Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Oktober 2022

Tradisionaliste of rojaliste 

     - 'n Afrikaner perspektief


Deur  Jan Bosman  

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond

 

  Die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal beskryf ʼn rojalis as “ʼn Aanhanger van die monargie; koningsgesinde.” In die ure sedert die dood van Koningin Elizabeth II van Brittanje sien mens op die sosiale media die verskillende lofbetuiginge van staatshoofde, bekendes en politici van regoor die wêreld. Sonder om by die lofbetuiginge by te voeg moet mens noem dat Koningin Elizabeth II  die een konstante baken was in ʼn wêreld wat deurlopend verander. In die meeste van ons se leeftyd was sy maar net altyd daar. Dit is inderdaad die einde van ʼn era.

 

Opmerklik is ook die eer en hulde op die sosiale media van soveel Afrikaanse mense. Hier en daar is wel die verwysing na die geskiedenis wat ons voorsate onder die Britse ryk deurgemaak het. As daar egter in die laaste weke na die sosiale media plasings van soveel mense, veral Afrikaners gekyk word moet die vraag gevra word. Vind Afrikaners aanklank by haar en wat sy verteenwoordig as rojaliste of is daar iets anders?

 

Bes moontlik verteenwoordig Koningin Elizabeth iets waarmee Afrikaners wel identifiseer en dit is respek vir tradisie. Tradisie het sy oorsprong in die Latynse wortels van die woord tradere, wat volgens die HAT ‘Oorhandig’ beteken en dan word tradisie soos volg verklaar: “Eerstens: Die oordra van geslag aan geslag, mondelings of in geskrif, van geestelike besittings en kultuurgoedere; Tweedens Die navolging van vaste oorgelewerde gebruike, menings, gevoelens, beginsels, Derdens is die gebruike wat binne ʼn groep oorgelewer is.   Ons tradisies is te vinde in ons lewenswandel, ons geloofslewe, ons skoolstelsel, universiteite en akademie, filosofies en politiek, militêr en ons burgerlike organisasies en op vele ander terreine. Dit is dus nie verbasend om dan die Britse ooreenkomste te vind, wat in die meeste gevalle waarskynlik die oorsprong het in die koloniale verlede van Suid-Afrika waaronder Afrikaners ook onderworpe was.  Die Britse monargie met al sy foute en skandale in die individue in die koninklike gesin word nie gesien as verteenwoordigers van Afrikaners nie, maar identifiseer ons wel met die ryk tradisie en die respek waarmee dit gepaard gaan.

 

Ons voorsate mag van Europese afkoms wees, Frans, Hollands of Duits en Engels maar ons identifiseer waarskynlik die sterkste met ons Engelse voorsate in ons gebruike en tradisies vandag. Rugby en krieket, spek en eiers en marmelade, so Engels as kom maar dit is deel van ons daaglike lewenswyse. ʼn Koerantman het eenkeer in ʼn gesprek gesê dat Afrikaners waarskynlik beter is in die uitlewing van Engelse tradisies as die Engelse self.  

 

Oor haar dood en haar nalatenskap sal nog baie gesê word. Dat sy waardigheid uitgestraal het is verseker so en dat sy die vergestalting is van ʼn ryk tradisie wat wyd gerespekteer word, is nog meer so.  Dit het ons gesien in die militêre presisie en vertoon van haar begrafnis. Dit het fyn beplanning, eindelose geduld en eeue se ingesteldheid geneem om alles oënskynlik seepglad te laat verloop.   

 

Dalk ook ʼn ander karaktertrek wat ook tiperend is van Afrikaners. Die Latynse spreuk “De mortuis nihil nisi bonum” word vry vertaal as “Moenie kwaad spreek van die dooies nie.” Dit kom neer op die normale en basiese ordentlikheid van respek vir die dood en eerbied vir die naastes.  Die laaste maande het so bietjie van die wrewel van sosiale media gesien in die dood van verskeie bekendes.

 

Natuurlik is almal ook bekendes, soos politici en koninklikes ook menslik en het ook foute gehad. Onmiddellik na hulle dood is dit egter die foute en die gewaande foute, waarin mense hulle op sosiale verlustig het. Afrikaners is egter meestal grootgemaak met die wete dat as mens niks goeds van iemand ten tyde van sy of haar dood kan sê nie, bly dan liewers stil! Dit wil egter voorkom asof daardie basiese respek oor die algemeen ontbreek in die sosiale media.

 

William Gladstone, voormalige Britse Premier het gesê: “Wys vir my die manier waarop 'n nasie omgee vir die dood, en ek sal met wiskundige akkuraatheid die sagte genade van sy mense, hul respek vir die wette van die land en hul lojaliteit teenoor hoë ideale kan bepaal." Ons sal dit in die komende dae en maande sien. Dit is hierin waarin Brittanje en die res van die wêreld getoets sal word.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: