Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Junie 2022

Mthethwa se vlagfoefie kan nooit sosiale kohesie kweek nie

Deur Prof. William Gumede

 

Op Sondag 22 Mei 2022 skryf Prof William Gumede ʼn besondere treffende stuk oor die vlagpaal, minister Nathi Mthetwa en die invloed op versoening. Met die instemming van Prof Gumede het ons die artikel na Afrikaans laat vertaal en plaas dit dan graag ook met erkenning aan Sunday Times. Alhoewel die regering die planne vir die wyle laat vaar het moet die aanvanklike gedagte beoordeel word in die huidige politieke tydsgewrig.

 

Nathi Mthethwa, Minister van Sport, Kuns en Kultuur, se plan om R22 miljoen uit te gee op ’n 100 m hoë vlagpaal is die nuutste in ’n reeks oppervlakkige pogings deur die ANC en regeringsleiers om sosiale kohesie deur publisiteitsfoefies te kweek.

 

Sosiale kohesie kan nie deur vlae, skoolkinders wat die volkslied sing of deur politici se edikte gekweek word nie. Dit kan slegs gekweek word deur inklusiewe regering in die breedste belang van alle gemeenskappe, die verskaffing van billike, gehalte-openbare dienste aan almal en ’n eerlike regering.

 

Nathi Mthethwa, Minister van Sport, Kuns en Kultuur, se plan om R22 miljoen uit te gee op ’n 100 m hoë vlagpaal is die nuutste in ’n reeks oppervlakkige pogings deur die ANC en regeringsleiers om sosiale kohesie deur publisiteitsfoefies te kweek.

 

Sosiale kohesie is grootliks afhanklik van ’n gelyke vennootskap tussen die regering en nie-regeringspartye soos sakeondernemings, burgerlike samelewingsorganisasies en gewone burgers. Ongelukkig glo talle in die ANC en die regering dat slegs die idees wat van die ANC en die regering kom, geldig is; dat slegs die regering ontwikkeling kan lei en beleide kan maak. Dit beteken dat groot nie-regeringsgroepe uitgesluit, gemarginaliseerd en oorbodig voel – wat daartoe lei dat hulle dinge alleen aanpak en so sosiale kohesie ondermyn.

 

Die regering moet die ware kwessies aanpak wat sosiale kohesie ondermyn en nie probeer om dit deur spandabelrige plasebo's soos R22 miljoen-vlae te bevorder nie.

 

Die ANC se uitsluiting van minderheidsgroepe in die party en die toenemende aanvalle op minderheidsgroepe deur nuwe Afrikanistiese en populistiese partye soos die EFF het veroorsaak dat daardie gemeenskappe onder beleg voel en daarom toevlug soek in etniese laers vir beskerming of hulle aan die openbare lewe onttrek om op gesinne en “hulle” gemeenskappe te fokus en so sosiale kohesie ondermyn.

 

Die ANC se ontplooiing van slegs “kaders” as staatsamptenare en om kontrakte slegs aan politieke kapitaliste met bande met die ANC te gee, het gelei daartoe dat nie-ANC-burgers en -maatskappye voel dat die regering alleenlik vir ANC-lede en -ondersteuners is. Hulle voel uitgesluit, en dit ondermyn sosiale kohesie.

 

Dan is daar ook die groeiende persepsie dat aanstellings in die staatsektor net gegrond is op bande met die ANC, en om die “regte” kleur en van die “regte” etniese groepe te wees. Talle leiers van die ANC en Afrikanistiese politieke partye en hulle ondersteuners sien Suid-Afrika se diversiteit toenemend as ’n struikelblok eerder as ’n sterk punt. Die doelbewuste aanval op diversiteit deur teen-diversiteitsgroepe ondermyn sosiale kohesie.

 

Wydverspreide korrupsie ondermyn sosiale kohesie en veroorsaak dat gewone burgers vertroue in die regering verloor. Dit skep die indruk dat leiers van die regerende party slegs in die regering is vir selfverryking eerder as om in die breedste belang van die hele samelewing te regeer.

 

Die regering se klaaglike mislukking om openbare dienste en werksgeleenthede aan Suid-Afrikaners te lewer, is een van die grootste ontwrigters van sosiale kohesie omdat dit die regering se geloofwaardigheid, sy gesag en sy vermoë ondermyn om die spilpunt te wees waarom alle burgers kan herenig.

 

Die regering se onvermoë om die oppergesag van die reg af te dwing, vernietig ook sosiale kohesie. In talle gevalle misluk die regering om burgers te beskerm teen die gevaar van nie-regeringspartye soos misdadigers, minibustaxibestuurders en gewapende politieke bendes soos die MK-veterane, en dit ondermyn ook sosiale kohesie.

 

Die regering was ook nie tydens die openbare plundery in KwaZulu-Natal en Gauteng verlede jaar in staat om die lewens, sakeondernemings en eiendomme van sy burgers en openbare infrastruktuur te beskerm nie. Burgers en gemeenskappe moes hulleself verdedig deur selfbeskermingseenhede te vorm, op privaat sekuriteit of, in sommige gevalle, selfs op taxiverenigings staat te maak om burgers te beskerm. Suid-Afrika se kultuur van geweld en die regering se onvermoë om dit die hoof te bied, ondermyn inderwaarheid sosiale kohesie.

 

Die regering is ook nie in staat om eiendomsregte te versterk nie. Die regering se versuim om burgers en hulle eiendom teen skade en verwoesting deur ander te beskerm, ondermyn ook sosiale kohesie en kweek ’n klimaat van onsekerheid wat burgers en sakeondernemings aanmoedig om te emigreer en hulle vaardighede en kapitaal landuit te neem.

 

Suid-Afrika het parallelle regerings met verbode sones waar plaaslike “sterkmanne” en diktatoriale tradisionele leiers heers. Hierdie gebiede is parallelle “state” van die amptelike Suid-Afrikaanse regering. Die burgers van hierdie parallelle “state” geniet nie grondwetlike beskerming nie, en dit ondermyn sosiale kohesie.

 

Die regering moet die ware kwessies aanpak wat sosiale kohesie ondermyn, en nie probeer om sosiale kohesie deur spandabelrige plasebo's soos R22 miljoen-vlae te kweek nie.

 

·        William Gumede is ’n medeprofessor in die School of Governance, Universiteit van die Witwatersrand en die skrywer van “Restless Nation: Making Sense of Troubled Times” (Tafelberg)

·        Lees die oorspronklike artikel aanlyn by die Sunday Times https://www.timeslive.co.za/sunday-times/opinion-and-analysis/2022-05-22-mthethwas-flag-gimmick-can-never-foster-social-cohesion/

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: