Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        Maart 2024

Kry Suid-Afrika se ekonomie saam op spoor

 

Deur Danie Schoeman

 

1.              Probleemstelling.

Die meeste politieke analiste is dit eens dat Suid Afrika werklike groot uitdagings in die oë staar. Soos voor 1993 is ons ekonomie vasgevang in die bose kringloop van armoede en resessie wat soos ‘n maalkolk daagliks versnel en dreig om totaal te ontspoor.

 

Soos uit die onderstaande figuur blyk staan die ekonomie onderliggend tot meeste van die groot knelpunte.  

 

2.    Politieke Partye.

Hierdie uitdagings vra vir fundamentele hervorming wat waarskynlik slegs moontlik is wanneer een politieke party ‘n volstrekte twee-derde meerderheid in die Parlement kan behaal. Daarna moet hulle die moed van oortuiging hê om ondanks interne verskille onderling en onverskillige politieke beloftes tydens verkiesings, die regte besluite deur te voer. Die alternatief is eksterne ingryping soos wat enkele jare gelede met Griekeland gebeur het.

 

Sodanige hervorming is moeilik, maar nie onmoontlik nie. Wie onthou die suksesvolle “It’s the economy stupid” veldtog van President Bill Clinton in 1992?

 

Ook President Mbeki en Trevor Manuel kon na 1995 met die onderlinge hulp van die IMF/Wêreldbank/GTZ en dinamiese leierskap daarna, daarin slaag om die ANC uit hulle sentraal geleide Ontwikkelingstaat of RDP droom (Reconstruction and Development) te praat om liewer saam met die privaatsektor die GEAR inisiatief (Growth, Employment And Reconstruction) van stapel te stuur. Min mense weet hoeveel oorreding dit gekos het en die onmin wat dit onderling in ANC geledere  ontketen het. Hierdie strategie het ongekende suksesse en voorspoed gebring totdat President Zuma met staatskaping en onbeholpenheid die voorspoed begin steel en opeet het. Sedertdien het kaderontplooiing en die ANC se politieke ideologieë net eenvoudig te veel onbeholpenheid en korrupsie  tot gevolg gehad om enigsins weer verandering van binne te inisieer.

 

Die stappe wat nodig is om die maalkolk te stop en om te keer gaan beslis nie gewild wees by die normale kieser nie (Geen kalkoen stem immers vir Kersfees nie !). Dit kan dus verwag word dan geen politieke party die moed gaan hê (of dom gaan wees), om  reeds ingrypende regstellings en opofferings in sy politieke manifes in aanloop tot die verkiesing aan te kondig nie.

 

Die jongste opinie opnames dui daarop dat geen politieke party ‘n volstrekte meerderheid beskore gaan wees nie. Ontleders spekuleer oor alternatiewe politieke  uitkomste en koalisies wat gevorm kan word maar dit is toenemend duidelik dat groot beleidsverandering nie juis na 2025 verwag kan word nie. Suid Afrika se ekonomiese vooruitsigte is so bedenklik dat dit buite die bereik van enige politieke party met beperkte magte gaan wees om die gewenste struktuur en stelsel aanpassings wat nodig is, aan te bring en deur te voer.

 

Die kanse om na die 2024 verkiesing met klein en marginale meerderhede en moontlike koalisies weer die Mbeki/Trevor towerstaf uit die hoed te trek is dus bykans onmoontlik om te voorsien. Daarvoor is kleinlike politieke binnegevegte  en ego’s op die oomblik net te groot tussen die mededingende partye.

 

Die gevolgtrekking is dat dit weinig verskil gaan maak wie die politieke leierskap na die verkiesing gaan oorneem. Praktiese korttermyn realiteite en krisisse gaan die toneel oorheers en enige politieke party se idealisme tot hervorming temper. 

 

3.              Die Parlement.

Die ideaal is om die Parlement as nasionale instelling sover te kry om in nasionale belang  ‘n multidissiplinêre paneel van plaaslike en internasionale kundiges aan te stel om met herstrukturerings voorstelle na die verkiesing te kom. Al die politieke partye moet hulle verbind tot so ‘n objektiewe ondersoek en bereidwilligheid verklaar om na die verkiesing regstellings in belang van Suid Afrika en uitsluiting van partypolitieke opportunisme te oorweeg en te implementeer. Dit lyk tans nie binne die praktiese wil of vermoë van enige politieke party binne die Parlement te wees nie.

 

4.              Burgerlike Samelewing

Die ironie is dat  herstrukturering  professionele en tegniese kundigheid verg en allermins politieke kwaksalwers met partypolitieke bymotiewe verdra. Instellings soos die IMF en Wêreldbank het goeie ondervindinge in die verband maar dit neem leierskap en opoffering as land om ongewilde stappe te neem en gedissiplineerd as span toe te pas.

 

Burgerlike instellings is aktief in Suid Afrika. Die beste alternatief is dus om om die regstelling van ons ekonomie so vroeg moontlik deur hierdie instellings as gemeenskaplike doelwit buite die partypolitieke diskoers te neem en dan die politieke partye by implementering te betrek. Die AB is goed geposisioneer om brugbouers te wees in so ‘n inisiatief.

 

Ons sportspanne het by herhaling  bewys dat ons saam sterker kan wees as ons persoonlike eiebelang en etikettering versaak en eerder mekaar se sterkpunte erken en in spanverband en op meriete bevorder. Die konsep van “together we are stronger” en “eendrag maak mag” simboliseer die hervorming en prestasies wat Suid Afrika se verskeidenheid volkere en kulture kan bereik as daar op mekaar se talente en vermoëns eerder as op verskilpunte en diskriminerende praktyke staat gemaak word.

 

5.              Samevatting: Die pad vorentoe

Dit staan soos ‘n paal bo water dat enige party wat na 2024 in bewind kom die uitdaging gaan hê om dringende strukturele ekonomiese regstelling deur te voer ten einde die fiskale afgrond en ekonomiese wanhoop te voorkom.

 

Geeneen van die verkiesings scenario’s bied ‘n oplossing vir die kantelpunt wat reeds bereik is en noodwendig tot verdere verval in Suid Afrika gaan lei nie. Tot dusver lyk dit of uitgediende politieke ideologieë en persoonlike ego’s besig is om die politieke landskap te versnipper en te verinneweer. Dit lyk onmoontlik om sin en rede in nasionale belang by hierdie belhamels tuis te bring.

 

Moontlike herstrukturering voorstelle

Die spektrum van besluite wat waarskynlik nodig gaan wees om Suid Afrika weer op sy pad van volhoubare groei en ontwikkeling te kry behels die volgende:

  1. Maak reg wat stukkend is en prioritiseer voorkomende onderhoud.
  2. Behartig volledige koste ontledings, standaardkoste- en prysbepaling vir elke funksie en diens wat deur die staat behartig word.
  3. Fokus op kern staatsfunksies van Veiligheid, Wet en Orde, Basiese Onderwys, Gesondheid, strategiese en basiese dienste en beskou die res as luukse dienste wat slegs kosteverhalend en volhoubaar is as dit in landsbelang is en die privaatsektor dit nie mededingend kan lewer nie
  4. Stel bedryfstate op vir elke diens en lewer dienste aan verbruikers op streng kosteverhalende basis met duidelike identifisering van die subsidielas wat nodig is.
  5. Stel ʼn mededingende plafon vir vergoeding, vervoer, verblyf en algemene uitgawes vir elke nasionale en provinsiale begrotingspos.
  6. Hersien finansiële ooreenkomste met staatsinstellinge en munisipaliteite gebaseer op bedryfstate en standaardkostes en dienslewering kriteria vir daardie dienste wat gelewer moet word. 
  7. Nooi die privaatsektor om mededingend betrokke te raak waar hulle dienste meer effektief en kostedoeltreffend kan lewer.
  8. Verminder die direkte en indirekte belastingdruk op individue en ondernemings.
  9. Verwys kontroversiële inisiatiewe wat betref gesondheid, onderwys en grondonteiening vir hersiening en behoorlike koste/prysprojeksies.
  10.  Aanvaar slegs lenings vir projekte wat finansieel renderend en/of ekonomies volhoubaar is.


Die Burgerlike samelewing in Suid Afrika is egter springlewendig en strek oor politieke, kulturele, rasse en selfs godsdienstige grense heen. Vorige samewerking inisiatiewe en ons sportspanne  is lewende bewys van wat bereik kan word. Die privaatsektor en vorige veelpartykonferensies dien ook as voorbeeld van wat politieke partye met die regte leiding en onder druk van belangegroepe kan regkry.

 

Dit beteken dat, ongeag die amptelike Regering en opposisie na 2024, ‘n kundige span NOU reeds  nodig gaan wees om die  Kabinet, Parlement en Administrasie toe te rus om in die beste belang van Suid Afrika op te tree of so nie vervang te word. Een nasionale inisiatief tot ekonomiese hervorming wat almal betrek moet opgestel, verfyn en implementeer word. Eie ego’s en uitgediende ideologiese slagspreuke moet nie in die pad staan nie en foute uit die verlede moet erken en uitgeskakel word.

 

Die privaatsektor moet aktief betrek word en dwarstrekkers en nie-presteerders moet uitgewys en uit die span gelaat word. Die volle spektrum van kundige, dinamiese leierskap moet betrek word om die ekonomie weer op koers te kry. Plaasvervangers moet jonk, geskool en toegerus word om oor te vat en die wa deur die drif te trek, sou die lewering van goedere en dienste nie na wense wees nie. 

 

Daar is genoeg ander knelpunte waaroor politici mekaar tydens die verkiesing goed kan opvryf.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: