Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        Maart 2024

Oordenking: Regeerders staan onder God se gesag

 

Deur dr. Callie Opperman

Swakopmund

 

"So seker as Ek leef, sê die Here, al was jy, koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, ’n seëlring aan my regterhand, Ek sal jou uitruk."

JEREMIA 22:24

 

Christene bely: “Ek glo in God die Vader, die Almagtige, die Skepper van hemel en aarde.” Selfs die regeerders van die wêreld staan onder sy gesag.

 

In die geskiedenis van die konings van Juda word die almag van God duidelik geopenbaar. Hy kyk nie net van ʼn afstand af wat hulle doen nie, maar beoordeel hulle dade. Koning Jojagin het geregeer toe Juda aan die wrede koning Nebukadnesar oorgegee is.

 

Die wegvoer in ballingskap was nie slegs ʼn staatkundige besluit van ʼn magtige wêreldheerser nie. Die soewereine God het oor die konings van Babel en Juda gesag gehad. Hy het geprofeteer: “So seker as Ek leef, sê die Here, al was jy, koning Jojagin van Juda, seun van Jojakim, ’n seëlring aan my regterhand, Ek sal jou uitruk. Ek sal jou uitlewer aan dié wat jou wil doodmaak, aan dié vir wie jy bang is: in die mag van koning Nebukadnesar van Babel en in die mag van die Galdeërs.” JEREMIA 22:24. ʼn Verskriklike tyd het aangebreek. Die koning en sy familie, al die amptenare, al die soldate, tien duisend gevangenes, ook die vakmanne en die smede is weggevoer. Later is ook die tempel, die paleis, die groot geboue in Jerusalem afgebrand en die mure stukkend gebreek.

 

Waarom laat die Here dit met sy verbondsvolk gebeur?

Die Skrif swyg nie daaroor nie. “Jojagin het gedoen wat verkeerd is in die oë van die Here en het in alles die voorbeeld van sy pa gevolg.” “Hy (die Here) het hulle (bendes Galdeërs, Arameërs, Moabiete en Ammoniete) gestuur om Juda uit te roei, in ooreenstemming met wat die Here deur sy dienaars die profete gesê het.” 2 KONINGS 24.

 

Hoe raak dit regeerders van vandag? Daar is nie meer net een verbondsvolk nie. Tog regeer die Here steeds oor alle nasies. “Daar is immers geen gesag wat nie van God kom nie, en die owerhede wat daar is, is daar deur die beskikking van God.” ROMEINE 13. Daarom moet burgers aan die wette van die staat onderdanig wees, maar die regeerders sal ook voor God verantwoording oor hulle optrede doen. So moes Nebukadnesar en ander konings destyds ook.

 

Vind ons troos daarin? Ja, want ons kan op die Here bly vertrou en aan Hom die eer gee in moeilike tye. Christene bly gehoorsaam aan wette, omdat ons ʼn God van orde aanhang. Die Woord van God en sy eise moet met vrymoedigheid verkondig word. Ons kan bid vir uitkoms wanneer regeerders korrup optree. Daar is egter ook die sekerheid dat wanbestuur en goddelose optrede nie deur die Almagtige oorgesien word nie. Op sy tyd en wyse sal daar verantwoording gevra word.

 

Gebed

Almagtige God, ons aanbid U met ontsag. Die wêreld ly onder soveel korrupte optrede van leiers, maar ook landsburgers. Ook Christene tree nie altyd in gehoorsaamheid aan U op nie. Daarom bid ons vir geloof en onderdanigheid aan u gesag. Verbreek die magte van onregverdiges en laat u koninkryk kom. Amen.

 

Pitkos

“Wees dan nou verstandig, konings, wees gewaarsku, regeerders van die aarde! Julle moet die Here met ontsag dien, Hom met vrees en bewing toejuig en Hom onderdanig wees, sodat Hy nie toornig word en julle op die pad omkom nie, want sy toorn ontvlam gou. Dit gaan goed met almal wat by Hom skuiling soek.” PSALM 2:10-12

 

Soos gepubliseer in die Deo Gloria Kuberbrief en met vergunning van Dr Callie Opperman gepubliseer.

KONTAK: opperman.wc@gmail.co

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: