Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Februarie 2024

Die Regspraktykraad se "slegs-Engels' eksamens


Ons het heelwat navrae van lede gehad oor die Afrikanerbond se standpunt oor die besluit en direktief van 13 Desember 2023 van die Regspraktykraad/Legal Practice Council om toelatingseksamens vir prokureurs, notarisse en aktevervaardigers slegs in Engels te laat aflê.

 

Die onderstaande skrywe deur die Voorsitter van die Afrikanerbond se Nasionale Raad, Dries Wiese, is op 24 Januarie 2024 aan die Regspraktykraad gestuur. Ontvangs is erken: 

 

 Die Regspraktykraad is volgens Art 4 van Wet 28 van 2014 en gewysig in 2017 tot stand gebring en die doel van die wet is “to provide a legislative framework for the transformation and restructuring of the legal profession that embraces the values underpinning the Constitution and ensures that the rule of law is upheld;”

 

Toegang tot die reg moet volgens die bostaande wet verkry word deur ”measures that provide equal opportunities for all aspirant legal practitioners in order to have a legal profession that broadly reflects the demographics of the Republic;”

 

Die ideaal is gestel na die demokratiese verkiesing in 1994 om die status van die ampstale van Afrikaans en Engels naas nege addisionele inheemse tale te handhaaf en te bevorder. Dit is verwoord in die Grondliggende Bepalings soos vervat in die 1996-Grondwet. Gebaretaal het in 2023 die status as twaalfde amptelike taal verwerf.

 

Die teendeel het egter gebeur. Afrikaans het as voertaal die amptelike status verloor met die gevolg dat Engels as die lingua franca van Suid-Afrika uittroon. Dit is eweneens geldig vir Afrikaans as regstaal. Die noodwendige gevolg is dat benewens Afrikaans, die ander ampstale nie voldoende beskerm word of bevorder word in hul funksie as regstaal nie en word Engels telkens verkies. Gelyke geleenthede/Equal opportunities kan hiervolgens nie wees om slegs Engels as vereiste te stel nie.

 

Die taalaktivis en prokureur Cerneels Lourens skryf by geleentheid oor ‘n lesing deur regter E Bertelsmann waartydens hy dit duidelik gestel het dat die taal van die kliënt in pleitstukke by voorkeur gebruik behoort te word. Hy verwys na elke litigant se fundamentele reg om hom/haar van ‘n taal te bedien wat hy/sy verstaan wanneer hy/sy hom of haar tot die hof wend – S v Pienaar 2000 (2) SACR 143 (NK). Die Regspraktykraad negeer die beginsel.

 

Dit het veel makliker geword om Engels te gebruik as regstaal en die uiteinde van die saak is dat Regsafrikaans stelselmatig aan sy eie genade oorgelaat word. Taal en die regte het van meet af 'n komplekse verhouding en is dikwels onlosmaaklik van mekaar. ‘n Regskundige het by geleentheid gesê: "Reg is taal. Wie toegang tot die regsproses soek, moet woorde hê of vind." Ongelukkig is die wanindruk wat bestaan dat dit slegs in Engels kan wees. Moontlik kan dit toegeskryf word aan die persepsie dat die bevordering van en voorkeur vir Engels en dat die opheffing van die individu in Engels, sal lei tot gevolglike welvaart. Dit is telkens deur kundiges uitgewys dat die oënskynlike voorkeur vir Engels in onderrig vir die rede, inderwaarheid 'n mite in Suid-Afrika is. Om eenvoudig toegang tot 'n taal te hê, beteken nie dat dit inherent voordelig is nie; wat werklik saak maak, is wat 'n persoon met die taal kan dóén. Afrikaanse regslui het uitstekend presteer, ook in Engels en daarom is die besluit van die Regspraktykraad (RPR) so teleurstellend.

 

Ons is dit eens met PANSAT se siening oor die Regspraktykraad se besluit, dat Engelse eentaligheid diskriminerend van aard is en mense uitsluit, in die geval Afrikaanse toetreders as prokureurs, notarisse en aktevervaardigers. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns is na ons mening heeltemal korrek in die standpunt dat  die gebruik van Afrikaans in die howe deur hierdie besluit negatief geraak word. Ons deel daarom die kommer dat geen van die ander inheemse amptelike tale in die toekoms tot volle regstale sal ontwikkel nie en dat die sprekers van ander tale behalwe Engels nie die howe kan benut as ʼn onontbeerlike instrument om hulle gedagtes en idees oor te dra nie.

 

 Net so is AfriForum se kommer geldig dat die Regspraktykraad die besluit sou geneem het op grond van die bewering dat “Afrikaanse kandidate onregmatig bevoordeel word omdat hulle in hulle moedertaal geëksamineer word, terwyl die eksamens nie in enige ander inheemse taal afgelê kan word nie.” Volgens Rapport van 6 Januarie 2024 word die siening bevestig deur Busani Mabunda, wat voorsitter is van die Regspraktykraad se onderwysraad.

https://www.netwerk24.com/netwerk24/nuus/aktueel/proks-sal-nou-net-engels-kan-praat-20240106

 

 Die Regspraktykraad se siening in die verband is ʼn lui manier om eerder taaluitsluiting deur slegs Engels te bevorder, as om die grondwetlike mandaat na te kom, deur tale te ontwikkel en die ontwikkelde vermoë in stand te hou en so by te dra tot die ontginning van die diversiteit van die land. Veral is die siening dat Afrikaanssprekers ‘onregmatig bevoordeel’ word deur Afrikaanse eksaminering dan juis ʼn bewys van die besondere waarde van moedertaal. Die Regspraktykraad skiet homself dus in die voet deur almal oor die voet in Engels te laat eksamineer en nie enige eksamenmateriaal in enige van die ander amptelike tale beskikbaar te stel nie. Die duidelike grondwetlike voorskrif in subartikel 6(2) van die SA grondwet bepaal dat die staat, waarvan die Regspraktykraad deel is, die inheemse tale moet ophef, word eenvoudig eenkant geskuif om Engels ter wille te wees.

Grondwet (6)(2) “Gesien die historiese inkorting van die gebruik en status van die inheemse tale van ons mense, moet die staat praktiese en daadwerklike maatreëls tref om die status van die tale te verhoog en hul gebruik te bevorder.”

 

Op die slegs Engels webwerf van die Regspraktykraad word bevestig dat ʼn soortgelyke besluit wat deur ʼn kennisgewing van 4 Maart 2019 bekendgemaak is deur ʼn besluit van 13 Desember 2019 teruggetrek is. Daar sou dan, terwyl konsultasieprosesse onderneem sou word, voortgegaan word om eksamens in Afrikaans en Engels aan te bied. Die skielike, onbehoorlike en ondeursigtige kennisgewing van Desember 2023 is nou reeds van toepassing op voornemende prokureurs wat in Maart 2024 die eksamen moet aflê. Vir verskeie voornemende kandidate is Engels ʼn tweede of derde taal. Dit is eenvoudig nie billik om studente in Afrikaans te dwing om nou die eksamen in Engels af te lê nie.   

 

Die Regspraktykraad se slegs Engels beleid mag voldoen aan die regering se diskriminerende kriteria vir transformasie maar is kortsigtig en nie in regsbelang in Suid-Afrika met sy diversiteit nie.

 

Langs die weg wil ons ʼn beroep op die Regspraktykraad doen om die besluit ter syde te stel en ʼn taalbeleid te ontwikkel in lyn met die voorskrifte van die Suid-Afrikaanse grondwet. Die reg moet toeganklik wees vir almal in die amptelike tale en moet gevolglik ook nie Afrikaanse se reeds verworwe status afwater, vir slegs die wat bedrewe is in Engels nie.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: