Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

          Februarie 2024

Selfbeskikking - maar net vir sommiges


Deur dr. Wynand Boshoff, LP


Ons het die laaste ruk by Die Eike heelwat navrae ontvang oor die status van selfbeskikking en hoe dit praktiese beslag kry of moet kry? Daar is ernstige debatte hieroor op verskeie sosiale media platforms. Met die instemming van dr Wynand Boshoff, plaas ons graag sy artikel wat op 29 Januarie in Maroelamedia geplaas is en doen dit ook met erkenning aan Maroelamedia. Ons plaas die skakel na die artikel onder. Die Afrikanerbond het in die verlede enkele besprekingsdokumente oor selfbeskikking of outonomie gesirkuleer en is dit op navraag beskikbaar of op ons webwerf. 

 

Selfbeskikking is ’n snaakse ding. Die ANC is absoluut daartoe verbind, as dit oor Palestina gaan. In Suid-Afrika is dit vir hulle ’n onding.

 

Vir party Afrikaners is dit ’n allesoorheersende strewe. Ander kan weer nie ’n duit omgee nie. Een ding wat nog lol, is om dit van “Verlang na die ou dae” na “Bou ’n nuwe toekoms” te bevorder. So lank dit met die eerste denkpatroon vereenselwig word, sal wye ondersteuning ontbreek.

 

Nogtans het elke gedagte ’n geskiedenis. Niks, nie eers Sionisme of Palestynse nasionalisme, is maar net skielik daar nie. Dit kan soms kwyn en dan weer verrassend lewenskragtig na vore kom – en dit is wanneer mense weer die spoor daarvan gaan soek.

 

Kom ons begin hierdie storie by die onderhandelings wat op 27 April 1994 uitgeloop het. Die belangrikste rolspelers was die NP (ou regering) en die ANC (soos verwag, die nuwe regering). Geeneen van hulle wou juis weet van selfbeskikking nie.

 

Vir die NP was dit ’n ongemaklike herinnering aan ’n beleid wat hulle onlangs vaarwel moes toeroep, omdat swart volke nie hulle politieke strewes in “tuislande” wou uitleef nie. Boonop was sommige polisie-aksies om minderheidsregering in stand te hou, nie juis slaaptydstories nie.

 

Die ANC was nie ongemaklik met selfbeskikking nie, dit was vyandig daarteen. Vir hulle was dit bloot “verdeel en heers”. Saam met reeds gevestigde swart regerings in Afrika was die slagspreuk: “For the nation to live, the tribe must die.”

 

Weerstand teen ’n nuwe, een-mens-een-stembedeling het hoofsaaklik van Afrikaners gekom – glad nie verrassend nie. Afrikaners was nie net op pad om ’n bevoorregte posisie in ’n ongelyke land te verloor nie. Magsverlies sou ’n onbeskermde bestaan in ’n onvriendelike omgewing beteken.

 

Twee “nasionale state” – Ciskei en Bophuthatswana – sowel as een selfregerende “staat” – Kwa Zulu – se regerings was ook teen die nuwe bedeling gekant. Was dit ’n behoefte om aan mag vas te klou, of was hulle werklik bekommerd oor die welstand van hulle eie volke in ’n onverdeelde staat?

 

In Bophuthatswana het die antwoord nie baie saakgemaak nie, aangesien opstande onder leiding van die ANC albei regerings tot ’n val gebring het. ’n Onsuksesvolle poging deur generaal Constand Viljoen en burgerlike magte om Bophuthatswana te red, het hom oortuig om liewer te onderhandel.


Ciskei se regering het tot ’n val gekom nadat die Ciskei-weermag op betogers teen die regering losgebrand het en 24 mense doodgeskiet het. KwaZulu se regeringsparty het as die Inkatha-Vryheidsparty aan die verkiesing deelgeneem en het van 1994 tot 1999 in KwaZulu-Natal regeer.

Op 23 April het Viljoen se nuutgestigte Vryheidsfront, ’n “Akkoord” met die NP/dienende regering en die ANC gesluit. Selfbeskikking kon deel van die nuwe bedeling wees, mits voldoende steun in die komende algemene verkiesing bewys kon word; en ’n “Volkstaatraad” sou dit dan verder ondersoek.

 

Die Vryheidsfront se 425 000 stemme op die nasionale stembrief was “voldoende steun” en Beginsel XXXIV vir die skryf van ’n nuwe grondwet is by die bestaande 33 beginsels gevoeg. Die Volkstaatraad het tot stand gekom en verskeie aspekte bespreek – veral die waar en hoe.

 

Oor die “waar” was daar basies drie sienings:

  1. Die Afrikanerland is waar Afrikaners woon, nes Skotland is waar Skotte woon. Die meeste Afrikaners woon in die noordooste van die land. Dat veel groter getalle ander mense ook daar woon, kan met grense tussen woonbuurte bestuur word. Dan hoef die ekonomie nie ontvleg te word nie.
  2. Afrikaners sal ’n land moet opbou, in ’n gebied wat nie sterk betwis word nie. ’n Yl bevolkte streek met die nodige ontwikkelingspotensiaal is die beste. ’n Toestroming van, tweehonderdduisend Afrikaners moet genoeg wees om ’n meerderheid te vorm, terwyl alle inwoners se regte bly staan.
  3. Grondgebied is eintlik oorbodig. Kultuurrade kan Afrikaners regoor die land, selfs in die buiteland, bedien.

 

Almal kon saamstem dat nie alle Afrikaners in ’n “volkstaat” sou kon of wou bly nie. Daarom is die idee van kultuurrade algemeen aanvaar. Maar met grondgebied was dit anders en die groepe kon mekaar nie oortuig nie. Uiteindelik is al die moontlikhede aan die regering voorgelê.

 

Die regering se reaksie was dat hulle nie hoef te kies nie – dit is beslis nie hulle strewe nie. Die bal is weer terug by diegene wat selfbeskikking wil hê. Ongeag die meningsverskille, het die Vryheidsfront voortgegaan om die strewe tot selfbeskikking in die “finale” grondwet te laat verskans. Artikel 235 van die 1996-grondwet lui uiteindelik:

Die Suid-Afrikaanse bevolking as geheel se reg op selfbeskikking, soos in hierdie Grondwet vergestalt, belet nie, binne die raamwerk van die reg, die erkenning nie van die konsep van die reg van enige gemeenskap wat ʼn gemeenskaplike kultuur- en taalerfenis deel, op selfbeskikking binne ʼn territoriale entiteit in die Republiek of op enige ander wyse, soos deur nasionale wetgewing bepaal.

 

Ook bestudeer die VF die Volkstaatraad se voorstelle en kombineer kultuurrade vir Afrikaners regoor die land, met ’n gebied wat dele van die Noord- en Wes-Kaap insluit. Hiermee bevestig die party die siening dat, as iemand vir jou vryheid moet trek, dit jy moet wees.

 

Twee belangrike woordvoerders reageer in 1998 op hierdie voorstelle. Die minister van staatkundige ontwikkeling, mnr. Valli Moosa, sê in ’n parlementêre debat:

The pursuit on the part of the Freedom Front and other Afrikaners to strive towards the development of a particular region in the country (the North Western Cape corridor) as a home for Afrikaner culture and language within the framework of the constitution and Bill of Rights, is in government’s view indeed a legitimate pursuit.

En die destydse adjunkpresident, later president Thabo Mbeki minder tegemoetkomend:

Show us the animal, create a reality. Create a de facto reality that we can recognise de jure.


Die boodskap is duidelik. Die regering gaan nie ’n vinger verroer vir selfbeskikking nie – nie uit hulle eie nie. Maar diegene wat dit wil hê mag dit nastreef; die regering reken dis ’n wettige strewe; en as daar iets tot stand gebring is, kan die regering genader word om dit in wetgewing te erken. Teen daardie tyd was die VF nogal in sy noppies. “Terwyl ons jou belange beskerm waar jy is, kan ons bou aan ’n langtermynoplossing – en dit alles is wettig,” was die onderliggende boodskap. Die party het kiesers in 1999 benader as “Die span met ’n plan”.

 

Die Demokratiese Party het kiesers egter op ’n heel ander manier benader: Hulle onderliggende boodskap was: “Ons het lankal gesê almal moet stemreg kry en nou sien julle dit was nog altyd ’n goeie idee. Wat ons nodig het, is net ’n beter regering as die ANC.” Daarom die appèl: “Fight back”.

 

Raai wie het die kiesers se verbeelding aangegryp? Nie die span met die plan nie, maar die een wat wil terugslaan. Ons kon skielik internasionaal sport doen, reis, akademiese konferensies bywoon en was die liefling van die wêreld. Wie wil dit op die spel plaas? Die VF kry net 127 000 stemme.

 

Sommige ANC’s wou sommer sê selfbeskikking het verval – daar is nie meer bewese steun voor nie. Die drie VF-LP’s moes wal gooi: “Nee, die grondwet erken dit, dit staan daar.”

 

Maar daar moes ook aksie kom, want as niks gebeur nie, kon dit maklik in prof. Koos Malan se woorde ’n dooie konstitusionele artikel word. Toe die Afbakeningsraad Orania in 2000 in ’n groter munisipaliteit wou oplos, was artikel 235 deel van die verweer.

 

Met opvolgende verkiesings het die VF (sedert 2001 die VF Plus) geleidelik sy steun herwin, met die groot deurbraak in 2019, toe die party weer 415 000 stemme verwerf het. Selfbeskikking was terug op die agenda – met goeie rede. Ander “grondwetlike waarborge” het begin verkrummel.

 

Die papierspoor is weer van vooraf belangrik. Na baie onderhandelings was daar ’n Akkoord. Die Akkoord lei tot ’n beginsel wat die grondwetskrywende vergadering moes volg; dit lei tot ’n grondwetlike artikel. In konstitusionele terme is dit die kragtigste wapen. Kom ons loop agteruit:

 

Daar is ’n grondwetlike artikel. Dit is uiters waardevol, maar skryf niks aan die regering voor nie. Dit erken die wettigheid van die strewe en volg op ’n Akkoord wat op ’n deurslaggewende oomblik vyandelikhede beëindig het. Dit sê eintlik: “Ons erken die strewe, maar bewys eers julle steun.”

 

Uiteindelik bied ’n vryheidstryd nie kortpaaie nie. As my voertuig gesteel is, kan ek (ten minste teoreties) polisie toe gaan. As ek kan bewys dit was myne en dis van my weggeneem, sal hulle dit soek. As my papierwerk reg was, sal die versekering vir my ’n ander een gee.

 

Vryheid werk nie so nie. Jou papierwerk kan perfek wees, maar niemand gaan dit vír jou terugkry nie. Afhangend van jou strategiese waarde en diplomatieke vermoë, kan die internasionale gemeenskap jou dalk toelaat om jou vryheid terug te kry. En dan kan jy vir vryheid werk of veg, of al twee.

 

Maar jy moet dit self doen.

 

Lees die artikel aanlyn by Maroelamedia:

https://maroelamedia.co.za/debat/meningsvormers/selfbeskikking-maar-net-vir-sommiges/ 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: