Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Mei 2022

Die Drie-enige God bemagtig mense na die Opstanding!

 

Deur dr Jan Botha


Die lewelose Jesus aan die kruis op Golgota was toe al die tyd die lewende God, ja waarlik God! Tydens sy aardse verblyf was daar baie misverstand oor Hom. Na sy opstanding en hemelvaart was daar geen onduidelikheid meer oor Hom nie. Die hele wêreld, ja die ganse kosmos weet nou van Hom!

 

Openbaring het in die Mediterreense wêreld ontstaan in die jare iewers tussen 70-100 NC. Dit is aan die sewe gemeentes van Klein-Asië, vandag Turkye gerig.

 

Die mense van die eerste eeu, in Jesus se tyd was “bang” mense. Hulle was bang vir die geeste in die lug, bang vir die vervolging wat daagliks voorkom, Johannes is verban na die eiland Patmos, Antipas het ‘n marteldood gesterf, en talle ander vriende en bekendes is in gevangenskap. Hulle was bang vir die peste en plae wat hul tref en ook bang vir alle onsekerheid wat hulle gedurig bedreig. Hulle het daagliks in vrees gelewe.

 

Johannes skryf vir die mense. Hy wil hulle help om verby hul “bang-wees”, vrees en onsekerheid te kyk en God weer raak te sien. Hy is in beheer en heers oor alles, ook oor hulle huidige donker en onseker situasie. Hy kan hulle “bang-wees”, vrees en onsekerheid deur sy Gees verander in verwondering en vryheid.

 

Ons lees dat Openbaring ’n Brief van God af vir hulle, hierdie mense is. Openbaring 1 stel dit as volg:

 “1 Daar is baie dinge wat mense nie weet nie. Net God weet dit. Jesus Christus het egter die gordyn kom wegtrek sodat mense wat Hom dien ook party van daardie goddelike dinge kan leer ken. Daarvan vertel hierdie brief.

3 Daarom is elkeen wat hierdie boodskap van God lees, baie gelukkig. Ja, gelukkig is almal wat hierdie goddelike woorde hoor en dit ernstig opneem, want daar is nie meer baie tyd oor nie.

 5 En dan kom dit ook van Jesus Christus af. ’n Mens kan Hom volledig vertrou. Dit is Hy wat alles vir ons kom vertel het. Wat Hy sê, is natuurlik waar. Hy het die leiding geneem deur eerste uit die dood op te staan. Boonop staan al die magtigste regeerders in hierdie wêreld onder sy mag en beheer. Hy het ons so lief dat Hy deur sy eie lewe te gee, dit reggekry het dat God nie meer ons ongehoorsaamheid en ons foute teen ons hou nie.

6 Hy het ons deel gemaak van die mense van God, die magtigste Heerser. Nou kan ons God, wat sy Vader is, met oorgawe dien, soos priesters. Aan Jesus behoort die grootheid en krag vir ewig en altyd! Dit is vir seker”.

 

In vers 8 word God beskryf as die “Kosmokrator”. Die Griekse omskrywing verwys na Sy kosmos en Sy krag. Hy is immers die Alfa en die Omega! Vers 4 omskryf Hom nog meer volledig as “Hy wat is en wat was en wat kom”. Dit beskryf iets van sy oneindigheid en tydloosheid want Hy is buite tyd en tyd is ‘n skepping van God self.

 

Ek leef ook vandag met “bang-wees”, vrees en onsekerheid al is dit ongeveer 2000 jaar na die konteks en gebeure van daardie tyd.

 

Die Drie-enige God bemagtig vandag nog mense na die Opstanding! Jesus se triomfantlike koms, sy wederkoms is verseker! Daar is geen twyfel daaraan nie. Drie keer staan daar in Openbaring 22:7,12 en 20: “Ek kom gou!” Almal weet dit, elke oog sal Hom sien.

Alle mag in die hemel en op die aarde behoort aan Hom! Hy deel sy mag met Jesus as sy gestuurde Seun, die Heilige Gees bemagtig my as sy gestuurde want Jesus stuur my uit met Sy mag. Johannes sê juis in Johannes 1:12: “Aan almal wat Hom aangeneem het, die wat in Hom glo, het Hy die reg (mag) gegee om kinders van God te word”.

 

Ek word so bemagtig op die oomblik terwyl ek nou luister om hoop te proklameer! Dit is immers my roeping waartoe ek geroep is!

 

Die Drie-enige God kan en wil deur my hulle “bang-wees”, vrees en onsekerheid deur sy Gees verander in verwondering en vryheid.

 

Hoe is dit moontlik? Elke keer as ek liefde en genade betoon, omgee, aanraak, uitreik, dien, vergewe, fyn luister en sommer net daar is, teenwoordig is: word ek ‘n spieël waarin ander mense wat bang-is, in vrees en onsekerheid lewe, God se liefde sien!

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: