen en sê”.

 

Hy sê dan ook in sy eie spreekwoordelike taal, dat die gelowige mens wie se verhouding met God reg is, ‘n ander soort mens is. Die Griekse woord ‘n “pneumatikos”, ‘n “Gees-mens”, word in die verband gebruik. Dié mens word deur die Gees oorrompel deur die tsunami van God se liefde en Christus se genade. So vat die Drie-enige God se goedheid en almag grond in ons lewe.

 

Wat doen die Gees dan in ons as “Gees-mense” se lewe?

  • Hy bind ons vas aan die ander twee persone van die Drie-eenheid.
  • Hy verlig ons verstand om anders te sien, te kyk, en as medewerker op te tree in ‘n gebroke en verslae wêreld.
  • Deur uit te roep “Abba”, word die intimiteit van ons verhouding gewaarborg en bevestig, selfs ons versugtinge word gehoor en raakgesien.
  • Sy liefde en inwoning maak die emosie van blydskap en ‘n innige dankbaarheid in ons los.
  • Die “charismata”, die besondere gawes maak ons diensbare dienswerkers oral waar ons lewe en beweeg. Dienend word daar in afwagting en met nederigheid gewag op die geleenthede wat daagliks oor ons, ja, oor my pad kom.
  • Die passie, toewyding en drif wat die Gees verskaf, werk soos ‘n gloeiende vuur in en deur ons. Ons word gedring …
  • Hy neem beheer oor ons lewe sodat ons deur Hom kan lewe en Hy ons ook daagliks kan lei in die waarheid.
  • In hierdie seisoen beleef en weet ons ook dat die Gees die Wysheid van God asook sy diepste geheimenisse aan ons bekend maak. Tydens my hoërskool jare daar in Senekal was die Pinksterdienste ‘n toonbeeld hiervan: die koshuis-kinders het opreg en spontaan begin bid, ry vir ry totdat die predikant later moes ingryp en sê: “Kom ons gee nou ook vir die grootmense die geleentheid om te bid”.

 

Die Gees doen al die dinge met ‘n geweldige krag, “dinamus”, want Hy “begeer” letterlik volgens die Grieks om goeie vrugte in ons te dra volgens Galasiërs 5:17. Die krag word ook deel van ons lewe. Dit is nou binne in ons, ons word blootgestel aan die oormag van die Heilige Gees.

 

Die oormag veronderstel dat ons onsself oorgegee het aan die Gees, hy neem jou mee, saam, omdat ons deur Christus gegryp is en as God’s begenadigdes lewe!

 

Paulus stel dit in Romeine 12:11 so prakties en mooi as hy sê: “Moenie een oomblik      verslap in julle diens aan die Here nie. Nee, laat die Gees julle aan die brand steek      sodat julle voluit vir God kan leef”. ‘n Brandende hart, asook lewe, bring Hoop in die      onseker en droewige tye, want dit is volhoubaar en komende van die Bron van Hoop,      God self!

Wat begeer ons juis in die uitdagende tye die meeste? As “pneumatikoi”, “Gees-mense”, wil ons hoopdraers, ewemense en medewerkers van die Drie-enige God wees. Dit is haalbaar, moontlik, asook volhoubaar, want Paulus sê in Romeine 8:6: “Mense wat aan die Heilige Gees gehoorsaam is, se lewe is vol vrede. Hulle het ’n toekoms in God se nuwe wêreld”. Ja, luister aandagtig, konsentreer: Gees-mense se lewe is vol vrede, dit waarna ons almal daagliks smag! Hoekom het die Gees-mense dan vrede? Hulle, ons wat in Christus is, is beslis 100% verseker van ‘n toekoms in God se nuwe wêreld!

 

Kom ons aanvaar nou opnuut die groot en uitdagende uitnodiging! Kom ons leef te alle tye as “Gees-mense” in die Pinkster seisoen maar ook elke genade dag wat aan ons geskenk word! Kom ons maak weer ‘n volhoubare duik in die emmer, verskil waar ons as “Gees-mense” lewe, werk en die lewe daagliks vier!

 

·        Dr Jan Botha is betrokke by Alfa Pastorale Opleiding, Berading en Gemeenskap Sentrum (Gestig 1987) en is deeltydse Predikant: NG Gemeente Mootvallei, Pretoria

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: