Get in touch
555-555-5555
mymail@mailservice.com

Maandelikse Nuusbrief van die Afrikanerbond

           Desember 2022

TransforMATIES en Afrikaans by die Universiteit van Stellenbosch


Deur Jan Bosman

Hoofsekretaris van die Afrikanerbond


Die Afrikanerbond het kennis geneem van oudregter Sisi Khampepe se kommissie van ondersoek na beweringe van rassisme by die Universiteit van Stellenbosch.

 

Daar is teleurstelling dat die verslag die geleentheid verby laat gaan het om op ʼn feitelike basis te werk met die beweringe en dan daarvolgens ʼn bevinding te maak. Instede daarvan word die verslag eerder ʼn betoog teen Afrikaans, witmense en Afrikaners. Dit alles gebeur binne ʼn transformasie agenda wat vreemd voorkom. Oudregter Kamphepe, as voormalige regter in die grondwetlike hof sal weet dat transformasie nie een keer genoem of omskryf word in die Suid-Afrikaanse grondwet nie. Transformasie het hoogstens ʼn ideologiese instrument geword wat elke verskuilde agenda sal pas. In die regter se omskrywings inleidend tot die verslag, word drie definisies van transformasie gebruik wat telkens slegs terugverwys na die universiteit se siening. Die ‘Transformation agenda’ wat verwys na die universiteit se oogmerk om transformasie te bevorder en die uitwissing van rasisme en diskriminasie, die ‘transformation apparatus’ wat verwys na universiteitsdokumentasie en ook die personeel en kantore wat die agenda moet bevorder en die ‘transformation journey’ wat die universiteit se uiteindelike doelwit is naamlik om ʼn inklusiewe, diverse en getransformeerde SA universiteit te word.

 

In laasgenoemde doelwit lê die werklike probleem want nêrens is daar sprake van die akkommodering van diverse groepe in die ‘getransformeerde universiteit’ nie. Instede daarvan word diversiteit die sondebok wat gebruik word om inklusiwiteit en transformasie na te jaag. Hiervolgens is Afrikaans uitsluitend en word transformasie niks anders as om wit met swart te vervang en Afrikaans met Engels. Aangesien die regter self nie transformasie definieer nie, maar dit wel goed vind om 494 keer in haar verslag daarna te verwys, kan mens nie anders as om die hele verslag met skeptisisme te bejeën nie. Inteendeel dit word 184 bladsye van woke-teorie op sy beste. Feitelik skraps - maar steun swaar op die geleefde ervaring van ‘slagoffers’. Dit op sigself werp ʼn ernstige refleksie op die “bevindinge”. 

 

Stellenbosch word op p56 die dorp van “many conservative typically White, Afrikaners who bear racist and other bigoted beliefs and attitudes.” Niks word gedoen om die bewerings te staaf op ʼn feitelike basis nie. Dit is veralgemeende stellings en is onbillik teenoor die dorp en sy gemeenskap.   

 

Die vraag moet gevra word of die verslag enige wesenlike bydrae lewer tot eenheid in verskeidenheid met respek vir die diverse mense en kulture van Suid-Afrika? Die verslag ondersteun die Rektor se mening van enkele jare gelede dat die “Universiteit van Stellenbosch nie die verantwoordelikheid moet dra om Afrikaans se voortbestaan te beskerm nie.” So word die Universiteit van Stellenbosch deur transformasie maar net nog ʼn Engelse Suid-Afrikaanse Universiteit.  

 

Regter Khampepe se uiteindelike bevinding wat waarskynlik op die langer duur die grootste impak gaan hê, is die gewig wat sy toeken aan die Transformasie Kantoor wat uiteindelik ook die Rektoraat sal oorskadu. Afrikaans en diversiteit gaan die prys betaal vir transformasie wat die Universiteitsbestuur se uiteindelike oogmerk is. Die Transformasie Kantoor kan dan netsowel as ʼn Sowjet-tipe Politieke Kommisariaat optree. Die Transformasie Kantoor sal hiermee die ideologiese basis vir bestuur van die universiteit bepaal. Noodwendig sal dit ook lei tot die vervanging van die rektor en sy bestuur met meer nuttige ideologiese navolgers.

Lewer gerus kommentaar op die artikel

Deel met ander belangstellendes

Volg die Afrikanerbond op Facebook

Share by: