Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Februarie 2024

Oordenking: Leef in Verwondering in 2024!

 

Deur dr. Jan Botha

Pretoria

 

Einstein het gesê: “Daar is twee maniere van lewe: die eerste manier is om te lewe asof niks ‘n wonder is nie en die tweede manier is om te lewe asof alles ‘n wonder is”. Ons word uitgedaag om in 2024 in verwondering te leef! Is dit moontlik? Kyk dan net hoe lyk alles rondom ons! Is dit nie ‘n pypdroom en verregaande nie? Nee, tog nie! As ons fyn luister en met passie lewe kan dit deel van ons alledaagse lewe word. Dit is immers wat die Woord oor eeue heen vir ons so duidelik uitwys. As lede van ons unieke diens organisasie en leiers in die samelewing weet ons dit is ‘n droom wat geleef moet word. Daagliks moet dit afsmeer aan almal wat ons pad kruis!

 

Ons lees in die boek Deuteronomium daarvan. In Deut. 5:1-5 lees ons: “Moses het almal bymekaargeroep en vir hulle gesê: ‘Luister baie fyn na al die wette wat ek julle vandag gee. Sorg dat julle dit baie goed ken en daarvolgens lewe. Lank gelede het die Here by Horeb met ons ’n ooreenkoms gesluit. Hy het nie met ons voorouers ’n ooreenkoms gesluit nie, maar met ons; met ons wat nog leef en wat vandag hier op Bet-Peor se vlakte staan. Daar by Horeb het Hy met ons persoonlik uit ’n vuur gepraat. En ek het tussen julle en die Here gaan staan omdat julle bang was vir die vuur. Toe het ek julle alles vertel wat die Here gesê het.

 

Die woestyntog van byna 40 jaar is verby en die eerste geslag wat uit Egipte getrek het, het uitgesterf. Die tweede generasie kamp nou in die vlakte van Moab.  Hulle is gereed om die beloofde land Kanaän in te neem.  Moses het egter aan die einde van sy reis as leier met die volk gekom.  Net voordat hy sterwe, lewer hy daarom drie laaste ‘preke’ om die volk voor te berei vir die Intog.  Hy het die preke, saam met al die vorige boodskappe van God aan hom, tot die laaste woord toe, in ’n boek opgeteken en vir die Leviete gegee om in die Tabernakel by die verbondsark te bewaar as getuienis van God se dade en teenwoordigheid self aan die volk (Deut. 31:24).  Daarom word die boek in Hebreeus: “Hierdie is die woorde” genoem.

 

Moses fokus in hierdie drie boodskappe op die impak van die verlede, hede en toekoms op die volk.  Dit verskaf ‘n teologiese raamwerk waarbinne Israel nie net hulle identiteit as volk van God kan begryp nie, maar hulle absolute lojaliteit aan die Here as Verbondsgod kan verseker. Moses wil hê die tweede generasie moet in verwondering lewe. Hulle moet ‘weet’ en ‘beleef’ dat dieselfde God wat sy beloftes aan Moses bekend gemaak het, saam met hul ouers in die woestyn was en nou ook hulle gaan lei om die langverwagte beloofde land, Kanaan te verower en te geniet.

 

Drie duidelike boodskappe word in Moses se drie preke opgeteken:

In Deut. 1:1 - 4:43 lees ons die eerste preek. Die eerste preek begin in Hebreeus met die woorde: “Dit is die woorde …”  Hy herinner die volk waarvandaan hulle kom en begrond daarmee sy boodskap aan Israel in hulle gedeelde ervaring van God uit die verlede. Onthou, vertel dit oor en oor wat God gedoen het in die verlede. God was betroubaar en het altyd die volk gelei, versorg, beskerm en hoop gegee ten spyte van al die ontrou van die volk en al die uitdagings op die 40-jare lange reis. Hierdie historiese terugblik bevestig hul wortels en die emosies wat daarmee saamgegaan het. Dit moet die bron van die tweede generasie se verwondering wees. Hulle moet Hom alleen dien en volg!

 

In Deut. 4:44 - 28:68 lees ons die tweede preek.  Die preek begin in Hebreeus met die woorde: “En dit is die wet …”  Moses bemoedig die volk om die Here lief te hê en met alles in hulle te dien in die hede. Daar waar hul daagliks in die woestyn bly en reis, daar moet hulle elke dag “Hom alleen volg en dien met hulle hele hart, siel en liggaam”. Fokus en lewe met blydskap, dankbaarheid en passie in die nou. Beleef en ontdek daagliks die verwondering!

 

Die derde preek is opgeteken in Deut. 29:1 - 30:20. Die preek begin in Hebreeus soos by die eerste preek met die woorde: “Dit is die woorde (van die verbond) …” en voer dit verder.  Hy moedig Israel aan om te volhard in hulle gehoorsaamheid aan die Here in die toekoms. Hulle gaan die verbond met Hom vernuwe. Dit sal vir hulle die lewe beteken. Hulle gaan hulle weereens verwonder oor Sy trou, goedheid, sorg en passievolle liefde!

 

Die naam van die Here word 21 keer in die drie preke gebruik. Hy, hulle Here, vra onverdeelde trou en gehoorsaamheid aan Hom alleen. Daarom moet hulle altyd daarop fokus om die Here se dade te onthou sodat hulle Hom alleen kan dien en in ontsag vir Hom kan lewe. Hulle moet ook in dankbaarheid teenoor die Here lewe en tevrede wees met wat Hy vir hulle gee. Hulle leef in verwondering omdat Hy hulle Here was, is en vir ewig sal wees!

 

Vandag lewe elkeen van ons ook daagliks met die verlede, hede en toekoms in ‘n onvoltooide dans. Die passies, tempo en styl verskil van persoon tot persoon. Ons moet altyd rekening hou van die effek daarvan op ons doen en late. Dit is ‘n verkiesingsjaar, die plaaslike en wêreld ekonomie lyk sleg, oorloë en geweld is aan die orde van die dag, werkloosheid, die verval en vervlakking in morele waardes asook talle ander uitdagings moet deur ons hanteer en deurleef word.

 

Soos die volk eeue gelede kan ons vandag nog kies op grond van wat Einstein gesê het: “Daar is twee maniere van lewe: die eerste is om te lewe asof niks ‘n wonder is nie of om te lewe asof alles ‘n wonder is”. Met al die uitdagings wat vir ons voorlê in 2024 wil ek kies en hopelik jy ook om “te lewe asof alles ‘n wonder is”. Kom ons doen dit ook elkeen persoonlik en ook as mense wat ander positief wil beïnvloed op alle terreine van die lewe! Dit is waardes waarby die geloofwaardigheid van ons organisasie en ons as leiers gaan staan of val in die toekoms!

 

·       Dr Jan Botha is Predikant by Florauna en Petronella NG gemeentes

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: