Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

        Maart 2024

Transformasie beteken 'slegs swart" in die ANC se rassyferspel

 

Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond


 Enkele weke gelede het die Sunday Times die onverkwiklike stand van gebeure uitgelig by Transnet. Lees die berig in Sunday Times Die berig is gebaseer op drie goedgeplaaste bronne wat ingelig is oor die Transnet situasie. Volgens die bronne het die Transnet direksie ʼn lys van drie voorkeurkandidate vir drie senior aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, voorgehou. Die berig wil dit eerder hê dat die betrokke kandidate geweeg is en te lig bevind is deur sommige lede van die ANC se ontplooiingskomitee. Hulle het die aanstellings geblok na kommer oor transformasie aangesien nie een van die drie swart Afrikane is nie. Dit getuig van die ANC se voortdurende naïewe optrede binne die transformasie debat. In daardie week het Gwede Mantashe in die SONA debat selfs aangedui dat hulle sal voortgaan met die beleid.

 

Verlede week het Rapport berig oor Regter Mandlenkosi Percival Motha van die Pretoria Hooggeregshof wat van die advokate wat voor hom verskyn het, en ʼn verduideliking geëis het oor waarom daar nie ʼn enkele swart advokaat in hulle geledere was nie.  (Lees die berig hier) In die lig van die voortdurende onthullings dat die ANC se kaderontplooiingskomitee hom bemoei het met die vul van regtersposte, moet dit nie vreemd opval nie. Die ANC se transformasiebeleid het deurgesyfer na die regbank.

 

In beide gevalle word die ANC se ontplooiingskomitee en transformasiebeleid as hoër geag as die van die Suid-Afrikaanse grondwet wat gewortel is in gelykheid, die oppergesag van die reg, en die inherente waardigheid van elke burger. Die Transnet kandidate en wit advokate het gedink hulle sal ook gelykheid en nie-rassigheid ervaar. Veral Hoofstuk 10 van die SA Grondwet wat handel met Openbare Administrasie Art 195 (1)(h) moet in die breë verteenwoordigend wees van die Suid-Afrikaanse bevolking, met indiensnemings- en personeelbestuurspraktyke wat gebaseer is op vermoë, objektiwiteit, billikheid en die behoefte om die wanbalanse van die verlede reg te stel ten einde breë verteenwoordiging te bewerkstellig.

 

Transnet wat reeds sukkel om te funksioneer as gevolg van die uitvloei van kundigheid word al meer ʼn slagoffer van die regering se rasbeleid wat slegs Swart Afrikane in leierskapsposisies wil aanstel ongeag ervaring, meriete of kundigheid. Ons beleef nou dieselfde op die regbank. Dit is die gevolge van die beleid van transformasie. Die ANC se ontplooiingskomitee tree ongrondwetlik op (Vergelyk Art 195 oor die Staatsdiens): “Geen werknemer van die staatsdiens mag begunstig of benadeel word slegs omdat die persoon ʼn bepaalde politieke party of saak steun nie.”

 

Die ANC en die regering se gedienstigheid aan die ANC se ontplooiingskomitee in stede van die grondwet, bevestig opnuut dat ras-ideologie die dryfveer moet wees en dat die ANC al dieper in die moeras wegsak  en hoe meer hulle daaruit probeer kom hoe meer slagysters en landmyne word afgetrap. Transnet en soveel staatsondersteunde  entiteite word gedwing om in die rassespel saam te speel in ʼn wedstryd waarvan die spelreëls deur die ANC bepaal word terwyl hy terselfdertyd die skeidsregter is en terselfdertyd die doelpale skuif, soos en wanneer dit hom pas. Die regbank begin ook steier onder die transformasievereistes. Blinde en slaafse navolging van die voorskrifte van Luthuli-Huis is die enigste vereiste en nie meriete of bevoegdheid nie. 

 

Die ANC se verknogtheid aan ʼn rasgedrewe beleidsraamwerk onder die dekmantel van transformasie word geïnterpreteer en toegepas buite die letter en gees van die grondwet. Hierin is daar nie plek en ruime vir wit, bruin of Indiër Suid-Afrikaners nie. Slegs Swart Afrikane is in die rashandboek van die ANC.  Die ironie is dat die term transformasie nie een keer in die grondwet voorkom nie maar is dit waarskynlik die term wat die meeste gebruik word om ʼn bepaalde politieke ideologie te pas en te dryf. Van werklike gelykheid, nie rassigheid en nie -diskriminasie is hier dus nie sprake nie. ʼn ANC-lidmaatskapkaart het niks anders geword as ʼn lojaliteitskaart nie, met kaderontplooiing as die beloning.

 

In sy eenvoudige verstaan van die toepassing van transformasie, volgens die ANC, is dat alles wat wit, bruin en Indiër is met swart vervang moet word. Soos wat dit nou toegepas word, word die staatsdiens vervreem en ontneem van ʼn professionele diens

 

Die doel van 'n professionele staatsdiens is om die belange van die publiek te dien, die regeringsbeleid uit te voer, en om 'n regverdige, etiese en doeltreffende regeringsdiens aan die samelewing te bied. 'n Professionele staatsdiens verwys na 'n openbare diens wat deur gekwalifiseerde en ervare individue beman word en wat toegewyd is aan die effektiewe en etiese uitvoering van regeringsverantwoordelikhede. Hierin speel meriete ʼn groot rol en nie die nukke en grille van die ANC se ontplooiingskomitee nie.

 

Die ANC se ontplooiingskomitee wat transformasie dryf waarin 'Black African' ten alle koste aangestel word, verreken nie die gevolge en konsekwensies nie. Die skrootwerf van rasaanstellings in die staatsdiens en staatsondersteunde instellings soos Transnet en Eskom is besaai met die brokstukke van nepotisme, kader-ontplooiing en gevolglike korrupsie en mislukkings. Die regter se aandrang op swart advokate speel in dieselfde transformasie liga.

 

Terwyl die grondwet verwys na die ongeregtighede van die verlede is die regering, ondersteun deur die ANC ontplooiingskomitee en die toepassing van die beleid van transformasie besig om nuwe onreg in die hede te skep.  Die geskiedenis sal hard oordeel oor die aandadigheid van die grondwetlike bestel wat apartheid moes vervang het maar eerder ʼn stelsel gevestig het met nuwe onregte deur ras-manipulering en nuwe diskriminasie.

 

. Dit geld die absoluut verwoestende werk van die ANC se ontplooiingskomitee maar terselfdertyd ook die Regterlike Dienskommissie. Rapport waarsku gevolglik in sy redaksionele kommentaar oor die regbank: “Die afgelope drie dekades was Suid-Afrika se howe grotendeels bastions van onpartydigheid en uitnemendheid in ‘n see van politieke verval - die enkele vrot appels soos Hlophe ten spyt. Maar daar is geen waarborg dat dit vir ewig so gaan bly nie, soos Dolamo se uitspraak in die Survé-saak en Rapport se kommerwekkende hoofberig getuig. Alles begin by die Regterlike Dienskommissie, die liggaam wat oor ons regters waak. Eers as ons die politieke gif uit dié kritieke waghond-instelling trek, sal ons keer dat rasse-ideologie ‘n permanente vastrapplek in ons regstelsel kry.”

 

Die strewe in Suid-Afrika behoort die toepassing van die beste praktyke in die wêreld te wees met die beste mensmateriaal om enigsins globaal te kan meeding – Ons gaan dit nie deur rassyferspele vermag nie. 

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: