Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Desember 2022

Oordenking: God se Ja vir ons


Deur ds Wim Slabbert

Pretoria

 

Kerstyd bly ‘n besondere deel van die jaar. Dit is ons kerstydkultuur om vanaf die begin van Desember te begin regmaak vir die feestelikhede wat Kersvieringe besonders maak. Vir die meeste mense is die Kersseisoen ‘n aangename tyd en ons almal voel goed oor die gees van welwillendheid wat oral na vore kom.

 

Gelowiges se belewing van Kersfees word natuurlik verdiep deur die wete dat die geboorte van Jesus die begin was van die christelike kerk. Dit was die Kerk wat die wêreld geleer het om die geboorte van Jesus te vier. Kerstyd help gelowiges om dankbaar na te dink oor die menswording van Jesus en hoe die boodskap van Jesus die wêreld verander het.

 

Die doel van hierdie oordenking is om Jesus se plek in die geskiedenis met ‘n Paulus woord uit te lig en van nader te bedink. Paulus het die unieke plek wat Jesus kom inneem het in ‘n enkelsin saamgevat: Ons lees dit in 2 Korinthe 1: 19:  Jesus, Die Seun van God, is nie ja en nee tegelyk nie.  Hy is die Ja van God, die Ja op al die beloftes van God.

 

Hiermee teken Paulus Jesus as enersyds die vervulling van eeue se verwagting en heilsbeloftes: Hy is die Ja op al die beloftes van God. Andersyds het Jesus die Koninkryk van God kom oopbreek en die mensdom kon begin hoop op God-met-hulle en God wat mense saamneem in sy oorwinning.  Jesus is God se Ja vir sy kinders se toekoms.

 

Jesus het die verlede van die volk van God betekenis laat kry: Hulle is die wortel waaruit die tak van die nuwe bedeling kon spruit. Jesus het die toekoms moontlik gemaak: Hy was die gevolmagtigde van die Vader wat die skepping moes bestuur tot die finale oorwinning van die Koninkryk van God.

 

Die konteks waarin Paulus hierdie woorde geskryf het, help ons om sy woordkeuse te begryp.

Paulus se geloofwaardigheid by die gemeente het onder verdenking gekom omdat hy sy reisplan op ‘n vorige keer moes verander. Daaroor was die groepie Korinthiërs baie ontsteld. Hulle het Paulus nodig gehad.

 

Dit het sy teenstanders die geleentheid gegee om tussen die groepie Christene twyfel te saai oor Paulus se betroubaarheid. Daarmee is daar ook twyfel gesaai oor die betroubaarheid van Paulus se prediking. Die Jode was juis daarop uit om Jesus as ‘n godloënaar voor te stel. Hulle wou die gedagte dat Jesus die Seun van God is in die kiem smoor.

 

Dit kon groot skade veroorsaak vir die geloof van daardie eerste geslag gemeentetjie wat ‘n bestaanstryd gevoer het tussen die Romeinse owerheid, afgodsdiens en die felle haat van die Jode.  Oor homself sê Paulus dat sy beloftes om hulle te besoek ja en nee was nie en hy verduidelik waarom sy reisplan verander het.

 

Dit het nie gebeur omdat hy onbetroubaar is nie. Hy roep die Here as getuie dat al sy besluite en optrede gerig was op die bewaring en die vermeerdering van die gemeentes se geloof.

 

Maar die belangrike wat hulle moes glo, is:

Jesus wie hy verkondig het se woorde is ook nie ja en nee gelyk nie!

God is getrou aan sy beloftes.

Dit het die Kerk gesien toe Jesus deur die toedoen van die Vader op hierdie aarde verskyn het.

 

Hy was die vervulling van God se beloftes dat Hy ‘n Messias sou stuur. Die Messias sou ‘n nuwe begin van God se werk aan mense inlui. Jesus was die vervulling van daardie beloftes.

 

Maar Hy was meer as net ‘n profeet wat herleef het of ‘n aardse koning wat Israel weer vry sou maak. 

 

Jesus was die Ja vir mense se toekoms in die Koninkryk van die drie-enige God. Sy dood was die Ja vir ons verlossing en sy opstanding die ja vir ons lewe in ewigheid. Saam met Jesus het die Heilige Gees gekom om in gelowiges te werk en hulle geloof lewend te hou totdat Jesus weer kom. Jesus is God se Ja vir sy skepsele.  Hy het mense kom leer om die Ryk van God raak te sien. Jesus het mense kom leer dat niks vir Hom onmoontlik is nie.  Hy het selfs die dood oorwin.

 

Wat staan ‘n mens wat hierdie genade verstaan, te doen? Paulus sê: Ons moet antwoord met ‘n Amen. Here ons glo dit! Daarmee sê ons Ja vir God se beloftes maar ook God se saak. Hierdie waarheid maak ons vry, maar ook vrymoedig om God te dien.

 

Ons Amen moet ons Ja word vir vrymoedige getuienis oor wie ons Here is. Dit moet ook ons Ja word vir verantwoordelike betrokkenheid daar in ons samelewing waar ons sout en lig kan wees.

 

Mag U in hierdie kerstyd opnuut weer waardering en respek kry vir ons getroue Here. Hy het vir ‘n mensdom wat niks verdien nie Ja gesê en gesterf sodat ons kan lewe. Mag Kersfees u nie onaangeraak laat nie!

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: