Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2022

Ons het min oor as ons Hoop verloor - Oordenking


Deur Dr Isak Burger

 

 Met die vergunning van Dr Isak Burger plaas ons graag die oordenking soos wat dit op 26 Januarie 2022 in Beeld verskyn het.   (Met erkenning aan Beeld)

 

Ek lees onlangs weer in die Bybelboek Esra die verhaal van die eerste groep Jode wat in 538vC na ongeveer 48 jaar van ballingskap in Babilonië na Jerusalem teruggekeer het. Daar vind hulle hul geliefde stad Jerusalem - die tempel ingesluit - as’t ware gelykgemaak met die grond. Feitlik niks het oorgebly nie.

 

Onder leiding van Esra en andere, spring hulle dadelik aan die werk. Te midde van die ontmoedigende omstandighede, lees ons egter in Esra 3:11 dat die hele volk gejuig het met ’n groot gejuig toe die fondament van die tempel weer gelê is.

 

Met alles wat vir hulle en hul voorouers kosbaar was in puin, en al moes hulle weer van vooraf begin, was hulle na dekades ten minste weer terug in hulle eie land, in hulle eie geliefde stad.

 

Hulle het weinig anders gehad, maar ten minste het hulle hoop gehad. Daar was ’n kans om weer te begin, om weer op te bou en te herstel - al sou dit harde werk en groot opoffering kos.

 

Dit het my opnuut laat besef: As ’n mens hoop verloor het, het jy álles verloor. Dan is jy rêrig arm.

 

Toe ek hierdie gedeelte lees, het dit my aan ons situasie in Suid-Afrika laat dink. Soos die Jode destyds in Israel, het ons voorouers - swart en wit - êrens in die verlede na hierdie land getrek. Dis al vir eeue óns land. Dis waar ek wil wees.

 

Sommige verkies om te emigreer. Dis elkeen se goeie reg en hulle het waarskynlik goeie motivering daarvoor. Mag dit met die Diaspora-Afrikaners goed gaan. Van my kant is daar geen verwyt of naywer nie. Maar ek wil hiér wees.

 

Hierdie land van ons is een van die mooiste, met van die grootste potensiaal in die wêreld. Feit is egter dat veel van hierdie land voor 1994 van ’n groot deel van sy bevolking weerhou is. Suid-Afrika is wel struktureel en operasioneel voor 1994 opgebou tot wêreldklas standaarde.

 

En toe word die apartheidsbedeling vervang deur ’n bevrydingsbeweging met geen of weinig kennis van bestuur en regering. Magswellus, korrupsie en geldsug het toenemend oorgeneem. Nou, na byna 28 jaar, staan ons figuurlik soos die Jode in 538vC by die ruïnes van ’n eens goed-funksionerende land. In die private sektor is daar steeds veel om te waardeer, maar van omtrent alles waarvoor die staat verantwoordelikheid moes neem, het net ruïnes oorgebly.

 

Daarenteen is ons vandag wêreldleiers t.o.v. armoede, werkloosheid, korrupsie, geweld en misdaad.

Dis ’n tyd waarin ons dringend Esras nodig het. Mense wat indiwidueel en gesamentlik dít wat afgebreek is, weer kan herstel.

 

Dank die Here dit kán gedoen word en daar is reeds sulke voorbeelde in die praktyk. Moet net nie Hoop verloor nie. Dan het ons regtig min oor.  *

https://www.netwerk24.com/netwerk24/stemme/menings/ons-het-min-oor-as-ons-hoop-verloor-20220125

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: