Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Maart 2022

Die einde van wit politiek in die referendum van 17 Maart 1992

– Die Ja-Stem en die Nee-Stem – 30 Jaar later en tyd om die strydbyle te begrawe 

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

Op 17 Maart 2022 sal dit 30 jaar gelede wees wat die laaste wit referendum in Suid-Afrika plaasgevind het. Die referendum is op 20 Februarie 1992 aangekondig, ʼn dag nadat die Nasionale Party die derde tussenverkiesing verloor het in Potchefstroom. In die voorafgaande tydperk het die NP ernstige verlies aan steun getoon en was die Konserwatiewe Party se veldtogte geskoei op ʼn konstante verlies aan steun vir FW De Klerk se hervormingspogings wat hy op 2 Februarie 1990 aangekondig het.

 

Alhoewel daar aanvanklik groot steun was vir De Klerk se hervorminge het dit in die tydperk daarna geblyk dat kiesers se onsekerheid en gepaardgaande politieke weerstand by die stembus bevestig is. Op 22 Mei 1991 het die Konserwatiewe Party die Ladybrand setel in die Vrystaat by die Nasionale Party gewen met 6 276 stemme teenoor 5 018 stemme. ʼn Paar maande later op 28 November 1991 is die Nasionale Party verder geskok met die uitslag van ʼn tussenverkiesing in Virginia. Weer het die Konserwatiewe Party ʼn setel by die Nasionale Party verower met ʼn meerderheid van 3166 stemme. Met die afsterwe van Louis le Grange en die vakature wat gelaat is,  was die Potchefstroom tussenverkiesing op 19 Februarie 1992 die volgende groot toets vir die Nasionale Party. Die Nasionale Party is platgeslaan toe die Konserwatiewe Party hierdie setel by die Nasionale Party afneem met ʼn meerderheid van 2 140 stemme. Die pil is nog meer bitter gemaak deurdat die Nasionale Party die setel in 1948 gewen het en slegs ʼn paar jaar tevore met die algemene verkiesing van 1989, nog ʼn gesonde meerderheid van 1 580 stemme gehad het.

 

Die laaste uitslag en die golf van oorwinnings het die leier van die Konserwatiewe Party, Dr Andries Treurnicht, geïnspireer om te sê dat dit duidelik is dat de Klerk nie meer die meerderheid van Suid-Afrika se 4,5 miljoen wit bevolking verteenwoordig nie. Treurnicht het toe aangedui dat hy sou aandring op 'n nuwe algemene verkiesing.

 

Slegs ʼn paar uur na die groot nederlaag in Potchefstroom kondig FW De Klerk die referendum op 20 Februarie 1992 aan en ʼn ongekende mobiliseringsveldtog het gevolg.. Dit was ʼn besliste strategiese skuif om momentum te gee aan die hervormingsproses, sonder om getoets te word by die stembus.

 

Op 17 Maart 1992 het wit Suid-Afrikaanse kiesers aan ʼn referendum deelgeneem met die vraag “Ondersteun u die voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ’n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is?” 

 

Sowat 85% van wit kiesers het hul kruisie getrek in die referendum en van die 2,804,947 uitgebragte stemme het ʼn oorweldigende meerderheid, 68,73% van die kiesers “ja” gestem. Dit het onlosmaaklik deurslag gegee aan die voortsetting van FW De Klerk se historiese 2 Februarie 1990 hervorminge. Die inisiatief het weer aan FW De Klerk behoort en was die verlies aan drie setels in die groter prentjie van wit politiek gou vergete. Daar was sprake daarvan dat die referendum reeds voor die Potchefstroom tussenverkiesing in oorweging was, maar ook dit was nou irrelevant.  ʼn Verdere pluspunt was dat die JA-Stem te vinde was in die ondersteuning van ander opposisie partye soos die DP, sakelui en media. Wit Afrikaanse en Engelse kiesers, het op groot skaal ondersteuning gegee en die openbare mening was gevestig ten gunste van die nuwe proses wat nou moes begin. Hiermee kon veeleisende onderhandelinge voortgaan ten einde ʼn nuwe demokratiese bedeling te vestig in die nuwe Suid-Afrika van 1994. Daar was wel ook die verwagting dat wit kiesers weer ʼn mening sou kon uitspreek oor die uitkoms van die onderhandelde skikking. Hieroor sê Prof Hermann Giliomee in ʼn Litnet onderhoud in 2017:  “Die NP het ook beloof dat indien die skikking te ver afwyk van die voorstelle vir magsdeling wat die NP op sy federale kongres van September 1992 aanvaar het, daar ’n tweede referendum gehou sou word. Ook hierdie belofte is nie nagekom nie.”

Uit die smeltkroes van ʼn onderhandelde skikking is daar gepoog om ʼn balans te vind tussen:

  • die behoefte aan gelykheid aan die een kant en die behoefte aan die vermyding van onregverdige diskriminasie aan die ander kant;
  • die behoefte aan die beskerming van eiendomsreg aan die een kant en die behoefte aan die bevordering van regverdige en gebalanseerde grondhervorming aan die ander kant;
  • die behoefte aan demokratiese verteenwoordiging in die regering en die behoefte aan doeltreffende dienste en, ten slotte;
  • tussen die behoefte aan die koestering van ons ryk diverse kulturele, taalkundige en godsdienstige erfenis en die behoefte aan die bevordering van oorkoepelende nasionale eenheid.

 

Die geskiedenis hierna ken ons. Suid-Afrikaners het tydens die historiese verkiesing van 27-29 April 1994 hul kruisie getrek en die eerste demokratiese regering (Regering van Nasionale Eenheid)  is aangewys. Die finale grondwet is hierna onderhandel en as die grondwet Wet 108 van 1996 verklaar dit onomwonde dat die Republiek van Suid-Afrika een, soewereine, demokratiese staat is gegrond op die volgende waardes: 

(a) Menswaardigheid, die bereiking van gelykheid en die uitbou van menseregte en vryhede.

(b) Nie-rassigheid en nie-seksisme.

(c) Die oppergesag van die grondwet en die heerskappy van die reg.

(d) Algemene stemreg vir volwassenes, 'n nasionale gemeenskaplike kieserslys, gereelde verkiesings en 'n veelparty-stelsel van demokratiese regering, om verantwoordingspligtigheid, 'n responsiewe ingesteldheid, en openheid te verseker.

 

Die meerderheid Suid-Afrikaners, wit en swart, het die nuwe Suid-Afrika en die waardes soos vervat in die SA grondwet volledig ondersteun. ʼn Nuwe Suid-Afrika is gebore in wat as ʼn wonderwerk beskou is vanweë die relatief vreedsame politieke oorgang van apartheid of afsonderlike ontwikkeling na ʼn inklusiewe demokratiese bestel in 1994. Die wonderwerk het ook sy basis daarin dat Suid-Afrikaners van teenoorgestelde vyandige pole mekaar rondom die onderhandelingstafel kon vind en veral belangwekkend is dat die wit minderheid sy mag afgestaan het aan ʼn veelrassige regering in 'n grondwetlike demokrasie.

 

Slegs ʼn paar jaar voor die skikking was ʼn ander, meer negatiewe tydgees in Suid-Afrika teenwoordig. Suid-Afrika is sedert die sestigerjare deur geweldpleging gekenmerk. Die onderliggende ekonomiese, sosiale en politieke kragte het 'n potensieel onstabiele situasie in die land geskep. Swart versetbewegings, sowel as simpatieke buitelandse ondersteuners, het druk op die Suid-Afrikaanse regering verhoog. Binnelandse terreur en met aanvalle oor die grense van Suidwes-Afrika en Rhodesië het ʼn militêre dimensie aan die stryd teen die wit minderhede in Suidelike Afrika toegevoeg. Ekonomiese en ander sanksies teen Suid-Afrika is deur feitlik alle lande van die wêreld onderskraag en handel in wapens en brandstof en toegang tot internasionale wetenskaplike, kulturele en sportverbintenisse en gewone reisbeperkinge het Suid-Afrika geïsoleer. Die Grensoorlog, was 'n verdere militêre konflik wat vanaf 1966 tot 1989 grotendeels in Suidwes-Afrika (nou Namibië) en Angola plaasgevind het.

 

Die nuwe Suid-Afrika is dus nie deur die ANC bewerkstellig soos wat so dikwels te kenne gegee word nie. Die nuwe Suid-Afrika is tot stand gebring deur redelike Suid-Afrikaners wat in ʼn referendum gesê het - JA - Ons ondersteun die “voortsetting van die hervormingsproses wat die Staatspresident op 2 Februarie 1990 begin het en wat op ’n nuwe grondwet deur onderhandeling gemik is” en wat met die kruisie gesê het - tot hiertoe en nie verder nie.

 

In ʼn toespraak van FW De Klerk by die Bondsraad van die Afrikanerbond op 29 Mei 2015 by die Voortrekkermonument te Pretoria sê hy oor die voorafgaande bedeling voor die 2 Februarie 1990 toespraak en die hervorminge wat daarna gevolg het:

“Daar is baie kritici van die besluite wat ons aan die begin van die 1990s geneem het. Sommiges sê ons moes vasklou aan die ou bedeling. Ander beweer ons kon ʼn beter ooreenkoms onderhandel. Sommige dink ons kon een of ander vetoreg vir minderhede beding het. Laat ek dit duidelik stel: indien ons nie so gou as moontlik - na die ineenstorting van die Sowjet-Unie - ʼn skikking bereik het nie, sou die balans van magte onverbiddelik - en baie vinnig - teen ons gedraai het. Met elke jaar wat ons langer sou wag sou ons vermoë om ons kernbelange te verseker, verswak - presies wat met Ian Smith in Rhodesië gebeur het.

 

Om aan die mag van destyds vas te klou was eenvoudig net nie ’n opsie nie. Ons sou waarskynlik kon voortgaan om Suid-Afrika vir nog 15 tot 20 jaar onder toenemend moeilike omstandighede te regeer. Ons sou heeltemal geïsoleerd geraak het. Ons ekonomie sou verlam word. ʼn Hoë persentasie van die wit bevolking sou geemigreer het. Ons jong mans sou die helfte van elke jaar op die grense moes veg of oproerigheid in townships moes onderdruk. Inter-rassige vyandigheid sou toegeneem het tot ʼn vlak wat ’n wedersyds aanvaarbare, onderhandelde oplossing minder en minder moontlik sou maak met elke jaar wat verby gaan.

 

Ander wou gehad het dat ons ʼn wit tuisland êrens in die land moes vestig. Daar is en was egter geen plek in Suid-Afrika waar wit mense naastenby ʼn meerderheid uitmaak nie. Daar was nie ʼn kans dat wit mense hul gemaklike lewens in ons stede sou prysgee en na verafgeleë gebiede sou trek om ʼn nuwe staat te stig nie.  Diegene wat dink dat ons ʼn vetoreg vir minderhede kon beding, verkeer onder ʼn totale wanindruk. Sodanige uitkoms sou heeltemal onaanvaarbaar gewees het vir die grootste meerderheid van Suid-Afrikaanse burgers - en die internasionale gemeenskap sou dit ook nooit aanvaar nie. Soos dit staan het ons ʼn Grondwet onderhandel waarin alle partye pynlike kompromieë moes aangaan.”   

 

Die dekades na die 1992 referendum het polariserende klowe in die wit gemeenskap van Ja-Stemmers en Nee-Stemmers veroorsaak. Die Ja-Stemmers word verkwalik vir die Suid-Afrika van vandag en die Nee-Stemmers hou ʼn utopie voor van wat moontlik kon gebeur het as ons maar net Nee gestem het. Met die wetenskap van terugblik kon sommige dinge dalk anders verloop het of gedoen word. Ons kon moontlik ʼn bloedige rewolusie gehad het, ons kon moontlik langer uitgehou het met ʼn onregverdige bedeling wat onreg veroorsaak het. Ons kan vandag egter niks daaraan verander nie. 

 

Ons kan ten minste vandag as Ja en Nee-Stemmers en ook saam met gewone Suid-Afrikaners beslis sê: Ongeag ons eie verlede en ons Ja of Nee voorkeure in 1992 het ons nie ooreengekom:

  • dat vergrype, magsmisbruik en toenemende korrupsie ons land lamlê nie;
  • dat munisipaliteite deur kaders oorgeneem en ons dienslewering so brutaal faal nie;
  • dat die staat sy pligte versaak en belastingbetalers benewens die statutêre verpligtinge aan die een kant ook ʼn parallelle bydrae moet betaal vir ʼn privaatstelsel met ʼn normale mediese skema, sekuriteitsdienste, skoolgelde, en vele ander nie. 
  • dat ʼn goed gevestigde bedeling met ʼn uitstekende infrastruktuur en ʼn stewig en internasionaal kompeterende finansiële, industriële, landbou, myn en dienste sektor, vandag deur onbevoegdheid, diefstal en staatskaping slegs ʼn skaduwee van die eens trotse instellings is nie.

 

Die Apartheid van ʼn vorige bedeling het plek gemaak vir grandiose selfverryking en ongebreidelde korrupsie en magswellus op groot skaal. Die aanhef tot die 1996 grondwet wat plegtig deur elke politikus onderskryf word om 'n “samelewing gegrond op demokratiese waardes, maatskaplike geregtigheid en basiese menseregte te skep; die grondslag te lê vir 'n demokratiese en oop samelewing waarin regering gegrondves is op die wil van die bevolking en elke burger gelyk deur die reg beskerm word; die lewensgehalte van alle burgers te verhoog en die potensiaal van elke mens te ontsluit; en 'n Verenigde en demokratiese Suid-Afrika te bou wat sy regmatige plek as 'n soewereine staat in die gemeenskap van nasies kan inneem” is slegs in naam daar.  Alle beleidsraamwerke wat ons egter deesdae sien is in lyn met die ANC se uitgediende ideologie en is strydig met die grondwet en bly dié waardes net mooiklinkende woorde.

 

Presies dertig jaar na die aanvanklike referendum van 17 Maart 1992 kan ons almal (Ja en Nee Stemmers ingesluit) terugstaan en ʼn volledige bestekopname doen van die pas afgelope dertig jaar. Vanuit ʼn morele hoë grond kan ons bevestig dat :

  • Die Suid-Afrika wat in 1990 gevisualiseer is en met die onderhandelinge gekonkretiseer het, nie aan ons verwagtinge voldoen nie;
  • Dat die belofte van die nuwe Suid-Afrika van 1994 en sy potensiaal nie gerealiseer het nie; 
  • Dat die situasie en werklikhede van Afrikaners en ander minderhede in die 2022 Suid-Afrika nie ons land se leuse van !ke e: /xarra //ke, wat letterlik beteken diverse mense verenig, reflekteer nie.
  • Dat die nuwe Suid-Afrika ontnugtering en verwydering vir die meeste Suid-Afrikaners en ongelukkig ook weer ook tussen mekaar gebring het. 

 

Ons is almal ontnugter, Ja- en Nee stemmers en ook Suid-Afrikaners wat ewe ontnugter is oor hulle die beloftes van die ANC geglo het en verwagtinge gehad het. Om Ja- En Nee-Stemmers teen mekaar op te stel en verwyte te slinger is die kool die sous nie werd nie. Ons is almal saam in ʼn stryd teen tyd, verval en mislukking. 

 

Gewone Suid-Afrikaners, wit en swart, ryk en arm, jonk en oud sowel as Ja- en Nee-stemmers kan en moet mekaar vind binne ʼn vreedsame Suid-Afrika wat vir almal kan werk. Suid-Afrika het nie naastenby sy potensiaal bereik nie Ons kan Suid-Afrika weer herverbeel met realisme, Dit is nie die Grondwet wat misluk het nie. Dit is die interpretasie van die grondwet deur ideologiese lense waar die oorsaak van die probleem gesoek moet word. Die ANC se verknogtheid aan die Nasionale Demokratiese Revolusie en die Vryheidsmanifes bo die grondwet moet die verantwoordelikheid dra.

 

Ons blameer soms die regerende party dat hulle in die verlede vashaak. Om egter vandag nog oor die 1992 referendum te praat en ja-stemmers en nee-stemmers nog steeds te oor en weer te verkwalik is ook nie oplossing nie. In die 30 jaar sedert die 1992 referendum weet ons dat die huidige bedeling nie vir ons ʼn gewenste toekoms kan bied nie. Die toekoms van ons mense is weer eens in ons eie hande - soos dit al soveel keer in ons onstuimige geskiedenis was. Dit is tyd vir Ja-Stemmmers en die Nee-Stemmers om na 30 jaar die strydbyle te begrawe. Dit is niemand se belang om daardie gevegte van drie dekades gelede nog steeds te veg nie. Dit sal niks verander aan ons uitkoms in die hede nie.    

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: