Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Mei 2022

Totempaal-nasionalisme

Deur Frederik van Dyk


Waarom kan die ANC aan die een kant bevrydingspartytaal soos “demografiese verteenwoordiging” en “regstelling” en “redding van ’n taal” gebruik, terwyl die party aan die ander kant toenemend ’n paniekerige drang openbaar om volgens rassehiërargie en elite-skepping te oorheers, uit te sluit en wantroue te skep? Frederik van Dyk het die vraag in ʼn artikel in LitNet gevra en met vergunning van Frederik van Dyk en met erkenning aan LitNet plaas ons graag die artikel soos wat dit verskyn het.

 

Dit het vir die eerste keer in die geskiedenis van die grondwetlik demokratiese Suid-Afrika moontlik geword om krities te praat oor sekere heilige koeie van ons nuwe bedeling.

 

Die vernaamste daarvan, regstellende aksie, is natuurlik grondwetlik geoorloof ingevolge artikel 9(2) en (3) van die Grondwet (die gelykheidsklousule) asook die voos gedebatteerde eiendomsklousule in artikel 25, wat onder meer restitusie van daardie eiendom moontlik maak wat weens rassediskriminasie deur die apartheidstelsel afgeneem is. Ook in artikel 29(2)(c) word die reg op onderrig in ’n voorkeurtaal afgebaken binne die eise wat deur die grondwetlike regstellingsnoodsaak gestel word.

 

Die konstitusionalisering van regstellende aksie beteken egter nie dat daardie regstellende beleide en neweskikkende wetgewing wat ingevolge die Grondwet uitgevaardig word, noodwendig die beste uitdrukking van beleidsmatige regstelling is nie. Afhangende van wie ons regeer, wat hulle ideologiese uitgangspunte is en watter realpolitik-spel hulle speel, sal regstellende aksie soos in die Grondwet vervat, ander beleidsgedaantes en -spesifikasies kan kry. Ons is immers ook deel van ’n uiters komplekse, wêreldwye politieke ekonomie wat sal beïnvloed watter beleidstappe op ’n gegewe oomblik beter sal wees om grondwetlik-normatiewe doelwitte te bereik.

 

Hierdie gewaarwording was grootliks afwesig uit die hoofstroompolitiek en samelewingsdiskoers gedurende die afgelope 25 jaar. Verskillende invloedryke segmente van die Suid-Afrikaanse samelewing het oor die algemeen saamgestem dat SEB- (Swart Ekonomiese Bemagtiging-) wetgewing en beleide wat regstelling volgens die ANC-regering se wil rig, polities min of meer onaantasbaar is. Vir talle wit, Afrikaanse intellektuele en gemeenskapsleiers was dit die presiese prys om te betaal vir jare se bevoorregting. Onder media- en openbare meningsvormers was daar die skynbare konsensus dat kritiek op SEB-wette en dies meer ten minste grens aan reaksionêre rassisme, apartheidsnostalgie, wit meerderwaardigheidsin of iets dergeliks.

 

Debat oor bestaande beleid is as’t ware in die hoofstroom gekanselleer. Niemand mog openlik mor daaroor nie; dit is óf ’n morele kleinood óf op die minste ’n ongemaklike pil om te sluk ter wille van vrede. Daarmee basta.

 

’n Aantal bevraagtekenbare politieke gebeure gedurende die afgelope 10 jaar het egter die grond voorberei vir die gewaarwording dat die ANC-regering se regstellende beleide en wetgewing dalk nie die beste uitdrukking gee aan die regstellingsnoodsaak in die Grondwet nie. In 2011 het Mzwanele “Jimmy” Manyi, destyds ’n regeringswoordvoerder, die “ooraanbod kleurlinge” in die Wes-Kaap betreur. Sy paternalistiese kommentaar was in die konteks van wysigings aan die Wet op Gelyke Indiensneming, wat geskoei is op die ANC se beleidsbenadering tot regstellende aksie. Hierdie benadering behels dat gelykheid ten beste sal geskied indien sosiale goedere soos poste en openbare ampte die demografiese samestelling van die land weerspieël. Die voorgenome doel, aldus die ANC en hoofstroomdenke sedert die laat 1990’s en vroeë 2000’s, is om die sistemies-onderdrukte swart meerderheid proporsionele toegang tot welvaartsmeganismes en openbare invloed te gee.

 

Na afloop van die Zuma-era is daar geredeneer dat die ANC se regstellingsrasionaal ’n dekmantel vir kaderontplooiing is en dan net ’n klein elite onder die swart bevolking bevoordeel. Selfs in die vroeë jare van Ramaforie is hierdie kritiek dikwels hewig gekanselleer, en dit sonder intelligente teenargumente. ’n Gewilde terugkappery behels die strooiman-argument dat die twyfelaars van bestaande regstellende en bemagtigingswetgewing in weerwil van die Grondwet self argumenteer. Dit is natuurlik nie waar nie – kritiek op beleidsmanifestasies beteken nie die kritikus trek die bron van die beleid self in twyfel nie. Die Grondwet is juis oop vir ’n alternatiewe uitleg wat steeds die doel van regstelling kan heilig.

 

In onlangse weke het twee verdere insidente egter meer lig gewerp op die effek van die ANC se beleidsbenadering tot regstelling en bemagtiging, en dalk selfs op die motiewe van sommige in die regerende alliansie. Die eerste is Blade Nzimande, minister van hoër onderwys, wat na jare se relatiewe stilte oor taalkwessies aan universiteite, onder sy klip uitgeseil en gal gebraak het oor die inheemsheid van Afrikaans in die nadraai van die Konstitusionele Hof se uitspraak in Unisa v AfriForum. In hierdie saak het die hoogste hof nie net beslis dat Unisa se afskaffing van Afrikaans en die daaropvolgende Engelse eentaligheid ongrondwetlik was nie. Die hof het ook Afrikaans se geworteldheid in hierdie land beklemtoon. Nzimande het egter voet by stuk gehou dat Afrikaans se klassifikasie as “uitheems” in sy departement se Raamwerk vir Taal in Hoër Onderwys, in kontras met “inheemse Suid-Bantoetale”, ten doel het om Afrikaans te “red” van “wit, regse” komplotte. Dit is natuurlik onduidelik hoe die effektiewe uitrangering van ’n hele taalgroep tot die redding van ’n taal kan bydra.

 

Nietemin, ’n verdere voorval is die stief behandeling wat twee wit kandidate vir regtersposte by die onlangse Regterlike Dienskommissie- (RDK-) onderhoude ontvang het. Advokate Unterhalter en Dodson SC is van ons land se voorste regsbreine, maar hul kandidaatskappe is kortgeknip deur karakters met twyfelagtige optrede soos Busisiwe Mkhwebane en Bashier Vally, wie se regsloopbaan nie eens naastenby kers vashou by dié van Unterhalter en Dodson nie. Die twee regsgeleerdes is gepeper met vrae oor hul manlikheid en witheid, sonder agting vir hul regskennis en ervaring, en ten spyte van die afwesigheid van enige wit persone op die hoogste hof se banke (’n realiteit wat strydig is met die grondwetlike bepaling dat die regbank die nasionale demografie “breedweg” moet weerspieël). Die RDK-insident is deur progressiewe platforms wat dikwels bestaande regstellingsbeleid stoer ter wille was, skerp gekritiseer.

 

Wat is hier aan die gang? Waarom kan die ANC aan die een kant bevrydingspartytaal soos “demografiese verteenwoordiging” en “regstelling” en “redding van ’n taal” gebruik, terwyl die party aan die ander kant toenemend ’n paniekerige drang openbaar om volgens rassehiërargie en elite-skepping te oorheers, uit te sluit en wantroue te skep?

 

Die totempaal is ’n gepaste metafoor vir hierdie tweekantige, nasionalistiese verskynsel. Totempale is religieuse monumente wat in Noord-Amerikaanse, Baltiese en Slawiese kulture te vinde is. Die profiele van natuurgeeste en gode wat as die simbole van oppermag en geregtigheid dien, word dikwels al om die enorme houtpale uitgekerf. Die totempaal straal sy gesag oor sy gemeenskap uit, in talle rigtings. Verskillende geeste en gode se profiele verteenwoordig ook binêre, soos lig en donker, straf en beloning.

 

Soos ’n totempaal het die ANC twee teenstrydige gesigte wat gesagmatig die nasionale agenda oorheers. Die gesig van die ANC in die vroeë grondwetlike demokrasie is ferm dog regverdig: nasionalisties ten einde menswaardigheid onder swart mense te herstel, gelykheid op te eis en regstelling te beding, maar sonder dat oorheersingsdrang die oorhand kry. Die ander gesig, wat beslis in die RET-faksie en die EFF as ANC-afstigsel die oorhand het, is ’n oorheersingsugtige “swart eerste”-nasionalisme, gebore uit die bewapening van slagofferskap, die selfsug van patronaatskap en in die politieke hart van mense soos Nzimande, Panyaza Lesufi, Malema en Dali Mpofu.

 

Eersgenoemde gesig word vergestalt in die ferm regvaardigheid van ’n Nelson Mandela in die Rivonia-verhoor: “I have fought against white domination, and I have fought against black domination. I have cherished the ideal of a democratic and free society in which all persons will live together in harmony and with equal opportunities.”

 

Laasgenoemde is ’n jong monster wat op onopgeloste generasietrauma teer. En hierdie trauma kan ons oplos slegs as die regering, alle gemeenskappe en ons leiersfigure saamtrek om in nederigheid en samewerkingsgees die alkantige wandade van die verlede te erken, voetsoolvlakplanne te beraam om na die weerloses om te sien, die verdienstelike ontneemdes te help herbou, en mekaar se persoonlike en kulturele lewenservarings na waarde te skat. En soos ek weer sal sê wat die regerende party betref: ANC delenda est, en dít eerder gouer as later.

 

* Frederik van Dyk is ʼn direksielid van StudentePlein, ʼn Stellenbosch-gebaseerde organisasie sonder winsbejag ter bevordering van Afrikaanstaligheid en opleiding

·        Lees die artikel aanlyn by LitNet

https://www.litnet.co.za/die-anc-regering-se-totempaal-nasionalisme/

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: