Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Februarie 2022

 Suid Afrika 2022 – ʼn politieke vooruitskouing


Deur Prof Andre Duvenhage, NWU

 

Die laaste paar jaar was die politieke omgewing baie onstabiel en die aanduidings is daar dat dieselfde omgewing verder kan destabiliseer – veral teen die einde van die jaar. (Lees die Nasionale Konferensie van die ANC geskeduleer vir 16, 17 en 18 Desember 2022 as ʼn belangrike merker op die politieke agenda!) Bogenoemde datum kan selfs ʼn Kairos moment vir die ANC en die groter politieke bedeling in Suid Afrika wees.

 

Toestande ten opsigte van die breë staatkundige bestel en die groter samelewing het die afgelope aantal jare drasties versleg. Tot so ʼn mate dat die huidige politieke bestel sy kantelpunt bereik het. [ʼn Kantelpunt is wanneer die samehang of kombinasie van ʼn aantal faktore die politieke bedeling verby ʼn bepaalde drempel neem, met die vooruitsig van verreikende verandering.] Faktore wat hierin ʼn rol gespeel het, sluit in:

  1. Die omvangryke inploffing van Staats- en semi-staatsinstellings;
  2. 'n Negatiewe ekonomiese konteks met inbegrip van beperkte groei, eskalerende skuldlas; ʼn beperkte en selfs kleinerwordende belastingbasis; en eskalerende armoede en werkloosheid;
  3. Eskalerende misdaad en ʼn verslegtende veiligheidsituasie in Suid Afrika;
  4. Gebrekkige sosiale kohesie en eskalerende sosiale, kulturele, raskundige, gender en klasgedefinieerde konflikte;
  5. ʼn Plaaslike verkiesing waarin die ANC nie ʼn volstrekte meerderheid behaal het nie, koalisiepolitiek wat aan die orde is; en ʼn rekonfigurasie van die politieke omgewing wat al hoe meer ʼn blywende tendens word.

 

Die Wêreld Ekonomiese Forum (WEF) se gesaghebbende onleding van state wêreldwyd, het onlangs Suid Afrika se 5 hoof risiko’s aangedui as:

  • Volhoubare ekonomiese stagnasie;
  • Werkloosheid en nie-volhoubare lewenstandaarde en-gehalte;
  • Die inploffing van die staat;
  • Die tot niet gaan van die infrastruktuur van die staat;
  • Die proliferasie van onwettige/informele ekonomiese aktiwiteite.

Dit is interessant dat die WEF Suid Afrika saam met 31 ander state (dit sluit in Argentinië, Frankryk, Duitsland en Mexiko) identifiseer as state waar sosiale kohesie toenemend problematies raak. Dit is veral belangrik in die lig van die Julie 2021 politieke (maatskaplike?) geweld waarin 337 mense gedood is, 3407 in hegtenis geneem is en sowat R50 miljard se skade aangerig is. Die rassekonflik in KZN (tussen Swart en Indiër teen die agtergrond van die geweld) asook ander xenofobiese tendense het gewys hoe broos die sosiale kohesie in die samelewing is en wat die perspektief van die WEF onderskryf.

 

In samehang met die geweld van Julie 2021 is die verdere eskalasie van konflik en geweld en kriminele (moontlik politieke?) insidente soos die brand by die Parlement en by die Waterkloof Lugmagbasis; sabotasie en vandalisme by ESKOM en Transnet; stygende misdaadsyfers en voortgesette sluipmoorde; asook die optredes van Zama-Zamas (onwettige myners) ʼn direkte aanduiding van ʼn verslegtende veiligheidsituasie en selfs ʼn staatkundige orde wat besig is om te disintegreer. Die WEF praat selfs van ʼn moontlike “staatsgreep” gegewe die verslegtende veiligheidsituasie in Suid Afrika en die kwesbare posisie van President Cyril Ramaphosa.

 

Die “swak staat gesprek” (Fragile state debate), ʼn werklikheid wat tot onlangs deur leidende politici en akademici ontken is, word ʼn harde werklikheid met Suid Afrika wat toenemend as ʼn “hibriede staat” voorgestel word. ʼn Hibriede staat impliseer ʼn situasie waar Staats- en nie-staatlike akteurs mag moet deel in ʼn omgewing waar die formele staat sy monopolie verloor om waardes en skaarsmiddele eksklusief en gesaghebbend te kan toewys. Koos Malan in sy werk There is no Supreme Constitution... (2019)  beskryf ʼn hibriede staat as ʼn bedeling waar mag ongrondwetlik skuif vanuit die de Jure staat na die de facto staat wat beteken (in die geval van Suid Afrika) dat die Grondwet (lees die 1996-Konstitusie) vervang word met ʼn ander “konstitusie” waarvolgens waardes en skaarsmiddele  toegewys word en waarin “transformatisme” die ideologie,  modus operandi en werkswyse geword het. Kaderontplooiings, korrupsie en eventueel staatskaping, is uitkomstes van hierdie ideologie wat sterk ooreenkomste vertoon met dit wat vroeër as ʼn “hibriede staat” voorgehou is. Die ongelooflike rol van kaderontplooiing en die bydrae hiervan tot staatskaping is onlangs blootgelê deur die Zondo-kommissie se vrystelling van ANC-notules in hierdie verband. Selfs die regbank is nie ongeskonde gelaat in die toepassing van die spreekwoordelike “konstitusie” (aldus Koos Malan) nie.

 

In ʼn neutedop, Suid Afrika staan voor sy grootste krisis sedert die nuwe bedeling tot stand gekom met verreikende implikasies, nie net vir die regering nie, maar ook die konstitusionele demokrasie en selfs die groter staat. RW Johnson is reg as hy argumenteer dat "This government will have to steer South Africa through an unprecedentedly fierce storm, a test it seems certain to fail. The government may well disintegrate, the state may fail.” Aan die wortel van die problematiek lê die ANC en die dinamika wat binne die organisasie gaan uitspeel. Hoewel al bogenoemde faktore en kontekste gewig dra, is dit die ANC-dinamika wat myns insiens 2022 gaan domineer en word vervolgens die fokus van my ontleding van wat  verwag kan word.

 

Die ANC as instelling word gekenmerk aan diepliggende faksiegevegte; endemiese korrupsie waarin ʼn meerderheid van die ANC direk of indirek by geïmpliseer word; ernstige organisatoriese en finansiële uitdagings; en onsekerheid en uitsigloosheid oor hoe die land vorentoe bestuur moet word. Laasgenoemde het veral te make met hoe die tweede fase van die Nasionaal Demokratiese Rewolusie-idee (die NDR) toegepas moet word en in besonder die fase wat met die herverdeling van produksiefaktore (fase 2) te make het. Die implementering van resolusies soos geneem by die 2017-Nasionale Konferensie van die ANC (met inbegrip van versnelde grondhervorming, maatskaplike toelae, die nasionalisering van die Reserwe Bank en ʼn nasionale Gesondheidsversekeringstelsel) is problematies in terme van beleid en toepassing en veral hoe dit vorentoe hanteer moet word. Die wysiging van Artikel 25 van die grondwet (ʼn kernaspek van die Nasionale Akkoord) is hier problematies en ook ʼn bron van interne konflik en spanning binne die ANC en die groter ANC-familie.

 

Myns insiens staan die ANC voor een van sy grootste krisisse sedert die ontstaan van die organisasie 110 jaar gelede. Wat 2022 egter mees bepalend maak is die Nasionale Konferensie soos geskeduleer vir einde 2022 en miskien selfs belangriker wat in die aanloop tot die konferensie gaan gebeur. Die volgende is in hierdie verband belangrik:

  1. Die verdeeldheid binne die ANC (wat veral sedert die 2017-konferensie en selfs vroeër ontwikkel het) word tans tot nuwe hoogtes gevoer en die posisie van Cyril Ramaphosa word openlik uitgedaag;
  2. Die Ramaphosa-leierskap en prestasies word tans binne en buite die ANC bevraagteken en dit is geen uitgemaakte saak dat hy hierdie politieke stryd gaan wen nie. [Na my oordeel is dit ʼn 50/50 scenario];
  3. Talle verkiesings moet nog op laer vlak soos distrikte plaasvind, 4 provisies moet nog provinsiale leierskap aanwys (Noordwes, Vrystaat, Mpumalanga en Wes-Kaap) en die uitgestelde beleidskonferensie is skynbaar geskeduleer om in Mei-Junie 2022 plaas te vind – alles in die opbou na die Nasionale Konferensie waarin leierskap vir die party aangewys moet word. Vroeë aanduidings is dat die RET-faksie goed presteer op regionale vlak in KZN, die Oos-Kaap en selfs Limpopo. Dit is slegte nuus vir die CR-22 kampanje!
  4. Organisatories moet die instelling vernuwe en aangepas word ter wille van sy oorlewing. Ten spyte van voornemens in hierdie verband, het weinig hiervan tot sy reg gekom en is daar ook groot weerstand teen verandering omdat gevestigde belange hierdeur bedreig word.
  5. Die organisasie is in ʼn ernstige finansiële knyptang en kan nie eens die salarisse van Luthuli Huis se personeel betaal nie. Talle organisatoriese uitdagings bestaan ook binne die groter instelling.
  6. Die toepassing en uitvoering van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping gaan die organisasie in verdere krisisse dompel. [Die Instituut vir Rasseaangeleenthede (IRR) verbind 80-90% van NUK-lede van die ANC direk of indirek met korrupsie en staatskapingspraktyke en selfs Cyril Ramaphosa word geïmpliseer. Hy moet eersdaags ook verslag doen voor SKOOR ten opsigte van uitlatings ten opsigte van die aanwending van openbare fondse vir party-doeleindes!]
  7. Staatkundige, ekonomiese en maatskaplike uitdagings wat nie doelmatig deur die ANC-leierskap as regering aangespreek word nie, is besig om sy tol by die stembus te eis soos wat die 2021 verkiesing onlangs bewys het. [Die ANC kon nasionaal gesproke slegs sowat 47% van die steun verwerf – dit wil sê nie ʼn volstrekte meerderheid nie.]
  8. Die ANC raak toenemend ʼn organisasie met ʼn verouderde en uitgediende politieke ideologie (die NDR en “transformatisme” ingebed in radikale vorme van Marxisme, Leninisme, Stalinisme en selfs Maoisme), maar weerstand bestaan teen vernuwing en verandering in hierdie verband.
  9. Die ANC onderhou histories gesproke ʼn kultuur wat met kriminaliteit geassosieer word, wat histories reeds voor 1994 prominent was vergelyk die Quatro-kamp ens) en wat na 1994 polities geïnstitusionaliseer is. Talle belangegroepe en netwerke wat hieruit voordeel getrek het (en steeds trek) sal selfs kriminele geweld gebruik om hul posisies te handhaaf en te versterk. Hierdie kultuur kom tans sterk na die oppervlak en manifesteer in gebeure soos die 2021-geweld, die brand by die parlement, die sabotasie van kragstasies en die diefstal van kabels en infrastruktuur.
  10. Die deurvoer van populistiese beleidsrigtings (soos ʼn basiese inkomste toelaag; die wysiging aan artikel 25 van die grondwet en versnelde grondhervorming; ʼn nasionale gesondheidsversekeringstelsel; die Nasionalisering van die Reserwebank; meer sosiale toelae as meganisme tot armoedeverligting) voor die beplande beleidskonferensie van die ANC in Mei/Junie 2022. Dit kan verdere spanning en dinamika skep wat heelwat verder as net die ANC strek en ook die regering, owerheidstrukture en die staat kan impliseer.

 

Bogenoemde lys sou waarskynlik uitgebou kon word, maar beklemtoon die aard en omvang van die huidige problematiek waarmee die ANC as organisasie te kampe het en die verreikende implikasies wat dit mag inhou vir die regering , politieke bestel en selfs die groter staatkundige orde.

 

Uitgaande van bogenoemde ontleding en perspektiewe, wat kan ons te wagte wees vir 2022 en verder? Die volgende uitkomstes is myns insiens moontlik gedurende  2022 met ʼn uitspeel na 2023/4:


Scenario 1: Die Ramaphosa-groepering behou die politieke mag, maak ʼn selektiewe toepassing van die Zondo-kommissie (om sekere ANC-lede te beskerm); bevorder die hervorming van die ANC; en die heropbou van politieke en diensleweringsinstellings van die staat asook die korporatiewe bedeling. Geweld en onstabiliteit sal deel van hierdie scenario wees aangesien die Koalisie van die korrupte ernstig weerstand gaan bied en hul wend tot kriminaliteit, politieke geweld en onstabiliteit. Patrone hiervan is gesien tydens Julie 2021 en word vermoed ten opsigte van ESKOM-sabotasies, die brande by die parlement asook by die Waterkloof lugmagbasis. [Die tydsberekening van sommige van hierdie dade is net te goed om bloot toevallig te wees of as gevolg van swak instandhouding verklaar te kan word!] Hierdie is die beste-saak scenario!

 

Scenario 2: Ramaphosa verloor die leierskapstryd in die ANC (soortgelyk aan hoe Mbeki teen Zuma by Polokwane verloor het) en ʼn nuwe leierskap wat die Koalisie van die korrupte (lees RET-faksie; elites wat in onguns verval het; die EFF; en Swartmaggroepe) gunstig gesind gaan wees tree na vore as die oorwinnaars. Die Zondo-kommissie word tot niet gemaak en populistiese beleidsrigtings word geïmplementeer. Binne hierdie scenario sal die ANC waarskynlik skeur met die Ramaphosa-groep wat in nuwe alliansies kan opgaan met verreikende implikasies vir die 2024-verkiesing. Hierdie is ʼn gevaarlike scenario met hoë risiko’s vir alle Suid Afrikaners.

 

Scenario 3: Die ANC slaag nie daarin om ʼn behoorlike en legitieme proses vir ʼn leierskapsverkiesing daar te stel nie en die Nasionale Konferensie verval in konflik en chaos sonder om legitieme leierskap aan te wys. [Ek het geen twyfel dat dit ʼn strategie gaan wees van veral die RET-groep indien hul die leierskapstryd sou verloor of so ʼn moontlikheid antisipeer. ] Daar is reeds ernstige konflik binne die strukture van die ANC in provinsies en op die onderskeie vlakke van bestuur (tak- en distriksvlak); hofuitsprake teen die aanwysing van verkeerde verteenwoordigers; faksiegevegte en konflikte op laer vlakke wat verkiesings onmoontlik gemaak het; die skepping van spook-takke ens. Organisatories is die ANC besig om uitmekaar te val en die moontlikheid dat die konferensie gaan misluk kan nie sonder meer geïgnoreer word nie. Neem ingedagte dat in 4 provinsies naamlik Vrystaat, Noordwes, Mpumalanga en die Weskaap het die ANC as gevolg van interne konflikte en organisatoriese uitdagings nog geen demokraties-verkose leierskap kon aanwys nie – dit minder as ʼn jaar voor die Nasionale Konferensie! [Beplanning word tans gedoen om hierdie verkiesings betyds gehou te kry en in Noordwes is ten minste drie groepe reeds gemobiliseer vir die stryd!] Die implikasies hiervan is egter verreikend en kan ʼn groot impak hê op nie net die ANC nie, maar ook die groter politieke stelsel met patrone van konflik en eskalerende geweld, selfs erger as in scenario 2  ʼn moontlikheid. Hierdie is ook ʼn baie ongunstige scenario. Hierdie scenario, selfs meer as die vorige scenario, het nie net risiko’s vir die ANC en regering nie, maar ook vir die groter konstitusionele demokrasie en die waardestelsel wat dit impliseer. Ramaphosa het in die onlangse ANC Lekgotla verwys na hierdie problematiek.

 

Scenario 4: Dit behels omvangryke kompromieë binne die ANC in die aanloop tot die konferensie met as doel die behoud van mag deur die ANC en die beskerming van die belange van die kaders. Dit sou onder meer beteken dat Cyril Ramaphosa die mag behou, maar talle toegewings maak, byvoorbeeld om Magashule en andere se posisies te herstel; Zuma van  tronkstraf te vrywaar;  en die Zondo-kommissie ʼn Seriti-Kommissie te maak. Die uitkoms hiervan beteken basies die einde van konstitusionele demokrasie in Suid Afrika, is nie volhoubaar as besluitnemingsraamwerk nie; en kan verreikende politieke, ekonomiese en maatskaplike implikasies op die mediumtermyn inhou. Binne hierdie scenario sal probleme slegs uitgestel word wat vorentoe met rente terugbetaal sal moet word.

 

Soms is dag lank in die politiek en in ʼn week kan meer gebeur as in sommige dekades. Wat duidelik is, is dat 2022 ʼn jaar vol verrassings en uitdagings gaan wees. Dit mag ʼn bepalende jaar wees vir die groter politieke bedeling en selfs die einde van ʼn tydvak inlui. Ek is nie oortuig dat die ANC oor die vermoë beskik om hulself te kan hervorm soortgelyk aan wat FW de Klerk en andere ten opsigte van die ou NP gedoen het nie. Dat verandering onafwendbaar is, is noodwendig en dat die ANC nie gereed hiervoor is nie, is eweneens waar. Die moeilike weg naamlik die pad van intense en fundamentele hervorming is onafwendbaar indien Suid- Afrikaners ʼn scenario van ekstreme konflik en geweld wil verhoed. 2022 sal hierop antwoorde kan verskaf. Die toekoms van Suid Afrika se konstitusionele demokrasie mag fundamenteel bepaal word deur wat binne die ANC tydens 2022 kan uitspeel.

 

Maak dus maar die sitplekgordels vas want 2022 kan verreikend wees vir talle Suid-Afrikaners, burgers en politieke elites!

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: