Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Maart 2022

Rapport Onderwysfonds  - Meer as 360 studente die jaar gehelp


Die Rapport Onderwysfonds (ROF) is ’n nie-winsgewende organisasie wat tersiêre onderwys-studente finansieel bystaan met leningsbeurse. Die fonds bestaan al sedert November 2003 en het oor die jare reeds honderde studente gehelp om hul droom om ’n onderwyser te word, te bewaarheid. Die ROF is ‘n gesamentlike inisiatief van Rapport, Die Afrikanerbond, die Dagbreek Trust (TAO) en Solidariteit sowel as FEDSAS en SAOU wat intussen as lede-organisasies toegevoeg is.

 

Daar word jaarliks meer as 750 aansoeke ontvang, met ongeveer 500 wat vir ‘n toekenning kwalifiseer. Die enigste beperking is die beskikbaarheid van befondsing.

 

ROF is by die Departement van Maatskaplike Ontwikkeling geregistreer as nie-winsgewende organisasie en doen jaarliks in terme van die wet verslag. Omdat die fonds lenings aan studente toestaan is dit ook by die Nasionale Kredietreguleerder (NKR) geregistreer en doen jaarliks verslag om aan te toon dat die toestaan van lenings aan die wetlike vereistes voldoen.

 

‘n Gedeelte van die student se ROF-lening kan, aan die einde van elke studiejaar, omgeskakel word in ‘n beurs, afhangende van sy/haar akademiese prestasies. Sodoende motiveer dit die studente om nog harder te studeer en word hulle aan die einde van elke studiejaar beloon vir hul harde werk. Die terugbetaling van lenings word weer vorentoe aangewend vir ‘n volgende student. 

 

Die RVT het op 23 November 2021 besluit dat daar in 2022 minstens 360 studente gehelp moet word. Dit word moontlik gemaak deur  skenkings van korporatiewe donateurs asook individuele skenkers vir wie hierdie saak belangrik is. Sou daar nie genoegsame skenkings ontvang word nie, sal ROF dit uit eie fondse moet aanvul.

 

Vir die afgelope twee jaar ervaar studente soveel méér uitdagings as net finansiële nood:

  • klaskamers word verruil vir aanlynsessies,
  • rekenaars wat weens ouderdom en internetfasiliteite kreun en nie wil saamwerk nie,
  • ouers wat inkomste verloor of afsterwe,
  • sosiale interaksie en groeptake moet verruil word vir afsondering in klein kamers/leefruimtes en deur onpersoonlike rekenaarskerms afgehandel word. 

 

Wanneer ‘n student by ROF aanklop, was hy/sy heel moontlik al weggewys deur die universiteit, die bank, familie of vriende. Vir ‘n student beteken ‘n ROF-leningsbeurs nie net ‘n kontantbydrae wat dien as ‘n afbetaling op ‘n universiteitsrekening nie. ‘n ROF leningsbeurs gee ‘n geleentheid om ‘n roeping te vervul en ‘n geleentheid om vorentoe vir hulle eie gesinne beter te kan versorg. Ook bring dit nou finansiële en emosionele verligting vir hul ouers, gesinne en families. Geen wonder dat ROF-studente uitstekend vaar met hul studies nie! ROF het vanjaar 41% van studentelenings omgeskakel na beurse, gekoppel aan akademiese prestasie -  ‘n bewys van die kwaliteit en gemotiveerdheid van ROF-studente. Dankbaarheid loop soos ‘n goue draad deur al hul terugvoeringsbriefies.

 

Die Rapport Onderwysfonds kan nie sonder die medewerking van sy donateurs oor die breë spektrum van die Suid-Afrikaanse samelewing funksioneer nie. Daarom het ROF tydens die laaste Trustee vergadering opnuut dank en waardering uitgespreek aan elkeen wat ons oor baie jare gehelp het om op beskeie wyse by te dra tot die bemagtiging van Afrikaanssprekende studente en daardeur die bevordering van Afrikaans deur Afrikaanse onderwys en opleiding. Ons vertrou dat Afrikaans­sprekendes en die Suid-Afrikaanse gemeenskap toenemend geïnspireer sal word om deel te hê aan die missie en doelstellings van die Rapport Onderwysfonds.

 

ROF is ‘n weldaadorganisasie (NPO 041-4319) en skenkings kan soos volg gemaak word.

Die Rapport Onderwysfonds

ABSA
Takkode 632 005

Reknr: 405 864 6741 (tjekrekening)

Verwysingnr : Van en kontaknommer

www.rof.org.za

 

(NS : Sou u ‘n skenking maak, is u welkom om u besonderhede per epos vir ons deur te stuur na finansies@rof.org.za of   Philmarie.Roberts@rapport.co.za   sodat ons ‘n artikel 18A-kwitansie kan uitreik vir u rekorddoeleindes.)

Lewer gerus kommentaar op die Rapport Onderwysfonds

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: