Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Junie 2022

Oppas vir fopnuus


 Een ding wat ons maar net nie afgeskud kry nie is die een oor fopnuus. Vinnig val ons vir ʼn storie, stuur dit aan met WhatsApp of deel dit op Facebook net om later uitgewys te word as fopnuus. Alhoewel ʼn regstelling dan soms geplaas word is die skade reeds aangerig, want dit is soos klitsgras wat reeds verder versprei het.

 

Fopnuus steek sy kop oral in sosiale media uit. In ons AB nuusbrief het Johan Mostert reeds hieroor geskryf en gesê fopnuus “verwys na die publisering van nuus met die doel om te mislei, propaganda te bedryf of disinformasie te versprei. Ook die Afrikaanse sosiale media het hierdie verskynsel nie vrygespring nie. Dit was veral berigte van regse webwerwe vanuit die VSA wat die rondtes begin doen het en onnadenkend deur ontvangers die wêreld ingestuur is onder die indruk dat dit ware nuus bevat. Dit kom voor of heelwat Afrikaners daarvoor geval het. Berigte met gruwelike verdraaiings is onkrities aangestuur. Daar bestaan ʼn groot gevaar dat die waarheid ʼn slagoffer word in die stryd om persepsies, want dit is waaroor dit in finale instansie gaan

 

Verlede week was dit ook die geval op ʼn landbou inligtinggroep waar ʼn fopnuuskwessie sommige se emosie gaande gehad het en dit later reggestel is. Die bekende prokureur van Potchefstroom, Hans Jurie Moolman  het die volgende advies hieroor op die groep geplaas en met sy instemming plaas ons dit graag in die AB Nuusbrief. 


Net weer eens ‘n herinnering hoe gevaarlik gedeelde inligtingsbrokkies op sosiale media kan wees.  So paar gedagtes om deur al die gemors te probeer sif:

  • Nie almal wat iets op skrif, klank of beeld vasvang het eerbare bedoelings nie. (In die ou dae was die neerpen van ‘n gedagte gesien as die neem van verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan. Dit is nie meer so nie.)


  • ‘n Boodskap sonder outeur en ‘n datum is nie bedoel om mense in te lig nie, maar om mense te beïnvloed.

 

  • ‘n Foto verteenwoordig ‘n enkele oomblik in ‘n gebeurtenis wat sekondes, minute of ure kon duur.

 

  • 'n Klank-/videogreep of aanhaling is meer as dikwels deel van ‘n reeks gebeure en waar konteks ontbreek, moet die rooi ligte begin flikker. 


  • Die meerderheid vals berigte vervat gedeeltelik korrekte inligting. Die doel van die gedeelte, met korrekte inligting, is daarop gerig om ‘n spesifieke gehoor se aandag te trek en om die res van die boodskap (valse inligting) te kamoefleer. ‘n Halwe waarheid is ‘n volle leuen. 


  • Toets die juistheid van syfers en statistieke, wat aangehaal word, met ander beriggewing oor dieselfde onderwerp. As die inligting nuuswaardig was, sal die inligting ook in ander nuusmedia vervat word. Gebruik sleutelwoorde in die berig en Google om by die ander berigte of selfs amptelike dokumente uit te kom om inligting te kontroleer.


  • Laastens, en as jy steeds twyfel, vra jouself die vraag af: “Sal ek bereid wees om die feite in die berig wat ek lees en/of verder deel of aanstuur in ‘n hof, as die waarheid, te verdedig?”

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: